"Vertrek" deur Nini Bennett

  • 0

Vertrek

Vertrek gaan nie oor wie
weggaan nie
maar wie agterbly
dis die mishoring se hees geroep
die sinjaalmeester se haperende vlag
en terugskuiwende gesigte

Dis hawens en stasies van grafiet
en nog gryser die mense wat vér bly kyk –
dis die oë wat eerste leegloop
en die handpalms bly talm;
dan die stadige omdraai
en krink van die skouers –

– verlies weeg eerste aan die skouers –

In verlange word teenwoordigheid méér:
kyk my foto’s, laat ek julle wys
kyk my miniskule ewighede
maar die beelde bly stom:
foto’s waarsku van weggaan
en virtuele wêrelde oorbrug nie leemtes nie

– Vertrek bly ‘n outydse verlange –

Sonder adres of heenkome
vertrek ek  ook uit julle uit -
dalk was ek  altyd een
van die vermiste mense
want in elke vermiste persoon
vraagteken die misterie van lewe

En word eindelik ‘n koue saak

Want in elke vermiste persoon
vraagteken die misterie van lewe (x2)
en word eindelik ‘n koue saak

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top