Toe kies ek nee!

  • 0

Soos baie ander mense, sien ek mooi plekke in boeke en flieks. En soos baie ander mense droom ek: dit sal darem wonderlik wees om dit te kan ervaar. Veral tonele met water is vir my so mooi, so rustig. Die see, riviere, damme, mere …

Maar ek is nie iemand met ‘n vet beursie nie. Geld om te kan reis na diesulke mooi plekke het ek nie. In Suid-Afrika kon ek egter heelwat bekostigbare, en dikwels gratis water-ervarings beleef. Van hulle was intens, en dikwels, ja dikwels, lewensgevaarlik.

Ek het op ‘n plaas grootgeword. ‘n Plaas met min water. Die enigste swemplekke was plaasdamme. Daar het ek leer swem deur aan ‘n lëe paraffienblik vas te hou en met my voete te skop. So, het ek gedink, swem mens.

Tot die keer toe ek as tiener braaf wou wees en saam met my maats deur die Vaalrivier wou gaan. Dit het maklik gelyk. Daar was ‘n vlak plek in die rivier, met ‘n reeks klippe waar jy van klip tot klip kon spring. Tot amper naby die wal aan die oorkant. Vandaar moes ek swem – sonder my paraffienblik. Toe ek mik vir die wal, was daar nie ‘n stewige damwal agter my voete wat my momentum kon gee nie. Nee, daar was ‘n stroom wat my gegryp het. Ek dag toe: wag, laat ek gaan staan, soos in die plaasdam, tot my voete die grond raak, dan wil ek ‘n harde skop gee om met spoed vorentoe te gaan. Maar in die rivier was daar nie ‘n plaasdambodem nie: net sagte modder. Met nog net my kop wat bo die water uitgesteek het, het ek gevoel hoe paniek my vasvat. Een van die seuns het die vrees op my gesig gesien, ingespring en my uitgehelp.

My affiniteit vir water het egter nie getaan nie. Toe ek later geleer het om behoorlik te kon swem, kon ek wonderlike oomblikke beleef in Suid-Afrika se waters dwarsoor die land. Soos om saam met my neefs in die swart water van die Goukammarivier te kon swem. Om saam met my oom en tannie vakansie te kon gaan hou by Die Oog naby Mookgopong, destyds Naboomspruit. Of om in die see te kon swem in Sodwanabaai, St Lucia, Umdloti, Umhlanga, Durban, Stormsriviermond, Buffelsbaai, Llandadno, Gordonsbaai, die Strand, Kampsbaai, Clifton, Seepunt, Bloubergstrand, Langebaan en Saldanha. Om warmwaterbronne te kon besoek soos Warmbad, Die Bron, Citrusdal en Montagu. Om te kon swem saam met my kinders in die rivier by Jonkershoek ek ook om te kon plas by die groot waterval daar.

Om per boot op die oop see te kon vaar vanaf Houtbaai tot in Kaapstad se hawe was ook ‘n lekker ervaring. So ook om per boot binne die Kaapse hawe te toer. Ek was selfs op ‘n boot in Bloemhofdam en ook op een in die Gouritsrivier.

Werksverwant moes ek al ‘n paar keer oorsee gaan. Die reiskostes was deur my werkgewers betaal. Dit het my ‘n paar interessante ervarings laat belewe op en by water. Een daarvan was Lagos. Ek moes in Lagos op bote rondvaar tussen die een eiland waar die gastehuis was waar ek moes tuisgaan en ‘n ander eiland waar ek moes werk. Mens kan dit nie oorvertel nie. Oral in die water was wrakstukke van gestrande skepe. Ek het maar net gehoop en gebid dat die boot waarin ek ry nie skeepsrommel onder die water tref nie. My mond het behoorlik oopgehang om verby groot skepe te vaar waar hulle duidelik in botsings met ander skepe was: hier ‘n hoek weg, daar ‘n boeg sleg. En dan: die besoedeling van die water. Daaroor wil ek glad nie praat nie.
In Europa was dit anders. Daar het ek die wonderlike belewenis naby München kon ervaar van om op ‘n elegante bootrit te kon gaan op die Herrenchiemsee na Ludwig II se paleis. Rustige waters, stylvolle lewe. Tydens ‘n kort besoek aan Londen het ek ongelukkig ‘n bootvaart op die Teemsrivier misgeloop, want ek was vasgenael in teaters en museums. ‘n Drama-opvoering in die Royal Shakespeare-teater in Straford-upon-Avon teenaan die Avonrivier was egter ‘n droom wat onvergeetlik waar geword het.

Ek was ook op ‘n ander manier geseënd om Europa verder gratis te kon beleef. Ek het in die TV-advertensie wêreld beland omdat ek van die mooiste katte in die wêreld het. Katte, wat die deure vir my oopgemaak het om verskeie kere na Europa te kon vlieg vir filmwerk waarin die katte die sterre was. So kon ek Amsterdam besigtig vanuit ‘n kanaal-bootreis. Ek kon die Hollandse Gouwzee van naderby bekyk deur per voet te stap vanaf Edam tot in Volendam. Ek kon deur sneeu reis vanaf München tot in Oostenryk. Ek kon beleef hoe Paasfeeskerklokke beier deur die Switserse Alpe in Innsbruck. Ek kon die Rhynrivier sien deur heelwat kere daaroor te ry.

Daar was egter nog een ander water-ervaring wat letterlik soos ‘n paal bo water uitstaan in my lewe: kanovaarte op die Oranjerivier aan die bo-grens van die Richtersveld. Ek het drie keer saam met my kinders gaan roei. Dis ongelooflik hoe die rivier verskil tussen seisoene: min water in die winter, oewer-oorstromings in die somer. Op die laaste vaart het ek amper verdrink toe ek uit die kano geslinger was in die Gamkab-stroomversnelling.

Kort daarna is ek weer Europa toe. Die keer het nog ‘n waterdroom waar geword: Venesië! Wat ‘n belewenis om in ‘n groot passasiersboot te ry eerder as in ‘n bus! Verder moes ek ‘n keuse maak: neem ‘n gondola-rit of nie. Ek kyk toe na die man wat lui-lui roei op kalm waters. Dit was nie in die donker met romantiese liggies wat flikker soos wat flieks dit in my brein ingeprent het nie. Net daar vergelyk ek dit met die opwinding wat deur my are gedruis het toe ek self die roeispane in my hande gehad het op die Oranjerivier. Gondola: ja of nee? Toe kies ek nee!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top