SêNet-briewe | Letters

 
Vir Brianvds, Panda, Angus en Cornelius

Gegroet here

Dankie vir al julle skakels en inligting; ek weet nou definitief meer as voorheen (maar is terselfdertyd meer onder die indruk dat ek bykans niks weet van wat daar te wete is nie). 

Panda, nou dat jy Kepler noem kom die storie vaagweg terug van die maan wat gelyke oppervlaktes in gelyke tydsdure 'vee',  Ek weet ellipties is nie chaoties nie, ek het net gewonder dat, met die dat op enige gegewe oomblik die konfigurasie van hemelliggame wat swaartekrag op ons (die aarde en die maan) uitoefen, verskil van enige ander oomblik se konfigurasie, dit 'n invloed op die maan (en die aarde) se wentelbaan kan hê.  Jy het dit toe verklaar deurdat hierdie invloede minimaal is.

Verder is dit ook geweldig interessant dat die maansiklus waarvan jy praat homself elke 19 jaar herhaal; hierdie gegewe oomblik waarvan ek praat hierbo is dus elke 19 jaar dieselfde, wat beteken dat die planetestand elke 19 jaar dieselfde is, of hoe?

Brianvds, daardie verklaring nommer 2 lyk vir my die waarskynlikste, naamlik dat die maan ook soort van koaguleer het uit die oernewel wat om die son gedraai het (waaruit die son ook ontstaan het?).  Byna soos pêrels in 'n oester vorm, stukkies 'onsuiwerheid' hier en daar, groter brokstukke, en hulle vorm dan mane.

Nommer 3, wat jy sê die algemeen-aanvaarde teorie is, is seker 'n goeie verklaring maar dit kan tog nie geld vir AL die mane nie, die om Jupiter, Saturnus ens nie.  Ek meen, 'n ander hemelliggaam van net die regte grootte teen net die regte hoek en snelheid wat die aarde tref is seker moontlik (soos die rekenaarsimulasies bewys) maar dis 'n baie klein kans.  Die, noem dit maar die pêrelteorie, verklaar die mane in ons sonnestelsel beter (dink ek, maar nou-ja ...).

Die laaste paragraaf van my wat jy sê jy nie verstaan nie is gedeeltelik aangespreek deur jou verduideliking van die Roche-limiet, naamlik dat die maan óf nie vorm nie óf uitmekaarskeur as hy wel gevorm het.  Mens wonder dan net hoe hy in die eerste plek gevorm het.  Wat ek bedoel het met hitte-opbou is dat, a terwyl die brokstukke bymekaarkom is hulle nog koud, die maan is soort van nog poreus.  Soos swaartekrag toeneem druk die goed saam en word warm en word nog warmer gebrei deur die getykragte tot hy uitmekaarskeur (ontplof agv die hitte) en die gesmelte stukke koel dan af en jy het weer brokstukke wat koaguleer en so gaan dit aan, ad infinitum.

Van elliptiese bane gepraat.  As alle bane ellipties is moet die geostatiese een ook ellipties wees, met ander woorde 'n satelliet in so 'n baan beweeg op en af ten opsigte van die aarde.  Is die 'klein aanpassings' waarvan jy praat die aanpassings wat gemaak word om die storie op dieselfde hoogte te hou? 

Terloops, toe ek 'libration' google kom ek op die Duitse wikipedia af en van daar af kom ek toe op Gebundene Rotation af, die 'tidal locking' waarvan jy praat.  Ek kliek toe op 'Afrikaans' en ek sien hulle gee dit as 'sinchroniese omwenteling' aan (dit was interessant om op al die tale te kliek, die Russe noem dit 'singronnoe wrashtjenie, die Hollanders 'sinchronisatiehoogte' ens ens).

Angus en Cornelius, dankie vir julle insette ook.

