SêNet-briewe | Letters

 
Vir Jaco Fourie en Thomas
Julle kommentaar onderaan my brief van 8 Januarie verwys.

Thomas, jy't my al weer misgelees. In my brief 'kak en kerm' ek, om nou jou woorde te gebruik (hierna genoem 'keka'), nie oor alles wat in Suid-Afrika verkeerd is nie; vir so-iets sal ek 'n brief so dik soos die Bybel moet skryf.

Ek gee bloot inligting en goeie raad: Moenie praat van versoening nie (tensy jy die bedoel dat dit van ANC-kant moet kom oor die terreur van die 80's). As jy egter jou wil beywer vir 'n beter verstandhouding tussen die rasse, oorreed die wit bevolking om 'n swart taal te leer en die swart bevolking, veral die staatsamptenare, om Afrikaans te leer.

As jy voel jou pa-hulle of oupa-hulle het dinge aangevang waarvoor jy om verskoning moet vra het ek vir jou goeie nuus: Hulle het nie en jy hoef dus nie. By hierdie goeie nuus het ek nog vir jou raad ook: Jy moet buitendien nie om verskoning vra nie want dit maak die swartes kwaad, bring hulle onder die indruk dat hulle slegter af is as die Ethiopiërs en Somaliërs – hulle was nooit deur die Afrikaners onderdruk was nie – en dit werk wraak aan die hand. Net vandag weer hoor ek is twee bejaardes op Middelburg vermoor.

Jaco, om nou jou vraag te antwoord, naamlik wat aanleiding gegee het tot my waarskuwing teen oproepe tot versoening (wat jy 'n tirade noem): Die oproepe tot versoening hier van die sestiende Desember af.

Jy sê ek is deel van die 'gekkegrenspolitiek'; wat is dit? Wat dit ookal is, jy sê dit is as gevolg daarvan dat ek nie met ander rasse wil versoen nie. Verkeerde gevolgtrekking van jou kant af; jy lees nie mooi nie. Die rede hoekom ek versoening teenstaan is omdat dit nie nodig is nie; ek kom goed klaar met ander rasse. As jý wil versoen omdat daar vyandskap tussen julle is gaan voort; moet dit net nie namens my en my maters doen nie.

Hoekom het ek volgens jou 'n mislike uitkyk op die lewe? Reken jy dan Max en André Brink en Koos en die vryvoëls het 'n mislike uitkyk op die lewe gehad toe hulle, wat hulle destyds as vergrype beskou het, uitgewys het? Indien wel is jy darem konsekwent; indien nie is jy al weer besig om te praat net omdat praat praat is.

Hoe bedoel jy spreek ek nyd uit teenoor mede-Afrikaners? Is jou briefie aan my, 'n mede-Afrikaner, nie die ene pisnydigheid nie? Hoe werk jou kop?

Een ding wat my opval van julle twee: Dan Roodt en ander vrydenkers mag gekritiseer word maar as die regering gekritiseer word, of as iemand onregverdighede teenoor Afrikaans en die Afrikaner uitgewys word, dan is dit kak en kerm. Die rede daarvoor is natuurlik voor-die-hand-liggend: Julle het julle beywer vir hierdie gemors en hou nie daarvan om herinner te word dat julle met slap pap onder 'n wip gevang is nie.

Jan Rap
NS Ek beveel aan julle lees Johannes Comestor se kommentaar onderaan dieselfde brief aandagtig deur, twee of drie keer. Dit mag bietjie balans vir julle bring.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Thomas
2013-01-10 @21:32

Jan Rap

My houding is dat apartheid ontwikkel is in ’n tyd toe diskriminasie teen donker mense wêreldwyd algemene praktyk was. My pa'hulle het dus opgetree met die lig tot hulle beskikking en daarvoor kan ek my nie sovêr kry om om verskoning te vra nie. Oor die gruwelike menseregte-vergrype is ek jammer en ek betreur my blinde ondersteuning van ’n stelsel wat dit toegelaat het - terugskouing het altyd 20/20 visie en ek weier om vir ewig in ’n staat van beskuldiging te staan omdat dit weinig aan die toekoms gaan verander. Die voor-1994-stelsel was egter nie volhoubaar nie en moes noodgedwonge verander. Die huidige stelsel waar 4 miljoen mense 90% van die belasting betaal en 17 miljoen mense onderhou is eweneens nie volhoubaar nie. Die ANC is ’n patetiese regering en kon, soos die res van Afrika se bevrydingsbewegings, nie homself omvorm na ’n moderne regerende party nie. Die hoë werkloosheid, die swak akademiese prestasie van skoliere en die onaanvaarbare veiligheidsituasie (weereens skokkend geïllustreer deur die moorde in Belfast) is aanduidend van ’n regerende party wat nie die mas opkom nie. Dis maklik en soms terapeuties (ek is ook skuldig daaraan) om te keka maar dit bring ons weinig in die sak.

Hef aan lê vir ons almal (en ek bedoel almal) voor - meer doen en minder keka!

Groetnis

Thomas

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address