LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) | LitNet Academic

 
Stellenboschstudente se rol in die vestiging van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch

 

Opsomming 

Die Afrikaanse literatuur gee uitgebreide aandag aan die geskiedenis van die pioniers van Afrikaans. Die belangrike rol van die jong studente aan die destydse Victoria Kollege op Stellenbosch kry egter weinig aandag. In werklikheid het hulle ’n groot rol in die vestiging van Afrikaans as die onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch gespeel. Studente het reeds in 1911 vir Hollands/Afrikaanse onderrig en eksamens en die stigting van ’n onafhanklike universiteit op Stellenbosch, wat toe nog net ’n idee was, gevra waar Hollands/Afrikaans tot sy volle reg sou kom. Dit is twee jaar voor die Raad en Senaat amptelik om ’n Hollands/Afrikaanse universiteit gevra het. Die ontwaking van ’n taalbesef by klein groepe studente, soortgelyk aan die Vlaamse Studentebeweging in België, dateer terug na so vroeg as 1875 en ontwikkel sistematies in die vyftig jaar daarna. Die stigting van ’n pro-Nederlandse taalvereniging, Ons Spreekuur, in 1895 en ’n pro-Afrikaanse Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in 1907 weerspieël die betrokkenheid van die jong studente en hulle soeke na ’n eie identiteit en rol. Die feit dat die Nederlandse en Afrikaanse taalorganisasies in 1909 mekaar die hand reik in die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal en Lettere motiveer die studente om die eerste Studentetaalkonferensie van 6 tot 7 April 1911 op Stellenbosch te organiseer. Dit toon die rol van studente en oudstudente wat almal later sleutelrolle op Stellenbosch en in Suid-Afrika sou speel. Die huidige aanspraak dat Jannie Marais, die weldoener wat die stigting van ’n universiteit op Stellenbosch moontlik gemaak het, ’n ondersteuner van ’n tweetalige universiteit op Stellenbosch was, word weerlê deur ’n uiteensetting van sy rol in die taalbeweging.

Trefwoorde: Universiteit Stellenbosch, Afrikaanse onderrig, studente, taalkonferensie 

Abstract

The role of Stellenbosch students in establishing Afrikaans as the language of instruction at Stellenbosch University

In Afrikaans literature the pioneers of the Afrikaans language movement are given ample attention, but the important role of the young students at the then Victoria College in Stellenbosch is neglected. They actually played a vital role in establishing Afrikaans as the language of instruction at Stellenbosch University. As early as 1911, two years before the Council and Senate presented their official request for a Dutch/Afrikaans university, the students had already called for an independent university in Stellenbosch with examinations and teaching in Afrikaans.

Education in Stellenbosch during the 19th century took place predominantly in English. The Stellenbosch Gymnasium, founded in 1866 as a boys’ school, was granted the right to offer a BA degree and became a college of the University of the Cape of Good Hope in 1873. It was an examining body, not a teaching university. An arts department was added to the boys’ school in 1874–5, which became the Stellenbosch College, renamed Victoria College in 1887 to honour Queen Victoria’s golden jubilee.

Cecil John Rhodes was keen to establish an English-medium teaching university at Groote Schuur. Victoria College was not enthusiastic about the idea and preferred to retain its independence as a college and be allowed eventually to achieve university status. The matter dragged on for almost twenty years before Stellenbosch was given the choice either to become part of the new English university in Cape Town, financed by mine magnates, or to raise their own capital to establish an independent university. A donation of £100 000 from the wealthy Stellenbosch businessman and farmer Jannie Marais provided the required capital. Act 13 of 1916 granted the new university a charter and it opened its doors to students in April 1918.

The language of instruction was an issue at Victoria College from as early as 1906 when both staff members and students petitioned for the right to write examinations in either English or Dutch. The language issue in the Western Cape had been a bone of contention since 1875 when the Genootskap van Regte Afrikaners was founded. A legislative assembly for the Cape was established in terms of the 1872 Constitution and organisations representing the Dutch population expressed their wish that the equality of the two languages should be recognised by law. Parliament passed a law in 1882 granting Dutch equal status in Parliament, the courts and education. However, this law was never enforced. When theBoeren Beschermings Vereniging (founded in 1873) and the Afrikanerbond (founded in 1879) amalgamated in 1883 under the leadership of Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) they increasingly insisted on the right to use Dutch in public activities.

Since 1875 a language and identity consciousness had been awakening among leading college students. The founding of several language societies, in particular OnsSpreekuur(1895),Die Suid-Afrikaanse Taalbond (1895) and Die Afrikaanse Taalvereniging (ATV 1907),to promote the Dutch and Afrikaans languages among staff and students was an indication of future developments. Support for Afrikaans to be placed on the same footing as Dutch increased rapidly.