Nou-ja, tot hiertoe dan

Jan Rap


 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

Comments 10 Reaksies | 10 Comments
Delete Comment
avatar
Panda
2012-11-28 @13:36

Jan Rap – Hier’s nou ’n ligte misverstand en ek het my dalk swak uitgedruk. Die maansiklus waarna ek verwys het, het niks met die ander planete uit te waai nie maar dit is die siklus van die maan se wentelbaan om die aarde. ‘n Blue Moon kom bv. 7 keer in ‘n siklus van 19 jaar voor en dit is nogal nie ongewoon om op oujaarsaand, d.w.s. 31 Desember ‘n Blue Moon te hê nie.  Dit het bv. op 31 Des 1952,  1971 en 1990  en 31 Des. 2009 voorgekom.  En dit sal weer op 31 Desember 2028 voorkom.  Daar was op 14 November 2012 ’n totale sonsverduistering sigbaar vanaf Cooktown, Australië. Ek het probeer om dit te simuleer vir 2031 – 19 jaar later. Dit was nie heeltemal suksesvol nie maar die maan het die son met minder as 1° gemis. Goed genoeg om die punt te bewys.
Panda

Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-11-28 @14:45

Jan Rap:

Laat ek jou vrae en opmerkings een vir een aanspreek:

Die hipotese oor die ontstaan van die maan geld net vir die aarde se maan. Hy word nie as verklaring voorgehou vir die ontstaan van enige van die ander mane in die sonnestelsel nie. Soos ek genoem het (as ek nou reg onthou) is daar goeie redes om te vermoed dat die maan nie uit dieselfde oernewel saam met die aarde ontstaan het nie.

Dit is so dat groot hitte opbou wanneer ’n maan of planeet kondenseer, maar nie genoeg om hom te laat ontplof nie. Onthou die wette van termodinamika: jy kan nie energie skep of vernietig nie. Om ’n maan weer te laat ontplof nadat hy gekondenseer het sal op die minste net soveel energie verg as die potensiële energie van die stukke voor hulle bymekaargekom het, Maar tydens die kondensasieproses word daar onvermydellik ’n deel van die energie as hitte in die ruimte ingestraal, wat nie weer gebruik kan word tydens die ontploffing nie. Dus is daar nie ’n ontploffing nie. As jy ’n rubberballetjie op die vloer laat val hou hy nie onbepaald aan met hop, elke keer terug tot op dieselfde hoogte van waar jy hom laat val het nie. 

Geostasionêre satelliete word kunsmatig geplaas in sirkelvormige bane, maar blykbaar bly daardie bane nie lank sirkelvormig nie vanweë die geringe maar nie weglaatbare effek van die gravitasie van die maan, son ens. asook die uitwerking van die sonwind. Dus moet klein aanpassings elke nou en dan gedoen word om die baan weer sirkelvormig te kry. 

Dit is in elk geval soos ek dit verstaan. Miskien sal Kobus de Klerk ons binnekort inlig dat geostasionêre satelliete in der waarheid optiese illusies is. :-)

Delete Comment
avatar
Charl le Roux
2012-11-28 @16:49
Vir diegene wat graag meer oor sterrekunde te wete wil kom, beveel ek die volgende boek aan:  Ontsluier die Heelal - `n Inleiding tot Sterrekunde deur J E van Zyl.  Dit verg slegs basiese wiskunde om die berekeninge te volg, en selfs daarmee help die skrywer `n bietjie.  Die boek is by Kalahari.net beskikbaar.
Delete Comment
avatar
Panda
2012-11-29 @09:35
Jan Rap
Kyk gerus daar vir die verskil tussen aphelion en perihelion van die maan http://apod.nasa.gov/apod/
Panda
Delete Comment
avatar
Cornelius Henn
2012-11-29 @09:46
Jan, jou sinnebeeld om die koagulasie in ons Kosmos te beskryf; "Byna soos pêrels in ’n oester vorm...", is die mooiste wat ek nog gelees het... en net ’n Vrou sal vir jou kan beaam dat daar nie twee van dieselfde in die ganse Skepping is nie... uniek, merkwaardig, onvergelyklik... ja, en selfs die hare op ons hoofde is getel (min, geen of baie maak nie saak nie - dis getel)...
Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-11-30 @20:41
Panda,
Baie dankie vir daardie inligting.

