Waar Ralph die Kaapse platteland leer ken het ...

  • 0

Toe ek by TRUK (Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) gewerk het, is ek blootgestel aan die mees ongelooflike toneelstukke en kabarette. En ek dag ek het ’n goeie oordeel oor baie van die shows. Ek dag ek verstaan hulle gereeld, hou nogal van baie shows, maar voel dat ek nie elke woord inneem nie; dat groot dele van my ervaring met die werke een is van ’n gevoel, eerder as ’n spesifieke bewuswording.

Ek begin lees toe in die koerante van die twee ouens – Kerkorrel en Kombuis – wat so verban word met hul opspraakwekkende musiek. Ek onthou ’n plakkaat teen ’n paal vir hul show by die Black Sun in Hillbrow: "Bring ’n RAU dosent en wen ’n sixpack". Hulle was pas verbied om by RAU op te tree. Hulle het in Bloem begin, en hul naam het hul ernstig vooruitgeloop.

Nou ja, die aand sit ek in die Black Sun. En daar is Koos – aan wie ek my ’n duisend keer moes voorstel as die ou wat die foto van hul moes neem by die pienk huis op Stellenbosch. Die dag met die Voëlvry-toer by die Three Arts-teater kom hy na my toe en sê: “Ek onthou jou.” By the way, die rookwette was oukei, maar daai aand het ons ’n bottel vodka heen en weer in my ry stoele gestuur, en ’n paar biere bo-oor.

Oukei, so ... daar op ’n kroegstoel in die Black Sun sit Koos, bottel Tas of port in ’n kardoessak by hom, staande op die klavier. Ek onthou hoe nice hy nog die aand was met ’n NP-lid wat op pad was tronk toe, as ek reg onthou ene De Beer. En anderkant die klavier was die ou met nogals ’n neus, soos Tristam Shandy. Dit was Ralph (Kerkorrel). En hy was ’n aartspessimis dié aand. En hy het skaars na die gehoor gekyk. Maar sy musiek! Dit was van die mooiste, mooiste klanke.

Na die aand staan ek in die Chelsea Hotel by die kroeg. By my is ’n pel en sy vrou. Fronsend. Want ek kan nie uitgepraat raak nie. En die pel is aartslinks, maar het nie dieselfde waardering vir die uiters politiese show nie. Desnieteenstaande het ek oor biere uit my pad uit gegaan om te verduidelik hoe ek elke woord wat die aand van die verhoog gekom het, ingedrink het. Jare later nog het my bloed geborrel as ek my opname van "Piekniek by Dingaan” speel. My babaseuns moes lekker wees as ek hulle op ’n musiekmiddag beetgepak het en om en om my kop laat vlieg het, sommer die sitkamer vol laat vlieg het, kompleet soos Boeings, as ’n persoonlike musiekmiddag of -aand ontstaan het.

"Piekniek" sou ek 1 000 keer gekyk het as dit sou beteken ek kon Johannes die liedjie 1 000 keer sien sing oor hoe ons aan die verkeerde kant van die maan beland het. Dít was vir my die hoogtepunt van enige van my kontak met hom.

Ek en Ralph het die heel eerste keer ontmoet toe hy joernalis was en die verfilming van die TV-reeks Arende kom dek het. Daar in die konsentrasiekamp by Pringlebaai het ek en hy, Chippie van der Merwe en nog een of twee mense ’n vinnige klein aanklankie by mekaar gevind en saamgekuier.

Ek het met Ralph te make gekry  toe ek die platteland wou lewe gee en toneel- en musiektoere begin organiseer het. Ek laat na om te sê ek was fucked-up werkloos, so ek het geskarrel. ’n Besonderse, ongesproke klein band het tussen ons ontstaan. Wat ek nie geweet het nie, was dat dit met hom kak gegaan het.

So in ’n winter, toe daar naaahks belofte van werk was nie, het hy via die nuwe projekte skielik so R3 000 per aand vir so tien aande se werk verdien. Altesaam het die klein cc, Impresario, toe vyf toere vir hom gereël.

