Met die vinnig-ontwikkelende sosiale media word die uitdagings op die regstelsel om as “hekwagters” vir die boni mores van die samelewing op te tree redelik ver gestrek.
Die regsbeginsels is uiters akademies van aard en is reeds in groot besonderhede in die artikel “Facebook en persoonlikheidsbeskerming” bespreek.
Dat elke Facebook-gebruiker ’n reg op persoonlikheid- en privaatheidsbeskerming het, is nie te betwis nie. Die uitdaging om die regte af te dwing is wat vir my as praktiserende prokureur in ’n gewone dorp tussen gewone mense van belang is.
As ’n pragmatis sal ek dus my kommentaar op die genoemde artikel tot die praktiese implikasies van so ’n eis beperk.
Ek sal dus kyk na die volgende aspekte:
- In watter hof stel jy jou eis in? (Jurisdiksie)
- Wat presies wil jy met jou regsaksie bereik? (Remedie)
- Hoeveel gaan dit jou kos? (Koste-aspek)
- Hoe word die uiteindelike beskikbaarheid van die remedie wesenlik geraak? (Toeganklikheid).
Ek gebruik ter bespreking van die artikel die scenario waar die eiser die gekrenkte is wat in Johannesburg woon en die verweerder die publiseerder is wat in Kaapstad woon, maar wat daagliks in Stellenbosch werk, en die leser wat in Bloemfontein woon.
Jurisdiksie
Wanneer ’n litigasieproses aanhangig gemaak word, is een van die eerste kriteria wat in ag geneem moet word, dié van jurisdiksie. Met ander woorde, watter hof het die mandaat of reg om so aangeleentheid aan te hoor?
Jurisdiksie word bepaal aan die hand van (maar nie uitsluitlik beperk nie tot) onder andere die volgende bepalings:
- Waar het die eisoorsaak ontstaan?
- Watter remedie word aangevra?
Om in ’n hof te litigeer moet jy kan bewys dat die eisoorsaak geheel en al in dié hof se jurisdiksie ontstaan het. Om te bepaal waar die eisoorsaak ontstaan, moet vasgestel word waar die publikasie plaasgevind het; met ander woorde, daar moet onder andere vasgestel word waar in die kuberruimte ’n persoon se eer en privaatheid gekrenk word. Is dit waar dit gelees word, waar die gekrenkte woon, of waar die publiseerder woon? Dit dui dus reeds in hierdie vroeë stadium aan dat hierdie ’n gekompliseerde aangeleentheid is waarin daar na verskeie regsargumente gekyk sal moet word.
’n Verdere element wat in ag geneem moet word, is dat die essentialia vir ’n eis van laster die verweerder se animus iniuriandi is. Die gesindheid en opset van die verweerder kom op hierdie stadium ter sprake. Dit word gekoppel aan die plek waar die verweerder woonagtig of werksaam is, want waar presies was hy/sy ten tye van die publikasie toe hy/sy opset gehad het om die eiser te belaster?
Die vraag ontstaan dus aan die hand van hierdie spesifieke voorbeeld of die eisoorsaak in Kaapstad ontstaan het (want dit is waar die verweerder woon) of in Stellenbosch (waar die verweerder werk), want die persoon was moontlik by die werk toe die lasterlike bewering op Facebook geplaas is.
Die remedie gevra sou onder andere moontlik inhou dat daar ’n meegaande skadevergoedingseis ingestel word. Dit beteken dat ’n monetêre waarde aan die gekrenkte persoon se reputasie koppel word, en afhangend van daardie eisbedrag sal dan bepaal moet word in watter hof die aangeleentheid aangehoor word. In die hoëprofiel-naamskendingseis van die Waterkloof Hoërskool-hoof, dr Louis Dey, wat R45 000 skadevergoeding ontvang het weens die publikasie van ’n foto, is die eis deur die konstitusionele hof verminder na R25 000. Die mees onlangse beslissing het bepaal dat ’n egpaar ’n senior werknemer by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens R40 000 skadevergoeding moet betaal weens hulle kommentaar oor haar op Facebook.
In die opspraakwekkendste saak, wat met groot opgewondenheid dopgehou sal word, word Graeme Joffe deur SASCOC vir R21 miljoen gedagvaar weens die publikasie van ’n opmerking op Twitter.
Maar die meerderheid gevalle sou ’n eisbedrag van minder as R100 000 beloop en sou die gepaste forum die landdroshof wees. Vir eisbedrae van meer as R100 000 moet die hooggeregshof genader word.
Om jurisdiksie te bepaal is dus kompleks en kan ’n regsdispuut op sy eie veroorsaak. Daar is meer as genoeg gronde vir regsargumente, en die opstel van eksepsies en tussenpleite is ’n realiteit wat die meegaande kostes van die geding nog verder verhoog.
Remedie- en koste-implikasies en toeganklikheid
Die belangrikste vraag wat ek as ’n prokureur aan my gekrenkte kliënt sal vra, is die volgende: Wat wil jy met jou regsaksie bereik?
Dit word as volg vereenvoudig deur die volgende vrae te vra: Wil jy publikasie stop, of geld hê as vergoeding vir die inbreukmaking op jou regte, of beide?
Indien vergoeding geëis word vir die skade wat die eiser gely het, is die vraag: Hoe bepaal jy die waarde van die krenking van ’n persoon se eer en reputasie? Hoe word sy stand bepaal? En aan watter mate word dit gemeet? Die maatstawe ter bepaling hiervan is uiters subjektief.
Dit is vrae wat deur ’n verskeidenheid faktore beïnvloed word. Sekere howe is meer geneë om sulke eise aan te hoor en met erns te bejeën as ander. Die beginsel Non Curat Lex wat hier van toepassing is, bedoelende “die reg slaan geen ag op onbenullighede nie”, is weer eens ’n subjektiewe maatstaf wat individueel deur elke voorsittende beampte geïnterpreteer word.
Die probleem met hierdie skadevergoedingseis is dat jy geensins vir jou kliënt ’n waarborg of aanduiding kan gee van watter eisbedrag die hof, in geval van ’n suksesvolle eis en beslissing in jou guns, gaan toestaan nie.
Die vraag wat dan gevra word is hoeveel jy bereid is om vir jou beginsels te betaal, aangesien daar tog ’n finansiële implikasie aan enige regsgeding verbonde is.
Die gedagte kom ook onwillekeurig by my op dat Facebook wat deur kinders (en ook volwassenes) gebruik word, ’n platform vir bullebaktaktieke (“bullying”) geskep het. Ek het al self publikasies gesien wat regstegnies aan al die vereistes van ’n suksesvolle lastereis voldoen. Die erns van die publikasie noodsaak in baie gevalle uiters dringende regsaksie, wat na my mening daartoe kon bygedra het om die vlaag onsinnige kinderselfmoorde te verminder.
Die werklikheid is egter dat ons huidige regstelsel vir dié wat regsbeskerming die nodigste het, in praktyk glad nie toeganklik is nie, vanweë die koste-implikasies.
Lastereise het ’n dinamiese, vinniggroeiende deel van die Suid-Afrikaanse regsarena geword, veral in die lig van die omvang van sosiale media.
Ek sluit af deur my te skaar by regter V Kokaram van die hooggeregshof van Trinidad en Tobago, wat onlangs verklaar het dat daar hervorming van regstelsels benodig word om die reg op vryheid van spraak en die reg op beskerming van ’n persoon se reputasie effektief te reguleer.
Lees wat sê die ander kenners.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter