Vryheid, gelykheid en broederskap

  • 2

The causes which destroyed the ancient republics were numerous; but in Rome, one principal cause was the vast inequality of fortunes.
– Noah Webster

Sedert die 2013-publikasie van Thomas Piketty se Capital in the Twenty-First Century gons die wêreld se kletsklasse, akademici en al wat ’n blerrie agent is al weer oor groeiende ongelykheid in die wêreld. Piketty, ’n Franse ekonoom, argumenteer skynbaar – skynbaar, want ek kon nog nie self die moed en sterk koffie bymekaarskraap om die bykans 700 bladsye se statistiek, argumente en grafieke deur te werk nie – dat indien die opbrengs op kapitaal groter is as die ekonomiese groeikoers, verhoog dit bestaande inkomste- en welvaartongelykhede, wat dan weer lei tot sosiale en ekonomiese onstabiliteit. Sy voorgestelde teenvoeter hiervoor is, kennelik Frans, ’n wêreldwye stelsel van progressiewe belasting op rykdom om te verhoed dat “die 1%” nie uiteindelik alles besit nie.

As ’n mens terugkyk in die geskiedenis, selfs so ver terug as die Romeinse Ryk (verwys epigraaf), is daar interessante sikliese patrone te bespeur onder beide relatiewe en absolute vlakke van welvaart. Dit is nie altyd duidelik hoe die komplekse interaksie van faktore soos migrasie, epidemies, oorloë, verstedeliking, tegnologiese verandering, media, politieke omwentelinge, skoling en vele ander ontvou nie, maar die netto effek blyk telkens te wees dat nóg ongelykheid, nóg absolute armoede permanent kan bly groei – iewers moet iets meegee.

Ook hier ter plaatse is die gesprek oor ekonomiese ongelykheid bykans ’n voltydse nasionale obsessie – tussen die werkloses en werkers, tussen die werkers en bestuur, tussen bestuur en aandeelhouers, plattelanders en stedelinge, wit en swart, politici en stemvee, jonges en oues, burgers en inkommers, geskooldes en ongeskooldes. Hoe anders? Fortuine word dan so te sê oornag gemaak deur ’n paar goedgeplaaste voorheen fortuinloses; protesterende mynwerkers word doodgeskiet deur ’n volledig getransformeerde dog permanent getraumatiseerde polisiemag; nog ’n generasie honger kinders word deur onaantasbare onderwysers deurgesit terwyl hulle hulle dae deursit; basiese infrastruktuur stort, soos Hemingway eens geskryf het oor bankrotskop, eers langsamerhand, dan bitter vinnig, in duie. Elke Dainfern het sy Diepsloot, elke Steynstad sy Cosmostad.

Wie kan nie geraak word deur die lot van die armstes onder ons nie? Sekerlik stem almal saam dat ons as ’n gemeenskap beter kan en moet doen vir diegene onder ons wat die slegste daaraan toe is?

Maar is ongelykheid, die verskil tussen ryk en arm, die regte windmeul om te bestorm wanneer ’n mens die armstes onder ons se absolute lot wil verlig? Perdalkies nie.

Een van die maniere waarop ekonome inkomste-ongelykheid probeer kwantifiseer, is deur die berekening van ’n sogenaamde Gini-verhouding, wat kan wissel vanaf 0% (almal verdien presies dieselfde) tot ’n teoretiese 100% (een ou verdien alles en die res niks).

Die berekeninge is nie altyd streng vergelykbaar tussen lande nie, maar volgens die Wêreldbank kan die laagste Gini’s gevind word in die sosiaal-demokratiese Skandinawiese lande (Denemarke, Swede, Noorweë), soos ’n mens seker sou verwag … maar dan ook in ’n hele paar disfunksionele lande, soos Afghanistan, Irak en Etiopië! Voordat jy dus Gini-greer, maak seker waarvoor jy jou inlaat.

Dit toon duidelik wat die gevaar is om bloot gelykheid klakkeloos na te streef of kunsmatig teweeg te bring. Vele populistiese revolusies, gefaalde state, oorloë en kommunistiese eksperimentering met grootskaalse sentrale beplanning kan daarvan getuig dat die strewe na gelyke welvaart maklik kan eindig by die pirrhiese oorwinning van gelyke armoede (politieke leiers en hulle vasalle natuurlik uitgesluit).

Wat staan ’n land soos Suid-Afrika dan te doen?

Gestel ons kon ’n “ekonomiese Kodesa” (EkonDesa?) hou, soos wat vele al voorgestel het, hoe sou dit verloop en tot watter tipe vergelyk sou ons moontlik kon kom?

Die Amerikaanse politieke filosoof John Rawls (1921–2002) het dit sy lewenstaak gemaak om oor presies hierdie vraagstuk van sosiale geregtigheid te dink. Die eerste probleem met ons hipotetiese EkonDesa, sê hy, is dat ons almal daar sou opdaag vanuit ons eie sosio-ekonomiese agtergrond. Die 99% sou dus meer wou deel in die bates en inkomste van die 1% en sou sekerlik allerhande argumente vir groter herverdeling en maatskaplike besteding voorlê, waarop die 1% sou terugkap met redes hoekom hulle eerder minder belasting behoort te betaal en aangemoedig behoort te word om, sê, meer mense in diens te neem, of om nie die land te verlaat nie. So bereik die debat ’n dooie punt nog voordat die oggend se eerste polistireenkoffies koud geword het.

