Tandyn Almer en "Along comes Mary"

  • 0

Die wêreld van popmusiek is bevolk met ’n klomp groot geeste wat baie bekend behoort te wees, maar wat ondanks enkele treffers nooit vorentoe getree het om in die kollig te staan nie. Middel Januarie vanjaar is Tandyn Almer oorlede – ’n komponis wat met enkele kort skote in die jare sestig en sewentig groot dinge gedoen het, maar toe van die toneel verdwyn en die res van sy lewe in afsondering deurgebring het.

Almer is die man wat die lirieke geskryf het van “Along comes Mary”, ’n liedjie wat in 1966 ’n internasionale treffer vir die Amerikaanse groep The Association was. Die liedjie se goeie eienskappe is deur niemand minder nie as Leonard Bernstein voorgehou as een van die redes hoekom hy gedink het popmusiek meer opwindende dinge doen as die indertydse klassieke avant-garde.

Wat die liedjie nog interessanter maak, buiten sy musikale hoedanighede, is die feit dat hy in die begin van die psigedeliese era uitgekom het en openlik handel oor die maniere waarop dagga vir die moderne mens gemoedsrus bring. Mary, synde afgelei van marijuana:

And then along comes Mary

And does she want to set them free, and let them see reality

From where she got her name

And will they struggle much when told that such a tender touch as hers

Will make them not the same

Hier is die liedjie soos die groep dit later, in 1967, gesing het:

Wat is dit wat Bernstein in “Along comes Mary” gehoor het? ’n Mens kry ’n taamlik goeie idee as jy luister na die liedjie se musiek, geskei van die sang:

Wens ek kan die sang, sonder musiek, iewers opspoor! The Association bly een van die groot vreugdes van die sestigs se musiek.

Almer was in die laat jare sestig altyd in die dieselfde omgewing as The Association aktief, en had ook ’n taamlik goeie verhouding met Curt Boettcher, produksieleier van baie van The Association se plate.

Boettcher het as private projek ’n groep genaamd Sagitarius gestig – ’n kruis tussen The Association en The Beach Boys – wat hoofsaaklik in die ateljee bestaan en nooit konserte gehou het nie. Onder Almer se komposisies wat Sagitarius uitgevoer het, was die liedjie “Musty Dusty”:

’n Mens moet onthou dat dit die tyd was waarin LSD skielik baie gewild geword het, en ’n magdom groepe soos Sagitarius het uit die nuwe dwelmmode probeer munt slaan. Een van hulle het The Garden Club geheet, en hul groot bydrae tot Westerse kultuur was die liedjie “Little Girl Lost-and-Found”, wat Tandyn Almer saam met Johnny Walsh geskryf het:

Almer se loopbaan het ’n skielike wending geneem toe hy in 1970 bevriend geraak het met Brian Wilson van The Beach Boys. In daardie stadium was Wilson se leefstyl reeds taamlik eksentriek, en hy was berug veral weens sy liefde om in sy pajamas en japon in Sunset Boulevard af te drentel, op pad na die taamlik eksklusiewe masseuse vir die sterre, ene Marcella. Wilson het Almer gevra om lirieke te skryf wat haar besing, en Wilson het die musiek verskaf.

Die liedjie het deur die jare ’n groot gunsteling geword van The Beach Boys-aanhangers, en was een van die hoogtepunte van hul konserte. Die oorspronklike stel lirieke het ’n strofe bevat oor die verskillende soorte fellatio wat Marcella verskaf het, maar The Beach Boys wou dit nie sing nie:

Die liedjie is in 1972 uitgereik as deel van die album Carl and the Passions ? So Tough. In 1973 is The Beach Boys na Amsterdam om hul Holland-album op te neem. By hul terugkeer na Los Angeles het hul platemaatskappy geprotesteer dat die album geen liedjies bevat wat as kortspeel-treffers sou kon ontpop nie. Die hulp van Van Dyke Parks en Tandyn Almer is toe ingeroep om ’n liedjie waarvan Brian Wilson toe reeds die musiek geskryf gehad het, van lirieke te voorsien.

Dié liedjie is toe ingesluit op die album as “Sail on Sailor”, met sang deur Blondie Chapman en Ricky Fataar, die twee Suid-Afrikaners wat destyds lede van The Beach Boys was.

Die videogreep daarvan wat ek hier insluit, kom van ’n DVD-huldeblyk aan Brian Wilson. Die sanger en klavierspeler Jamie Cullum lei die verrigtinge:

Daarna het Almer moed verloor in sy beroepskeuse. Die man wat reeds as vierjarige klassieke musiek op die klavier kon speel, het teruggekeer na ’n dorpie in Virginia, waar hy sy tyd bestee het aan die plaaslike Mensa-tak en hul aktiwiteite. “Sail on Sailor” was die laaste Tandyn Almer-lirieke wat tydens sy leeftyd die lig gesien het.

Aanstaande maand word ’n CD uitgereik met liedjies wat hy in sy kluisenaarsjare, en sommige tydens sy bloeityd, gekomponeer het. Dit sal die moeite werd wees om daarna ondersoek in te stel.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top