Waarheen nou met die kerk?

  • 3
Jean Oosthuizen

Jean Oosthuizen

Hoofstroomkerke in Westerse lande trap wêreldwyd al hoe meer klei om lidmate te behou, en veral jongmense bly in al groter wordende getalle weg uit die kerk. Ook in Suid-Afrika het kerkleiers by die afgelope sinode van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap gevra waarheen nou met die kerk?

As die kerk hom nie vinnig herposisioneer nie, kan hy dalk sy boeke oor ’n paar jaar toemaak, het ’n vorige moderator van die NG Kerk, Coenie Burger, tydens die sinode gewaarsku.

“As die kerk aanhou om net netjies en ordentlik te wees, gaan ons nie ver kom nie. Dan gaan ons die Kerk eintlik kleiner boer,” het Burger aan die sinodegangers gesê.

Coenie Burger

Coenie Burger

Die huidige moderator van die NG Kerk, Nelus Niemandt, het hom by Burger aangesluit: “Broers en susters, ek besoek baie gemeentes in die NG Kerk dwarsoor die land en ek sien baie min randfigure in die kerk. Ons moet dringend vreemdelinge in die Kerk begin innooi om ons besluite te beïnvloed. Ook dié wat nie glo nie.”

Dit is nie net in Suid-Afrika waar sommige kerke agteruit boer nie. In ’n meningspeiling wat onlangs bekendgemaak is, kry hoofstroomkerke in Amerika al hoe meer die wind van voor (http://www.bbc.com/news/world-us-canada-32710444). Daar is vyf miljoen minder Amerikaners wat hulle met die Christelike geloof identifiseer as in 2007.

Volgens Burger is die tyd vir die kerk om versigtig te wees verby. “Daar is heelparty mense wat hul lus vir die kerk verloor het – mense wat kwaad is vir die kerk, kerkmense wat ophou kerk toe gaan, mense wat stil-stil hulself van die Kerk verwyder en liewers op ’n afstand staan,” het hy gesê.

Nelus Niemandt

Nelus Niemandt

Niemandt se boodskap aan die  sinode was dat kerke daarna moet streef om meer soos seerowers te wees. “In die geskiedenis, as die groot skepe beseerde matrose met houtbene, hake vir hande of met oogklappe oor die oë verwerp het en op die naaste eiland afgegooi het, het die seerowers gesê: ‘Welkom.’ Seerowers het altyd plek gemaak vir die gemarginaliseerde persone in die gemeenskap. My vraag is: Hoe sigbaar is die randfigure in die kerk? As seerowers dit kon regkry, kan die kerk tog ook.”

Sy kommer oor “randfigure” en ander wat die kerk verlaat, word weerspieël deur ander gelowiges se gesprekke op Facebook en ander sosiale media. “Die hartseer is dat mense wat eens by die kerk was, randfigure geword het,” sê Fantie van Heerden, ’n voormalige dominee van die Hervormde Kerk. “Besef die kerk dat hy dikwels self verantwoordelik is vir die proses waarin mense van die kerk en geloof vervreemd raak? Die randfigure lyk uiterlik dalk presies soos dié wat nog binne is. Die kerk se probleem strek veel dieper as om 'n paar bergies, gays of ateïste in die erediens in te verwelkom die toekoms in. Waarom vervreem hy dikwels sy eie oudlojales?”

Van Heerden sê hy weet van baie mense wat "vreemd" vir die kerk geword het nadat hulle deur die kerk waarvoor hulle lief was, stief behandel is juis toe hulle die liefde en deernis van medegelowiges die nodigste gehad het. “En ek praat nie hier noodwendig van die kerkleiding nie, maar die kerk wat bestaan uit medelidmate. Dit help nie veel as jy as 'n noodmaatreël ander randfigure in jou midde wil verwelkom terwyl jy teen 'n tempo self van die bestaandes randfigure maak nie.”

’n Dominee van die NG Kerk in Afrika (NGKA), Sarel Corrie, sê die kerk sukkel nou al om net die gewone lidmate in die kerk te kry – hoe gaan hulle die vreemdelinge oortuig? “Die kerk moet eers homself opoffer/prysgee voordat iets daarvan sal kan begin gebeur. Hulle sal eers diegene wat verbrysel en vergruis is deur die kerk, self moet nooi en met hulle kom vrede maak/versoen voor hulle nog aan die vreemdelinge kan begin werk!”

Volgens die Pew Research Center het die aantal Amerikaners wat hulleself as Christene identifiseer, binne sewe jaar met sewe persent gedaal (http://www.pewforum.org/2015/05/12/americas-changing-religious-landscape). Sowat 71 persent Amerikaners beskou hulle vandag as Christene, teenoor 78 persent in 2007.

Die persentasie Amerikaners wat sê hulle hang geen godsdiens aan nie, is ook besig om te groei.

Navorsers van Pew Research skryf die verlies hoofsaaklik toe aan ’n afname onder verligte of liberaaldenkende Protestante en Katolieke onder alle ouderdomsgroepe en demografiese groepe oral in Amerika.

Dit is nie net jongmense wat die kerk verlaat nie. Volgens Pew Research is daar onder al hoe meer getroudes, ongetroudes, ryk, arm, oud en jonk ’n aansienlike daling in die getal mense wat hulleself Christene noem.

Kyk mens na die navorsingstatistiek is daar veral drie belangrike tendense wat die volgende tien jaar sal voortduur. Een daarvan is die uitvloei van lidmate uit die hoofstroom Protestantse kerke. Soos in Suid-Afrika vertel ook Europese kerke se verhaal dat die uitvloei van lidmate moeilik is om te stuit.

