Vryfees 2014: Slaaf

  • 0

Teks: Wessel Pretorius en Carel Nel
Regie: Wessel Pretorius
Met: Carel Nel
19 Julie 2014, OFM-Albert Wessels-ouditorium

Soos die karakter Gregor Samsa in Kafka se novelle Die Verwandlung (in Engels vertaal as Metamorphosis) vind Gregory Pieterse (gespeel deur Carel Nel) op ’n dag dat hy onomkeerbaar verander is. Hy het nou wel nie in ’n reuse-kakkerlak verander nie, maar in ’n dwelmslaaf. Gregory sit in ’n karig gemeubileerde en vervalle vertrek en wag op ’n besending heroïne. Hy beplan om ’n oordosis hiervan te neem en so sy lewe op 27 te beëindig. Die gehoor maak dus kennis met Gregory in die laaste worstelende ure van sy lewe, waar hy sy finale gedagtes met ’n kamera-opnemer vir sy vervreemde broer opneem. Hierdie monoloë word afgewissel deur vertolkings van sekere mense wat ’n rol in sy lewe gespeel het.

Om ’n solostuk te skryf oor die laaste ure van ’n dwelmslaaf se lewe – en dít terwyl hy sy selfdood beplan – is nie maklik nie. Dit vereis dat ’n wroeging wat binne-in die karakter se gedagtes woed, uitgebeeld word sonder die hulp van ander karakters. En dit boonop binne ’n realistiese styl. Sarah Kane kry dit byvoorbeeld reg om in haar 4.48 Psychosis die versteurde gemoedstoestand van iemand op die rand van selfdood uit te beeld deur ander karakters in te sluit en van realisme af te wyk. As outeurs slaag Wessel Pretorius en Nel nie hierin nie.

Gregory is alleen op die verhoog, sonder enige interaksie met ander karakters, en daarom word die kamera-opnemer ingespan om hierdie probleem in ’n mate op te los. Dit het ongelukkig geforseerd voorgekom: ek is nie oortuig deur die idee van ’n dwelmslaaf wat in skynbare armoede leef, maar dan luukse items soos ’n mp3-speler, kamera-opnemer, boeke en DVD’s besit nie. Verder romantiseer dit die idee van ’n intellektuele dwelmslaaf wat leef van musiek, letterkunde en heroïne. Hierdie idee word versterk wanneer Gregory na homself verwys as deel van die “27 Club”, ’n groep musikante wat almal op die ouderdom van 27 oorlede is – gewoonlik as gevolg van dwelmmisbruik. Om homself saam met ikone soos Kurt Cobain, Jim Morrison en Janis Joplin te groepeer, kom pretensieus voor.

Aan die ander kant voel Gregory se waarskuwings aan sy broer dikwels didakties, veral wanneer hy vermaan dat sigarette die poort tot dagga en ander gevaarliker dwelms is. Dit herinner te veel aan ’n Opvoedkundige Leiding-onderwyser wat ’n preek afsteek.

Slaaf bevat dus twee onversoenbare – en selfs naïewe – clichés oor dwelmgebruik.

Die uitbeeldings van Gregory se ouers is ook ongelukkig geyk. Hulle bly bloot genderstereotipes: ’n pa wat in Angola geveg het en wou hê sy kunssinnige seun moet sy eie manlikheidsideale navolg en ’n ma wat truie brei, kos in die lou-oond bêre en haar seer in stilte dra.

’n Drama wat op ware gebeure gebaseer is, verseker nie noodwendig ’n oorspronklike teks nie. In die lig van films soos Trainspotting (gebaseer op Irvine Welsh se roman en ook tot ‘n drama verwerk) en Requiem for a dream, wat in die laat 1990’s en vroeë 2000’s verskyn het, bied Slaaf geen nuwe invalshoek tot dwelmmisbruik en -verslawing nie. Heel ironies vermaan Gregory sy broer om nie ’n oorbel te dra nie, aangesien dit in die 1990’s hoort.

Hierdie toneelstuk sou miskien meer gewaagd, vars en nuut gewees het as dit in die 1990’s opgevoer is.

Die intertekste van Kafka en NP Van Wyk Louw se Raka word ook nie sinvol betrek nie. Daar word herhaaldelik na Kafka verwys en sy naam word as ’n werkwoord gebruik om aan te dui wanneer iemand ’n onomkeerbare punt in sy of haar dwelmverslawing bereik het. Gregory is dus “geKafka”. Hierdie woord verskyn ook duidelik in graffiti teen die agterste muur van Gregory se kamer. ’n Opname met voorlesings uit Raka word van tyd tot tyd gehoor en die naam verskyn ook teen die agterste muur. Hierdie verwysings voel geforseerd, asof dit in die teks ingewerk is om gravitas daaraan te verleen.

Desnieteenstaande is Nel duidelik ’n baie talentvolle akteur. Hy het die vermoë om geheel en al weerloos te wees voor ’n gehoor en hy is ten volle in beheer van elke beweging van sy liggaam. In sy skinny jeans sonder hemp of skoene het sy bitterskraal voorkoms oortuig as dié van ’n dwelmslaaf. Onder Pretorius se regie gebruik Nel by tye ’n skermlose lamp as mikrofoon. Daar is dan geen ander beligting op die verhoog nie, behalwe die skerp, ongenaakbare gloeilamp. Nel se silhoeët word daardeur in amper groteske proporsies teen die mure van die ouditorium gegooi. Dit beklemtoon die gevoel van onheil in die produksie en versterk die idee dat Gregory vasgekeer word deur ’n mag veel groter as hy, hoewel dit uit homself spruit. Hoewel dit bydra tot die geyktheid van die teks, werk die stelontwerp esteties.

Dit is jammer dat die geesdrif, ontwerp en goeie spel van hierdie produksie deur ’n onoorspronklike teks gekortwiek word.   

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top