Van lofpsalms tot klaagliedere: Johan Myburg se Kamermusiek

  • 0


Titel: Kamermusiek
Outeur: Johan Myburg
Uitgewer:
LAPA-Uitgewers
ISBN: 9780799342598
Handelsprys: R120.95
Bladsye: 54

Johan Myburg se loopbaan toon ’n merkwaardige ooreenkoms met dié van IL de Villiers. Albei is digters wat die kansel vir die medialessenaar verruil het. En albei doen in hulle gedigte verslag van dié twee wêrelde.

Myburg se derde bundel, Kamermusiek, open met die imponerende gedig “Camera obscura” waarin hy die bestaan van ’n lessenaargebonde joernalis (en by implikasie dus van ’n digter) netjies verwoord. In ’n latere, ewe imponerende gedig, “Fabel van die vy”, spreek hy sy vrees uit vir die versmorende mag van die godsdiens. En dit is dan hier waar Myburg en digter-joernalis-dominee De Villers se paadjies uiteengaan. Terwyl IL de Villiers in sy laaste twee bundels ontwikkel het tot een van ons beste mistiek-godsdienstige versemakers, lyk dit asof Johan Myburg sy geloof heeltemal afgesweer het.

Van Kontrafak, Myburg se bekroonde bundel van veertien jaar gelede, kon ek nog beweer dat ’n godsdienstige wêreldbeskouing die visie in al sy verse bepaal en dat die hele bundel “tril van die spanning tussen die sekulêre en die geestelike” (Die Burger, 7 Des 1994). Nou is dit duidelik dat die geestelike pool sy aantrekkingskrag verloor het. Die vers wat op “Fabel van die vy” volg, het sekerlik nie om dowe neute ’n aanhaling van James Joyce as motto nie: “His destiny was to be elusive of social and religious orders”. Myburg sê in dié gedig dat hy met sy afskeid van die kerk sy hand losgewoel het “uit die greep van gebroeders”.

Gelukkig bepaal nóg die onderwerp van die gedigte nóg die ideologiese wêreldbeskouing van ’n digter die literêre kwaliteit van ’n bundel. Al wat van belang bly, is die digter se verskundige vaardigheid en sy taalvermoë gekombineer met ’n vars kyk op sake. Myburg slaag dié toets – ondanks ’n insinking hier en daar – met vlieënde vaandels. My enigste bedenking is dat sommige verse nog steeds, soos in sy vorige bundel, sterk onder die invloed van TT Cloete staan. ’n Mens hoor die Cloete-klank oorverdowend in reëls soos die volgende: “In my leef my familie inbegrepe,/ ek verteenwoordig een van baie strepe” (p 14), en “Blomme wat ek intra-uterien/ al deur jou oë kon sien” (p 18).

Soos in Kontrafak (die titel is ’n musikologiese term) handel sommige gedigte in Kamermusiek uiteraard ook oor musiek, of word musiekterme as titels gebruik: ode, klaaglied, fuga, koda, nagliedjie, lied, elegie, etude, spinlied. Die eerste verwysing na die bundeltitel kom voor in ’n herskrywing (’n soort kontrafak) van ’n gedig deur Ina Rousseau, “Vrou voor ’n hakkebord”. In plaas van die intimiteit wat in Rousseau se gedig geskep word deur die vrou en haar “gehoor van een”, word die luisterende man in Myburg se gedig deur die speelster geban “uit haar kamer met musiek vir een”. In die titelgedig, “Kamermusiek”, is die spreker alleen in sy kamer terwyl hy luister na Janacek se Intimate Letters. Sy geliefde het hom klaarblyklik verlaat. (Later volg daar ’n reeks gedigte met die titel “Intieme briewe”.) Die idee van kommunikasieversteuring word versterk deur die voorbladillustrasie, ’n kunswerk van Stephan Erasmus met die titel Broken Telephone.