Baie van die kerke probeer die gety keer deur middel van missionêre aksies, kerkplanting en evangelisasie, maar sukkel om dit reg te kry.

Volgens die General Social Survey (GSS), het die ongeveer 30 persent Amerikaners wat hulle voorheen met Protestantse hoofstroomkerke geïdentifiseer het, tot 15 persent gedaal. Hierdie kerke het die afgelope 40 jaar die helfte van hulle lidmate verloor. As die neiging voortduur, lyk  die prentjie nie goed vir hoofstroomkerke nie.

Gerhard Pietersen

Gerhard Pietersen

’n Tweede tendens is ’n groei onder pinkster- en charismatiese bewegings. Maar die volhoubaarheid daarvan word in twyfel getrek. Baie van die kerke lyk deesdae al hoe meer soos die hoofstroomkerke. Navorsers meen dat hulle binnekort dieselfde paadjie as die hoofstroomkerke kan loop.

Die derde tendens wat deur navorsers uitgespel word, is dat die denominasies waaraan lidmate behoort, steeds saak maak, maar al hoe minder gewig dra. Sogenaamde netwerke wat soos denominasies funksioneer, raak al hoe meer belangrik.

Mens sien dit ook in Suid-Afrika, waar baie NG gemeentes as gemeenskapskerke bekend staan en nie meer die naam NG Kerk gebruik nie, al is hulle nog amptelik deel van die NG Kerk-denominasie.

Dit lyk dus asof kerke se toekoms baie minder hoofstroomgedrewe sal wees en nie meer so verbind aan denominasies nie, maar meer netwerkgedrewe.

Baie lidmate weet nie eens hulle is in ’n NG Kerk nie en hulle gee nie om nie, sê Gerhard Pietersen van die NG gemeente in Houtbaai wat verlede jaar amptelik van die NG gemeente in Constantia afgestig het.

Johan Botha

Johan Botha

“Hulle het nie ’n konsep van die kerkinstituut nie,” het Pietersen tydens die afgelope sinode gesê. “Ons sê eerder vir hulle ons is familie. En al wat hulle van my weet, is dat ek baie bid en baie stir.”

Pietersen se gemeente is alombekend vir sy multikulturele samestelling.

Johan Botha van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGKSA) en ’n dominee in die sinodale diens meen godsdiens en die kerk raak deesdae vir talle oorbodig. Dit is daarom belangrik dat die kerk ’n vernuwende vorm van evangelisasie aanneem.

“Evangelisasie gaan oor meer as net die wen van siele,” het hy tydens die afgelope NG sinode gesê “Dit gaan oor omgee en luister.”

  • 3

Kommentaar

    • Ag ja! Die wonderwerke, bonatuurlike genesings, bevryding van demone en ander primitiewe versinsels waarvan die Bybel praat is ongelukkig 'n werklikheid. Ek het dit ervaar.

  • Johan Botha slaan die spyker op die kop.

    Die onlangse Wes-Kaapse Sinode was my 3de Sinode en na baie jare as kerkraadslid en aktiewe lidmaat van die NG-kerk is dit duidelik dat hierdie kerk nuut sal moet dink aangaande die opleiding van sy predikante.Daar word steeds te veel mense op kansels losgelaat wat nie toegerus om God se wil en Jesus se voorbeeld van die minste wees,as voorbeeld in die wereld,uit te leef nie.
    Die skade wat berokken word deur te veel ego-gedrewe dominees is onmeetbaar en vervreem gewone mense van die kerk as instelling.Ons het hulle natuurlik self op daai troontjies geplaas.
    Mense wil gehoor en raakgesien word.
    Die oordrewe klem in baie gemeentes op fonds-insamelings projekte maak van hulle besighede.
    Minder en beter gekeurde en opgeleide predikante sou daartoe lei dat die fondse meer effektief tot eer van God gespandeer word.Dis tyd dat van die "oortollige" en onbevoegde predikante ontslae te raak.
    Dit is dan ook die enigste beroep in die "nuwe" SA waar geen enkele persoon weer moes heraansoek doen of afgele is weens regstellende aksie nie. Inteendeel hierdie werklikhede en trauma waardeur derduisende van hul gemeentelede moes worstel het stil-stil by predikante verby gegaan. Hoe bedien jy mense indien jy nie hierdie "ontmanning "van 'n ganse geslag wit, Afrikaanse mans self ervaar en beleef het nie .Is dit nie presies hier waar 'n groot gaping tussen gemeentelede en die dominees ontstaan het nie. Hulle is glad nie op die-selfde speelveld as die res van SA mans nie.Totaal geisoleerd in die praktyk en denke.
    Dis tyd om van kansels af te beweeg. en aktief op grondvlak met mense se lewensomstandighede betrokke te raak.

    Talle krisisse en uitdagings staar ons tans in die gesig en betrokke gemeentes en kerke het nou die geleentheid om Suid_Afrikaners te verenig in geloof en liefde.
    Die talle suksesverhale soos Badisa maak van ons land steeds 'n land van omgee en hoop.

    Predikante wat saam met hul gemeentelede diensbaar en liefdevol met almal( veral die randfigure waarna Nelis Niemandt) verwys omgaan se gemeentes sal relevant bly en die sierade van hierdie land wees.Die tyd van baie praat het ons ingehaal en slegs aktiewe dade sal ons onderskei van die kerke wat betekenisloos geword het.

    God se Koningryk verdien die beste wat ons as gelowiges kan bied.Gemeentes kan steeds die Oases van Hoop en Liefde wees waarna mense wereldwyd smag.
    Die hoop beskaam nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top