Die eerste keer óóit toe ek hom bel, was ek baie verleë. Ek't nie lank voor dit nie my werk verloor by PUNT Geselsradio, ek’t ’n venue op die been gebring by ’n bestaande semibuitelug-restaurant op die Weskus, en het groot sukses beleef met ons opening show, Dowwe Dolla, toneeloptredes en musiekoptredes. Ek het beplan om my doen en late uit te brei na de platteland, om kultuur in die breë daar te hervestig.

“Hallo,” sê ek vir hom, “ons het al ontmoet.” My vrou was verhoogbestuurder, en toe KRUIK Piekniek by Dingaan opvoer, was ons daar, en was ons sommer groot fans. Hy was baie bewus van ons, en het ons mening redelik aangeslaan. Hy groet dus ook, maar die fout wat ek maak, ek's so eerbiedig en skugter dat ek hom vra hoe hy genoem wil word – Kerkorrel, Johannes of Ralph.

En daar kom die vreeslik hoog-opgegewe reaksie, omtrent as volg: “Noem my Ralph, as jy die uitspraak regkry.” En daar volg toe die lesinkie in die kleine. Ek kan nie onthou wat hy presies wou hê nie. Of hy die ph op die Sweedse of Noorse manier verduidelik het teenoor die Boere-manier. Maar eendag gee hy my ’n CD van hom, "Johannes Kerkorrel sing Koos du Plessis", en hy skryf op die omslag: “Albert, as dit nie vir jou was nie, het ek nooit gesien hoe mooi die Kaapse platteland is nie. Van Ralf. Nov '99."

Met die eerste aand se optrede, wat by Die Melkbosskerm was, staan ek by hom in die kleedkamer (van visnette en planke en skuittoue en boeie en dinge) en hy loer deur die gordyn (van visnet) en sê verbaas: “Ek weet nie hoe dit gebeur het nie.” (So 100 na 110 mense in ’n plek waar makasimum 120 kan sit.) Daar’s ’n hele paar stories oor die ervaring, maar die tikkery vat fkn lank. Om af te sluit: toe sê ek vir hom: “Jy is nog lank nie uitgedien nie. Daar's al hierdie fans en hulle wag vir jou nuwe werk oor al die nuwe probleme waarteen mens moet rebelleer.” Pity ek het hom nie ’n vriend gemaak en hom gedruk en gedruk om daai werk te maak nie. O, daar was ’n show wat ek en Surisa wou hê hy moes doen. Saam met Dowwe Dolla. Iemand het nie kans gesien nie. Dit was nie ek nie.

Nou ja, uit die toere het ek fokkol verdien en baie kritiek verduur. Ek was mos ’n acting poefter wat hiervan ’n moerse sukses gemaak het.

Impresario was ek, Dirk en Reinet Nagtegaal, Surisa en my eks, Bev. Die webwerf rondom die tyd bestaan nou nog by http://home.mweb.co.za/im/impresa/pages/gigs/shows/2000_00/johannes_kerkorrel.htm.

So, ek het gelukkig nie daarmee volgehou nie. Ek, Dirk en Reinet Nagtegaal, Surisa en my eks, Bev. Ralph kom toe agter hoe min geld ek uit die aktiwiteit maak. Hy bel my een keer uit PE en vra of hy my mediavrystelling mag gebruik vir daai werk wat hy daar aan die doen sou wees. Ek wetie wat nie. Later sien ek iewers op ’n bankstaat hy het my ’n bonus betaal van ... ek weet nie nou meer nie ... seker R523,97. So iets.

Die een aand tree KO op by Die Melkbosskerm. Ek het met sy heel eerste optredes geleer hy hou van sekere beligting, en die tegniese mense aangemoedig om aan sy wense te voldoen. Die legendariese Hano Smit het byvoorbeeld vir hom sy eerste ligte gaan koop, spesiaal vir die eerste Kerkorrel-toer. En ek onthou hoe ek agter Hano staan by die Independent Armchair Theatre in Obs, en Hano en Ettienne adviseer oor die hoe en wat terwyl die show aan die gang is. Dit was ’n workshop vir al drie van ons. Iets wat ons toevallig al drie gereeld sou gebruik in ons uiteenlopende beroepe.

