Valentynsdag in die hof

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

14 Februarie is Valentynsdag, en hoe kan ons nou só 'n belangrike dag laat verbygaan in Regsalmanak? Ongelukkig is daar maar min romantiese en liefdestories in ons hofverslae opgeteken. As die liefde blom, blom dit gewoonlik ver van die hof af, en as 'n liefdestorie eers in die hof beland, kan jy seker wees dat dit gaan oor die gevolgevan liefde wat suurgeword het. Hiermee dan sommer so 'npotpourri oor wat ons howe al oor die liefde gesê het.

In T v T1 sê regter Young dat liefde in die huwelik drie bestanddele het. Die eerste is eros (Grieks vir passievolle liefde), die tweedeis philia (kameraadskap), en die derdeis agape, wat iets sê van "selfopofferende, broederlike" liefde. Die regter sê dat as enigeen van hierdie elemente uit die huwelik verdwyn, dit voldoende vir 'n egskeiding is.

In Van der Linde v Van der Linde2 - ook 'n egskeidingsgeding en een waar die partye baklei het oor beheer en toesig oor die kinders – ondersoek regter Hattingh die vraag of 'n man in staat is om moederlike liefde vir 'n kind te gee. "Tradisioneel," sê die regter, "was die man die heerser en meester, die jagter en wagter, die prediker en verdediger van huis en haard. Hy moes so ver moontlik emosioneel onbetrokke bly. Die vrou, daarteenoor, se bestemmingsfunksie was om kinders te baar, hulle te versorg en te vertroetel, om moeder en minnares te wees en daarmee saam die algehele huishouding na behore te behartig". Tye het egter verander en die regter haal navorsing aan wat duidelik aantoon dat 'n vader net so 'n goeie "moeder" as die biologiese moeder kan wees, en - natuurlik - dat 'n moeder net so 'n goeie "vader" as die biologiese vader kan wees. Regter Hattingh bedien hom van 'n ietwat vreemde begrip: bemoedering. "Hedendaags," beslis hy, "is bemoedering ook deel van die man se wese. Die begrip 'bemoedering' is aanduidend van 'n funksie eerder as 'n persona en is hierdie funksie nie noodwendig geleë in die biologiese moeder nie." Die regter beslis dan: "Na my oordeel word die kwaliteit van die ouerlike rol nie sonder meer deur geslag bepaal nie."

Gewigtige woorde oor ouerliefde.

'n Artikel oor buite-egtelike liefde wat in 1971 in die tydskrif Scope verskyn het, was die onderwerp van die saak Publikasieraad v Republikeinse Pers3. Die destydse Publikasieraad was van mening dat die artikel die bepalings van die Wet op Publikasiebeheer(Wet 26 van 1963) (gelukkig lankal saliger) oortree het. Die skrywer van die gewraakte artikel, ene Morton Hunt, skryf onder meer oor die verleentheid wat liefdesbriewe in 'n buite-egtelike verhouding kan veroorsaak. Hy sê om sulke briewe te verbrand of hulle op te skeur en met die toilet af te spoel is pynlik, maar om hulle te hou is uiters dwaas. Volgens die kopstuk van die appèlhof se uitspraak het die Publikasieraad in sy vernaamste betoogshoofde die volgende aangevoer:

The spirit in which the article is handled makes it offensive. It also encourages promiscuity, adultery and marital infidelity and elaborates on the technique of deceit; (2) (The article is) indecent or obscene in that it has the tendency to deprave or to corrupt the minds of persons who are likely to be exposed to the effect or influence thereof, especially younger people and children."

Gelukkig het die appèlhof korte mette met die saak gemaak en beslis dat die artikel nié die betrokke wet oortree het nie.

Uit die dae van werklik harde apartheid kom die saak van R v M.4 'n 23-Jarige swart man is aangekla van crimen iniuria nadat hy 'n liefdesbrief aan 'n 15-jarige blanke meisie gestuur het. Hy is skuldig bevind en vier maande gevangenisstraf opgelê.

'n Passievolle liefdesverhouding wat suur word, loop dikwels op moord uit, maar in Staat v Mkize5 is 'n man dood juis omdat sy vrou méér passie in die verhouding wou inblaas. Sy het 'n toordokter gevra om vir haar man 'n doepa te berei ten einde hulle verhouding op te kikker. Sy het die moetie gekry en dit in haar man se bier gegooi, maar hy het 'n paar uur later pynlik gesterf. By ontleding het dit geblyk dat die moetie nie 'n liefdesopkikker bevat het nie, maar dodelike arseen. Die vrou is van moord aangekla, maar die hof het bevind dat die staat nie bewys het dat sy geweet het van die arseen in die liefdesdrankie nie.

Een van ons woordrykste regters ooit, appèlregter Marius Diemont, het in 'n egskeidingsgeding, Power v Power,6 die volgende wyse woorde gesê oor jaloesie in 'n huwelik: "In jealousy there is more of self love than of love."

Vaderlandsliefde en liefde vir jou eie volk het ook al verskeie kere in ons howe ter sprake gekom. Toe Nelson Mandela in die Rivonia-verhoor aan hoogverraad skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, was sy verweer dat wat hy gedoen het, uit liefde vir sy land en sy mense was. Dáárvoor het hy 27 jaar van sy lewe agter tralies deurgebring.

Meer onlangs is die saak van Staat v Botha.7 Botha was 'n jong Afrikaner wat aan moord skuldig bevind is toe hy en 'n paar makkers met outomatiese gewere op 'n bus vol swart passasiers losgebrand het. Dit was 'n weerwraak-aanval nadat swart mense op dieselfde dag wit mense met messe in Weststraat, Durban, aangeval het. Die beskuldigde en sy makkers was lede van die AWB en die Orde Boerevolk. By vonnisoplegging het die appèlhofregter beslis dat misdadige optrede nie onder die dekmantel van liefde vir die volk verbloem kan word nie. Die hof het beslis dat die doodsvonnis die enigste gepaste straf vir die beskuldigdes was.

En op dié somber noot is dit groettyd.

Maar ek hoop jy het op Valentynsdag daardie spesiale ding vir die spesiale man of vrou in jou lewe gedoen.


1  1968(3) SA 554(R)

2  1996(3) SA 509(O)

3  Publications Control Board v Republican Publications (Pty) Ltd 1972(1) SA 288(A)

4  1961(1) SA 30(N)

5 R v MKIZE 1951(3) SA 28(A)

6  1979(2) SA 29(A)

7 STAAT v BOTHA & 'n ANDER; S v MARAIS 1993(2) SA 76(A)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top