In Memoriam | Opinions

 
Velerlei ontmoetings met PH Nortje


Dis 1960. Ek bevind my in die Hoër Jongenskool Worcester se biblioteek. Ek het pas ’n boek met ’n vreemde titel uitgeneem: Pennie se vuur. Die skrywer: PH Nortje. Twee seuns op perde op die voorblad. Die boek het die vorige jaar by Tafelberg-Uitgewers verskyn – nie dat “Uitgewers” vir my as dertienjarige iets sê nie.

Ek sou uitvind dat die titel iets te doen het met ’n eenvoudige leefwyse. Dis die plaaswerker wat so by die plaaswinkeltjie vra vir vuurhoutjies. En met die lees oor Henk en Basie se somervakansie op die plaas tussen die Winterhoek- en Kougaberge kom ek agter: dié plaaslewe daar ver is nogal baie soos die een wat ek ten noorde van Worcester onder die Brandwacht-berg ervaar. Dis nie elke dag wonderlik nie. Daar is maar swaarkry ook. Jy moet ook maar inspring met sekere van die pligte op die plaas. Dis ’n bietjie anders as in die ander boeke waar alles op ’n plaas so wonderlik voorgestel word.

Baie jare later, toe ek ’n tweede bloemlesing uit oom Henry Nortje se werk saamstel, Op ’n hoë noot, besluit ek om uittreksels uit sy romans saam met die beste, die lekkerste van sy humorsketse in te sluit. Uit dié eerste boek sluit ek die hoofstuk oor die bobbejaanjag in. Ek kon my as jeugdige vereenselwig met die natuurbeskrywings. By ons op die plaas was daar ook besemgoed en spekboom; ons kon ook opkyk na “loodregte rotshange”; en sekere dae, met die wind in die regte rigting, kon ons ook hoor hoe hou die bobbejane vergadering in die klowe: “Volgens die stemmekoor word daar grootse planne vir die dag beraam, maar dit klink of hulle oor ’n paar punte nie saamstem nie!”

Nee, gejag soos Henk-hulle het ek nie. Daarvoor was ek te veel van ’n “sentimentele” kind volgens my ouma.

Omdat ek in toneelspelery belanggestel het en nie kon wag dat ons Sondagskooltannie se konserthouery aan die einde van die jaar by ’n Kersboomfunksie kon plaasvind nie, het oom Henry se tweede boek, Die Groen Ghoen (1960), my moontlik nog meer aangespreek. Dis was egter effens hinderlik dat ons nou eintlik teruggaan in die verlede; die karakters is nou nog in die laerskoolfase in die plaasskool; ek het dit as agterstevoor ervaar. Maar weer het die plaaslewe so bekend voorgekom, asook die oefenry vir die skoolkonsert. Uiteindelik is dit die groot aand. Ek wil so graag hê dat alles ’n groot sukses moet wees, wil my inleef daarin ... Maar dan begin dinge vreeslik skeefloop.

Dit was dan my eerste “ontmoeting” met PH Nortje. Hy sou weer “teenwoordig” wees by ’n belangrike oomblik in my lewe. Ná matriek in 1964 is dit weermag toe met my. In 1966 kom werk ek in Kaapstad by die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens, en van 1967 tot 1970 studeer ek aan die Universiteit Stellenbosch met biblioteekwerk in die gedagte, maar vakansietye kom werk ek weer en loseer dan by Saasveld in Kaapstad. Een vakansie is Wiekie Theron my kamermaat. Ná die vakansie neem hy my terug Helderberg-koshuis toe. Daar op die grasperk voor die Ou Gebou vertel hy my van sy werk as redakteur by Tafelberg-Uitgewers. Hoe jy die hele boekmaakproses deurmaak. Keuring, redigering, proeflees, onderhandelings met die skrywer, die tipograwe, die omslagontwerper, openbare optredes. Hy vertel dat hy juis toe met PH Nortje saamwerk. By sy motor wys hy my die omslagontwerp van die tweede bundel Wellington-stories, Aan die sonkant (1971). In daardie oomblikke stig Wiekie iets in my aan: die begeerte om boekeredakteur te word.

