Tien vrae: Santie van der Merwe oor gelyke kans

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Santie van der Merwe oor gelyke kans

Waarom het jy gelyke kans geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Elke keer as ek hoor van ’n huwelik wat op die rotse is, wonder ek wat gebeur het. Hoekom sien jy nie meer kans om met die persoon wat jy x aantal jare gelede gekies het, saam te leef nie? Wat gebeur? Hoe gebeur dit?

Wat was die moeilikste aspek van die skryf van hierdie boek, en hoekom?

Die moeilikste aspek was om myself te oortuig dat ek in staat is daartoe om ’n hele boek te skryf. Dat ek oor die vermoë en die vaardigheid beskik.

Dit was ook ’n baie ongemaklike onderwerp. Ek het my eie huwelik van 26 jaar onder die vergrootglas geplaas en gewonder: Veronderstel ...? Jy kan tog nie ‘n geloofwaardige karakter skep as jy jouself nie in sy of haar skoene kan indink nie. Dit was vir my skrikwekkend om te dink hoe maklik dinge kan skeefloop.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Daar was vele dooie punte. Ek het doodgewoon bo-oor hulle geskryf, al was dit die grootste snert, net om nie momentum te verloor nie. Ek skryf 2 000 woorde op ‘n dag, maak nie saak wát nie. Gewoonlik kry ek die oplossing oornag, en alles vlot die volgende dag beter.

Wat was vir jou die belangrikste – karakter, intrige, ruimte ...?

Ek dink karakter. Mense fassineer my.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek het. Ek is heeltemal te groen om met die kenners te verskil. Die redigeerders, en almal wat iets met hierdie boek te doen gehad het, was uiters professioneel en het my manuskrip met sensitiwiteit en respek hanteer. Ek het hulle ten volle vertrou.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek het besluit ek kan niks daardeur verloor nie. My kinders is nou groot, en my man is dikwels oorsee. Ek het hope tyd vir myself. Dis ’n goeie uitlaatklep vir my soms ooraktiewe verbeelding, en ek kan by die huis bly. En skrywers verdien darem beter salarisse as tuisteskeppers.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek is besig om te beplan, ja. Ek is bang ek raak weer geabsorbeer in huisvrou-wees as ek te lank wag. Dis vir my baie lekker om ook huisdinge te doen.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

My grootste Afrikaanse skryfheld is beslis oorlede Audrey Blignaut. Eleanor Baker was ook ‘n wonderlike skrywer. Ek bewonder Chanette Paul en Deon Meyer, al lees ek nie gewoonlik misdaadfikse nie. Ek hou baie van Annelie Botes, ook van Irma Joubert, en van Dana Snyman.

Internasionaal, ongetwyfeld Kate Atkinson, Lionel Shriver en Elizabeth Strout. Skrywers van toentertyd, soos Charles Dickens, AA Milne en LM Montgomery. Ook Wally Lamb en Ken Follet. Joanna Trollope, Anne Tyler. Isla Dewar. Lisa Genova. Penelope Lively. Onlangs het ek T Greenwood ontdek. Daar is heeltemal te veel om op te noem. Eintlik is my skryfhelde enigiemand wat die deursettingsvermoë het om te skryf en oor te skryf, totdat daar ‘n bemarkbare en waardige produk is wat die leser inspireer, roer, laat ontvlug.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Ek dink nie ek is regtig op hoogte genoeg om hierdie vraag te beantwoord nie. Maar daar is letterkunde wat my verstom. Ek dink onmiddellik aan Marlene van Niekerk se Agaat. Ek het ook onlangs Paula Marais se Skaduself gelees, en dit kan beslis kers vashou by goeie letterkunde in enige taal.

Wat is die lekkerste ding vir jou in die lewe - en die lekkerste ding vir jou storie se hoofkarakter? En die moeilikste (vir julle albei)?

Hierdie vraag is amper so erg soos die een oor skryfhelde. Die lekkerste dinge in my eie lewe is boeke. En kos. Om te kook én te eet. Handwerk. Televisie kyk (dit gaan gepaard met handwerk doen). Om wasgoed in die sonskyn op te hang. Om met my geliefdes te gesels. Musiek.

My hoofkarakter deel baie van my eie heerlikhede. Sy is byvoorbeeld ook lief vir haar huis, en vir handwerk. Sy geniet dit om meubels te restoureer, en tuin te maak. Dis dinge waarvan ek sou wou hou as ek kon kies, omdat ek soveel waardering daarvoor het.

Besoek LAPA Uitgewers om gelyke kans te koop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top