Gustaf Pienaar: Regsalmanak | Columns

 
Wanneer is jy 'n passasier van 'n Cadillac?
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Jy mag dink dat ek vandeesweek se verhaal uit my duim uit suig, maar dis die reine waarheid. Dit staan opgeteken in die 1981 (volume 4) Suid-Afrikaanse hofverslae.1

Ene Samuel Damane was 30 jaar lank ’n polisiespeurder voordat hy in die Oos-Kaap gaan aftree het. Hy was nie sommer ’n hierjy nie. Hy het daarop geroem dat hy agt tale magtig was, en by sy aftrede was hy reeds ’n speurder-sersant. Daarby het hy gedurende sy jare in die polisie ’n kursus in motorwerktuigkunde met eervolle vermelding geslaag.

Damane was ook wat die slim mense vandag noem ’n entrepreneur. Hy het na sy aftrede ’n begrafnisonderneming begin wat gou baie suksesvol was. Teen 1975 het hy al ’n vloot van vyf voertuie in sy besigheid gehad, waaronder drie lykswaens. Met sy kennis van motorvoertuie kon hy self sy motors versien en in stand hou.

Damane se besigheid was veral oor naweke in aanvraag. Hy het ses jong mans gehuur om hom by te staan. Hulle het naweke saam met hom na begrafnisse gereis - natuurlik geklee in ’n soort "uniform" wat by dié plegtige geleenthede gepas het. Hul vernaamste funksie was om die kis van die lykswa na die graf te dra. Daarvoor het Damane hulle elkeen R2 per begrafnis betaal. Dit klink nóú min, maar onthou dit was die sewentigerjare van die vorige eeu, toe ’n rand nog ’n rand was.

Op ’n Sondag in 1975 was Damane en sy gevolg op pad na ’n begrafnis op ’n klein plekkie in die Oos-Kaap met die naam Sada. Voor was ’n Chevrolet Kommando-lykswa met die kis. Damane en die ses kisdraers was agter in ’n groot swart Cadillac.

Anderkant Cathcart het hulle ’n terugslag gehad. Die Cadillac het begin krag verloor en gaan staan. Hy het weer gevat, maar nie lank daarna nie het dieselfde ding gebeur. So het dit aangegaan totdat die imposante motor net eenvoudig nie verder wou ry nie. Damane - die enigste een onder die groepie met ’n basiese meganiese kennis - het die fout gediagnoseer: daar was ’n probleem met die petroltoevoer. Hy het met ’n stuk tuinslang ’n bietjie petrol uit die tenk gesuig, die lugfilter verwyder en die petrol direk in die vergasser gegooi. Die enjin het gevat, maar die sukses was van korte duur. Die Cadillac wou maar net nie aan die loop kom nie, en het teen ’n skotige opdraande gaan staan. En staan het hy dié keer gestaan.

Damane en sy span was nou in die moeilikheid. Die bestuurder van die Chev-lykswa was nie bewus van die drama met die Cadillac agter hom nie en het vooruit gery. Daar was nou ’n wesenlike moontlikheid dat die lykswa by die begraafplaas sou aankom minus die begrafnisondernemer. Damane het die Cadillac se enjinkap weer ’n keer oopgemaak en hy en die ses draers het om die neus van die voertuig gekoek en angstig planne gemaak.

Een kêrel het met ’n blink gedagte vorendag gekom. Hy het ’n blikkie Groovy-koeldrank by hom gehad. Hy sou die inhoud gou wegslaan en dan ’n gaatjie aan die onderkant van die blikkie maak. Hulle moes petrol in die blikkie gooi en iemand moes dan in die enjinruim gaan sit en die blikkie bo die vergasser hou en so af en toe ’n bietjie petrol in die vergasser laat drup. Op dié manier sou hulle dalk die Cadillac weer aan die gang kry - en hopelik aan die gang hou.

So gesê, so gedaan. Kort voor lank het ’n kêrel met die naam Eric Sibothobotho voor in die enjinruim gesit, gewapen met die Groovy-blikkie vol petrol en met sy vinger op die gaatjie.

Damane het agter die stuur van die Cadillac ingeklim, en terwyl Eric petrol in die vergasser laat drup het, het Damane die sleutel gedraai. Die Cadillac het gevat, Damane het die outomatiese ratkas gekoppel, en terwyl hy deur die opening tussen die oop enjinkap en die enjin getuur het, het hy begin om stadig teen die bult uit te ry. Die tog het egter skielik en dramaties geëindig. Daar was ’n vlam en ’n ontploffing in die omgewing van die vergasser en die arme Eric het oor die verkoeler van die groot Amerikaanse motor verdwyn en hom disnis op die teerpad geval. Hy is beseer en het ’n derdeparty-eis teen die versekeraar van die Cadillac ingestel.

Die vraag waaroor die hof moes besluit, was of Eric "vervoer" is soos wat in die destydse derdepartywet bedoel is. Vir hom sou dit ’n groot verskil maak. As die hof sou bevind dat hy wel in die Cadillac "vervoer" is, soos wat in die Wet bedoel is, sou hy geen eis gehad het nie. Dit was omdat die Wet destyds bepaal het dat die passasier van ’n motor geen eis gehad het as sy beserings uitsluitlik deur die nalatigheid van die bestuurder van daardie motor veroorsaak is nie. As die hof daarenteen sou bevind dat Eric nie "vervoer" is nie, sou hy min of meer in die posisie van ’n gewone voetganger gewees het wat op ’n nalatige wyse deur iemand omgery is. In so ’n geval sou hy wel vir sy beserings kon eis.

Appèlregter Marius Diemont se uitspraak is pittig en onderhoudend om te lees - veral sy kleurryke beskrywing van hoe dit gekom het dat Eric beseer is. Die hof het beslis dat ten einde te bepaal of iemand in ’n besondere geval "vervoer" is soos in die Wet omskryf word, die hof moet kyk na die bedoeling van albei die partye, nie net dié van die bestuurder nie. In dié geval het Damane die bedoeling gehad om die Cadillac ten minste bo teen die bult te kry, maar Eric se bedoeling was hoogstens om die motor te help aan die gang kry. Nie in sy wildste drome nie het hy gedink dat Damane met hom voor in die enjinruim sou begin ry nie! Hulle bedoeling het dus nie ooreengestem nie en daar kon nie gesê word dat Eric op dié ongewone wyse as ’n passasier van die Cadillac "vervoer" is soos die Wetgewer bedoel het nie. Sy derdeparty-eis was dus suksesvol: hy is soos ’n voetganger behandel en die droewige verhaal van die groot swart Amerikaanse motor op ’n teerpad êrens anderkant Cathcart het vir Eric Sibothobotho ’n gelukkige einde gehad.



1  AA Mutual Ins Association Ltd v Sibothobotho 1981 (4) 593 (AD)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Annora Eksteen
2012-12-27 @06:01

Hallo Gustaf,

Ek is baie bly om oor hierdie gelukkige einde van Eric Sibothobotho te lees. 

Is die foto van die Cadillac een van joune?

Groete,

Annora

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address