Sterrekunde en spirituele intelligensie

  • 3

Die afgelope ruk het ons die geleentheid gehad om spirituele intelligensie prakties hier op die Sê gedemonstreer te sien. Dit het plaasgevind tydens die gesprek oor die sigbaarheid van Jupiter se mane en die selfverklaarde spiritueel intelligente KdK se onvermoë om deur sy spiritueel intelligente bril die mane raak te sien.

Die debat moes eintlik nooit plaasgevind het nie omdat enigiemand wat al ooit deur ’n teleskoop, of selfs ’n verkyker, na die hemelruim gekyk het, sal bevestig dat Jupiter se mane inderdaad sigbaar is. Spirituele intelligensie tas klaarblyklik mens se sintuie aan want dis slegs dié onder ons wat verklaar dat hulle oor spirituele intelligensie beskik, wat die mane nie kan raaksien nie. Die mane se bewegings om Jupiter is al deur die eeue deur verskeie mense waargeneem en die posisies van die mane is sorgvuldig aangeteken. Uit die data wat versamel is, is ’n teorie oor die beweging van die mane om Jupiter geformuleer en daar is dan ook met behulp van hierdie teorie voorspel hoe die mane in die toekoms gaan optree. Nog nooit was die teorie verkeerd nie en dié teorie is ’n sterrekundige feit net soos die rotasie van die aarde en ’n klompie ander planete om die son ’n feit is (’n feit wat natuurlik ook deur die spiritueel intelligente ene hier op die Sê bevraagteken is!). Dis maar hoe die wetenskap werk – dit verklaar en dit voorspel. As daar diskrepansie aangeteken word tussen die teorie en nuwe waarnemings word die waarnemings vir foute nagegaan en as daar geen foute is nie word die teorie verstel om al die vorige waarnemings en die nuwe waarnemings te verklaar. In die geval van die beweging van die mane om Jupiter bevestig die mane se beweging die gevestigde teorie en is almal behalwe die Sê se een spiritueel intelligente deelnemer tevrede.

Die spiritueel intelligente ene kan kwansuis glad nie die mane sien nie – wat staan nog hulle beweging aanteken! Omdat hy niks kan sien nie kan hy dus geen data versamel nie en kan hy dus nie met ’n alternatiewe teorie vorendag kom wat verklaar en voorspel nie. Die arme Pluto, wat nie meer aan die nuwe definisie van ’n planeet voldoen nie, word nou sommer ook bygesleep om gewig aan sy onvermoë om Jupiter se mane raak te sien, te verleen. Ek vermoed natuurlik baie sterk dat die spiritueel intelligente ene nog nooit deur ’n teleskoop gekyk het nie en homself nou in kookwater bevind met sy kleipratery.

My finale analise: dit wil voorkom of sterrekunde, en spirituele intelligensie wedersyds uitsluitende begrippe is.

Groetnis
Thomas

  • 3

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Bewyse, kontroles? Waar is dit? Deur die eeue heen met waarskynlik swakker optika as die swakste wat vandag beskikbaar is en steeds kan hulle nie die verskil na soveel eeue agterkom, nie - omdat almal agter die eerste ou aan papegaai en nie in staat is om vir hulleself te dink, nie... en so word 'n raaiskoot deur papegaaie lewe ingeblaas vir 'n lang tyd en hulle onkunde en insigloosheid geperpetueer.

    Wat 'n kenmerkende, patetiese, inhoudlose  poging.  Gou sit dit om in pogings om mens persoonlik te probeer beledig, so futiel soos altyd. Hoe kenmerkend.

    As jy werklik gedink het dit is nonsens, waarom die sinnelose brief te skywe in 'n desperate poging om 'n punt te probeer maak? Dink jy almal is so insigloos soos jy? Dink jy dalk almal is so maklik om te fop soos  julle?

    Wat 'n mors van tyd om julle iets aan die verstand te probeer bring.

    Kobus de Klerk

  • Die Spiritueel Intelligente een praat so bont dat ek nie altyd kan agterkom wat presies sy argument is nie, maar uit sy jongste boodskappe wil dit vir my voorkom of hy nie besef planete en mane beweeg in spesifieke, voorspelbare bane in plaas van om bloot lukraak rond te dryf nie. 

     
     
  • Kobus

     
    Om die waarheid te sê dink ek ten minste almal hier op die Sê is so insigloos soos ek want ek sien niemand anders wat jou bontpratery ondersteun nie. Wat jy dus sê is dat die hele wêreld se sterrekundiges verkeerd is en net jy reg is - werklik merwaardig!
     
    Ek vermoed hierdie opmerking van my gaan jou spul alterego's inspireer om van hulle te laat hoor?
     
    Jou redenasies is totaal onwetenskaplik en gewoon belaglik.
     
    Al gedink aan daai universiteit waar hulle biologiese wetenskappe op kreasionisme baseer????????
     
    Groetnis
    Thomas
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top