Dit is wat ek toe word op 1 Julie 1972. Ek maak kennis met Tafelberg se eerste hoofbestuurder, JD Pretorius, in wie se kantoor daar iets spesiaals te sien was. Bo-op die ry boekrakke staan daar ’n galery skrywersfoto’s. Dié wat ek onthou, is Berta Smit, Tonie Roux (albei ook Tafelberg-redakteurs), Hester Heese, WO Kühne, Alba Bouwer, Heinz Konsalik, FA Venter … en dan die man met die deftige kuif: PH Nortje. Hulle en ander was “oom JD se skrywers” wat hom sy uitgewery help vestig het. Hoe het hy nie agter PH aangery Wellington toe om sy eerste manuskripte te werf nie. Hoe het hy nie die Nortje-boeke as ‘t ware op ’n silwerbord ingedra by die Biblioteekdiens, Onderwysdepartement en die boekhandelaars nie. Hy’t Die Groen Ghoen vertaal gekry in Engels, Nederlands en Duits. Toe ons op ’n keer dag lank reklamestukke moes skryf vir byna elke boek op ons fondslys sodat die voorskryfkomitee van skoolboeke tog beïndruk kan word, kon ons verkondig dat PH Nortje se eerste twee jeugboeke gesamentlik in 1963 die (oom JD: “Skryf voluit!”) Scheepersprys vir Jeuglektuur van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het. Die wildedruif val verower in 1982 die eerste prys in Sarie en Tafelberg se jeugverhaalwedstryd, en Die elfde hekkie ontvang ’n ATKV-toekenning vir kinders 13-15 jaar in 1993.

Suzette Kotzé-Myburgh het laasgenoemde boek geredigeer. Dit was haar eerste jeugboek en oom Henry se laaste. Sy onthou hoe sy durf waag het om vir die oom aan te raai dat ’n visvangtoneel baie sou bydra tot die oortuigingskrag van die boek. Hy het na haar geluister en in Ken op die kierie vertel hoe hy spesiaal op die groot water uitgevaar en sy waarnemings ingewerk het. Louise Steyn, hoof van die jeugboekafdeling, het geglo haar nuwe, jong kollega en die senior, bejaarde skrywer moet bymekaar uitkom om moontlike ontevredenheid uit te skakel. In haar rooi motortjie op pad Strand toe hou Louise glo maar hart vas. Maar … toe is oom PH so sjarmant as kan kom … en Suzette eweneens.

Oom Henry het alleenlik in 1975 afgedwaal van Tafelberg om ’n reeks skoolleesboeke vir Perskor te skryf. Origens het hy agt boeke vir die jeug en tien vir volwassenes van 1959 tot 2000 by Tafelberg gepubliseer.

In 1973 word Nortje se derde Sonkant-boek aan my toevertrou: Op die sonpad. Daarna sou ek redigeer: Matewis se mense gaan boer (1973); Bly of gly (1975); Duisendblaar (1977); Klein Hollywood (1982); Korsies van growwebrood (1989); Spook van die wielsleutel (1994) en Ken op die kierie (1997). Sy heel laaste boek vir volwassenes. Volstruis, met wie gaan jy trou? was in Suzette Kotzé-Myburgh se sorg.

Daar’s stories te vertel oor ’n paar van die boeke. Soos oor Matewis se mense gaan boer van 1973.

Soos oom Henry se humorsketse oor sy gesin, die huisdiere en die inwoners van Wellington, het ook hierdie reeks sketse aanvanklik in Huisgenoot (destyds Die Huisgenoot) verskyn en is toe later gebundel. Sy Huisgenoot-sketse is gewoonlik betyds vir die Kersmark gebundel en was baie voorspoedige verkopers. Hierdie werk, anders as die tekste vanaf 1989, was dan reeds geredigeer deur die tydskrif se taalversorger. Ek het dan tog byvoorbeeld aandag gegee aan sekere van oom Henry se uitdrukkings, soos sy herhaaldelike verklaring dat hy nie woorde kan vind om iets te beskryf nie, of dat hy liefs maar die sluier/gordyn oor iets laat sak. Ek het hom aangeraai om dit gewoon weg te laat en nie die leser juis daarmee agterdogtig te maak oor sy skryfvermoë nie. Al die jare is ek ook onseker oor ’n uitdrukking wat hy soms mondelings, soms op skrif gebruik het: “Ek wil nou nie vals onbeskeie wees nie.” Was dit presies sy woorde? Met elke werk wat hy voorgelê het, het hy getwyfel of dit goed genoeg is vir publikasie. Ons moes hom aanmoedig. Ek kan nie onthou dat ek stukke vir herskrywing aan oom Henry voorgelê het of dat ons sterk oor veranderings verskil het nie.

Ja, en toe verskyn Matewis se mense gaan boer met sy netjiese omslag van Willem Jordaan in oranje, wit en groen. Ek het weer die beskrywings van die Baviaanskloofse plaaslewe geniet. Die sketse het ook aaneengeskakel, sodat dit as ‘t ware oorspronklik ’n vervolgverhaal was.

