Vir Thys steeds oor die Wetenskap

  • 4

Thys, ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief aan jou en Brian (5 deser).

Jy sê om te bevraagteken is 'n " ... baie goeie ding MAAR ..." en dan volg 'n klomp voorwaardes. Ek sê onsin; ek bevraagteken oor dit vir my nie logies, of nie 'reg', lyk nie.

Ek erken, meeste van hierdie bevraagtekening is uit hoofde van my gebrekkige kennis of gebrekkige intellek; mens wonder mos altyd oor iets as jy dit nie mooi verstaan nie. Indien my kennis gebrekkig is, kan my twyfel besweer word deur 'n verduideliking in leketaal (soos al gebeur het op hierdie werf – ek is al 'n paar keer reggehelp). Indien my intellek tekortskiet is daar egter nie veel aan te doen nie, my kop is net te plat om byvoorbeeld party goed van die evolusieleer in te sien maar dit nou daar gelaat.

Jy skyn my redelik ingelig te wees so miskien kan jy 'n paar goed verduidelik wat vir my 'n raaisel is. Die oerknal byvoorbeeld: Indien die storie wel plaasgevind het dan behoort die heelal mos sterradiaalgewys uitdy. Hoe gebeur dit dan dat galaktiese stelsels bots, hulle behoort dan mos al hoe verder uitmekaar te spat, of hoe? Terloops, hoekom praat jy van die 'oeruitdying'; is die uitdy nie nog steeds aan die gang sedert die oerknal so 14 miljard jaar gelede nie?

En presies wat laat die wetenskaplikes sê die (aanvanklike?) uitdying was in 'n 0 punt vyf-en-dertig nulle eenste van 'n sekonde?

Nog 'n ding wat my pla is hoekom al die planeetbane min of meer in 'n plat vlak lê. Indien die planete (alle hemelliggame om die waarheid te sê) deur sogenaamde akkresie uit die, noem dit maar knalstof, gevorm is behoort hulle bane mos in lukrake vlakke om die son te lê, dan nie? En hoekom roteer hulle in elk geval, hoekom het alles nie maar 'akkresieer' in een groot bol nie?

Hierdie 'ruis' wat 'n oorblyfsel sou wees van die oerknal, uit watter rigting kom dit? Met ander woorde, kan mens bepaal waar die oerknal plaasgevind het? Of is dit 'n ongeldige vraag want die ruis is bloot 'om' ons, dit kom uit geen rigting nie?

Ek sien nou die dag op televisie dat Jupiter se mane, veral die naastes, onder hewige stres is vanweë Jupiter se geweldige gravitasiekrag. Die naaste groot maan, Io, word blykbaar, as gevolg van hierdie sterk swaartekrag, gebrei en warm gemaak soos met 'n draad sou gebeur wat herhaaldelik gebuig word. Daar word selfs beweer dat Jupiter se swaartekrag uiteindelik daardie maan uitmekaar gaan skeur.

Dit maak nie sin vir my nie; 'n ding is mos in 'n wentelbaan omdat hy gedurig die liggaam wat hom aantrek 'mis val'. Die afstand (hoogte) van die baan is dus 'n funksie van die swaartekragversnelling en die omwentelingspoed. Die kragte wat Io en ons maan ondervind moet dus dieselfde wees; hulle weeg niks (hulle het wel massa natuurlik).

So is daar baie goed wat vir my 'n raaisel is, ook in die politiek. Ek kan byvoorbeeld glad nie die keiser se mooi klere, wat die liberaal-demokrate so in ekstase het, sien nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    Goeiste jong, nee, ek is nie ’n fisikus of ’n sterrekundige nie. Ek is net ’n ou wat baie en taamlik wyd lees – en leer.

    Ek het egter heelwat geleer van die oerknal en die dinge in boeke van Weinberg – The first Three Minutes – beskikbaar in sagteband, maar ’n goeie 20 jaar of meer gelede geskryf.   Ook Hawking se werke is nuttig. 

    Van jou vrae sal jy antwoorde kan kry op Wiki. En dink amper ek het ’n hele ruk gelede juis op Wiki iets teegekom oor hoekom die planete so min of meer op dieselfde vlak lê – glo te doen met die Son wat vermoedelik ook nie volmaakte ronde bol is nie, maar op sy ewenaar uitsit. Antwoorde oor die agtergrondbestraling wat "bewys" is van die oerknal (of uitdying – Hawking verduideliking dit nogal goed in sy jongste werk  The Grand Design) en ook oor ons en ander planete se mane sal jy beslis op Wiki kry. Ek lees nou die dag dat ons maan eintlik besig is om van die aarde weg te beweeg, maar ek kan dit nie bewys nie!

    Terloops, as jy nie die boeke in boekwinkels kry nie, gaan kyk by Loot.co.za. Hulle pryse is billik, hulle voer vinnig in as dit  nie plaaslik beskikbaar is nie en hulle gee afslag vir posgeld bo ’n sekere aankoopbedrag.

    Dis reg, vra vrae en soek antwoorde.

  • Jan Rap: 

    Antwoorde op so paar van jou vrae, ten minste soos ek dinge verstaan (ek is nie ’n sterrekundige of fisikus nie, so neem alles wat ek oor daardie vakke te sê het met ’n knippie sout!)

    Sterrestelsels word dikwels in groepe gevind wat deur gravitasie bymekaar gehou word. Binne sulke groepe kan botsings plaasvind. Dit is miskien meer akkuraat om te sê groepe sterrestelsels spat uitmekaar, as om te sê alle sterrestelsel beweeg weg van alle ander sterrestelsels.

