Twyfel is die waarheid se skaduwee

  • 12

“Onkunde is nie ’n skande nie; om onkunde af te dwing is ’n skande. Die meeste mense is nie te blameer vir hul eie onkunde nie, maar as hulle dit doelbewus oordra, is hulle te blameer,” skryf die Amerikaanse wetenskapfilosoof Daniel Dennett in sy boek Breaking the spell – religion as a natural phenomenon (Allen Lane).

Dennett se woorde het by my opgekom toe die omroeper Johan Rademan so pas weer ’n onderhoud met die sogenaamde siener Marietta Theunissen en haar dogter, Julia, gevoer het op sy en Martelize Brink se program Oggend op RSG. Theunissen besoek Suid-Afrika weer, soos so dikwels in die verlede, uit Nieu-Seeland om onkundige en liggelowige mense wys te maak sy kan met hul afgestorwenes gesprekke oor die Styx voer.

Ek het reeds in 2008 ’n uitdaging in my boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery – Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite (Protea Boekhuis) aan Theunissen gerig. “Wil Theunissen nie maar asseblief die gewese kulkunstenaar James Randi se uitdaging aanvaar om haar aansprake dat sy met die dooies kan gesels, aan wetenskaplike toetsing en blootstelling te onderwerp nie?”

Hoe kan die media aan ’n swendelaar en sogenaamde medium soos Theunissen ’n forum bied wat die smart van mense uitbuit om liggelowige mense te mislei dat sy gesprekke voer met hul geliefdes oorkant die Styx, “of in die hemel, hel, of waar hulle hulle ook al bevind”? het ek toe gevra.

Randi is vandag een van die skerpste dorings in die vlees van moderne Delphi-agtige swendelaar-orakels. Twintig jaar gelede was hy een van die gewildste gaste op een van Amerika se langslewende televisieprogramme, die Tonight Show. Hy het as kulkunstenaar jare lank mense in ’n wip gevang, maar deesdae ontbloot Randi op televisie die skelmstreke en bedrog van sieners, mediums wat glo anderkant die dood kan loer, en ander aanspraakmakers. “Jy moet ’n kulkunstenaar wees om te besef hoe geslepe hierdie mense liggelowiges om die bos lei.”

Deesdae pas Randi deur middel van sy James Randi Educational Foundation (JREF) die grondbeginsels van die wetenskap toe om swendelaars van die paranormale en pseudowetenskaplikes te ontbloot. Hy pas die vier beginsels van die wetenskaplike metode toe:

  • waarneming
  • formulering van ’n hipotese of stelling
  • gebruik van die hipotese om patroonmatigheid te voorspel en te beskryf en dit deur ander wetenskaplikes deur middel van portuurevaluering te laat meet en beoordeel
  • toetsing en herhaling (replikasie) van die hipotese om dit as waar of vals te bewys.

Randi se uitnodiging aan die Amerikaanse “siener” John Edward en ander spirituele misleiers uit die vermaaklikheidswêreld is eenvoudig: “Onderwerp jul aansprake op enige paranormale, bonatuurlike en okkultiese kragte aan behoorlike wetenskaplike toetsing onder gekontroleerde wetenskaplik geldende waarnemingstoestande – en ek betaal julle $1 miljoen (meer as R9 miljoen) as die aansprake bewys kan word.” Drie dekades nadat hy sy uitdaging en beloofde beloning uitgereik het, kon nog nie een swendelaar die toets van wetenskaplike waarneming slaag nie en is die bedrag, wat verder aangevul is deur die Australiese Skeptiese Vereniging ($100 000) en die Indiese skeptikus B Premanand (100 000 Indiese roepee), steeds onopgeëis.

