Poësie-kompetisies | Poetry Competitions

 
Vertaalkompetisie: Epifanie

Londen. Die smerige lila sagtheid
van ’n Aprilaand. Met my
wat oor Krytplaasbrug loop
Op pad na die moltreinstasie.
Pas pa geword – bietjie lighoofdig
van die min slaap en die nuutheid.
Toe, hierdie jong kêrel wat op my afgeloop kom.

Ek het hom vir die eerste maal in die verbystap so sydelings bekyk
omdat ek opgemerk het (ek kon dit nie glo nie)
wat ek besig was om te ignoreer.

Nie die bult van ’n klein diertjie
toegeknoop hoog op in sy baadjie
soos wat steenkoolmyners hulle windhondjies  gedra het nie  –
maar die eintlike gesig. Oë wat uitreik
en probeer om my oog te vang – so bekend!
Die gróót ore, die geknypte uitdrukking van ’n vabondjie –
die wilde konfronterende kyk, wat deur vrees gedruk het,
tussen die baadjie se lapelle.

“Dis ’n klein jakkalsie!”
Ek het my eie verbasing gehoor toe ek gaan staan het.
Hy het gestop. “Waar het jy hom gekry?
Wat gaan jy daarmee maak?”

’n Klein jakkalsie
op die skof van Krytplaasbrug!

“Jy kan hom kry vir ’n pond.” “Maar
hoe kom jy aan hom? Wat sal jy met hom maak?”
“Ag, iemand sal hom koop. Baie billik
vir ’n pond.” En ’n grinnik.

Wat ek gedink het
was – wat sou jy gedink het? Hoe sou ons hom kon laat inpas
in ons beknopte plekkie? Met die baba?                      
Wat sou jy gemaak het met sy óú reuk
en sy ongemanierde energie?
En soos wat hy grootword en dinge begin geniet
wat sou ons maak met ’n onvoorspelbare,
kragtige jakkals, met sy spronge?
Die lang-mond, blitsende temperament?
Daardie nodige nagtelike twintig myl
en daardie uitgebreide honger vir alles anderkant ons bereik?
Hoe sou ons regkom met sy kosmiese verwarrings
elke keer as ons moet trek?

Die jakkalsie het by my verbygeloer na ander mense.
Na hierdie een en na daardie een, toe na my.
Geluk was al wat hy nodig gehad het.
Alreeds verby die klein katjierige
maar die oë nog steeds klein,
rond, en  nes ’n weeskind s’n, so allertreurig
asof hy gehuil het. Ontneem
Van die blou melk, die speelgoed van vere en pels.
Die gelukkige donkerte van die lêplek se lewe. En die yslike gefluister
van die gesterntes
waaruit Ma altyd teruggekeer het.
My gedagtes het gevoel soos groot, onkundige  jaghonde
wat al snuffelend om hom rondgedraai het.

Toe het ek aangestap
asof uit my eie lewe uit.
Ek het daardie klein jakkalsie laat gaan. Ek het hom teruggegooi
in die toekoms in
van ’n klein jakkalsie in Londen en ek het my gehaas
vorentoe net om weg te kom en asof ek ontsnap
ondergronds ingeduik na die trein. As ek sou betaal het,
as ek daardie pond betaal het en omgedraai het
na jou met my armvrag jakkals –

As ek begryp het dat wát ook al gepaard gaan met ’n jakkals
dít is wat ’n huwelik beproef en die bewys lewer dat dit ’n huwelik is –
ek sou nie in die toets gedruip het nie. Sou jy gedruip het?
Maar ek het misluk. Ons huwelik het misluk.   

Vertaal deur Waldemar Gouws. Oorspronklike gedig deur Ted Hughes..]
 

 


Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie






Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address