    Ek is nie heeltemal seker waarom akkresieskywe (ek wonder of dit korrekte Afrikaans is vir "accretion disk!") in ’n min of meer plat vlak gaan lê nie, maar die verskynsel is ook nie beperk tot hele sonnestelsels nie. Saturnus se ringe is byvoorbeeld ook in ’n uiters dun, plat vlak. In die geval van Saturnus sou ek raai dit is dalk gedeeltelik a.g.v. Saturnus se ietwat ovaal vorm, wat veroorsaak dat sy gravitasieveld nie presies eweredig rondom hom lê nie, maar ek is nie seker nie.

    Ek is nie seker wat jy bedoel met "alles akkresieer in ’n groot bol" nie. Die rotasie, sou ek dink, is die gevolg daarvan dat alles aanvanklik in beweging is, en die kanse is klein dat enige deeltjie se beweging toevallig reg op die sentrum van gravitasie gerig is. Dus mis hy daardie sentrum en beland in ’n wentelbaan om dit. Die wentelbane van al die deeltjies is aanvanklik seker nie in ’n plat vlak nie, maar ek sou raai dat een vlak, bloot per toeval, bietjie meer materie in hom gaan hê as enige van die ander, en dat daardie vlak se gravitasie dalk deeltjies in ander vlakke gaan noop om ook by daardie een vlak aan te sluit. Ek sal maar sien wat ons fisies meer ingeligte korrespondente sê!

    Die ruis van die oerknal kom uit alle rigtings: ons is binne-in die oerknal en dus was die oerknal oral. Ja, dit laat my kop ook draai.

    Die stres op Jupiter se mane is die gevolg van getykragte, en die feit dat die mane in elliptiese bane om die planeet beweeg, wat weer veroorsaak dat hulle afstand van Jupiter nie konstant is nie en die getykrag dus die hele tyd wissel. Die gevolg is dus bietjie soos om ’n ballon vol water teen die muur vas te plak, gom aan jou hand te smeer en jou hand dan aan die ballon vas te plak, en dan afwisselend harder en sagter aan die ballon trek. Die ballon word in die proses "gebrei." In die geval van Io veroorsaak dit genoeg hitte om sy binnekant vloeibaar te hou, en Io is dus ietwat van ’n rariteit vir ’n maan in dat hy heel hewig vulkanies is. As ek my nie misgis nie, is dit ook waarom die maan Europa waarskynlik ’n mantel van vloeibare water het, wat ook elke nou en dan uitvloei en groot dele van die maan bedek (wat verklaar waarom daar nie veel kraters op Europa is nie)

    Wat die herverkose keiser betref, ek weet nie of die liberale so ekstaties is oor sy klere as dat hulle bloot baie verlig is dat die ander ou nie verkies is nie... 🙂

  • Thys Human (PTA)

    Jan Rap,  weet nie of jy al Bill Bryson se A Short History of Nearly Everething onder oë gehad het nie. As jy dit in ’n bib kan kry, neem dit gerus uit en besluit dan of jy dit wil aankoop of nie. Dit bevat ’n magdom inlgting oor ’n wye, baie wye spektrumn sake.  Moeite werd om te besit. Jy kan dit vir R160 by Loot bekom.

    En gaan neem ook beslis JE van Zyl se Ontsluier die Heelal (inleiding tot Sterrekunde) by ’n bib uitneem en lees - en weer eens besluit of jy dit wil aankoop, maar ek sien dit kos nou oor die R300. Dit is sekerlik een van die beste wetenskapwerke wat ek nog in Afrikaans gesien het.

    Soos jy kan sien kan ek  nie jou vrae sommer antwoord nie (Brian het dit nogal goed gedoen), maar ek het altyd ’n bron of twee beskikbaar!

  • Thys: Goeie aanbevelings, hoewel "Ontsluier die heelal" dalk bietjie tegnies is - al daai wiskunde is in elk geval genoeg om my bietjie af te sit. Dit is seker nie so moeilik nie, maar dit verg dalk meer tyd as wat meeste van ons het. My eie avonture in die wiskunde lê nou so ver in die verskiet ek kan nouliks selfs meer onthou wat calculus in die eerste plek is, laat staan nog dit toepas.

     
    Terloops, is die boek ooit in Engels vertaal? Ek wil my al verbeel ek het êrens gelees dat Engelse vertalings wêreldwyd gebruik word as handboeke, maar ek kan nie onthou dat ek al ooit so vertaling self gesien het nie. Jy gaan my aan die naaste boom wil ophang, maar ek vind die feit dat die boek in Afrikaans is eintlik problematies: ek het my wetenskap in Engels geleer en sukkel om al die Afrikaanse terminologie te volg. 

     
    Nog boeke wat mens kan aanbeveel: Carl Sagan se "Cosmos." Nou al bietjie verouder, maar seker een van die beste populêre wetenskapboeke ooit. 
     
    Richard Dawkins se boeke oor biologie en evolusionêre wetenskap is ook besonder goed, veral "The blind watchmaker," "Climbing mount Improbable" en "The greatest show on earth." Sy uitgesproke ateïsme kan sommige mense dalk bietjie afskakel, maar hy is werklik baie goed darmee om uiters komplekse idees te verduidelik. Mens kan gerus ook sy skeptiese manifes "Unweaving the rainbow" probeer, waarin hy korte mette maak met pseudowetenskap en die wollerige denke van die postmoderniste. So ook daardie boek se voorganger, Carl Sagan se "The demon-haunted world." 
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top