WF 2012: Die Beskermer

  • 0

Ek wonder wat my pa bedoel het?

Dit is die vraag wat al die afgelope week oor en oor in Kobus Stadler se kop maal. Die 14-jarige bruinkopseun sit in die Suid-Afrikaanse Wapenontwikkelingsentrum se wagkamer.  Sy pa het twee weke gelede ’n videospeletjie huis toe gebring en dit was al klaar snaaks, want sy pa hou niks van videospeletjies nie. Hy het besonder goed gedoen in die speletjie en binne drie dae het hy dit bemeester en ’n nuwe rekord opgestel.

Sy pa se sekretaresse kom by die deur in: “Jy kan maar ingaan.”

Sy pa kyk op van sy lessenaar: “Môre, seun, hoe was skool vandag?”

“Soos gewoonlik was dit maar ’n marteling.”

Met ’n glimlag sê sy pa: “Dis my seun. Nou, ek het nie heeldag tyd nie, so ek gaan by die punt kom. Toe ek gevra het of jy die speletjie in die regte lewe wou speel, het ek dit bedoel.”

”Bedoel Pa ...?”

“Ja. Die geheime projek waaraan ek gewerk het, is die robot wat in die speletjie is.”

Met ’n mond wat oophang van verbasing, sê-vra Kobus: “Die Beskermer? Maar dit is onmoontlik!”

“Seun, dit is nie onmoontlik nie. Ek het dit gebou en jy is die enigste een wat dit kan bestuur.”

“Was die speletjie ’n soort opleidingskursus?”

“Ja, dit was en jy het die beste gedoen van almal wat dit gespeel het. Soos jy weet, is Amerika en Europa besig om mekaar uit te roei, en hulle is stadig maar seker besig om die res van die wêreld in te sleep. Ons het besluit dat wanneer Suid-Afrika ook betrokke raak, ons die beste wapen moet hê. Die Beskermer is daardie wapen.”

“Waar is die Beskermer nou?”

Met ’n glimlag sê sy pa: “Hy is hier en as jy wil, kan jy hom vir ’n toetsrit vat.”

“Asseblief!”

“Jy moet net eers die regte klere kry, en dan sal ons vir jou ’n paar teikens opstel, dan kan jy maar begin.”

Toe Kobus die regte klere aanhet, klim hy en sy pa in ’n motor en ry na ’n stoor. Hulle klim uit die motor en Kobus snak na sy asem. Die Beskermer is ten minste tien meter hoog en die swaard wat aan sy sy hang, laat hom net soos Goliat in die meeste voorstellings lyk.

“Kobus, ontmoet die Beskermer.”

Nadat ’n ingenieur vir hom gewys het hoe om in en uit te klim, staan Kobus in die kajuit van die Beskermer. Die kajuit lyk glad nie soos wat ’n mens jou sou voorstel nie. Daar is geen knoppies en liggies wat flits nie, maar net ’n groot ruimte. ’n Klomp drade word aan Kobus se kop, arms en bene gekoppel.

Sy pa se stem kom oor ’n luidspreker wat êrens versteek is: “Ek hoop nie dat die drade jou pla nie.”

“Hulle pla glad nie, maar die feit dat ek niks kan sien nie, is nogal hinderlik.”

“Sodra ons die geweer gemonteer het, sal ons die krag aansit.”

“Is daar nog ’n geweer ook?”

“Ja, dit sal op jou rug gemonteer word. Die beheer van die Beskermer is dieselfde as dié in die speletjie. Die bewegings wat jy maak, sal die Beskermer ook maak. As jy jou swaard of geweer wil hê, dan moet jy “geweer” of “swaard” sê. Die Beskermer sal outomaties op jou opdrag reageer. Wanneer jy die geweer of swaard wil bêre, dan moet jy net “bêre” sê.”

“Die geweer is gemonteer; ons gaan die krag aansit.”

Onmiddellik gaan daar skerms reg rondom Kobus aan sodat hy in alle rigtings kan kyk.

Sy pa praat weer. “Reg, jy kan maar stap – daar is ’n paar teikens wat vir jou wag.”

Kobus gee een tree en toe hy sy voet neersit, voel hy hoe daar ’n skokgolf regdeur die Beskermer gaan.

Sy pa se stem kom weer oor die luidspreker: “Jy het nou net die eerste tree in die toekoms gegee!”

Kobus is nou so opgewonde dat hy sommer begin hardloop. Die Beskermer gaan by die stoor uit en Kobus sien dat daar twee pantservoertuie geparkeer is.

“Jy moet die voertuie vernietig. Begin met die swaard.”

Kobus gee die bevel: “Swaard!”

Die Beskermer trek sy swaard uit sy skede en staan gereed. So vinnig soos ’n kat wat ’n muis vang, is die Beskermer by die eerste voertuig en hy druk sy swaard dwarsdeur.

“Mooi so; probeer nou die geweer.”

“Bêre. Geweer!”

Die Beskermer steek die swaard in sy skede en haal die geweer van sy rug af. Kobus kniel en lê aan. Hy kry die kruis regoor die tweede voertuig en trek sy vinger krom. Die geweer blaf en net soos ’n groot geweer jou amper agteroor ruk, ruk dié een ook amper die Beskermer agteroor. Die voertuig ontplof asof hy dit met ’n missiel geskiet het.

Sy pa se stem kom oor die luidspreker: “Ongelooflik! Ek het nie gedink dat die Beskermer so sal presteer nie!”

Kobus lyk soos ’n kat wat room gekry het: “Hierdie is ongelooflik. Wat kan ek nog doen?”

“Ons het die Beskermer met vliegtoerusting toegerus. As jy wil, kan ons kyk of dit werk.”

“Wat moet ek doen om in die lug te kom?” vra Kobus entoesiasties.

“Sê net ‘vuur’ en dan sal die vuurpyle onder jou voete geaktiveer word, en jy sal die hoogtes inskiet. Sodra jy vlieg en jy wil verder opstyg, moet jy op jou tone staan. As jy wil daal, moet jy op jou hakskene staan. Wanneer jy in die lug wil hang, dan staan jy net platvoets.”

“Vuur!”

Onmiddellik styg die Beskermer op. Kobus sukkel om die Beskermer in die lug te beheer, maar hy is seker dat hy dit met ’n bietjie oefening sal bemeester.

Sy pa se stem kom weer oor die luidspreker, dié keer met luide toejuiging: “Die Beskermer werk!”

Terwyl die Beskermer in die lug hang, sê Kobus: “Hierdie wapen sal ons in die toekoms beskerm.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top