Ieder geval, die aand by Melkbosskerm is Ralph daar in blouerige lig besig met sy show toe ’n stem uit die gehoor begin aanmerkings maak. Ralph laat die eerste paar steuringe verbygaan. Na ’n rukkie reageer hy – nie vreeslik opruiend nie. Net ’n gepoogde ironiese reaksie op die dronk man. Ek oorweeg om die man stil te maak, maar die mense sit knus en vas. Na ’n rukkie is die man stil.

Die show is verby, en ek vind die (in daai stadium) redakteur van ’n streekskoerant. Ek stut hom en help die wankelrige affêring na buite. Hy vra hy wil toilet toe. Hy kan kwalik op sy voete staan, so hy moet gehelp word tot op die sitplek. Daar sit hy nou. Soos ek padgee uit die vertrekkie, roep hy my. En daar begin peper hy my soos ’n wafferse joernalis met honderde vrae. Ek lag, sê: “Dis nie die beste plek vir ’n onderhoud nie!” Voor ek die deur toetrek.

Ek slaak ’n sug. Dis gelukkig afgehandel.

Gelukkig was hy nie vir lank ’n las nie. Dis min dat ’n dronk man op ’n roll so genadiglik tot stilstand kom. Wat die geseënde verklaring vir die tot-inkeer-kom is, weet ek nie. Maar groot dankies vir klein dingetjies.

Nou, een van die gaste aan wie ek komplimentêre kaartjies gegee het, was Randall Wicombe. Terug binne die Skerm staan Randall daar, soos altyd met die boarmspiere bultend onder die stywe T-hemp. Randall het pas begin smul aan bietjie vis en die disse wat briljant daarmee saamgegaan het – ’n winskoop, ingesluit in die gaste se kaartjieprys.

Toe hy my sien, frons hy, en beskuldigend laat waai hy: “Die donner het op my aan die slaap geraak!” Ek vra: “Het hy teen jou aangeleun?” Hy: “Die donner het eers teen my skouer geleun, en toe ek so kyk en hom probeer wegstoot, sak hy af en slaap vas met sy kop op my skoot! Ek sal hom bliksem.”

Ek kan nooit weer na Randall kyk sonder om hom in my verbeelding met die kop van die dronk koerantredakteur op sy skoot te sien nie; met die ongelooflike “live” musiek van Kerkorrel en sy klavier wat sweef oor die vure, deur die seile en visnette, verder en verder in, oor die duine tussen die huise van Melkbosstrand. Sag en strelend op die oor van die man wat slaap op die skoot van die beroemde man langs hom.

Kyk, nog ’n titbit is ... hy is die eerste mens vir wie ek ’n kontrak gegee het. Ek stap die dag by sy en Dmitri se woonstel in Seepunt in. Ek stap die woonstel binne soos telkemale voor dit. Dié keer brand ’n kontrak in my sak. Ons bespreek die volgende toer, wat om die draai is, die werkswyse, bemarking en publisiteit en finansies en tegniese vereistes. Als is reg en ek vertrek.

Onder op die sypaadjie stop ek teleurgesteld. Ek het nie die kontrak laat teken nie. Die suiwerste oorsaak is dat ek die administrasie verpes; om iemand met ’n kontrak in ’n blik te druk; om myself weliswaar so te beskerm, maar steeds ... en ek draai om. As ek nie dit vir myself kan doen nie, is alles nie die sout werd nie. Maar is ’n kontrak nie ’n aanduiding van jou wantroue in die mens nie? Nee, dis iets wat my en sy verhouding bepaal, oortuig ek myself, met kollegas en vriende en girlfriends van ouds se advies in my ore.

En ek's weer die trappe op, en klop aan die deur. Die deur gaan oop. Johannes maak die deur dié keer self oop. Gewoonlik het Dmitri – amper sinister, soos ’n sekuriteitswag van vreemde-legioen-nasionaliteit. Benoud gee ek die rede. Ralph se gesig helder op: “Kom in. Ek hou van kontrakte.” En daar slaat ons hand op papier. 

