TWEE: "Ons gaan nou gooi – dis tyd"

  • 0

Die musiekgroep TWEE, bestaande uit Herman Kleinhans en Maria Rademan, woeker al ’n ruk op die plaaslike toneel, maar het onlangs ’n groot deurbraak beleef toe Herman as wenner van die Afri-Visie Skryf ’n Treffer-kompetisie aangewys is met die lied “Ek sweer”, wat ook deur TWEE uitgevoer is. Hulle het (afsonderlik) ’n paar vrae beantwoord.

Goeiedag, Herman en Maria. Hoe's dinge?

Herman: Lekker Henry!! Dinge gaan dol, maar kan glad nie kla nie; inteendeel!

Maria: Henry – woes besig, maar lekker. Ek kom nou net van ’n drie uur lange kooroefening af (ek dirigeer Durbanville Hoërskool se koor) en ons is reg vir ons kompetisie Saterdag!

TWEE bestaan uit, wel, julle twee. Julle was egter albei lank betrokke by ander musiekprojekte – Slagyster, Dogters van Man, die lys gaan aan. Hoe het julle twee by mekaar uitgekom en uiteindelik besluit om saam die projek te begin? Wat was jul mikpunte met die stigting van TWEE en in hoe ’n mate het dit intussen (ongeveer ’n jaar, volgens Facebook) verander?

M: Ek en Herman is albei gevra om vir ’n vriendin van ons, Mari Bosman, te speel. Sy het ons die aand van die show geleentheid gegee om iets saam te sing. Ons het “Die gang” van Laurika Rauch gekies. Die gehoor se reaksie was oorweldigend en ons het ’n stille eed gesweer om nooit weer iets sonder mekaar aan te pak nie. Mari Bosman en Renate Riedemann was deel van Dogters van Man. Ons het een treffer, “Die gras is altyd groener”, gehad en toe elkeen ons eie rigting ingeslaan. Ek het nog altyd ’n droom gehad om deel te wees van ’n duet – ek is beter saam met iemand as alleen. Herman het so ’n lekker stem, vrek! Hoe dan anders as om die droom te laat realiseer? Daar was ’n kompetisie toe ek klein was (ek is eintlik nog steeds klein; ons sê eerder jonger …) op TV genaamd Zing (ek kan verkeerd wees, maar dink ek is reg). Dit was ’n kompetisie vir duo’s. My droom was om saam met iemand in te skryf en te wen. Ongelukkig het Zing net een jaar aangehou en toe nooit weer nie. Ek het gelukkig my sangmaat gevind (en hy het vir ons die kompetisie gewen).

H: Ek is redelik seker Maria het mooi geantwoord oor hoe en waar ons ontmoet het, so ek gaan gesels oor ons mikpunte en die stigting. Daar is baie faktore wat mens in ag moet neem as jy saam met iemand wil musiek maak soos wat ek en Maria doen. Eerstens moet albei goed wees in wat hulle doen en daar kon ek nie moontlik beter gedoen het nie, want Maria is vrek talentvol. Maar dis nog baie ver van wat nodig is om suksesvol saam te werk. Ons moet oor die weg kom en gelukkig het dit natuurlik gekom. Ons is bitter goeie vriende. Die derde deel, en dis vir my baie belangrik, is om jou loopbaan te deel met mense wat dieselfde passie as jy het vir musiek en die projek wat mens aanpak. Dan is daar vir my een wat geweldig belangrik is, en dis werksetiek. Ek en Maria is ewe gedrewe en ons kom ons verpligtinge na, waar ek al vantevore met ander musikante gewerk het en nie dieselfde kan sê van hulle nie. Daar is maar ’n paar lui mense in ons bedryf, soos in enige ander, en daarom is dit belangrik om die regte mense te kies om aan jou kant te wees, en ek dink nie ek kon moontlik beter doen as Maria nie.

Dis interessant om na die eerste TWEE-album te luister, met die prominente kombinasie van jul stemme. ’n Paar internasionale groepe het die afgelope paar jaar hierdie element met sukses ingespan: Edward Sharpe & the Magnetic Zeros, Of Monsters and Men, ens. Dit klink ook of dié soort groepe ’n invloed het op julle aanslag. Luister ek verkeerd, of is dit wel so? In hoe ’n mate is musikale invloed iets om onapologeties mee om te gaan en in te span, of is dit eerder ’n geval van “staan op die skouers van reuse”?