Theunissen kry toegang tot Suid-Afrikaanse gehore in smart omdat programme en media-instellings soos kykNET en die SABC, waar Edward ook vastrapplek gekry het, hul onsin help versprei. Ek het die destydse vervaardiger van kykNET se Die ander kant op die bedrog van Theunissen gewys en hom gevra waarom Theunissen en kykNET nie Randi se uitdaging aanvaar om groot geld te wen deur hul gesprekke met dooies aan behoorlik gekontroleerde wetenskaplike toetsprosesse te onderwerp nie. Die uitdaging is deur kykNET van die hand gewys. Intussen swyg Theunissen steeds die uitnodiging dood, al het Randi in ’n e-pos aan my aangedui dat hy bereid is om haar aansprake te laat toets. Waarvoor is sy bang? Is sy beangs dat wetenskaplikes haar swendelary aan die kaak sal stel?

Volgens Randi se paneelbeoordeling word alle aanspraakmakers op paranormale, bonatuurlike en okkultiese kragte, soos Theunissen, by vooraftoetsing betrek. Aansoekers moet ’n eenvoudige voorlopige toets slaag waarin hulle moet bewys dat hul aansprake waar is. Indien dit suksesvol is, word die applikant blootgestel aan ’n formele toets wat in wetenskaplike kontroletoestande geskied. Die voorlopige toets wat deur wetenskaplikes en Randi gestel word, word gewoonlik afgelê by ’n plek wat deur die aanspraakmakers gekies word. Indien hulle die voorlopige toets slaag, verander hul status van “aansoeker” na “aanspraakmaker”.

Nog nie een aansoeker het aan die streng wetenskaplike vereistes wat Randi en sy paneel van wetenskaplikes stel, voldoen nie – nie enige medium wat aansprake maak op gesprekke met dooies nie (Edward, die “siener” James van Praagh en hul eweknieë kan dit nie waag om Randi se uitnodiging te aanvaar nie; ook nie waarsêers (“fortuinvertellers”) wat glo die toekoms kan voorspel nie.

Wetenskaplike studies deur die Amerikaanse Committee for the Scientific Investigation of Claims of the Paranormal (CSICOP), deesdae bekend as die Committee for Skeptical Inquiry, het ’n stel modelmetodes ontwerp waarvolgens Marietta Theunissen en haar eweknieë se tegnieke om intelligente mense om die bos te lei, uiteengesit word. Besoek gerus CSICOP se webwerf (www.scicop.org), of dié van Randi (www.randi.org).

James Alcock, professor in sielkunde aan York-universiteit in Kanada, skryf in ’n artikel in Skeptical Inquirer (www.csicop.org/si/9505/belief.html) oor die verskynsel van geloof in die bonatuurlike of paranormale: “Geloofsoortuigings word geskep deur ’n geloofsenjin sonder outomatiese kommer oor of dit waar is of nie.

“Kritiese denke, logika, wetenskap – dit is almal terme wat op die een of ander wyse doelbewus gekoppel is aan pogings om die waarheid te ontknoop uit die bondel van intuïsie, verwronge persepsies en ’n geheue wat ons in die steek laat. Die werklik kritiese denker aanvaar wat min mense ooit aanvaar – dat jy nie as gewoonte jou persepsies en jou geheue kan vertrou nie. Verbeeldingsvlugte en weerspieëlings van ons emosionele behoeftes meng dikwels in met die persepsie van die waarheid en werklikheid, of vervang dit selfs.”

Theunissen se soveelste besoek aan Suid-Afrika bevestig wat ek reeds in 2008 geskryf het: “Die antieke Grieke het die orakel van Delphi reeds in 900 vC geraadpleeg om met gestorwenes te praat. Vandag, byna drie millennia later, glo mense steeds hulle kan met dooies kommunikeer via moderne orakels. Al verskil is, hulle besoek nie Griekeland nie, maar skakel hul TV aan.”

Die geloof van mense in bonatuurlike verskynsels soos spoke, telepatie, reïnkarnasie, psigiese of geloofsgenesing, nabydoodervarings, kommunikasie met die dooies, sieners, hekse en ET-agtige besoekers uit die buitenste ruimte het sedert 1990 drasties toegeneem, volgens ’n meningspeiling deur Gallup in Junie 2001.

