Beste Jan,
Dankie vir jou brief en kommentaar, en weereens stipuleer ek dat ek jou leed en pyn goed verstaan, nie omdat ek ’n "beter persoon" sou wees nie ( jou goeie grap) maar weens die feit dat my Wêreldbeskouing gelukkig nie gevorm was deur die geskiedenis van die Groot Trek, Slagtersnek, die Anglo-Boere Oorlog, en die konsentrasiekampe nie. Die haat vir die Engelse en die vuur van Afrikaner nasionalisme het nie baie sterk in my hart gebrand nie, ook geen werlike entoesiasme gekoester vir ’n landsbeleid wat mettertyd op ’n mislukking sou afstuur nie.
Die resultaat van bg. het my in ’n beter posisie geplaas om die veranderinge te aanvaar wat op die land afgestuur en kulmineer het in die algemene verkiesing van 1994. Sedert daardie tyd is vordering gemaak op sekere gebiede maar die land het nou sy pad verloor weens slegte leierskap, korrupsie en wanbestuur. Kry vir jou die "The Economist" van Oktober 20- 26- 2012 ( ek is seker dat jou kennis van Engels uitstekend is) Die agtergang van Suid-Afrika word daarin breedvoerig bespreek. Op die voorblad staan "Cry, the beloved country. South Africa´s sad decline".
Elke nasie hunker na ’n land van sy eie. In die geval van Afrikaners was hierdie ideaal nie bereikbaar nie. Daar is baie voorbeelde van hierdie toestand in die wêreld waar etniese groepe nie ’n eie geografies-afgebakende land besit nie maar ’n minderheidsgroep vorm binne ’n grotere geheel. Hierdie feit moet eenvoudig aanvaar word en op ’n realistiese wyse mee omgegaan word.
Ek hoop dat jy eendag sal rus kry en dat die hunker na die onmoontlike en onrealistiese/idealistiese mettertyd sal uitbrand. As jy ’n gelowige persoon is behoort jy te weet dat hier op aarde niks permanent is nie, en dat die "werklike" lewe eers begin na die dood.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Tussen al die lettergrepe van die woord liefde ... is daar hoop?