Dit was die jare toe Louis Hiemstra by ons in die Waalburg gewerk het aan die Tweetalige Woordeboek en hy het, soos vroeër by Die Burger, taalkundige raad gegee en ons ook, soos vir die joernaliste, gewaarsku teen … betig oor ... taalflaters/taalsondes. Kort ná die verskyning van Matewis se mense gaan boer verskyn Hiemstra in sy grys pak wat aan die jare dertig herinner, voor my lessenaar. “Meneer Botha, het u met Máááátewis se mense gaan boer gewerk?” Dadelik besef ek my, oom Henry, die Huisgenoot-redigeerder en ons proeflesers se fout. Die Nortjes se papegaai se Bybelse naam moet Mattewis gespel word.

Dan was daar die sage van Duisendblaar. Teen 1977 hanteer ek saam met Amanda Snyman Tafelberg se jeugboeke. Oom Henry lewer sy nogal lywige roman by ons in. Dis gebaseer op sy seun Francois se avonture as kanovaarder op die Bergrivier. In dié tyd moet alles gemetriseer word; daarmee help Amanda my, as ek reg onthou. Maar … maar … ek kry ’n eerste waarskuwing van uitbranding en verval in depressie. My huisdokter skryf medikasie voor wat my in ’n zombie verander. In dié toestand redigeer ek Duisendblaar. Die dag toe ek die teks by die ontwerpersafdeling (Produksie genoem) indien, is die hoof, Jürgen Fomm, oorsee om by die Frankfurtse boekebeurs onderhandelings te voer. Einste Wiekie Theron, wat intussen deel van dié afdeling geword het, neem vir hom waar. Wiekie waarsku dat daar nie baie foute in die proewe durf wees nie; dit kan die boek se prys te hoog opjaag.

Dit was die gebruik dat die redakteur, die skrywer en ’n derde leser, soos ’n kollega, of nog beter, een van die onafhanklike proeflesers van buite die firma, die proewe lees. Die redakteur en die skrywer kan maklik weer hulle “foute” deurlaat, daarom is so ’n kontrolerende leser baie nodig. Dié leeswerk word toe gedoen deur Loreinne Fryer met al haar taalkennis as Afrikaans-onderwyseres.

Ek sink dieper in die sielsdonkerte in toe die proewe van haar terugkom en dit, soos ons altyd gesê het, ’n slagveld was. Die ene veranderings in rooi.

Ek sien nog daardie uitdrukking in Wiekie se gesig toe hy die proewe by ons hoofbestuurder, Danie van Niekerk, se kantoordeur indra. Hooghartig, beskuldigend, verdoemend? ’n Rukkie later ontbied Danie my dan ook en vra ’n verduideliking vir die ramp. Prewelend bied ek aan om vir elke korreksie te betaal – ek, wat op die skuldboekie kruideniersware koop by kafeebaas Topolino, soms moet uithou met droëbrood en hawermoutpap. Dadelik sê die grootbaas: “Ag, Danie, moenie naïef wees nie!”

Terugskouend was Loreinne moontlik te pedanties-streng, of het ek inderdaad nie deeglik gewerk nie, want nie voor of ooit daarna was daar sulke probleme met ’n Nortje-teks nie.

Episode 2: Helmut Starcke lewer in Jürgen Fomm se afwesigheid ’n omslagontwerp in. ’n Kunswerk, maar een wat jou met somberheid oorval. ’n Donker, stil rivierpoel met ’n disablom wat daarop ronddryf om die ontsettende gevare van so ’n kanovaart vir ’n jongeling op te roep. Mens durf nie “Tretchikoff” fluister nie. Ek het beswaar aangeteken. Vir die allereerste keer word ’n omslagontwerp van die groot kunstenaar afgekeur en lewer hy ’n nuwe een: bome, rotse, stroomversnellingwater wat spat en ’n jong mannetjie in ’n kano wat kantel. Daar’s gefluister dat Helmut gesê het hy sukkel om stromende water te teken. Dit moet beklemtoon word dat Fomm afwesig was.

Episode 3: Anna Jonker (Bairos), ouer suster van Ingrid Jonker, was ’n lid van die feiteboekredaksie. Haar seun, Anthony, se stokperdjie was om houtsneewerk te doen en brandwerk daarvoor te gebruik. So maak hy toe die een of ander soort voël en kleur byvoorbeeld die vlerke met brandwerk in. Ons besluit om die Duisendblaar-prys in te stel met Anthony se houtvoël as wisseltrofee. Ek was natuurlik die eerste wenner, want dit is uitgeloof vir proewe met die meeste korreksies. Baie gou is dit oorhandig aan … Anna Jonker.

Ek het in PH Nortje se werk en in ons ontmoetings iemand leer ken wat met humor kon skep, maar nooit laf was nie; wat dikwels bekommerd gefrons het, wat sekerlik baie mensekennis had, wat milddadig met sy wysheid was. Hy was altyd die pedagoog wat positiewe waardes voorop gehou het. Hy was so bang hy gee aanstoot met sy skryfwerk. Hy het dikwels ’n paar eufemismes as alternatiewe tussen hakies voorgestel. Ek het min daarvan nodig gevind!