G'n wonder sogenaamde “sieners” soos Edward, Theunissen, Van Praagh, George Anderson, Rosemary Altea, Sylvia Browne en hul bedroggenote maak miljoene deur die hartseer van mense in dollars en rande te omskep nie. In die peiling is bevind dat 28% van alle Amerikaners glo ’n mens kan met die dooies praat; 26% was nie seker nie; en net 46% het te kenne gegee hulle glo nie daaraan nie. Geen syfers is vir Suid-Afrika beskikbaar nie, maar gemeet aan die gewildheid van Edward en Theunissen se programme, kan dieselfde tendense waarskynlik hier geld.

Hoe kry Theunissen dit reg om intelligente mense so maklik ’n rat voor die oë te draai?

Talle wetenskaplike studies is al deur CSICOP onderneem om psigiese mediums se tegnieke te bekyk waarmee hulle mense flous. In 1996 het die New York Academy of Sciences die mens se onkritiese denke by ’n konferensie onder oë geneem en die wegvlug van wetenskap en rasionele denke ondersoek en bespreek. In sy referaat het Paul Kurtz, ’n professor in filosofie en ‘n stigterslid van CSICOP en die Council for Secular Humanism, twee hoofbronne geïdentifiseer wat toenemend verantwoordelik is vir die afwesigheid van rasionele denke: geloof in die paranormale (bonatuurlike) en religie.

If democracy is to function well, it must assume that there is some degree of competence and common sense and some level of education in the average person. In this view of democracy, the well-informed citizen is the best guarantee against the abuses of power from any sector of social life – political, economic, military, or ecclesiastic. Ideally, this means that we need to cultivate in the ordinary person the arts of intelligence, an appreciation of critical thinking, and some rationality.

CSICOP het gewys dat Theunissen en ander sieners se gebrabbel op televisie en tydens hul duur sessies waar mense glo in aanraking met hul afgestorwe geliefdes gebring word, is om die volgende redes so suksesvol:

