Vryheid van spraak: hoe vry is dit?

  • 0

Die skokkende moorde van redaksielede van die Franse satiriese tydskrif Charlie Hebdo het die debat oor vryheid van spraak en persvryheid ook by ons aangevuur.

Ons Grondwet erken uitdruklik die vryheid van mening, wat insluit die vryheid van die pers, die vryheid om idees te versprei, vryheid van kunsuitinge sowel as akademiese en navorsingsvryheid. Hierdie vryhede mag egter nie gebruik word nie om oorlog te propageer, geweld aan te stig of neerkom op haatspraak wat op ras-, etniese, geslags- of godsdienstige vooroordele gebaseer is en tot konflik, onmin en geweld kan lei nie.

Hierdie vryhede mag ook nie gebruik word om ander mense te belaster nie, want menswaardigheid en die reg op privaatheid moet gerespekteer en beskerm word. Ons howe huldig die houding dat persone in hoë openbare ampte nie te dun van nerf moet wees nie. As hulle byvoorbeeld bewese korrupsie of diefstal gepleeg het, kan harde persoonlike stellings daaroor gemaak word. Berigte in die pers oor hul private lewens wat sowel op die waarheid gegrond is as die openbare belang dien, sal wel aanvaar word. Sappige en lasterlike skinderstories oor sulke mense wat moontlik waar mag wees, maar  glad nie op hul ampsuitoefening betrekking het nie, sal nie toegelaat word nie, omdat dit niks tot die openbare belang bydra nie.

Ook mag vryheid van spraak nie misbruik word om onwettige gruwelikhede soos kinderpornografie, gesinsgeweld, bestialiteit en ander afwykings soos dwelmgebruik te propageer nie.

Die tragiese gebeure by Charlie Hebdo moet in hul Franse konteks verstaan word. Ek het ook in my studentedae, en later as gasprofessor in Parys, nogal dikwels ’n Charlie Hebdo gelees. En was meestal geamuseer en soms selfs bietjie ontstel gewees deur die naakte beeldstormery, die blatante draakstekery en soms kru kommentare en spotprente. Maar dan het ek telkens besef dat hierdie tydskriffie met ’n redelik beperkte oplaag en taamlik uitgesoekte leserskring onder Franse intellektuele, meestal van linkse oortuigings, tog ook ’n bepaalde plek in die groter Franse verband gehad het. Veral om maatskaplike misverstande, vooroordele en regeringsvergrype bloot te lê.

Die Franse verband waarvan hier ter sprake is, is die aard van die Franse staat. Sedert die groot revolusie meer as twee eeue gelede, beroem die Franse hul daarop dat hul ’n sekulêre staat (?tat  laïque) sonder godsdienstige grondslag is. Dit beteken nie ’n godlose staat nie, maar ’n staat met politieke en godsdienstige vryheid, vryheid van assosiasie en vryheid van spraak. Hierdie gekoesterde vryhede en die groot verskeidenheid van godsdienstige en vele ander intellektuele en artistieke strominge is juis daarvoor verantwoordelik dat Frankryk, en veral Parys, so ’n opwindende bergplek van idees, vry denke en verdraagsaamheid is. En nog altyd die Franse nasionale trots gevoed het.

Die afgelope dekades het sake egter drasties verander en die grumoorde van Charlie Hebdo se redaksielede is simptomaties van hierdie verandering en ’n diepliggende malaise. Oor die jare het al hoe meer Moslem-immigrante die land binnegekom met ’n nageslag wat Franse burgers geword het, maar meestal in hul eie ghetto’s gewoon het en nie in die breër Franse samelewing opgeneem is nie. In hul identiteitsoeke en opstand word hulle die maklike prooi van radikale Islamitiese ideologieë wat geensins nog respek vir vryheid van denke en spraak het nie en onder die vaandel van fundamentalistiese Islam sal moor en anargie kweek.

Wat ook die gevolg het dat die Franse bevolking self al hoe meer regsradikaal en onverdraagsaam  geword het, soos die opkoms van die regse Front National duidelik bewys. Met die gewaande droom van nasionale eenheid onder ernstige bedreiging.

Wat kan ons uit die tragiese Charlie Hebdo-gebeure leer?

Soos aan die begin van hierdie bydrae verduidelik is, het ons ’n grondwetlike reg op vryheid van spraak, van mening en van die pers. Hierdie vryhede moet egter in die bepaalde verband van ’n breë, gebroke en in vele opsigte versplinterde Suid-Afrikaanse samelewing gesien en verstaan word. Ons is nog baie ver van die ideaal van een reënboognasie wat saam verenig is deur dieselfde ideale en waardes. Dan verstaan mens hoekom die reg op vryheid van spraak, en veral persvryheid, in ’n mynveld van vooroordele, rassebeheptheid en beskuldigings, seksuele taboes, homofobie, politieke kleinserigheid, verkrampthede en ander gemeenskapsonheilighede katvoet uitgeoefen moet word. Soos Ferial Haffee (Trading the tight-line-tolerance in die City Press van 11 Januarie vanjaar) na aanleiding van die Spear of the Nation aan haar eie lyf gevoel het. Al hierdie faktore maak  dat vryheid van spraak ’n klein vuurtjie kan wees wat groot brandstigting veroorsaak.

Beteken dit dus dat ons grondwetlike vryheid van spraak en veral persvryheid dus eintlik net ’n gewaande of hoogstens ’n gekniehalterde vryheid is? Nee, geensins nie. Net soos in die baie ou tye die dorpsherout op die markplein rondgeloop het met sy beuel om nuus te verkondig, so is die pers (met al die moderne sosiale netwerke en moderne kommunikasiemiddele) die herout wat in die openbaar in ons huise en kollektiewe vergaderplekke vir ons oor die jongste gebeure inlig, aan ons politieke, maatskaplike, ekonomiese en ander aktuele kommentare lewer en boonop as bonus met satire en spot die dwaashede en grootdoenerighede van bewindhebbers aan die kaak stel. Die openbare pers met sy spraakvryheid pomp suurstof in ons demokratiese bestel in. Daarsonder dal die hele staatkundige bestel versmoor. Daarom is iets soos die sogenaamde Muilbandwet ’n bedreiging nie net vir die pers nie, maar ook vir die demokrasie. Teenkanting met verwerping van eerlike kommentaar onder die beskuldiging van rassisme, soos onlangs met Max du Preez se artikel gebeur het, is ’n direkte aantasting van persvryheid en moet met minagting verwerp word.

Meer as onderdrukking of geweld, is vryheid van spraak, en in die besonder vryheid van die pers, die kragtigste manier om  ingeligte, verantwoordelike en bowenal verdraagsame gemeenskappe te kweek. Uiteindelik is dit ’n bewys dat die pen tog magtiger is as die swaard.

Terug na die Charlie-seminaar | Back to the Charlie Seminar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top