Brianvds,
Dankie vir jou inligting ook.  Ek weet van die behoud van energie maar die eierkoppe se storie is mos nou dat die maan gebrei word deur die swaartekarg wat beteken dis TOEGEVOEGDE energie vandaar my gevolgtrekking dat die maan dan uiteindelik uitmekaarskeur – die kors kan die uitdyende gesmelte kern nie meer langer hou nie en die maan skeur uitmekaar, ontplof as't ware.  Nou is daar weer brokstukke wat afkoel en weer begin akkresieer totdat uiteindelik daar weer ’n maan gevorm is, ad infinitum. Dit is reductio ad absurdum en ek reken as so-iets gebeur het julle ouens dan daarvan geweet.
My heel oorspronklike vraag was of daar werklik ’n verskil is in kragte ondervind deur ’n maan wat om Jupiter wentel en ’n maan wat om die aarde wentel want in albei gevalle is hulle gewigloos ten opsigte van hulle sentrale planeet.  As mens die twee mane se massamiddelpunte beskou is presies dieselfde kragte op hulle van toepassing.  Nou is die kwessie of die krag wat op die partikel die verste verwyder van die Jupiter se massamiddelpunt (met ander woorde straal waarteen daardie partikel om Jupiter beweeg is afstand tussen die maan en Jupiter se massamiddelpunt + straal van maan) SOVEEL anders is  as wat die geval met die massamiddelpunt is, selfs al is swaartekragversnelling op Jupiter ca 2,5 maal die van die aarde.
Jy moet ook onthou dat swaartekrag met hoogte (afstand vanaf massamiddelpunt) afneem, so ’n maan kan om Jupiter wentel op hoogte x waar swaartekragversnelling presies dieselfde is as ’n maan wat om die aarde wentel op hoogte y.  Nou goed, dit geld vir die massamiddelpunte; ek sal nog bietjie moet uitwerk watter invloed die grootte van ’n maan (maw afstand van buitenste partikels vanaf die massamiddelpunt) op die tempo van swaartekragvermindering (kwynende swaartekrag) het.

Charl,
Ek sal daardie boek soek.

Cornelius,
Dankie man.
Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-12-01 @00:02
Brianvds
Ek het intussen ’n paar berekeningetjies gemaak en as my matesis reg is, het Jupiter se swaartekragversnelling van so 25m/s^2 afgeneem na 10m/s^2 op ’n hoogte van 365 300 kilometer bo sy oppervlak, dus iewers tussen Thebe en Io.  Io is dus onderwerp aan swaartekrag van minder as 10/ms^2, minder as die aarde s’n.
Maar mens kan glad nie daarop peiltrek nie; ek sal ’n vriend van my vra wat sy fisika beter onthou as ek.
Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-12-01 @00:29
Brianvds
Herstel, skrap my vorige kommentaar want nou kry ek weer ’n ander antwoord naamlik 41 547 km; het iewers kwadreer ipv worteltrek en nou's ek deurmekaar.  Gaan eers slaap en dan ’n pel raadpleeg.
Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-12-02 @16:56
Brianvds
Ek het toe intussen so op die Sondag in die daglig bietjie kalmer matesis bedryf en ek sien toe hier by die 42200 kilometer bo Jupiter is die swaartekragversnelling soos op die aardoppervlak.  Die tempo waarteen die swaarteveld kwyn, as gevolg van die groter konstantes ten opsigte van Jupiter, is egter heel verkillend.  ’n Duisend kilometer bo die aardoppervlak is g omtrent 7.3 m/s^2 terwyl, in die geval van Jupiter, ’n duisend kilometer verder (op hoogte  43200km dus) vanaf die punt waar Jupiter se veld 9.8 m/s^2 is, is dit omtrent 9.6m/s^2. 
’n 25% afname in die veld van die aarde vanaf die oppervlak tot 1000 km hoogte en ’n nie eers 2% afname in Jupiter se veld vanaf hoogte 42200 km tot hoogte 43200.  So die groter planeet se swaartekrag behoort dus wel groter getykragte uit te oefen (en sal dus sy maan meer brei soos julle gesê het),  Plaas la'k julle ouens van die begin af geglo het.  Aan die ander kant, die bietjie grysstofoefening was lekker gewees.
Groetnis
Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-12-03 @16:22

Jan Rap: Die hele ding is inderdaad baie interessant, maar brei ’n mens se arme brein meer genadeloos as wat Jupiter se swaartekrag vir Io se ingewande brei. Ons koppe gaan ontplof lank voor enige maan. :-)

In ieder geval, jy is reg dat die "brei-effek" energie toevoeg, maar dit is nie genoeg om die maan te laat uitmekaar skeur nie, in elk geval nie as die maan buite die Roche-limiet is nie. Die ekstra energie word uitgewerk deur uitstraling en vulkaniese uitbarstings en so meer. 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address