H: Ek ken Edward Sharpe, maar is dit nie net in “Home” waarin hulle die duet-ding doen nie? Ek ken ook nie regtig Of Monsters and Men nie, behalwe vir daai een duet single “Little talks” (ek moes gaan google). So, nee, ons het glad nie doelbewus dit gedoen om soos hulle te klink nie; inteendeel. Mumford het ’n groter invloed op ons as beide van hulle, tesame met Coldplay en Kings of Leon. Ons gaan egter die hele album herbesoek, so ek sien uit om te hoor wat daar gaan gebeur. Die "chang chang" en shuffles moet minder raak en ja, ons moet net bietjie meer kyk na ’n unieke klank, met die doelwit dat dit tydloos moet wees. Challenge accepted.

M: Jy slaan die spyker op sy kop! Dit is beslis van ons inspirasies. Ek dink dit is ’n voorreg om te kan leer van ongelooflike kunstenaars. Ek dink nie dat ons ooit sit en ’n liedjie luister en dan sê: “Ons moet so een skryf” nie. Ons waardeer mooi musiek wat in ons smaak is. As jy musiek maak (en dit is jou passie) en jy speel of sing ’n genre wat jy nie van hou nie, is daar ’n probleem. Ons het ons eie tipe skryf (wel ... Herman …). Herman hou van kwessies. Dinge wat niemand anders noodwendig oor wil skryf nie, wil erken of aanraak nie. En hy is goed daarmee. So sy inspirasie moet nooit ophou nie – maak nie saak waar dit vandaan kom nie.

’n Mens wil-wil aanneem die liedjies op die album waarin Herman die voorgrond inneem met die stem is deur hom geskryf, en omgekeerd vir Maria. Dit is egter sekerlik meer gekompliseerd as dit – hoe werk die liedjieskryfproses tussen julle twee? In hoe ’n mate verskil die proses, en die mate waartoe groeplede mekaar positief kritiseer en liedjies help vyl, van vorige projekte waarby julle betrokke was? Of is dit wel ’n geval van een val in by die ander se song?

H: Ek hoop Maria het die een ...

M: Ek gee volle krediet vir Herman. Hy is ons skrywer. Hy speel 98% van die tyd vir my eerste sy liedjies en dan is ek elke keer gaande daaroor. Hy sal soms vra oor ’n woord of so, maar dan is ek gelukkig, want hy maak nie eintlik foute nie … Hy speel en sing, ek luister en harmoniseer. Soms deel ons liedjies op, soms nie. Soms verander ons dit sommer impromptu. Dit is die lekker daarvan: ons het so ’n hegte band dat ons mekaar blindelings en suksesvol volg – elke oomblik van die pad.

’n Band moet natuurlik ’n gehoor, of seker teikenmark, in ag neem wanneer liedjies geskep en opgeneem word. Interessant – ek onthou een van die liedjies, "As die son", het ek al voorheen gehoor by vertonings van Herman, maar sedertdien het die sin in die refrein "Ek voel ’n fok vir die res" verander na "Ek voel niks vir die res". Tog skroom julle ook nie om eerlik te sing oor worstelinge met geloof ("Mammon") en dies meer nie – temas wat nie juis die massas laat sokkie nie. In hoe ’n mate voel julle daardie druk om, wanneer julle skep, die gehoor, lugtydmoontlikhede op radio en TV, en dies meer in ag te neem en lirieke daarvolgens te struktureer? Hoe moet kunstenaars in die algemeen hierdie delikate balans benader?

H: Dis ’n moeilike een. Op die ou end wil ’n mens eerlikheid behou, maar jy wil ook geen mense vervreem nie. So om hardegat te wees en mense te vervreem om ’n kleiner nismark gelukkig te hou, is beslis nie die beste besigheidsbesluit nie. So ons moet nog daaroor dink en kyk hoe ons dit gaan benader.