Rawls stel ’n briljante oplossing voor om hierdie struikelblok uit die weg te ruim. Verbeel jou, sê hy, dat ons nie persoonlik na EkonDesa gaan nie, maar eerder elkeen ’n goedgesinde afgevaardigde stuur om onafhanklik namens ons te onderhandel. Daar is egter ’n kinkel: die verteenwoordigers weet absoluut niks van hulle konstituente af nie. Ryk of arm, man of vrou, kind of bejaarde, president of prollie? Dit kan enigiemand wees.

Waarmee sou ons objektiewe verteenwoordigers vorendag kom? Deur ’n reeks logiese argumente ontwikkel Rawls vanuit hierdie eenvoudige premisse twee grondbeginsels van ’n regverdige sosio-ekonomiese politieke bestel.

Die eerste beginsel stel dit eenvoudig dat almal die reg moet hê op soveel basiese vryhede as moontlik, solank dit nie bots met die soortgelyke vryhede van ander nie – stemreg, vryheid van spraak, samekoms, persoonlike besittings, ens. Hy probeer hierdie lys so eenvoudig en beperk as moontlik hou, omdat verskillende regte sommer gou-gou met mekaar en ander se regte begin bots, maar oor die algemeen sou die meeste van ons seker hierdie beginsel geredelik aanvaar.

Die tweede beginsel is meer interessant, want dit is hiér waar ekonomiese ongelykheid hanteer word. Wanneer dit kom by die regverdige verdeling van ’n samelewing se bates en inkomste, sê Rawls, sal ons slim verteenwoordigers by EkonDesa sekerlik begin deur elke moontlike ekonomiese verdeling te oorweeg en die sosiale uitkomste daarvan met mekaar te vergelyk. Kommunisme, sosialisme, libertarisme, alle variasies van kapitalisme (byvoorbeeld verskillende belastingskale, verskillende maatskaplike voordele); kortom, elke -isme onder die son.

Maar wat sou die mees regverdige maatstaf wees om aan te wend? Is die enigste moreel regverdigbare posisie dan nie eenvoudig ’n gelyke verdeling van alles nie?

Verkeerd en hopeloos naïef, sê Rawls. Ongelykheid, selfs groeiende ongelykheid soos wat die wêreld tans ervaar, kan moreel geregverdig word indien dit die absolute lot verbeter van dié wat die minste ontvang. Sy tweede beginsel van sosiale geregtigheid stel dit dan ook so: uit alle moontlike verdelings van ekonomiese goedere, kies dáárdie stelsel wat die minimum toedelings maksimeer.

Rawls reken dus ’n gemeenskap behoort tevrede te wees met ’n Bill Gates of tien in hulle midde, indien daardie entrepreneurskap byvoorbeeld beteken dat die ekonomie volhoubaar groei, wat weer kan lei tot werkskepping en verhoogde belastinginkomste, wat weer kan betaal vir beter infrastruktuur en maatskaplike voordele soos gesubsidieerde gesondheidsorg of pensioene.

Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie argument van Rawls ’n teoretiese raamwerk verskaf, nie noodwendig praktiese antwoorde nie. Dit beteken ook nie dat hy sou saamstem met huidige vlakke van ongelykheid nie – hy sou bloot daarop wys dat ongelykheid per se die verkeerde sondebok is, en vra hoe ons die stelsel kan hervorm tot voordeel van die armstes, al beteken dit dalk dat die rykes steeds ryker kan word.

Hoe so ’n optimale stelsel prakties daar sou uitsien, bly egter ’n ope vraag. Wanneer dit byvoorbeeld by ’n optimale belastingskaal kom, weet ekonome eintlik maar net van twee waardes wat nié werk nie: 0% en 100%.

’n Verdere paar hinderpale in die weg na utopie word gelê deur die hopeloos verouderde bedeling van soewereine nasiestate waarmee die wêreld vandag nog sit, wat beteken dat state met mekaar moet meeding om die mees talentvolle burgers, entrepreneurs en maatskappye te behou of oor te haal. Kapitaal self, anders as selfs talentvolle arbeid, vloei natuurlik teen die spoed van lig deur ’n globale netwerk van optiese vesel na tuistes waar dit onbeskroomd en onbelas verwelkom word.

So daar is nog baie werk om te doen. Kom ons probeer egter om beide die gans én die goue eiers te behou!

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Theo Winter kan gerus dikwels skryf. Hy is goed ingelig en hy formuleer uitstekend. Bowenal het hy gebalanseerde insig, wat meebring dat hy nie sonder meer napraat wat in die mode is nie. Dit is sulke skrywes wat LitNet 'n gerekende inligtingsbron maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top