Three developments in the country strongly influenced the students’ thinking and would eventually be associated with the issue of language: the annexation of the South African Republic by Britain in 1877 and the Transvaal War of Independence of 1880–1; the Jameson raid of 1895–6 and the revelations about Rhodes’s role in it, after which Hofmeyr, strongly supported by the students, severed all ties with Rhodes; and the Anglo-Boer War of 1899–1902.

The students had been debating the language issue since 1900 and in 1905 Hofmeyr delivered his famous plea to the students to use their mother tongue in public affairs. This was followed in 1908 by a similar plea for Afrikaans by Dr D.F. Malan. The continuing arguments for and against Dutch and Afrikaans were eventually bridged by two events which significantly influenced Stellenbosch students, namely the convening of a National Convention in 1909 to negotiate the unification of the four British colonies and, in the same year, the founding of the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns to promote the interests of Dutch and Afrikaans.

It was in this spirit that the students of the two main language societies in Stellenbosch, the pro-Dutch Ons Spreekuur and the pro-Afrikaans Afrikaanse Taalvereniging, joined in organising the first Studente Taalkonferensiefrom 6 to 7 April 1911. 70 delegates from a number of institutions, including the South African College and the Pretoria, Bloemfontein and Potchefstroom colleges, attended the conference. The outcome was that students demanded the more determined use of Dutch/Afrikaans and embarked on a series of public activities to promote their cause. Three demands were advocated, namely the use of Dutch in examinations, an independent university in Stellenbosch and that the university should eventually be Dutch/Afrikaans.

From 1918 to 1946 the demands were met one by one. No English-speaking member of staff was retrenched, but on retirement the teaching in that field was simply changed to Dutch and after 1925 to Afrikaans.

In conclusion the article argues that the claim that Stellenbosch University was from origin a bilingual university and should today return to that position has no historical substance. It also points out that students’ actively participate in the current Stellenbosch language debate. This is demonstrated by the two societies, Adam Tas and the Tygerberg Aksie vir Afrikaans in die Klaskamer (TABAK),supporting the arguments for the maintenance of Afrikaans as the language of instruction.

Keywords: Stellenbosch University, Afrikaans instruction, students, language conference

1. Inleiding

Studente aan die destydse Victoria Kollege op Stellenbosch het ’n sleutelrol gespeel in die strewe na die erkenning en bestendiging van Afrikaans voordat die taal in 1925 as amptelike taal in die Suid-Afrikaanse grondwet erken is. Die studente se rol is in werklikheid ’n pioniersbydrae wat in die vergetelheid geraak het. Sentraal in hierdie rol staan die Studentetaalkonferensie wat van 6 tot 7 April 1911 in die CJV-saal op Stellenbosch plaasgevind het, waar die studente uitdruklik gevra het dat daar ’n onafhanklike universiteit met ’n duidelike Hollands-Afrikaanse inslag op Stellenbosch tot stand moes kom. Dit was ’n baanbrekersrol met ’n lang aanloop, maar met nog belangriker gevolge op lang termyn. Die vyftig jaar tussen 1875 met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl en die erkenning van Afrikaans het verskeie geslagte jongmense opgelewer wat op bykans elke lewensterrein in Suid-Afrika belangrike invloed uitgeoefen het en in daardie rolle dikwels as draers van en baanbrekers vir Afrikaans opgetree het.

Stellenbosch is die baanbreker vir die gebruik van Afrikaans in die hoër onderwys. As eerste minister van die Kaapkolonie het Cecil John Rhodes al in die neëntigerjare van die 19de eeu die gedagte van ’n onderriguniversiteit op Groote Schuur geopper wat deur medium Engels die onderrigfunksies van kolleges kon vervang. Die University Incorporation Act van 1873 het die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop tot stand gebring, wat egter nie as onderriginstelling gefunksioneer het nie. Dit het eksamens net in Engels afgeneem en standaarde gestel wat deur verskillende onderrigkolleges gevolg moes word. Stellenbosch Gymnasium, wat in 1866 as ’n seunskool geopen is, het kragtens die wet op hoër onderwys van 1873 die reg verkry om studente vir die BA-graad op te lei. Dit het in 1880 die status van ’n kollege ontvang waarvan die naam in 1887 na Victoria College verander is ter ere van koningin Victoria se goue jubileum. Cecil John Rhodes se strewe het vir dié kollege die implikasie ingehou dat dit nie groter selfstandigheid en onafhanklikheid sou kon bereik nie. In die swak ekonomiese toestande na die Anglo-Boereoorlog het die kollege met ’n fondsinsamelingsveldtog en ’n uitbreidingskema begin wat daarop gemik was om sy status te verhoog en dit meer aanspraak te gee om onafhanklik in die rigting van ’n selfstandige universiteit te ontwikkel.

