Dagsê Pieter
Tong in die kies of nie, jou skrywe van 15 deser dui daarop dat jy ook met die dwaling gepak is dat daar 'n definisie vir 'n Afrikaner behoort te wees. Ooglopend is jou hele inslag neerhalend en jou skryfsel is sodanig opgestel dat mens nou nie eintlik kan agterkom of jy nie van Afrikaners hou nie en of jy nie hou daarvan dat daar 'n definisie vir een moet wees nie.
Mens weet dus nie mooi wat jy nou eintlik afskiet nie, die Afrikaner, of jou (en die Engelse koerante) se stereotipering van die Afrikaner nie. Hoe dit ookal sy, dit is duidelik dat jy vir 'n gehoor speel en ek kan my voorstel hoe jy baie opgewonde wag vir applous. Ek sien Jaco en Thomas is darem al besig om hande te klap, dalk kom daar nog 'n paar by maar daar sal nie veel wees nie; die ontkenners raak al hoe minder.
Nou kom ek vertel jou nou 'n ding wat ek al oor en oor vir Thomas (en ek dink vir Jaco ook) vertel het: Om uit te vind of iemand 'n Afrikaner is gaan jy net so te werk soos jy sou maak om uit te vind of iemand 'n Engelsman, Duitser, Oostenryker, Australiër, Skot, Fransman, Amerikaner of Sweed is – jy vra hom of hy een is. As hy sê ja dan is hy, ongeag kleur, credo, sportklubaffiliasie of bloedgroep.
Indien jy dink hierdie siening ongeldig is sal ek dit waardeer as jy my kan reghelp; ek kyk dalk iets mis. Thomas beweer ek kyk iets mis maar al waarmee tot dusver vorendag kon kom is om voorafgaande stelling te ignoreer en vol te hou daarmee tot ek sê net blankes mag Afrikaners wees wat, soos jy kan sien, 'n infame leuen is.
Groetnis
Jan Rap