M: Geen druk nie. Dit is bloot ’n vorm van respek. Ek voel dit is nie nodig as daar kinders is om te vloek nie. Partykeer is ons gewaagd en doen dit sommer in elk geval. Ons het ’n radiovriendelike weergawe gemaak met die “niks”. Mammon is geld, glad nie geloof nie. Dit gaan oor die mens en hoe die mens geld aanbid en nie die seer om hulle raaksien nie. (Sien … daar is Herman se kwessie!) Geld word as ’n god personifieer. Herman is moontlik bietjie meer waaghalsig en dink ek vloek soms een of twee minder woorde vir my onthalwe as ons ’n spesifieke gehoor het, maar ek het ook geleer by hom dat jy moet sê wat jy wil sê. Om eerlik te wees en te skryf en te praat is altyd mooier as om te probeer verdoesel.

Die meer “upbeat” snitte is beslis in die meerderheid op die album, maar daar's ook heelwat stadiger, balladeagtige snitte. Watter hiervan vind julle makliker, of dalk vryer, om mee te speel en te skryf? Dink julle die een is meer inherent waardevol as die ander in terme van groter klem op lirieke in die stadiger snitte, of hoe werk die storie?

H: Huh? Nee bra, kom drink ’n bottel wyn. Maria, ek hoop van harte dat jy hierdie een het. Al wat ek weet, is dat dit lekker is om die verhoog met iemand te deel en ek en Maria vul mekaar aan.

M: Ek love net alles. Ek sing enigiets saam met Hermanus. Dit is als lekker – ek kan nie kies nie. Ek dink ek ervaar die een soms beter as die ander, hang af wat die dag is, waar die plek is, hoe my gemoed is en waarvoor ons lus is. Dit is lekker om ’n verskeidenheid uit te voer.

Soos in enige land en taal, seker, is daar dinge aan die Suid-Afrikaanse musiektoneel wat lekker is, en dinge wat erg krap. Wat staan vir julle onderskeidelik uit aan die positiewe en negatiewe kant van wat moet gebeur om sukses te behaal op die (Suid-) Afrikaanse musiektoneel? En wat doen ’n mens wanneer jy voel dit raak na aan opgeetyd?

H: Daar bestaan nie iets soos opgeetyd nie. Daar bestaan nie iets soos "te laat" nie, so in my oë is daar altyd hoop.

Kom ons begin by die negatiewe. Baie van ons is finaal gatvol vir die sokkietreffers. Veral dié met slegte lirieke. Dis ’n ou resep wat platemaatskappye holrug gery het om geld mee te maak. Ons het vir baie lank na musiek geluister wat gemaak is om geld te maak en nie gemaak is omdat die skrywer ’n boodskap of passie het nie. Dit het gelei na ’n tekort aan eerlikheid in ons musiek en ek dink tans is eerlikheid in musiek die belangrikste bydrae tot iets waarby mense aanklank vind. Gelukkig is dinge besig om te verander. 
Daar is geweldig baie positiewe goed aan die gebeur en die feit dat ons die mag van die internet het maak deure oop wat nog nooit bestaan het nie. Dus is dit tyd om te skep en daar baie mense wat reeds begin het. Daar is geweldig baie collaborations wat ook plaasvind tussen kunstenaars, vervaardigers, videovervaardigers … en ek dink onafhanklike mense het besef dat hulle sal moet saamstaan (al is dit soms blindelings) en kanse waag vir mekaar om sukses te bereik. Daar is baie opwindende goed aan die gebeur en ek is opgewonde oor ons bedryf.

M: Skryf in vir Afri-Visie en hoop om te wen … Grappie. Maar regtig. Ek en Herman sing al vir drie jaar en het nog nie regtig ons groot deurbraak gehad nie. Ek het nog nooit gesing oor ek ’n inkomste wou maak nie. Ek het gesing want ek is lief daarvoor, ek leef musiek en sal nooit daarsonder kan gaan nie. Jy moet darem weet jy kan ’n noot hou en dan net nooit opgee nie. Probeer alles – die ergste wat kan gebeur is iemand sê nee.

Julle albei is, soos genoem, al ’n ruk doenig in die plaaslike musiektoneel. Enige spesifieke, besonder aangename staaltjies om te deel? Of enige bisarre gebeure voor op of die verhoog waarvan ons mag weet? Plekke wat nie verwelkomend was nie, of té verwelkomend was?

