Vlug SA203

  • 0

Lizette vlieg na New York. Ek vat haar lughawe toe.

Sy vlieg 16:45, land in Johannesburg 18:45. Daar's genoeg tyd om iets te drink, te bel en koebaai-smse te stuur. Die bagasie word in Kaapstad deur bespreek tot in New York.
Ons gaan dadelik inweeg. Lizette, effe doof in die een oor, moet vorentoe leuen om te hoor wat die inweegamptenaar sê. Elke nou en dan moet ek herhaal sodat daar nie 'n misverstand tussen reisiger en amptenaar is nie.

Amptenaar: Mevrou, waar is die VSA-visum?

Mevrou gryp die paspoort, bril op en blaai daai boekie soos 'n mens 'n pak kaarte skommel. Daar is 'n visum in, maar met hom kan jy net Europa toe.
Mevrou aan my: Die visum is in die ou paspoort. Dis by die huis.

Mevrou aan Amptenaar, beangs: Meneer, ek kan nie die vlug mis nie. Kan ek nie maar op hierdie visum Amerika toe gaan nie?
Amptenaar gee so 'n skewe laggie: Ongelukkig nie, Mevrou.

Mevrou raak spierwit.

Ek sê: Ons moet die ou paspoort so gou moontlik hier kry. Bel huis toe.

Gerrit vind die paspoort op die plek waar sy presiese ma dit gebêre het. Terwyl hy vir Hollie in die pad sit met die paspoort, is ons en die amptenaar aan die planne maak. Hollie is nog twee ure weg.

Amptenaar: Mevrou sal nie die 16h45 vlug haal nie.

Mevrou: Ek moet die New York vlug haal. Hoe laat is die volgende vlug Johannesburg toe? Wat moet ek opbetaal?

Amptenaar: Net 'n oomblik ... Niks nie, Mevrou. Dis 'n flexi-kaartjie. Die vlug is 18h00 en land in Johannesburg 20:00. Maar mevrou, die boarding tyd vir New York is 20h05. En dan nog die tasse kry. Ek weet nie ...

Mevrou val hom in die rede: Kan jy nie maar die tas nou al reguit deurbespreek nie?

Amptenaar: Nee mevrou, jy en jou tas moet saamreis.

Stilte ... Ek het 'n plan!

Ek sê: Ons koop vir jou die grootste handbagasietas wat toelaatbaar is. Dan pak ons net in waarsonder jy nie kan klaarkom nie. Ons spoed weg op soek na 'n kofferwinkel.
Amptenaartjie roep agterna: Daar is plek op die vlug, Mevrou.

Af met die roltrap en siedaar.

'n Swart man wat nie ons taal magtig is nie, kom snel ons te hulp. As mens ontsteld is, praat jy jou moedertaal.

Lizette op suiwer Afrikaans: Ek soek die grootste, goedkoopste sak wat ek as handbagasie kan saamvat.

Hy verstaan. Hy kom te voorskyn met 'n blou koffertjie wat my laat dink aan toentertyd se skoolkoffers net met zip en wieletjies. Waar sal ons uitpak en oorpak? 'n Afrikaanse winkelassistent uit die niet: Net hier is goed, Mevrou.Lizette pak die ou koffertjie dat ek later op hom moet sit sodat sy die zip kan toekry.

Die bagasie is uitgesorteer. Nou nog net Hollie en die paspoort. Heen-en-weer gooi Lizette die gedagtes: Weet Hollie waar die lughawe is? Waar ry hy nou? Ek kan nie daai vlug mis nie, sê nou net ek maak dit nie ...

Ek sê: Kom ons gaan drink iets en raak rustig. Ek met die groot tas wat moet huis toe en Lizette met die klein tassie wat moet New York toe.

Dis 'n koue dag. Ons is vuurwarm en drink yskoue lemoensap.

Lizette: Ek voel nou sleg, hoekom ry jy nie maar nie?

Ek: Nog nooit as te nimmer los ek jou voor jy nie op daai vliegtuig is nie.

Elke nou en dan bel Lizette. Hollie antwoord nie. Dalk ry hy nou by Malmesbury se afdraand. Daar is nie ontvangs nie. Lizette bel later plaas toe. Sy't die verkeerde nommer en kry die regte een. Hy antwoord.

Hollie: Mevrou, ek is hoeka al by Malmesbury verby. Moenie worry nie Mevrou, ek ken die Kaap. Ek ry nou hier oor die Kaapse hoogte. Waar die Kaapse hoogte ook al is, Hollie kan dit maak. Die inweeg sluit 17:30.

Dis 17:10, ons staan by drop-n-go. Die windjie sny ysig. Elke tweede voertuig lyk soos Hollie se bakkie, maar dit is nie. Dis spitsverkeer. Die twyfel of Hollie dit sal maak, laat die koue sweet oor ons uitslaan.

17:23, Lizette bel weer.

Hollie: Mevrou, nog so 15 minute.

Lizette: Dis te lank, hulle sluit die inboek plek.

Ek: Lizette, sê vir die inweegman jou visum kom, hulle moet wag. Ek bly by die tasse en kyk uit vir Hollie.

Sy kom terug. Hulle het langs haar naam geskryf: Urgent, needs assistance, have to catch plane to New York. Lizette het haar selfoon vir my gegee om te hou. In haar angs het sy vergeet en pak haar hele handsak uit op soek daarna. Intussen staan ek in die ysige wind en hou die pad dop. Wragtag, hier kom 'n bakkie, en net aan sy ry weet ek dis Hollie. Ek spring in die pad, swaai arms en beduie. Hollie sien my, stop, gee die paspoort. Als een beweging. Lizette soek nog selfoon, toe druk ek die paspoort in haar hand. Sy gryp dit, hardloop na Hollie en gee hom so 'n skuins druk dat hy amper rûens agteroorslaan.

Ek sê: Sowaar Hollie, nou het jy darem vinnig gery.

Hollie: Mevrou, nou het ek gekom.

Sy hele lyf bewe. Eintlik moes ek toe eers saam met Hollie koffie gedrink het ... Askies Hollie.

Lizette hardloop met die klein tassie, ek stap met die groot tas en Hollie ry huis toe.

Volgens internet land hulle eers 20:08. Ek stuur 'n stille gebed op dat Lizette tog met die laaste geroep van: :This is our last call for Mrs van der Merwe. Please board at gate 8 for Flight SA 203 to New York,” die vlug sal haal.

Lizette 20:08: Ons het 20:00 geland. Almal moes sit, want ek moes uit. Ek en die grondwaardin het resies gehardloop met die skoolkoffertjie se wieletjies wat net so hier en daar grond vat.
Ek staan in die ry om aan boord te gaan.

Toe skink ons agterblydendes vir ons 'n ietsie.

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top