Vir Thys steeds oor die Wetenskap
Thys, ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief aan jou en Brian (5 deser).
Jy sê om te bevraagteken is 'n " ... baie goeie ding MAAR ..." en dan volg 'n klomp voorwaardes. Ek sê onsin; ek bevraagteken oor dit vir my nie logies, of nie 'reg', lyk nie.
Ek erken, meeste van hierdie bevraagtekening is uit hoofde van my gebrekkige kennis of gebrekkige intellek; mens wonder mos altyd oor iets as jy dit nie mooi verstaan nie. Indien my kennis gebrekkig is, kan my twyfel besweer word deur 'n verduideliking in leketaal (soos al gebeur het op hierdie werf – ek is al 'n paar keer reggehelp). Indien my intellek tekortskiet is daar egter nie veel aan te doen nie, my kop is net te plat om byvoorbeeld party goed van die evolusieleer in te sien maar dit nou daar gelaat.
Jy skyn my redelik ingelig te wees so miskien kan jy 'n paar goed verduidelik wat vir my 'n raaisel is. Die oerknal byvoorbeeld: Indien die storie wel plaasgevind het dan behoort die heelal mos sterradiaalgewys uitdy. Hoe gebeur dit dan dat galaktiese stelsels bots, hulle behoort dan mos al hoe verder uitmekaar te spat, of hoe? Terloops, hoekom praat jy van die 'oeruitdying'; is die uitdy nie nog steeds aan die gang sedert die oerknal so 14 miljard jaar gelede nie?
En presies wat laat die wetenskaplikes sê die (aanvanklike?) uitdying was in 'n 0 punt vyf-en-dertig nulle eenste van 'n sekonde?
Nog 'n ding wat my pla is hoekom al die planeetbane min of meer in 'n plat vlak lê. Indien die planete (alle hemelliggame om die waarheid te sê) deur sogenaamde akkresie uit die, noem dit maar knalstof, gevorm is behoort hulle bane mos in lukrake vlakke om die son te lê, dan nie? En hoekom roteer hulle in elk geval, hoekom het alles nie maar 'akkresieer' in een groot bol nie?
Hierdie 'ruis' wat 'n oorblyfsel sou wees van die oerknal, uit watter rigting kom dit? Met ander woorde, kan mens bepaal waar die oerknal plaasgevind het? Of is dit 'n ongeldige vraag want die ruis is bloot 'om' ons, dit kom uit geen rigting nie?
Ek sien nou die dag op televisie dat Jupiter se mane, veral die naastes, onder hewige stres is vanweë Jupiter se geweldige gravitasiekrag. Die naaste groot maan, Io, word blykbaar, as gevolg van hierdie sterk swaartekrag, gebrei en warm gemaak soos met 'n draad sou gebeur wat herhaaldelik gebuig word. Daar word selfs beweer dat Jupiter se swaartekrag uiteindelik daardie maan uitmekaar gaan skeur.
Dit maak nie sin vir my nie; 'n ding is mos in 'n wentelbaan omdat hy gedurig die liggaam wat hom aantrek 'mis val'. Die afstand (hoogte) van die baan is dus 'n funksie van die swaartekragversnelling en die omwentelingspoed. Die kragte wat Io en ons maan ondervind moet dus dieselfde wees; hulle weeg niks (hulle het wel massa natuurlik).
So is daar baie goed wat vir my 'n raaisel is, ook in die politiek. Ek kan byvoorbeeld glad nie die keiser se mooi klere, wat die liberaal-demokrate so in ekstase het, sien nie.
Groetnis
Jan Rap