  • ’n Stortvloed woorde. Matt Nisbet, ’n opgeleide kommunikasiekundige van New York, het vir CSICOP ’n studie van Edward se lyf- en gebaretaal gedoen. Ook die ABC-nuusafdeling en NBC het skeptiese wetenskaplikes gebruik om Edward en Van Praagh se styl te ontleed. Hulle het bevind dat Edward net 10–20% in die kol is, maar wat hy in akkuraatheid kortkom in sy gesprekke met die dooies, vergoed hy voor deur die volume van sy raaiskote. Oor hul stroom van woorde het die wetenskaplike van ABC News ná die ontleding geskryf: “Van Praagh is so vinnig soos ’n Ferrari, maar Edward bestuur ’n Indy 500-resiesmotor.” Volgens Nisbet vloei name, datums, kleure, siektes en toestande van familielede as raaiskote uit Edward teen een stelling per sekonde. ’n Ontleding wat ek self van Theunissen se tegnieke op kykNET gemaak het, toon dieselfde tendense. Agtergeblewe geliefdes sit betraand en stomgeslaan en luister na Theunissen se onstuitbare en ononderbroke gerammel.
  • Koue lesings. Dié tegniek wat Edward en ander mediums hoofsaaklik gebruik, is om mense te ondervra wat die vertrek of ateljee “koud” binnekom. Dit beteken die medium het geen voorafinligting oor die ondervraagde nie. Mediums soos Edward is meesters in die tegniek van waarneming wat leidrade soek in die klere wat mense dra, hul lyftaal en gesigsuitdrukkings, en hul reaksie op die stortvloed woorde waarmee hulle bestook word. Edward nooi byvoorbeeld sy “slagoffers” om te reageer op vae stellings, name, datums en gebeure wat hy links en regs rondgooi, alles in die hoop dat hy êrens iets korrek sal hê om op te aas. Theunissen volg duidelik dieselfde tegniek. Michael Shermer, skrywer van Why people believe weird things – pseudoscience, superstition, and other confusions of our time (Owl Books), het op die program Unsolved mysteries, Van Praagh, aanbieder van NBC se The other side, se tegnieke en misleiding oopgevlek. “Enigeen kan kouelesingtegnieke in ’n halfuur aanleer,” verduidelik Shermer. “Dit werk omdat die onderwerpe dit wil laat werk.”
  • Warm lesings. Mediums soos Edward, Theunissen en hul formidabele spanne gebruik gedurende hul onderhoude agtergrondinligting oor mense met wie se geliefde afgestorwenes hulle praat. Die inligting word vooraf ingesamel, dikwels deur onskuldige gesprekke wat voor hul televisie-optrede met die hartseer mense gevoer word, of deur mense in die gehoor te plaas wat na gesprekke van die gehoor luister. In “Talking to the dead”, ’n artikel in Time van 5 Maart 2001, het die wetenskapjoernalis Leon Jaroff aangetoon hoe Edward se tegniese span buite, terwyl die gehoor wag om hul sitplekke in te neem, mense kaarte laat invul wat biografiese inligting bevat. Die gesprek met die dooies word “weens tegniese redes” dan vertraag terwyl Edward en sy span die inligting verwerk.
  • Vuurwarm manipulerings en verneukery. Die televisietydskrifprogram Dateline NBC het Joe Nickell, ’n lid van CSICOP en skrywer van talle boeke oor die paranormale, onder meer Entities – angels, spirits, demons, and other alien beings (Prometheus Books), versoek om Edward te bestudeer en vas te stel of hy werklik met die dooies praat. Edward is betrap dat hy inligting wat hy vooraf ingesamel het, aangebied het asof hy dit van die “gees” van ’n gestorwene ontvang het.
  • Die oorbeklemtoning van suksesvolle lesings. Nickell het bevind dat liggelowige slagoffers die suksesse van Edward tel, maar die verkeerde lesings geïgnoreer. Die mislukkings wat Edward begaan wanneer hy nie inligting oor die dooies kan verkry uit mense met wie hy ’n onderhoud voer nie, word uit sy programme geredigeer en net die sogenaamde suksesse word aan televisiekykers gewys. Jaroff, wat al talle pryse gewen het vir sy wetenskapjoernalistiek, het in sy Time-artikel op dieselfde waarneming gewys, asook Shermer in sy ontbloting van Van Praagh.

Nickell haal in sy verslag aan CSICOP die meesterkulkunstenaar Harry Houdini (1874–1926) aan, wat talle vertonings gehou het, om aan te toon hoe die John Edwardse, Marietta Theunissens en James van Praaghs van die wêreld mense mislei. “Dit grens aan ’n misdaad,” het Houdini gesê oor die uitbuiting van mense se persoonlike hartseer deur mediums. Houdini kon dit sê omdat hy self baie jare voorgegee het dat hy met agtergeblewenes se gestorwenes praat.

Dit is dikwels juis die beste kulkunstenaars wat die maklikste kan raaksien hoe liggelowige mense met ’n slap riem gevang word. So som een van die bekendste ontbloters van Edward en Van Praagh se oëverblindery, Randi – self ’n meesterlike towenaar – volgens Shermer, uitgewer van die tydskrif Skeptic, mense op wat in die bonatuurlike glo: “Hulle is soos onsinkbare rubbereende.”

Houdini het dit selfs sterker gestel: “Dit is nie ons (die skeptici) wat moet bewys dat mediums oneerlik is nie, dit is húlle wat moet bewys hulle ís eerlik.”

Intussen aanbid mense sonder onsinverklikkers steeds by die moderne Delphi-orakel, in ’n eeu waarin meer kennis as ooit vantevore tot die mens se beskikking is. Wat egter meer bedenklik is, is dat die media, wat veronderstel is om mense op te voed en in te lig, dié soort vermaak gebruik om ten koste van ander se hartseer onkunde – maar ongelukkig nie wetenskaplike kennis nie – te versprei. G’n wonder die media het soveel geloofwaardigheid verloor nie. Dat hulle daaraan aandadig is om mense in rou se smart vir geldelike gewin uit te buit, grens inderdaad ook aan ’n misdaad, soos Houdini tereg gesê het.

