The Rocky Horror Show by The Fugard bied ’n vermaaklike produksie

  • 0
Foto: Jesse Kate Kramer

 

Binne die aangename atmosfeer van die Fugard hang die jong geslag se vraag eensklaps: So hoekom was die fliek destyds so ‘n sukses?

Wel, dit was duidelik ‘n goeie fliek. Maar vir die jonger geslag was daar sedertdien ‘n “time warp”. En dit neem die gehoor tot byna reg aan die einde van die opvoering om die antwoord te kry: die teks het beduidende diepte. Die mens is mos te behoudend, en die een met die meeste kritiek is steeds een van die insekte op die aarde – ons insekte wat onsself Mens noem.

Tans is daar daaglikse briefwisseling in koerante oor die skoolkind wat pouse op ‘n Kunstekaap-verhoog gegaan het en die tasse in My man se vrou se lyk se tas omgeruil het. Hier by die Fugard het die jong geslag een reaksie by die aanhoor van die aaptoertjie: “Dis sonder respek.”

En al het The Rocky Horror Picture Show tekortkominge, is dit een ding wat hierdie Fugard-produksie het: RESPEK, in hoofletters.

Die hoogtepunt is sekerlik wanneer Frank N Furter op ‘n stoel bo-op ‘n stellasie ingestoot word, ‘n pragtige glinsterende gordyn agter hom sak, en hy met die grootste piëteit die raserige sot in die gehoor uitoorlê deur ‘n middelvinger – net die middelvinger – te wys. En aan die inhoud van die teks en musiek aan "I'm going home" reg laat geskied op ‘n manier wat sekerlik Tim Curry se goedkeuring sou wegdra. Curry het op die verhoog die rol gespeel, en die sprong vanaf film meegemaak, en was een van die redes hoekom die film so ‘n wegholsukses was. Curry is 67 en het op 23 Mei ‘n reuse-beroerte gehad.

Foto: Jesse Kate Kramer

 

Soos Curry is Brendan van Rhyn in die rol van Frank N Furter skitterend. Kritici skryf Matthew Wild se regie-sukses met Comedy of Errors in Maynardville toe aan die teenwoordigheid van akteurs soos Rob van Vuuren. Maar dis ook ‘n kenmerk van ‘n goeie regisseur – die regte rolverdeling. Hier slaag Wild weer in daardie opsig. Daar is Jenny Stead (verkeerd gekies in einste Comedy of Errors), Paul du Toit (voorheen verkeerd gekies in ‘n ander produksie as Frank N Furter) en andere. En Van Rhyn. Selfs kleinigheidjies in die regie wat hom in die steek kon gelaat het, versaak hom nie. Hy speel soms na agter, weg van die gehoor, as hy byvoorbeeld met die orkes praat; hy staan in die pad van Riff-Raff – op die goue oomblik wanneer Riff-Raff en Magenta hul ware kleure wys; hy word gepootjie deur te haastig, en derhalwe uit karakter, te loop, veral as hy trap-op en -af beweeg; die ergste is seker die kontorsies wat hy aanneem bo-op die geboortelaboratorium as sy skepping die eerste keer gewys word. Ai, net ‘n houtblok daar bo, waarop hy kan sit terwyl hy met een hand aan die reling vashou, sou die gehoor die senuweetoestand spaar van hoe hy tans stoei om bo – en in een stuk – te bly.

Wild se Comedy of Errors  was baie sterk en vermaaklik. Hy het goeie idees, maar Rocky Horror het enkele uiters lae laagtepunte; oomblikke wanneer dinge byna studentikoos raak. Die teks, en ander positiewe elemente, soos die doektegniek met beligte akteurs daaragter, en sommige van die beligtingselemente, is hoogtepunte. Die spel van akteurs wat naaste aan die oorspronklike in film is – veral Jenny Stead (Janet) en Dominique Maher (Columbia),  ‘n kortkop voor  Andrew Laubscher (Riff Raff),  Paul du Toit (Brad), Lucy Tops (Usherette) – is gunstelinge. Du Toit oortref homself in die onskuldige sanggedeeltes regdeur. Stead beïndruk met die genot waarmee sy kragtig sing. Sy red haarself ook telkemale deur slim “oop” te speel vir die gehoor, waar ander, minder ervare spelers na agter sou moes speel weens hul plasing.

Adrian Galley (verteller) is goed, en het ‘n allemagtige stem, maar moet regdeur die stuk sy stem ongemaklik verhef, terwyl ‘n bietjie volume in sy mikrofoon hom heelwat meer gesag sou gee. Hy en ander akteurs, soos Stead, neem ook beleefd die hele tyd die hele gehoor – tot bo in die losies – in ag.

Mikrofoonvolumes lol dalk soms, soos soms gedurende die rystoelprofessor (gespeel deur Pierre van Heerden) se dialoog. Gehoorreaksie op hom was min – vermoedelik omdat die volume van die musiek te hard was en hy moeilik hoorbaar.  

Die musiek is goed, en spog met top name in Suid-Afrika se blyspelwêreld, soos Charl-Johan Lingenfelder en Stefan Lombard. ‘n Orkes - saxofoonspeler en al – speel die musiek. Maar kon die sax nie op die verhoog kom tydens Eddie se bekende Meatloaf-solo nie?

Choreografie deur Louisa Talbot is lekker, maar die dansers word heeltemal te min gesien.  

Tina Driedijk se stelontwerp, veral saam met die multimediamengsel met video en animasie (Anwar McWhite), is uitstekend. Kostuums is deur Penny Simpson (genade, is die swierige bevelvoerder van die buitenste ruim, Riff Raff, aan die einde oukei met sy harige bene in daai geleerde kouse?). Beligting is deur Daniel Galloway, en behalwe effense tekort aan besonderhede in die begin, uitstekend.

Besonderhede wat in die film fokus geniet het, soos Frank N Furter se hupse gedrag – letterlik ‘n kindse vergryp aan Rocky die oomblik as hy verskyn – word weens agtelosige fokus verspil. Dis een van ‘n paar voorbeelde.

Die skadu-uitbeelding van die seks met Brad en Janet is ‘n briljante idee, maar gits, is dit hoe dit lyk? ‘n Vroeëre doof van die lig sou reeds baie help om iets aan die gehoor se verbeelding oor te laat. En die muurlig agter teen ‘n muur iewers is gans te terloops om by die skadubeligtingsplan in te skakel.

In een stadium is daar ‘n beligtingstand wat Frank N Furter se boude baie grasieus hanteer. Dit sou ideaal wees as dit die geval was regdeur die produksie, maar is seker ‘n baie moeilike opdrag. En talle gehoorlede hou seker uiteraard buitendien baie van vleisige boude.

Hoe dit ook al sy – die beste stuurman staan aan wal ... Rocky Horror bied talle uitdagings, en The Fugard se produksie bied talle vernuwende oplossings en is ‘n vermaaklike produksie – met aan die spits Van Rhyn, vir wie selfs oorsese Rocky Horror Picture Shows lippe sou aflek. Die man lyk gebore vir die rol.

Moenie The Rocky Horror Picture Show misloop nie. Dis nie die eerste Kaapse produksie hiervan nie. Min mense sou by ‘n Jason Ralph (RiffRaff) in ‘n vorige produksie kon kers vashou, maar die wêreld is nie ‘n perfekte plek nie. En Andrew Laubscher werk goed.

En moenie kaartjies rondgooi terwyl Frank N Furter die beeldskoonste van liedjies pragtig lewer nie. En dalk sny hy die geïmproviseerde vloekwoorde uit die volgende optredes.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top