H: Sjoe, daar is beslis ’n paar aangename staaltjies, asook bisarre gebeure. Die volgende een staan egter tans vir my uit: Ons was so bevoorreg om benoem te word vir ’n Bokkie-toekenning verlede jaar. Na afloop van die formaliteite het Chris Kreeff my gebel en vir my gesê ek moet in Tulbagh kom speel, Dozi en oom Hannes is daar. Ek dog toe dis perfek, klim in die kar en ry Tulbagh toe. Toe ek daar aankom, staan die mense in die strate en luister na Dozi, besig om te preek en te sing vir hulle. Maar báie preek. Toe hy klaarmaak, het ek so ’n paar liedjies gespeel voordat hy weer begin speel het. Ek dink daai ou ken seker 2 000 liedjies en het staallonge en die stembande van tien Xhosa-tannies, want hy hou nie op met sing nie, en hy sing hard. Nietemin, dis nou al lankal nie meer deel van die vertoning nie, dis meer soos ’n afterparty-tipe affêre. Mense drink toe al teen dié tyd Jägermeister uit wynglase en voer vir mekaar potplantblare. No jokes. Ek besef nou soos ek hier tik dat ek dalk nie hierdie storie moes begin tik het nie, want daar's baie besonderhede wat ek moet uitlos.

Kom ons kom by die punt. Ons sit buite en speel kitaar en teen hierdie tyd het die massas nou al die strate verlaat, maar die oorblywendes maak net soveel geraas, aangesien hulle al elfuur die oggend begin kuier het. Daar was ’n fees in die dorp. So, met dié dat dit raas, besluit ek en Dozi ons gaan bo in die teater gaan sit en musiek maak. Dit was nie lank nie, toe is oom Hannes en Gert Vlok Nel by ons en ons ruil toe liedjies uit. Toe dit my beurt was, speel ek “As die son”. Dozi het begin huil en vir Gert Vlok Nel in sy nek begin soen en ek dink oom Hannes het ook ’n paar soene ontvang. Kort daarna stap Dozi by die trappe af en sing “Ou ryperd” vir die eerste keer die dag en sommer uit volle bors. Fokkit, het ek vir jou gelag.

M: My brein vries as ek sulke vrae hoor … Ek weet nie. Ek het nog nie regtig ’n aaklige ervaring gehad nie. Een van die lekker plekke waar ons al opgetree het, is Die Boer in Durbanville en Welbedacht no 6. Maar my gunsteling is laataandkuiers met lukrake oomblikke van sang, soms sommer net so sag-sag ek en Herman alleen.

Maria, jy werk voltyds as onderwyseres; Herman, jy het ’n klomp ysters in klomp vure. Wat is die nabye en verre plan met TWEE? Is dit ’n "side project" en sal dit so bly, of word daar aan Die Groot Deurbraak gewerk?

H: Ons gaan nou gooi met TWEE – dis tyd. Ons albei het hard gewerk hiervoor, dis my tiende jaar in die bedryf, so ek is gereed.

M: Ek is ’n trotse Durbanville Hoërskool-juffrou en ek kan nie my lewe indink sonder dit nie, maar dit is iets wat mens oor moet dink en hoop vir ’n magiese ingryping dat jy alles vir altyd kan doen. Ek is bevoorreg om ’n koor en ’n a capella-groep genaamd Dakplaat af te rig, wat ek graag nog lank wil doen. My wese vir musiek het ontstaan deur koor (skoolkoor, Tygerberg-kinderkoor, SA Jeugkoor en Stellenbosch Universiteitskoor). Om ’n koor te hê, saam met Zing, is ’n droom wat al van kleins af hand aan hand loop. Kom ons hou duim vas vir die magiese.

Wat is die sin van die lewe?

H: My persoonlike bybel is een woord: ubuntu. Die lewe is lekker, jy moet net ’n lekker mens wees.

M: Hmmmmmmmm. Ek dink liefde. As jy liefde in alles het, is jy gelukkig. Liefde in jou familie, vriende, werk, stokperdjies, musiek ... As jy hou van liefde, hou jy van die lewe. Dan maak dinge wat nie sin maak nie, sommer ook sin! (Hierdie is ’n baie powder puff, world peace antwoord – dalk oor ek ’n paar maande terug verloof was en amper trou.) Vir nou? Liefde.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top