In die onderhandelinge met die Kaapse regering is klem gelê op die prestasies van die Victoria Kollege as die suksesvolste van die onderrigkolleges in Suid-Afrika wat studente vir die grade van die eksaminerende Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop voorberei het. Dit het die standaarde vir die kolleges gestel en al die kolleges moes dieselfde eksamens, alles in Engels, aflê. Onderrig aan die kolleges – Victoria, South African College, St Andrews, Gill, Rhodes en Muir – was in Engels, met min nie-Engelse op die personeel van selfs die Victoria Kollege, ’n inrigting waarvan die studente, in teenstelling met die ander kolleges, vir meer as 90 persent Hollands/Afrikaans was. Vanaf 1881 was daar wel ’n Departement Moderne Tale, waar Duits, Frans en Nederlands deur prof. N. Mansvelt onderrig is.

Die Victoria Kollege se bestuur het vanaf 1906 in hulle vertoë aan die regering om aan die Victoria Kollege die reg op ontwikkeling na universiteitstatus te verleen die klem gelê op Stellenbosch se uitstekende standaarde en akademiese prestasies en die feit dat hulle die Hollands/Afrikaanse gemeenskap bedien, maar die bestuur het nie vir ’n Hollands/Afrikaanse universiteit gevra nie. Hulle wou waarskynlik, in die lig van die heftige taaldebat op Stellenbosch tussen Vereenvoudigde Nederlands en Afrikaans, en die politieke situasie in die land, nie hulle kanse benadeel om die owerhede se simpatie vir selfs net die idee van die omskepping van Victoria Kollege  in ’n universiteit te wen nie. Dit was ook in die jare voor Uniewording, toe die rol wat taal in Uniewording sou speel, reeds ’n netelige politieke kwessie geword het. Dit is eers in 1913 dat die Waaksaamheidskomitee namens die Kollege se Raad en Senaat uitdruklik standpunt ingeneem het ten gunste van ’n Hollands/Afrikaanse universiteit op Stellenbosch. Die komitee is al in 1911 saamgestel uit Raad- en Senaatslede en prominente oudstudente. In 1913 was die drie leiersfigure prof. D.A. Moorrees, dr. D.F. Malan en mnr. J.G. van der Horst (Stellenbosch 1966:74–91).

In die verslag wat hulle op 15 Januarie 1913 uitgereik het, het hulle standpunt nou aangesluit by wat studente na 1911 geskryf en verkondig het. Daarin het hulle beklemtoon dat Stellenbosch

sinds jaren innig verbonden met het geestelik sedelik en national leven van de Hollandsprekende gedeelte van het volk [is]. Zij is de plaats waar het Afrikanervolk zijn idealen het best kon verwesenliken en van waar uit het de grootste invloed op Zuid-Afrika kon uitoefenen. Zij is de beste vervulling, die het volk nog gevonden heeft van een diep gevoelden behoefte. Zij staat voor een idee! Zij is daarom voor het volk geworden niet een blote opvoedingsinrichting onder andere, maar een symbool van de waarborg van zijn eigen krachtig, groeiend zoekend national leven.

Dié verklaring het heftige teenkanting van Engelse kant, en veral van die Engelse pers, ontlok. Die kreet wat aangehef is, was: “Stellenbosch blocks the way na ’n enkele universiteit op Groote Schuur waarvoor die mynmagnate Julius Wernher en Otto Beit £375 000 geskenk het. Met dié geld wou die regering Stellenbosch dwing om sy ideaal van ’n eie Hollands/Afrikaanse universiteit te laat vaar. Dit was onder andere die studente en oudstudente, wat almal stigterslede van die ATV was, wat die Raad van die Victoria Kollege op 19 Februarie 1915 geïnspireer en laat besluit het om, op voorstel van prof. C.F.J. Muller, die vader van Tobie Muller en ’n ondersteuner van die ATV, te vra vir “een charter aan het Victoria College waardoor deze inrichting hare natuurlijke bestemming kan bereiken van een echte Hollandsch Afrikaanse Universiteit te zijn”.

Die regering het sy troefkaart gespeel. As Stellenbosch nie die Wernher-Beit-voorstel wil aanvaar nie, moet hy self die fondse vind om ’n universiteit te finansier.

