Vir Brianvds, Panda, Angus en Cornelius
Gegroet here
Dankie vir al julle skakels en inligting; ek weet nou definitief meer as voorheen (maar is terselfdertyd meer onder die indruk dat ek bykans niks weet van wat daar te wete is nie).
Panda, nou dat jy Kepler noem kom die storie vaagweg terug van die maan wat gelyke oppervlaktes in gelyke tydsdure 'vee', Ek weet ellipties is nie chaoties nie, ek het net gewonder dat, met die dat op enige gegewe oomblik die konfigurasie van hemelliggame wat swaartekrag op ons (die aarde en die maan) uitoefen, verskil van enige ander oomblik se konfigurasie, dit 'n invloed op die maan (en die aarde) se wentelbaan kan hê. Jy het dit toe verklaar deurdat hierdie invloede minimaal is.
Verder is dit ook geweldig interessant dat die maansiklus waarvan jy praat homself elke 19 jaar herhaal; hierdie gegewe oomblik waarvan ek praat hierbo is dus elke 19 jaar dieselfde, wat beteken dat die planetestand elke 19 jaar dieselfde is, of hoe?
Brianvds, daardie verklaring nommer 2 lyk vir my die waarskynlikste, naamlik dat die maan ook soort van koaguleer het uit die oernewel wat om die son gedraai het (waaruit die son ook ontstaan het?). Byna soos pêrels in 'n oester vorm, stukkies 'onsuiwerheid' hier en daar, groter brokstukke, en hulle vorm dan mane.
Nommer 3, wat jy sê die algemeen-aanvaarde teorie is, is seker 'n goeie verklaring maar dit kan tog nie geld vir AL die mane nie, die om Jupiter, Saturnus ens nie. Ek meen, 'n ander hemelliggaam van net die regte grootte teen net die regte hoek en snelheid wat die aarde tref is seker moontlik (soos die rekenaarsimulasies bewys) maar dis 'n baie klein kans. Die, noem dit maar die pêrelteorie, verklaar die mane in ons sonnestelsel beter (dink ek, maar nou-ja ...).
Die laaste paragraaf van my wat jy sê jy nie verstaan nie is gedeeltelik aangespreek deur jou verduideliking van die Roche-limiet, naamlik dat die maan óf nie vorm nie óf uitmekaarskeur as hy wel gevorm het. Mens wonder dan net hoe hy in die eerste plek gevorm het. Wat ek bedoel het met hitte-opbou is dat, a terwyl die brokstukke bymekaarkom is hulle nog koud, die maan is soort van nog poreus. Soos swaartekrag toeneem druk die goed saam en word warm en word nog warmer gebrei deur die getykragte tot hy uitmekaarskeur (ontplof agv die hitte) en die gesmelte stukke koel dan af en jy het weer brokstukke wat koaguleer en so gaan dit aan, ad infinitum.
Van elliptiese bane gepraat. As alle bane ellipties is moet die geostatiese een ook ellipties wees, met ander woorde 'n satelliet in so 'n baan beweeg op en af ten opsigte van die aarde. Is die 'klein aanpassings' waarvan jy praat die aanpassings wat gemaak word om die storie op dieselfde hoogte te hou?
Terloops, toe ek 'libration' google kom ek op die Duitse wikipedia af en van daar af kom ek toe op Gebundene Rotation af, die 'tidal locking' waarvan jy praat. Ek kliek toe op 'Afrikaans' en ek sien hulle gee dit as 'sinchroniese omwenteling' aan (dit was interessant om op al die tale te kliek, die Russe noem dit 'singronnoe wrashtjenie, die Hollanders 'sinchronisatiehoogte' ens ens).
Angus en Cornelius, dankie vir julle insette ook.
Nou-ja, tot hiertoe dan
Jan Rap
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter