"Waterverfdag" deur Nini Bennett

  • 0

Waterverfdag

Waterverfdag van spons en klad –
jou oë het geblink
oor die reën wat kom
sipresse het vervloei in katedrale
spookmooi ver
en ek het my emmer onder ’n geut gesit:
toe breek die haelstorm
wat sy loflied ysstene crescendo
aan die stofgrond bring

Ek het my stikstofwater
dúúr opgevang;  oor malvas gegooi –
jou gesig het geblink
en ure lank het die geut nog bly tik
en ’n spinnkop sy snaarmusiek
tussen twee potplante gespin;
die reën het opgeklaar
en jy het vertrek
motorligte sterstof in die mis

Waterverfdag van bewaarwater
en onthou:
hoe het ek jou nie gemis nie
verlange is ’n toegestoomde gesig
in die spieël
verlange is ’n spookbeeld
serene stoom en sweet
en ’n sauna was my klooster
maar dit mag jy nooit weet

Waterverfdag van spons en klad
koester jý steeds my verbode liefde (x2)
van bewaarwater en onthou

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top