Taxi Violence: "Radio play is nie alles nie ..."

  • 0

Die immergroen rockers Taxi Violence het pas ’n nuwe album, Tenfold, vrygestel. George van der Spuy, hoofsanger, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, George. Hoe’s dinge deesdae?

Dinge is lekker besig, maar dit is nooit ’n slegte ding nie.


Foto: The Image Engineer

Geluk met die vrystelling van die nuwe album, Tenfold. Dit is ’n huge album, in klank en inhoud. Die titel het vermoedelik iets te doen met Taxi Violence se tienjarige bestaan – is dit so? Hoe voel jy oor die album, in ag genome dat dit ’n viering van jul tiende bestaansjaar is en dat daar natuurlik baie is om oor terug te kyk? Hoe het julle Tenfold anders benader as vorige albums?

Dit het inderdaad te doene met ons tienjaar-bestaan, maar ook dat ons dinge met ’n notch opgestoot het, hence “tenfold”. Ek is baie, baie gelukkig met die eindresultaat en baie trots op wat ons bereik het met die totale inhoud en produksie van die album. Dit is in ons oë die beste album wat ons nog vrygestel het – alhoewel ’n mens dit elke keer sê as jy ’n nuwe album vrystel, haha, maar daar is net iets spesiaal aan dié album. Dit het seker iets te doen met die feit dat ons basies die klank en gevoel van al ons albums saam gekonsentreer het om die klank van Tenfold te kry, al was dit nie noodwendig aspris gedoen nie. Daar is definitief 'n tipe van volwassenheid in die manier waarop die liedjies geskryf was en ook in die recording; mens kan sê dis meer afgerond. Met hierdie album het ons die tromme by Heritage Sound saam met Brendyn Rossouw gedoen (hy kry die beste dromklank in Suid-Afrika, volgens ons) en het toe ons tyd gevat om die baskitaar en kitare te record by my studio, Kill City Blues. Dit het ons minder onder druk geplaas en ons kon bietjie eksperimenter. Daarna het ons ook na legendariese engineer Jurgen von Wechmar gegaan om te mix. Hy is al jare in die besigheid en ons trust ook sy judgement.

Op daardie noot: In hoe ’n mate het julle óf druk ervaar om ’n album vry te stel wat ’n mate van ’n oorsig is oor alles wat Taxi Violence oor die afgelope tien jaar bereik en betree het, óf juis ’n album uit te bring wat ’n aanduiding is van wat die toekoms van die band inhou? 

Wel, ons het ’n deadline gehad wat September was en ons het sodra Soul Shake released was, skaars 'n jaar terug, dadelik weer aan ’n nuwe album begin werk omdat dat ons ’n tienjaaralbum wou uitreik vir ons aanhangers. Op daardie manier was dit nogal stresvol, maar dit help ’n mens ook om meer te fokus op die eindproduk en kom ’n mens partykeer met beter songs op as gevolg daarvan. Op die tweede noot weet ons nog nie wat gaan gebeur met Taxi Violence in die toekoms nie. Ons gaan volgende jaar weer oorsee en sal dan maar sien wat daarvan kom. Die rock scene in Suid-Afrika is op hierdie stadium nie op ’n goeie plek nie, maar soos ons nou al geleer het, gaan dinge in sirkels en hopelik sal dit weer terugkom op ’n groot manier.

Die album voel soos murg-en-been Taxi Violence, maar daar is beslis ’n eksperimentele element of twee betrokke … “Hit me up” en “Fuck off and fry” is byvoorbeeld quintessentially Taxi Violence-snitte, terwyl die korterige snit “Bad man at the door” beslis ’n verkenning van ’n ander soort avenue is. Hoe beskou jy die rol wat tien jaar se ervaring en selfvertroue speel in dit wat ’n band vrystel met ’n album om so ’n mylpaal te vier, en hoe het jy en julle dit persoonlik ervaar? Met ander woorde, is dit makliker om nou te eksperimenteer en bloot te doen wat julle wil doen as toe die eerste album of twee vrygestel is?

Met die eerste album het ons nie omgegee of mense dit gaan like of nie. Ons het net gedoen wat ons wou; selfde met die tweede album. Na dit het ons gefokus om meer “pop-orientated” rock soos die Beatles te skryf met recognisable melodies en choruses. Dit was nie noodwendig ’n slegte ding nie. Ons het baie geleer daaruit en dit definitief toegepas op die nuwe album, maar met Tenfold het ons gedink: kom ons doen net wat óns wil doen – ons verdien dit en as jy ’n Taxi fan is, sal jy hou van wat ons doen. So ja, ons het meer geëksperimenteer, want ons kon. Radio play is nie alles nie.

“Beaten by the gun” is die eerste snit op die album waarvan ’n musiekvideo gemaak is. Dit is een van daardie snitte waar ’n mens duidelike invloede kan hoor (Soundgarden / Audioslave / Chris Cornell sou besonder trots wees op die lied, en op ander snitte kan ’n mens byna Thom Yorke hoor saamfluister), maar waar daardie Taxi Violence-klank steeds onmiskenbaar is. Hoe sterk is die rol wat invloede op Taxi Violence se vrystellings gespeel het oor die jare, en ook nou, met Tenfold? Wat is jou filosofie in die algemeen rondom gerespekteerde bands se invloede op kunstenaars en hoe ’n mens tog ’n eie identiteit moet skep?

Soos jy sê, Taxi het ’n onmiskenbare klank waarop ons baie trots is. Ons voel baie sterk dat dit noodsaaklik is om dit te hê as kunstenaars. Dit is nou maar net een van daai dinge dat ’n mens altyd influences gaan kan hoor. In enige kunstenaar se materiaal. Almal “leen” stukkies by mekaar en als is eintlik maar net ’n nuwe vorm van ou materiaal van een of ander kunstenaar. Led Zeppelin was erg deur die media gekritiseer dat hulle goed “geleen” het van ander kunsternaars, maar tog is hulle een van die grootste rock bands in die wêreld. Dit hang ook maar af van waarna mens luister op die stadium wat ’n mens ’n album skryf of record – subconsciously, meer as enigiets anders, beïnvloed dit tog ’n mens, of jy dit weet of nie.

Buiten “Beaten by the gun” is daar talle snitte op die album wat sterk kan staan as singles – om die waarheid te sê, daar’s min snitte wat níé strek vir radiospel en dies meer oorweeg kan word nie. Hoe werk die liedjieskep-proses binne Taxi Violence, en wanneer voel julle tevrede met ’n lied? Wat ’n album betref – word daar beplan en oorweeg hoe sekere snitte in ’n album sal pas, of beskou julle albums as ’n versameling sinlges, of hoe voel Taxi Violence daaroor?

Die liedjieskryfproses het so klein bietjie verander – ons het gewoonlik iemand gehad wat ’n rif gehad het en rehearsal toe gebring het en ons het dit net uitgejam. Ons het dit ook gedoen, maar ook meer pre-production gedoen hierdie keer. Partykeer het iemand die hele song gaan record by die huis op software en vir die ander ouens gemail en so het mense vooraf idees begin vorm van struktuur ens en dit dan na rehearsal gebring. Dan het ons dit uitgejam, maar ook record op dieselfde tyd om terug te hoor wat in die kamer gehoor word uit ’n derde party se oogpunt. Dit help verskriklik baie, want jy hoor dit terug op ’n ander manier en as ’n geheel en jy kan dadelik ’n judgement call maak. As ons dit terug luister en als voel reg, is ons tevrede. Ons vat dit ook weer huis toe om te luister daarna vir so twee dae om te sien of ons reg was. Ek kry gewoonlik die melodie van songs dan ook neer, maar die lyrics kom eers baie later as die guitars gerecord is, want dit maak ’n groot verskil in die gevoel van ’n song vir my en help met die tema van ’n lied.

Ons het 13 volle snitte geskryf vir die album, maar twee songs is eintlik gedrop, want ons het gevoel hulle pas nie op die album nie, of is net nie sterk genoeg om die album te dra nie. Ons wil nie songs op die album hê wat mense sal skip nie, met ander woorde. Maar dit beteken nie dis slegte songs nie. Dit pas miskien net nie by die gevoel van die album as ’n geheel nie, wat baie belangrik is. Ons het nie spesifiek probeer om singles te skryf nie, though. Ons het maar net gedoen wat ons gevoel het reg voel, maar experience van ander albums skryf het baie gehelp hiermee.

In ’n onlangse video-onderhoud met Watkykjy het julle klem geplaas daarop dat die verhoudinge binne die band rus op die feit dat julle eerstens vriende en tweedens band-lede is. Hoe werk daardie dinamiek binne die band? Julle hou dit al tien jaar lank al vol, te midde van ’n musiekbedryf en -toneel wat die hele tyd aan die verander is – wat is die geheime bestanddele wat dit laat wérk, en hoe blaas julle stoom af wanneer dinge nie soos beplan uitwerk nie?

