Vir George Claassen oor die handskoenstorie
Daar ís goed waarmee ek met George Claassen saamstem in sy artikel Om handskoene van onkunde te vervang, byvoorbeeld waar hy sê "... hoe swak die begrip van wetenskap in die media is". Dit is so; ekonomiese nuus byvoorbeeld word aangebied asof elke leser 'n BComm plus MBA het maar tegniese en wetenskapnuus word aangebied asof vir standerd viers.
Maar dis omtrent al, want George kan die verbysterendste gevolgtrekkings maak, gebaseer op wensdenkery en ongelooflike duimsuiery, die juiste praktyke wat hom so dwars in die krop sou steek want sy raad aan 'n ieder en elk is om ALTYD VIR BEWYSE te vra wanneer hulle met verdagte stellings of idees gekonfronteer word.
Laat ek eers net sê ek glo nie die aarde is net 6000 jaar oud nie, of dat hy plat is of dat hy nie draai nie. Ek glo hy draai om sy eie as en wentel om die son en ek aanvaar evolusie vind plaas. Ek reageer nie op dr Claassen se artikel omdat ek sendingwerk wil doen nie, ek reageer daarop omdat ek dink sy artikel is vol gate. Ek mag verkeerd wees en sal dit waardeer as George of van sy aanhangers my reghelp.
George is onthuts oor Suid-Afrikaanse leerlinge se swak prestasie in wetenskap en wiskunde en verklaar dat dit so sal bly tensy "hierdie ingesteldheid" in die skool, ouerhuise en die media gevolg word. Hierdie "ingesteldheid" kom daarop neer dat gelowigheid, of godsdiens dan, wensdenkery is en dit het 'n remmende invloed op die denke van kinders.
Nou, dit mag so wees, maar waar is die BEWYSE? Waarop baseer George bogenoemde stelling; die Katolieke Kerk se teistering van wetenskaplikes (Galileo onder andere) eeue gelede? Is 'n logieser rede vir die swak prestasies van leerlinge nie die jammerlike mislukking van, onder andere, die onderwys sedert '94 nie; veral in die lig van die feit dat leerlinge mateloos beter presteer het toe godsdiensonderrig nog in skole bestaan het? Let wel, ek sê nie die korrelasie is tussen godsdiens en leerlingprestasie nie maar tussen die vorige blanke regering en leerlingprestasie. Hoe pynlik dit ook vir George-hulle mag wees, hulle moet dit nou maar in die gesig staar.
George reken mens " ... kweek nie ’n kultuur van nuuskierigheid en belangstelling in wetenskaplike ontdekkings en wiskundige verklarings deur te ontsnap na ’n benadering waarin moeilike vrae wat gestel word, liefs vermy en selfs onderdruk moet word nie". Dis nog iets waarmee ek saamstem maar wat is hierdie moeilike vrae, wie het hulle gevra? George? Ek self het al vir George en Adriaan Basson vrae gevra wat nie deur hulle beantwoord was nie; moet ek dus aanneem die vrae was te moeilik vir hulle? Ek kan aanvaar 'n ander verklaring vir hulle stilswye mag wees dat my vrae te naïef, of bloot te triviaal, was maar dan moet George dieselfde moontlikheid aanvaar ten opsigte van sy onbeantwoorde vrae.
George, lyk dit my, is lief om politiek so skuins in te gooi by sy skrywes wat dan, volgens my, sy politieke benepenheid duidelik illustreer. Sy negatiewe verwysing byvoorbeeld in een van sy artikels (Pox Populi Ignoramus) na 'apartheidsskoling'. Dit mag wel 'n slegte ding gewees het maar waar is sy BEWYSE? Wat verstaan hy onder 'apartheid' en wat in hierdie apartheid van hom het leerlingprestasie gestriem en hoe?
So groepeer hy dan ook die " ... Dan Roodts, Steve Hofmeyrs, Pieter Mulders, die Sofars en die Abel Malans" as die varke in die verhaal en die "... Jan-Jan Jouberts, Amanda Gouwse, Adriaan Bassons, Lizette Rabes, Dave Peplers, Anton van Niekerks en Antjie Krogs ..." as die helde en heldinne in die verhaal. Watter verhaal? Die eerste groep sou volgens hom 'n slegte invloed op Afrikaanse kinders hê en die tweede groep, neem ek aan, 'n goeie invloed. Weer eens, dit mag so wees maar waar is die BEWYSE?
Mý bewys dat die eerste groep die goeie ouens is, is dat hulle vir Afrikaans en die Afrikaner in die bresse tree, gewoonlik met opoffering want vir hierdie goeie daad word hulle gedurig verguis, gehoon en beledig deur meelopers en kompromiste, uitstekend verteenwoordig deur die tweede groep. Ek sonder hier vir Dave Pepler uit, ek ervaar Dave as 'n skerp, humoristiese en spitsvondige logiese denker. Ek kan my kwalik voorstel dat, wat politiek betref, Dave Pepler in die bed sal klim met die apologete vir die mislukte staat soos Anton van Niekerk en Adriaan Basson.
Terloops, George reken die kinders van vandag " ... stap ... voort op die toenemend uitdagende tegnologies- en wetenskapgeoriënteerde pad van die 21ste eeu met geen benul van hoe die heelal en die Aarde en lewe daarop werk nie." My skuinsskrif. Nou wonder ek hoe groot is George, of enige wetenskaplike, se benul van hoe die heelal en die aarde en lewe daarop werk.
George is lekker uitgesproke soos dit 'n goeie joernalis betaam maar as wetenskap-joernalis moet hy seker maak hy gee BEWYSE wanneer hy hom op die politieke terrein begeef anders bly dit bloot persoonlike menings. Miskien moet hy liewer net hou by wetenskapjoernalistiek want om te heul met die sienings van die Anton van Niekerks, Adriaan Bassons en Antjie Krogs van hierdie wêreld gaan sy geloofwaardigheid ernstige skade berokken.
Jan Rap