Ek herhaal my uitdaging aan Theunissen: Aanvaar asseblief James Randi se uitdaging om jou aansprake dat jy met die dooies kan gesels, aan wetenskaplike toetsing en blootstelling te onderwerp.

Vir mense wat nog nie ’n onsinverklikker aangeskaf het nie, en steeds geloofwaardigheid aan Theunissen en haar genote verleen (soos ook die media), kan Alcock se motto vir ’n skeptiese mens geld, in die woorde van PJ Bailey in Festus: a country town,wat hierdie skeptiese ingesteldheid vergestalt: “Waar twyfel is, daar is die waarheid – dit is sy skaduwee.”

 

  • 12

Kommentaar

  • Andre Badenhorst

    Sluit die ding van geloof nie dalk by die kwantum meganika paradoks aan nie waar iets net bestaan sodra dit waargeneem word? Overgeset synde, as jy geloof - in hierdie geval die bonatuurlike - deur 'n sekulêre (wetenskaplike) vergrootglas probeer waarneem, kan jy dan werklik verwag dat dit sal bestaan? Ek vra maar net.

  • Chris Dippenaar

    Penn & Teller se program, 'Bullshit!' fokus op hierdie onderwerp in hulle heel eerste episode (Talking to the Dead). Dit is snaaks en pateties om hierdie sienerwurms te sien sweet as hulle gekonfronteer word deur iemand wat deur hulle klug kan sien.

    http://www.youtube.com/watch?v=MQnqRaVT9tY

     

  • a)  Jy verwar die kollaps van die golf-funksie met die foutiewe idee dat iets nie bestaan totdat dit waargeneem word nie – die waargenome objek/golf bestaan wel maar waarnemings forseer dit om sekere eienskap(pe) aan te neem.

    b)  Indien ons vir die doeleinde van die argument egter aanneem dat jou stelling wel korrek is en dat die verskynsel soos deur George beskryf inderdaad bestaan dan sien ek nie hoe waarnemings dit kan laat verdwyn nie – volgens jou stelling moet iets dan juis verskyn en nie verdwyn nie.

    c)  Al wat eintlik bepleit word is dat Theunissen se aansprake op so ‘n wyse ondersoek word dat dit haar geen geleentheid gee om allerhande kulkunsies aan te vang nie. Dit is glad nie noodsaaklik dat haar aansprake nou juis deur ‘n sekulêre persoon of persone ondersoek word nie. Baie teoloë aanvaar ook nie haar aansprake nie en indien hulle haar aan so ‘n toets onderwerp sal dit nie ‘n “sekulêre” vergrootglas wees nie. Dis maar presies dieselfde as wanneer mens ‘n professionele kulkunstenaar wat sy toertjies op ‘n verhoog uitvoer ondersoek om te sien hoe hy sy truuks uitvoer. Die natuurwetenskappe het zilch daarmee uit te waai.

  • Voortreflike leuens

     

    Ons is geleer, en leer ons kinders, dat dit voortreflik is om te lieg.

    Niemand wil weet weet waar is nie.

  • Karikature

    Menswees is 'n lewenslange geskarrel van wesens  wat mekaar wil oortuig dat hulle is wat hulle nie is nie.

    Vele dink dat hulle so belangrik is dat hulle vir ewig gaan leef.

  • Die grootste leuen is die leuen van die sg wetenskap...die wetenskap is net so vlietend en vol veranderings soos enigiets anders op aarde...elke dag het die sg wetenskaplikes 'n nuwe idee...en die nuwe idees vervang die ou idees...dus kan die vraag maklik omgedraai word, watter sg bewyse het die wetenskaplikes werklik vir enige sg wetenskaplike teorie???

    Antwoord: Swiet FOKKEL!!!
     
    Wetenskap is die grootste en blindste enkele gelofie op die aardbol...die gemiddelde sg wetenskaplike is die perfekte voorbeeld van mense met gemiddelde insigte met boekgeleerdheid effe bo hul eie IKs...dis al...
  • Mens moet ook ingedagte hou dat bittermin aangaan in NZ...daar is GEEN geld of werk nie...jy kannie verwag van verloopte afrikanerosaurusse om sommer netso the krepeer daar nie...dit terwyl die vleis in die potte van SA so blink nie...