Nou wil ek paar tekste uitsonder wat vir my hoogtepunte is. Daar’s die volgende:

Uit Nuut onder die son, “Die wilde, getroude voël”: Charl, die oudste seun, wat kleintyd so benoud gebid het die aand ná hy ’n witreierma met ’n windbuks doodgeskiet het. PH se eerste gepubliseerde teks.

Uit Aan die sonkant, “Ter wille van ’n orrel”: Die ouderlinge en die diakens speel teen mekaar rugby op die Boland-stadion. Toe die ouderlinge begin verloor, maak hulle ’n plan. Hulle maak Ou Groot Hennie Basson kwaad. Oom Henry het dit altyd onthou as die storie wat die wydste gelees en meeste lof ontlok het.

Uit dieselfde bundel, “Esmè se borrelbad”: ’n Byna fantasmagoriese storie waarin hy die “kosmopolitaanse” gemeenskap van Wellington goed satiriseer toe almal so wegsak in die skuim en die newels op die plaas.

Idem. “Die liefde”: Hoe PH en sy vrou, Mikie, een nag buite Greyton ontdek het wat ware naasteliefde in hierdie veelrassige land kan beteken. Dit moes ’n teks wees wat PH na aan die hart gelê het, want hy het dit spesifiek onder my aandag gebring vir die tweede bloemlesing van 2008.

Die wildedruif val: Dié jeugroman is tereg bekroon. Uitmuntende dramatiserings van die vloedgeweld en van die oorlewing van kinders en volwassenes.

Uit Ken op die kierie: Ek het deur die jare vir hom aangeraai om oor sy onderwyservarings te skryf. In sy aftreejare in die Strand kom hy daarby uit in Korsies van growwebrood en in bogenoemde.

“Oor intelligensie en koeëljaers” is seker oom Henry se ondeundste, gewaagdste storie. Een van die meisiestudente het seker nie besef waarvan sy praat nie!

“Eksamenskrifte” is ’n wonderlik amusante storie oor oom Henry wat partymaal alte ingedagte kon wees.

En op sy oudag dink hy hier ook terug aan sy jeugjare en gee hy ’n ontroerende toneel met Jan Draf wat ’n bidplek teenaan ’n doringbos in die rivierloop had.

Ook op sy oudag gaan hy saam met sy seuns na die Baviaanskloof. Hy beskryf die herinneringstog in sy laaste boek, Volstruis, met wie gaan jy trou? (In Bly of gly het hy dit oor sy en Mikie se Europese reis. Spook van die wielsleutel is weer sy vertelling van sy en Francois se reis deur Namibië.)

My leefstyl as alleenloper, as homoseksueel, was eintlik so anders as PH s’n. Hy, die gesinsman; die waardige onderwysman wat onder meer die vak gegee het wat ek my hele skoolloopbaan lank gevrees het: LO; iemand wat tog geléwe het met praktiese dinge wat hy aangepak het, soos bouery en jagtogte, met sport. Maar tog het ons mekaar gevind. Ek raak telkens bewoë as ek dink aan 1995 toe ek “uitgekom” het as homoseksueel met my verhale in Die Soft Rock Klub. En PH bel my. Hoe wens ek ek kan sy presiese woorde onthou. Dit het hierop neergekom, maar hy het dit meer genuanseerd gestel: “Danie, jy bly my redakteur.”

Ek het ook bewoë geraak op 20 Oktober 2011, sy 90ste verjaardag. (Dié huilerigheid is maar ’n ding met ons ouer mans, seg ’n ervare verpleegster my.) Sedert die bloemlesing van 2008 had ons maar min kontak. Dit sou ons laaste “ontmoeting” wees. Pierre (Pierre Henri van die boeke), sy jongste seun, het my gewaarsku dat oom Henry moeilik mense onthou of herken, maar hy vermoed dat dit sy pa dalk net goed kan doen as ek hom bel.

Dié aand skryf ek in my dagboek oor my bellery:

Ek kom uit by Serenitas, Strand se siekeboeg. Dit klink oortuigend dat hy my dadelik plaas. Die bekende laggie toe ek hom aanhaal oor die engeltjies wat babatjies in 1920 gebring het. Ek begin praat oor hy wat gelukkig en tevrede kan wees op dié groot dag. Hy het baie vir ons gedoen. Die mense lees en geniet sy werk. Hy raak aangedaan. Kry iets uit soos “Ek het nie woorde nie.” Ons albei is so emosioneel dat ons moeilik gegroet kry.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address