Toe ’n entrepreneur van Melkbos, where angels fear to tread, in-charge en ’n fees kom reël, was Ralph juis deur dié benadering een van min kunstenaars wat ’n sent verdien het uit die tameletjie. Hy het glo aangedring op ’n voorafbetaling. Na afloop van die “fees” – toe alle deure toe was en beloftes van betaling verdamp het – sê ’n ander kunstenaar se advokaat vir my: “Vir die volgende dertig jaar is alles wat die feesbaas sal besit, my kunstenaar s’n.” Ralph se fooi was veilig in die bank.

Ek het sulke los memories. Ek en Surisa ry eenkeer Montagu toe om ’n venue te toets. Ons wou die pragtige plek insluit by toekomstige toere, en het. Koos Kombuis en ’n klomp kitare het later daar opgetree vir een van ons toere. Dis ’n pragtige groot saal, met Romeinse pilare en kaggels voor langs die verhoog. Die volgende oggend vroeg ry ons Swellendam toe. Ons is betyds om Ralph en Dmitri daar aan te tref, besig om ontbyt te eet agter in die restaurant. Die eienares, wat later jare wreed vermoor is, vertel: sy weet nie wat ons gedoen het nie, maar sy kon drie keer haar restaurant volgemaak het. Mense het tot van Barrydale gery. Selfs Breyten Breytenbach was daar, seg sy.

Oomblikke later bied sy aan om ons tien persent van die geld wat vir die kaartjies verdien is, sommer te betaal. "En," ... expose sy haar obliviousness van die bedryf, “ ... vir …” vra sy, “wát wat julle nou weer gedoen het?” Surisa was ’n paar jaar in ’n ry The Star Venue van die Jaar in Johannesburg, so sy het nie op haar laat wag nie! Gou het sy die meisie se onsensitiwiteit beantwoord met die eerste frases van ’n lesing oor voordele in die mark-up op cappuccino’s en dies meer as jy ’n propvol plek het doer in die platteland.

Daar is die keer toe ’n kansvatter-venue manager my die aand halftwaalf bel omdat Ralph ’n scene gemaak het.

In onderhandeling was die formule soms omtrent ’n wetenskap. As daar byvoorbeeld 100 mense is, verdien die kunstenaar suffel. Is daar nou meer mense, stoot sy prys op. Dié soort ding. Ek dink die wetenskap agter dit was dat die venue dan meer drank, kos, cappuccino’s en melkskommels verkoop. As daar minder mense is, is sy risiko om te verloor groter. So mens probeer reg te laat geskied aan almal. En les bes – probeer almal se nukke plesier, dans na almal se pype – noem dit wat jy wil.

By die Weskus-gig was die aand meer as die ooreengekome mense, en dan moes Ralph se fooi hoër. Soos dit toe met kansvatters gaan, loop hy Ralph toe in. Wel, dit was klinkklaar, en ek vat die jafel toe kort. ’n Ooreenkoms is ’n ooreenkoms. En soos dinge maar werk, spring Murphy aan die werk, en siedaar - toe broei dit uit dat die perd, hoogs oneties, Ralph bespreek het, sonder my medewete, om gou die volgende middag weer vir hom op te tree.

Dit was die keer toe Ralph eendag vir my sê: “Ek is jammer. Ek sal nie so iets weer laat gebeur nie.” Nice memory né?! “Sorry, ek het ’n fout gemaak!” Hoe baie mense kry sulke edelheid reg?!

Ek onthou ook die een aand by die Independent Armchair Theatre. Die kleedkamer was ’n ma-se groot kluis. Jy moes sulke gordyne opsy skuif om by die kluis uit te kom. Dit was soos ’n “holding cell” backstage. En die laaste keer voor die show begin, toe ek daar inloop ... die serene man in sy pak wat daar staan met sy hande soos die Dalai Lama voor sy midderif gevou in biddende posisie.

Ek onthou ook die een aand by die Independent Armchair Theatre. Die kleedkamer was ’n ma-se groot kluis. Jy moes sulke gordyne opsy skuif om by die kluis uit te kom. Dit was soos ’n “holding cell” backstage. En die laaste keer voor die show begin, toe ek daar inloop ... die serene man in sy pak wat daar staan met sy hande soos die Dalai Lama voor sy midderif gevou in biddende posisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top