    Afrikaners is ook oor die algemeen byna bomenslik dom...en die Xten geloof is net soos die geloof in wetenskap ook maar ewe indoktriner...dis een of die ander, beide gelofies en Afrikaners val maklik vir enige snert...dis hoekom Boeddhisme bv nooit sal werk onder die afrikanerDOM nie...
  • kaitangsou, het jy al gesien wat 'n biochemikus moet leer? Dis wiskunde, fisika, nog wiskunde en wetenskap als saamgegooi. Dan kom daar laboratoriums waarin eksperimente gedoen moet word wat darem definitief 'n effens hoër IK gaan neem om te vermag. Om proteiene in 'n reguit string te kry sodat jy 'n kristal daaruit kan maak, is nie vir almal bedoel nie. Ek sou nou beslis nie 'n wetenskaplike as 'n dommerige ou afmaak nie. DNS en 'n klomp goed wat ons aan die lewe moet hou kom immers van wetenskaplikes (dokters ingesluit) af. Watter beroep is na jou mening dan geloofwaardig? Die onderwys? Om 'n rekenmeester te wees? Wat van 'n advokaat - hulle doen mos net goed? O, en 'n chef - o ja, slegte kos uit chefshande het ek al te veel verorber. Nee, sonder daai kreatuurtjies (wetenskaplikes, fisici, dokters, wiskundiges - almal met oorvleuelings op die gebied) sou die wêreld maar nog skraal gewees het aan kennis. Jy dink?

  • @Rietha: LitNet word seker iewers in ‘n kantoor gehuisves. Ek neem aan dat kaitangsou sy boodskappe aan LitNet op papier geskryf het en dit self daar gaan aflewer het, dat hy nie van ‘n rekenaar gebruik gemaak het nie, met die dat als wat met rekenaars te doen het die gevolg is van goed gevestigde teorieë oor elektronika en kwantumfisika wat deur dom wetenskaplikes daargestel is. Ek neem ook aan dat hy na LitNet se kantore gestap het en nie van ‘n motorkar gebruik gemaak het nie, met die dat als wat met karre te doen het berus op goed gevestigde teorieë wat deur dom wetenskaplikes daargestel is. Wanneer dit donker word steek hy seker maar kerse aan instede van gebruik te maak van die vrugte van goed gevestigde teorieë oor elektrisiteit wat deur ‘n spul dom wetenskaplikes daargestel is. Sou hy eendag ‘n bril benodig sal hy dit seker van die hand wys want al die goed gevestigde teorieë oor optika waarop brille en kontaklense berus is deur ‘n spul dom wetenskaplikes ontdek. Dan moet hy ook nooit antibiotika gebruik nie want sien, als wat ons weet van mikrobes en farmakologie berus op teorieë wat deur dom wetenskaplikes opgestel is en waarvoor daar geen bewyse bestaan nie.  

    Dit amuseer my telkens om te sien hoe wetenskaplike analfabete wie se kennis van die wetenskap begin en eindig met die feit dat hulle die woord kan spel eiertjies daaroor te lê het. So gaan dit maar....

  • Baie interessante artikel. Sommige reaksies daarop toon net weereens dat die stryd teen onsin nog lank nie op die wenpad is nie!

  • Ek het 'n suspisie dat Kaitangsou niemand anders as Francois Williams,ons man in Sjina, is nie. Die styl en die aanslag is identies en eintlik is die uitsprake soos gewoonlik ongefundeerd en met hatigheid teenoor  Afrikaners gevul.

     
    Tog jammer dat so 'n mens debatvoering onmoontlik maak met sy heeltemal onintelligente en uit die koers aanmerkings. Hy sit natuurlik soos gewoonlik heerlik en lag oor die woedende reaksies van almal wat op sy snert eageer!
     
    Speurder Perdeby.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top