Deborah Steinmair: Fratsgolf | Columns

 
Tyd is ’n tuimeldroër

Toe ek baie jonk was, het ek vir ’n Amerikaanse sielkundige gewerk wat motiveringskursusse by sake-ondernemings aangebied het. Volgens dr Cook was die grootste gaping tussen die Eerste en Derde Wêreld hul persepsies van tyd. Die ideale tydsbegrip (lees die mees produktiewe) is die liniêre. Tyd beweeg in ’n reguit lyn; die individu is in beheer, ’n agent van verandering, op pad êrens heen. Afrika sien glo tyd as siklies: dit beweeg in ’n sirkel, van een oestyd na die volgende, afhangend van die seisoene; wat was, kom altyd weer verby. En weer. Die individu is hulpeloos uitgelewer aan wette van die natuur. Dit klink so bekend. O gonna, ek is bevrees ek is vasgevang in ’n kosmiese tuimelsiklus.

Kursusgangers is aangemoedig om hul doelwitte neer te pen: korttermyn-, intermediêre en langtermynteikens. Vyf- en tienjaarplanne. Ek sukkel selfs met ’n dagnotule. Want wie weet watter bloed vloei in die verknotte are van setlaars in Afrika? Ek vermoed die bloed van sigeuners, nomade, trekboere, jêm-tramps, wandelende jode en jagter-bymekaarmakers, om maar ’n paar te noem. Die bloed van kulkunstenaars en eierdansers wat dit opmaak soos hulle aangaan. En ja, ek het baie begrip vir die regering se planlose gefuif asof daar nie ’n dag van môre is nie. Eet, drink en reis terwyl die slaggate in die paaie al op satellietfoto's sigbaar is soos maankraters.

Van jongs af kry ek, wanneer ek op ’n goeie plek in my lewe is, nagmerries dat ek opeens sonder verduideliking terug gelanseer is in vorige, minder ideale omstandighede. Voel die lewe vir my soos ’n Monopoly-bord waar jy eensklaps beveel word om tronk toe te gaan; nee, nie in ’n voorwaartse beweging sodat jy by Begin kan verbyskuif en R200 insamel nie, maar terug op jou spoor.

Ek het ongeveer nege jaar in Kaapstad gewoon. Dis was my plek, waar ek altyd wou wees, soos die drie susters in Tsjechof se drama wat maar jaar na jaar, met die wisseling van seisoene, bly hunker na Moskou. Dit was goeie jare, jare waarin ek selfs in my gelukkigste oomblikke, soos aande in Kubo's Little Japan in Riebeeckstraat, bewus was van die kortstondigheid van alle dinge. Ek het geweet dit kan nie hou nie. My vriend die lakoniese viskunstenaar Satoshi Kubokawa het Tokio toe gevlug van sy Medi-Clinic-skuld en daar het sy spoor doodgeloop. Daarna was daar die aardskuddings en tsoenami. Sayonara en arigato. En ek is terug Gauteng toe.

In Kaapstad was ek amper elke aand in die teater, soos in die drome van my jeug. Soos in die nagmerries van my jeug, bevind ek my oornag terug in die Noorde. Terug op my ou spore, op die plaas waar ek vandaan kom. As ’n mens nie gebore in staat is om die korporatiewe leer in vyfjaarsporte te klim nie, as ’n mens die bus na die Eerste Wêreld verpas, moet jy aanpas. Terugklim in die vel wat jy voorverlede jaar afgeskud het. Snags weer sit en staar na die sterre van jou jeug en jaar na jaar met verbasing oplet dat dit skielik koud word in April.

’n Mens probeer, soos almal rondom jou, uit die put klouter, lewenslank: een meter boontoe en weer twee meter terug. Maar soms gebeur daar iets wat jou vir ’n paar hartslae laat tou opgooi. As fokus nie jou sterk punt is nie, stort jou vyfjaarplan in vyf sekondes in duie. Lê jy op jou rug en gryp Planne B en C uit die lug.

Laat ek maar eerlik wees: ek het nog nooit doelwitte gehad nie, net ’n droom: ek wil skryf. Hoe nader ek daaraan beweeg, hoe moeiliker raak dit om op die alledaagse, die broodnoodsaaklike, te fokus. Dan moet ’n mens maar vanuit die put skryf. Daar is baie kompensasies: minder rekeninge, helderder sterre, die reuk van klam grond. Maar soms, in ’n oomblik van blinde paniek, wonder jy, soos die Drie Susters in die platteland, of die lewe by jou verbygaan. Voel dit asof jy iets belangrik en kosbaar verlê het. Onlangs stuur vriende my pa se slaprandhoed terug wat hy op sy laaste seevakansie in hul huis vergeet het. My keel trek toe en ek wil gil: dis te laat, ons het hom ook êrens verlê. In die aarde het ons hom gelê, op sy plaas, en uit my slaapkamervenster kan ek sy laaste lêplek onder die bome sien.

En ons gaan maar aan, dag na dag, seisoen na seisoen. Ongeag of ons tyd liniêr of sirkulêr beleef, dit tuimel onstuitbaar voort na die einde van die siklus.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
mj hauptfleisch
2013-03-09 @07:12
Lees gerus MOMO.

Kinderverhaal, maar ook vir volwassenes.

Sien http://en.wikipedia.org/wiki/Momo_(novel)

Maar probeer eerste die boek lees sonder enige 'spoilers'!
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address