Gee my ’n wetenskaplike of naturalis wat die hele skepping in 5 dae kan skep, dan kan hy die Skepper daarvan maar voorskryf.
Hier op LitNet word gedebatteer oor evolusie, mane en sterre, asook diepruimte. Uiters interessant en insiggewend. Ander lesers weer, voel oorstelp met al die feite en redekawelry en weet nie wat waar of fabel is. Vernaam as snuffeltyd jou toelaat om net in “fast-forward” te lees – hopende dat jy goud vinnig sal oopboor.
Maar, soms bevat die grootste waarheid die eenvoudigste feit. God het die hemel en die aarde geskape. En vir enige aardse wese om dit anders te probeer bewys, hetsy met toetsmedium, aanname of postulering, is soos om in die diepte van die see te spring en te hoop jy kan golwe uithoes. Onmoontlik.
Geen aardse instrument kan die bonatuurlike begrip van God meet. Geen siening van die ewolusionis kan die beginbestaan van die mens, openbaar. Geen breinkrag kan die spinnewebvlies en totale wet van eerste asemteug, verklaar. Want al hierdie dinge, in Sý heelal, bly die WONDERWERKENDE krag van God in aksie.
Die mens geniet die krag van ontdekking. Natuuropgrawings, navorsing en sterrekyk, bly fassinerend. ’n Ware stootvoeter vir die ontsaglike begrip omtrent die grootheid van God en Sy skeppinge. Maar om eie fabel en veronderstel rondom dit te bou, of die ontstaan van kosmiese krag en diepruimtes te probeer meet, is futiel.
Vandaar die logika omtrent ’n Goddelike Intelligente Wese. Dit maak sin. Voor my geestesoog kan ek sien hoe die Skepper afglimlag na die mens wat oor jare heen geswoeg het om die maan en planete, wat Hy so wonderbaar ontwerp het, te bereik. En hoe die mensdom op aarde rondskarrel of redeneer oor dit wat was of is.
Natuurlik het wetenskap sy plek. Evolusie het sy plek. Die mens het sy plek. En God het sy plek. Maar wanneer daar naarstigtelik rondgetrippel word, op soek na ’n ander rede tot skepping – is dit tydmors. Nie alles in ons bestaan kan gemeet, getoets of bewys word nie. Kyk na die begrip “tyd.” Wie bepaal sy begin en einde? Tyd moet aangewend word vir nuttigheid en verryking. Asook spel God se aarde rustigheid en genieting in tyd.
Ruimtes en dinge met ewigheidswaarde vul my met verwondering. Hier in my wêreld is dit lekker om in die bosveld die skoon lug en atmosfeer, in jou longe op te suig. Want Desembertyd is vakansietyd is opgewondetyd. Dan is dit rondsluip in die bosse agter die groot 5 aan. Bloeiseltyd wat soetreuk nalaat en gekneusde groengras wat buig met dinamiet in die sade. Die oë van die mens wat heldhaftig “lock” in die geeloë van die Leeu. Jakkalsbessiebome wat tydloos inmekaar gevleg ingroei. Flippie die grootvoet, met sy groot grys lyf, wat wanneer in mist, sy ore vir jou flap en halfhartig storm. Die Cheetah-boys se slanksit, roerloos op die kruin, afgebeeld tussen rooison en skemeraand. En laaste, maar nie die minste, Drakensbergkranse in die agtergrond, wat misterieus wegkruip agter misvlae. ’n Onbeskryflike ondervinding in 'n snipperdeel van die aarde, geskape deur God vir die genotrykheid van die mens.
Mmmm - dan weet en sing my siel:
“Want deur die hele skepping klink dit saam - Hoe groot is U, Hoe groot is U!”
Trienie