Vir Pieter Redelinghuys oor sy ou Afrikaners

  • 2

Dagsê Pieter

Jy begin darem nou lekker kleitrap.  Jy bied op 15 Oktober 'n skaal aan waaraan die kwansuise 'wragtigware' Afrikaner gemeet en dus identifiseer kan word.  Ek het nog in my reaksie (17 Oktober) genoem dat jy neerhalend was.  Jou smalende toon dui daarop dat jy nie met die wat jy op die manier identifiseer assosieer wil wees nie en in reaksie bied ek op 7 deser 'n  stel kriteria waaraan die soos jy, die Nuwe! Afrikaners, voldoen.

Nou sien ek jy praat van "... diegene wat hulle op besondere neerhalende wyse uitgespreek het teenoor 'nuwe Afrikaners' ...", net so geplak uit jou brief van die twaalfde (my kursief).  Jý begin die storie en nou huil jy; wat's fout, kan jy nie vat wat jy uitdeel nie?

Jy skiet jouself in die voet met jou "appel val nie ver van die boom af nie"; dis juis die ouderdomsgroep waarvan jy praat wat vir suckers gevang is en hulle beywer het vir hierdie bedeling.  Jou pa-hulle se geslag (hang af van jou ouderdom want dis dalk jóú geslag) het die Engelse en Kaapse Afrikaanse koerante se stories hoek, lyn en sinker gesluk.  Hierdie einste geslag het dan die twak wat in hulle koppe geplant was aan hulle kinders oorgedra en nou kry 'n ou mense wat byvoorbeeld glo Verwoerd wou swartes verhoed om genoegsame opleiding te kry, of, soos jy, dat 80% van die bevolking onderdruk was.  Net vandag, byvoorbeeld, het dit geblyk dat Kobus Bester, omroeper by RSG, bogenoemde storie omtrent Verwoerd geglo het.

Jy sê ook dat die Afrikaner die Engelse haat en minagting vir anderskleuriges het, dat hulle " ... 'n versteende mentaliteit [het] gegiet in graniet wat eenvoudig verseg om weg te beweeg van die verlede met die verbygaan van tyd."  Ek is seker jy bedoel dit nie want jy kan nie so onnosel wees nie; dis maar net swak debatvoering van jou kant af omdat jy jouself in 'n hoekie toegeverf het en nou begin jy gemeen raak.

Jou onsekerheid manifesteer in cliché's, soos jou stelling hierbo ten opsigte van die  beweeg met die tyd.  As 'n ou in oorlogtyd verlang na die voorafgaande vrede, sou jy sê hy verseg om met die tyd te beweeg?  Wat op aarde laat jou dink dat, in 'n chronologiese volgorde, die latere altyd die betere is?  Dan is daar die "bagasie van die verlede" waarvoor julle Nuwe!s so lief is – wat is dit?  Verduidelik bietjie.

Pieter, julle leef in ontkenning.  Hoe slegter dit in die land gaan hoe meer sanik julle oor sogenaamde apartheid; daar móét eenvoudig regverdiging vir julle daarstel, en ondersteuning, van die huidige mislukte staat wees.

Ek stel voor jy lees Johannes Comestor se kommentaar, onderaan jou brief van 12 deser, tien keer aandagtig deur en besin.  As jy nog nie die lig gesien het, nie lees hom weer tien keer deur.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir al jou skrywes Jan Rap. Jy beredeneer sake altyd logies en stel jou saak versterk deur feite. Hierdie werf het meer van jou soort nodig en sal beslis leeg wees sonder jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top