SêNet-briewe | Letters

 
Vir Henk Seymore
Dagsê Henk

Die stryd om die behoud, en uitbreiding natuurlik, van Afrikaans lê my na aan die hart en ek sal graag met jou in gesprek wil tree ... dis nou sodra ek uitvind wat presies jy wil sê.

Dit is so dat Afrikaans agteruitgaan omdat Afrikaanssprekendes, meeste, graag Engels wil wees of word. Afrikaanse kunstenaars en kunstenaresse gee hulle werk Engelse titels, Afrikaanse sakelui gee hulle besighede Engelse, en deesdae swart, name. Afrikaanse nyweraars en vervaardigers sit net Engels op die verpakking. Afrikaanse sangers en sangeresse deurspek hulle lirieke met Engels. Die hele aartiefaartie gemeenskap, akteurs, aktrises, sangers ens, kan nie 'n sin sê sonder 'n Engelse woord nie en nie 'n paragraaf sonder 'n Engelse sin nie, veral die Kaapses, wittes en veral bruines (daar is seker uitsonderings).

Luister na die gaste op die radio; die mense kan nie meer Afrikaans praat nie. Daar is 'n inbelprogram vir mense wat werk soek en die inbellers ken nie eers meer basiese tegniese terme nie. Sekere omroepers is nie veel beter nie. Kyk bietjie na webwerwe waar ongeredigeerde briewe verskyn; die mense kan nie spel nie. Voeg hierby die feit dat Afrikaners in sekere werksomstandighede nie MAG Afrikaans praat nie en jy kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat die heksejag op Afrikaans besig is om vrugte af te werp nie. Dis so erg ouers is al besig om hulle kinders Engels groot te maak.

Is dit wat jy sê?

Moet wees want jy kan tog nie ernstig wees oor 'n digter in die Hantamwyk wat nie oor Durban dig nie, of 'n Karoomens wat skryf oor die Karoo en nie, sê, die Witwatersrand nie. Waar die hart van vol is loop die mond mos van oor, dan nie?

Jy kan ook nie ernstig wees met jou stelling dat Afrikaans kleinlik is nie. 'n Stuk programmatuur is nutteloos sonder apparatuur en op dieselfde manier lewe 'n taal in die verstand van die mense wat hom praat. Afrikaans kwyn dus in dermate die Afrikaans-spreker sy taal versaak.

Wat bedoel jy met 'n Afrikaanse 'ons'; dat almal standaard-Afrikaans praat, of almal Namakwalandse Afrikaans of wat? Dis tog onmoontlik, soos Duits, Nederlands, Engels, watter taal jy ook aan kan dink, is daar verskillende aksente en dialekte.

Of bedoel jy die feeste moet bymekaar uitkom? Alle feeste word gehou waar die land se swaartepunt is (iewers in die Vrystaat?) en of dit nou die woord-, biltong- of wynfees is, almal gaan hou dit daar. Ek hoor graag.

Groetnis

Jan Rap

Comments 3 Reaksies | 3 Comments
Delete Comment
avatar
Johannes Comestor
2013-02-05 @17:11

Jan, dankie dat jy volhou met jou pogings om Afrikaans weer ’n agtingswaardige taal te maak. Ek verskaf ’n enkele voorbeeld van die soort ding waarteen ek (en sekerlik ook jy) dit het. Die afgelope naweek het Hunter Kennedy, ’n lid van wat ek verkies om eufemisties die Karre of Polisiekarre te noem, getrou. Jack Parow, wat "die Afrikaanse kletsrymer" genoem word, was ook daar. Hy het hom soos volg oor die troue uitgelaat: "Dit was amazing. Die seremoniemeester was Philip Maritz en hy was hilarious. Die kos en die vibe was lekker. Daar was ’n kontantkroeg wat obviously ’n baie goeie ding was" (Die Burger, 4 deser, p 3). Vier sinne, elk met ’n Engelse woord wat in groot mate die kern oordra van wat hy vertel. Iemand wat net Afrikaans verstaan, sal heelwat van wat Parow meedeel, nie volg nie.

Johannes Comestor

Delete Comment
avatar
Duitswester
2013-02-06 @02:50

Dag Jan,

ek het beide simpatie en empatie . Afrikaans was ’n klein, maar warm vuurtjie. Dit was ’n snel-groeiende taal van ’n jong nasie. Die behoud van alle nasies lê egter nie alleen in hul taal, of kultuur, hul kuns, hul feeste of enigiets anders nie. Die een en alleen grootste behoud van ’n nasie lê in hul land, hul grond, hul eie leefspasie. Daarsonder bestaan hulle nie. Die Afrikaner het daardie een, enkele behoud geminag en weggegee.

Daarom verdwyn hy nou as nasie, daarmee saam verdwyn sy taal, sy kultuur, sy unieke identiteit, sy liedere, sy kunswerke, sy monumente, sy alles.

Wie gaan oor twee dekades nog ’n koffie in Afrikaans kan bestel in ’n kafee? Al klink koffie en coffee presies diesefde. Die wit inwoners van die spasie wat eens die RSA was is nou bywoners en hul taal word dienooreenkomstig geminag.

Ek sê dit als met sterk begrip vir jou passie en sonder om  sand op die dowwe kole te gooi.

Duitswester

Delete Comment
avatar
Jan Rap
2013-02-07 @00:01

Johannes

Hierdie agteruitgang is duidelik soos daglig maar, wys jy dit uit, word jy beskuldig daarvan dat "jy nie saam met die tyd beweeg nie." Dit is ’n verbysterende verskynsel. Kan net hipnose of breinspoeling wees. Hoe kry die media dit reg?

Duitswester, jy het gelyk. As mens die teenswoordige toestand, houding van die Afrikaner, kaping van grond en heksejag op Afrikaans ekstrapoleer is wat jy voorspel op ons drumpel.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address