Die kamer, met of sonder musiek, word meermale in verband gebring met die gemoedstoestand van die “ek”. In die slotgedig van die bundel sê die digter oor homself: “In my gehuurde kamer sit ek kreperend.” Hierdie toestand van totale depressie word al vroeg in die bundel voorsien. In “Nahoon” word gepraat van ’n hond, die “swarthaar”, wat al om hom drentel; in die paranoïese vers “Visitasie” hoor hy honde hyg; in “Haard” verlaat sy minnaar hom en bly dié se “oorstuurde brak” agter, en in “Swart hond” volg die depressie hom tot by die begraafplaas:

My swarthaarhond lê oopoor
voor die deur. Elke oorweging,
elke handuitsteek na sleutels hoor
hy deur die gaas,
gereed om my agterna te sit
tot by die langste bome op die plaas.

Die Joyce-aanhaling, “His destiny was to be elusive of social and religious orders”, geld vir Johan Myburg net ten opsigte van die godsdiens. Dat hy hom baie bewus is van die “social order” waarin hy bestaan, blyk uit die versereeks “Aangepaste argitektuur”. Heeltemal gepas verwys die titel van die vierde gedig, “Martello”, na die toring waarin James Joyce ’n tydjie lank gewoon het. Die woordspel “my burg”/Myburg in die eerste strofe het my baie plesier gegee:

sal ek tula in my toring omdat ek wit is,
omdat drie-en-veertig jaar se son niks
aan my kompleksie kon doen nie?
sal ek swyg en my toespin in ’n droom
van gansveer, dieper in ’n bulsak duik,
kussing oor die kop, iewers in my burg
van ivoor?

bewaar my dat ek skryf omdat ek bang
of bitter is.

ek hoor snags honde blaf, tussen skote
deur. ek hoor mense kerm in die straat:
van dronkverdriet of van ontbering?
o, die verleiding van afstandbeheer,
van travel channel opdraai, van ignoreer
wat buite gebeur.

bewaar my dat ek swyg omdat ek bang
of bitter is.

Die belang van James Joyce as interteks vir Kamermusiek blyk verder uit die feit dat Joyce sy enigste digbundel (gepubliseer in 1907) die titel Chamber Music gegee het.

Ook in die sesde gedig van die reeks, “Besoek aan die manor”, is daar sprake van ’n Joyciaanse “vestingtoring”. (Dit is tog jammer dat hierdie indrukwekkende gedig ontsier word deur die anglisisme “’n Gewitwasde huis”. In goeie, gewone Afrikaans moet dit ’n "witgekalkte" of "afgewitte" huis wees.) Die slotreëls, “Tans knyp ’n wildevy die mankolieke/ vestingtoring geniepsig in ’n wurggreep vas”, word later geëggo in “Fabel van die vy”, waar die vyeboom “murg/ uit die jakaranda     wurg”. Dit is dus ’n bundel dié wat tot ’n hegte eenheid gesmee word deur sowel inter- as intratekste.

Ek sou ook nog kon wys op die gedigte wat handel oor materiële en genetiese “erfgoed”, op die reis-, die liefdes- en die doodsgedigte. Maar ek sal volstaan met die uiters vernuftige vers “Camera obscura II”. Daarin word vir oulaas vlugtig verwys na die digter in sy afgedane rol as dominee: hy sal weer “kerse aansteek seremonieel soos vroeër” om die bose te besweer. Wat my eintlik fassineer, is die woord- en klankspel in “skimme en skimmel hingste”, en in “tuur na die gunter/ na die nugter niet” waar “gunter” en “nugter” anagramme is:

en as die slaap nie kom nie
as die rus bly wyk
as drome my verskrik en perde deur lakens galop
salpeter my kussings vlek
as merries my bloots ry

sal ek kerse aansteek seremonieel soos vroeër
skimme en skimmel hingste beteuel
(die laken oor jou oor trek?)
deur die venster tuur na die gunter
na die nugter niet

binne is niks buiten drogbeelde
buite niemand binne bereik

Die slotkoeplet vertoon ’n chiastiese of oorkruiskonstruksie: binne + buiten / buite + binne. Dit is ’n tipiese stylfiguur van die Hebreeuse psalms.

Met Kamermusiek bestryk Johan Myburg die hele poëtiese register: van lofpsalms tot klaagliedere. Dit is ’n ryk en resonante bundel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top