Dit is waar. Ons is vriende eerste en bandmates / business partners tweede, want dit is tog ’n besigheid en ons behandel dit so, wat ek dink bydra tot ons “sukses”, haha. Die keuses wat gemaak word in terme van beplanning ens is tog maar ’n besigheidsbesluit en die geld en marketing ens word op daai manier besluit en hanteer. As dinge nie reg gaan nie, as ’n mens gefrustreerd raak, drink ons ’n bier, vat 10 minute om te kalmeer en probeer weer of kom op met ’n nuwe idee. Anders as dit, braai ons baie saam, speel 'n bietjie poker elke nou en dan, en dan is daar ook ons common love vir rugby en krieket. Ons is maar erg Suid-Afrikaans, al maak ons musiek in Engels. Op toer, op die lang pad speel ons ’n game “Would you rather” en dan kom ons met goed op soos “Would you rather have an ostrich neck or ostrich legs?”, en dit help ons om net bietjie te relax en te lag.

Gepraat van die veranderende bedryf … dinge beweeg al meer in die rigting van digitaal. Amper in teenstryd daarmee het julle besluit om Tenfold (onder meer) in vinyl-formaat uit te gee. Wat is die motivering hieragter? En hoe beskou jy die verdere veranderinge in die musiekbedryf oor die volgende paar jaar, asook hoe Taxi Violence daardie golf sal wil ry?

Wel, ons het die album op twee formate vrygestel: Digital Downloads op iTunes en Bandcamp en op vinyl. Suid-Afrika is maar so bietjie agter die tyd. Vinyl is baie groot in Europa en Amerika en dit begin nou stadig maar seker hier ’n invloed te hê. Musica, byvoorbeeld, begin dit nou baie meer te stock. Die CD is besig om dood te gaan en winkels koop dit minder aan as gevolg daarvan. Ons het gevoel dis ’n mors van geld om iets deesdae op CD uit te bring. Almal luister in elk geval deesdae als op hul computer wat hulle of gedownload het of gecopy het (verniet) by ’n vriend wat dit van een of ander BitTorrent site gekry het. Vir die groot fans is die vinyl beskikbaar en die album behoort ook volgende jaar oorsee beskikbaar te wees.

Hoe gaan ons die golf ry? Ons het geen idee nie, maar ons sal iets uitfigure – ’n mens kan nie predict wat gaan gebeur met die musiekbedryf nie. In my oë, sê die media van die wêreld vir mense wat cool en hip is en mense volg dit. Ons stick to our guns en doen wat ons doen. Wat die res van die wêreld doen, is hulle saak. Vra vir AC/DC, Pearl Jam en Bruce Springsteen wat hulle sou doen.

Daar is ook sprake van weer in die buiteland toer – hoe lyk Taxi Violence se planne in hierdie opsig? Die plaaslike toneel vir live optree het beide sy beperkings en sy befokte elemente – wat is jou gevoel oor die aard van die rock scene in Suid-Afrika en wat die tekortkominge en voordele daarvan is?

Soos in die vorige vraag, ek dink die rock scene hier is maar beperk agv die demografie van ons land en die invloede van die media. Nie net hier nie, maar regoor die wêreld. Daar is definitief ’n decline in mense wat rock luister en na rock shows toe gaan, maar dit gaan nie ons verander om nou ewe skielik ’n dubstep-album uit bring om met “the time” te verander nie. Ons is wie ons is en ons doen wat ons en ons aanhangers gaan happy hou. As jy nie daarvan hou nie, moet dan nie na ons luister nie.

 

Ons gaan hopelik weer Duitsland en Holland toer volgende jaar en ook ’n paar ander Europese lande en sien of ons nie dalk ’n dent kan maak daar nie, maar als hang af van funding etc. Dit kos geld om so ’n toer te doen, maar ons dink die market is baie groter daar in terme van die rock scene en gaan dit maar ’n probeerslag gee. Suid-Afrika was nog altyd goed gewees vir ons en ons core fan base is hier en ons is altyd baie dankbaar vir hulle support oor die jare. 

Wat is die sin van die lewe?

Doen wat jou gelukkig maak en volg jou drome. Moenie dat ander mense vir jou sê wat of wie jy moet wees nie!


Foto: Vetman Design and Photography

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top