Dit is onder hierdie omstandighede dat die bekende Stellenbosser en LV Jannie Marais, erepresident van die ATV, sy skenking van £100 000 gemaak het om dit moontlik te maak om ’n selfstandige universiteit op Stellenbosch tot stand te bring waar Hollands/Afrikaans tot sy reg sou kom. Oudlede van die ATV het ’n groot rol gespeel om Marais tot hierdie skenking te oorreed.

Nou kon nog ’n oudlid van die ATV, ds. D.S. Botha, in die Raad voorstel dat ’n deputasie na die minister gestuur moet word om oor ’n oktrooi vir Stellenbosch te onderhandel. Vier van die lede van die deputasie was sterk ATV-gesindes: proff. A.D. Moorrees, I.J. Marais en N.J. Brümmer en ds. Botha. Net prof. J.T. Morrison het in geen stadium bande met die ATV gehad nie. Die gevolg van hierdie deputasie se onderhandelinge was De Universiteit van Stellenbosch-wet(Wet 13 van 1916). Die Universiteit het op 2 April 1918 formeel tot stand gekom.

2. Studente-voorlopers

Die nuutgestigte Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal en Letterenhet in 1911 reeds op voorstel van dr. N.M. Hoogenhout, ’n oudstudent van die Victoria Kollege, vir die stigting van ’n Hollands-Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika gevra (Kapp 2009:106). Dit is belangrik om daarop te let dat sowel in die Kaapkolonie as in die twee Boererepublieke Nederlands geen rol gespeel het in die ontwikkeling van akademies-wetenskaplike aktiwiteite nie, terwyl sulke aktiwiteite sedert 1824 wel in Engels bestaan het en ’n hoogtepunt bereik het met die stigting van The Royal Society of South Africain 1903 (Kapp 2009:310). Daar is dus nie gesaghebbende bronne beskikbaar om die stand van die Hollands/Afrikaanse intellektuele gesprek te bestudeer nie. Die artikels wat studente van die Victoria Kollege voor 1918 geskryf het en die onderwerpe waaroor hulle ’n intellektuele gesprek gevoer het, soos in studentepublikasies verteenwoordig, bied dus ’n waardevolle bron om die ontkieming van die Afrikaanse denke op intellektuele gebied te bepaal. Die taalkwessie en die stand van intellektuele betrokkenheid by die problematiek van die tyd gaan hand aan hand.

Die Studentetaalkonferensie van 1911 was enersyds die hoogtepunt van ’n taal- en intellektuele proses wat oor veertig jaar aan die Victoria Kollege gegroei het en andersyds die begin van ’n nuwe doelgerigtheid by studente en owerheid om Stellenbosch as ’n Hollands/Afrikaanse intellektuele inrigting te ontwikkel. In die talle werke oor die geskiedenis van Afrikaans word veel aandag aan die pioniers, soos S.J. du Toit, D.F. Malherbe, Gustav Preller, Eugène N. Marais en D.F. Malan, en aan die rol van skrywers, digters en talle ander bestee. Aan die studente se betekenisvolle rol as die geslag van die toekoms word min aandag gegee. Dit terwyl die ontwikkeling van Afrikaans en die Afrikaanse intellektuele lewe na 1910 die vrug sou wees van baie van hulle se bydraes op die verskillende terreine waar hulle werksaam was. Wat hierdie bydrae merkwaardig maak, is dat heelwat van hierdie studente óf van Engelse afkoms was óf sodanig verengels was dat hulle inkering tot Afrikaans en die groot rol wat hulle in Afrikaans sou speel, deur hulle ervaring as studente aan die Victoria Kollege gevorm is.

Twee besondere voorbeelde is dr. J.D. Kestell (Nienaber 1946), kanselier van die Universiteit Stellenbosch 1939–41 en vader van die Reddingsdaadbond, en Willie Hofmeyr (Le Roux 1953), stigter en eerste voorsitter van Nasionale Pers en Die Burger in 1915 en van SANTAM en SANLAM in 1918. Kestell was ’n entoesiastiese lid van Onze Taal in Bloemfontein wat in 1908 gestig is en ’n stigterslid van die Akademie in 1909. In dieselfde jaar het hy voor die Afrikaanse Taalvereniging op Stellenbosch ’n lesing gelewer oor die onderwerp “Die uitdrukkingsvermoge van die Afrikaanse taal”. In 1913 het hy opgetree by die Bloemfonteinse Taalfees wat gehou is na aanleiding van die Stellenbosse fees. Kestell was van 1873 tot 1881 skolier en student op Stellenbosch en Hofmeyr was tussen 1887 en 1889 ’n klasmaat van studente wat later almal ’n groot rol in die ontwikkeling van Afrikaans sou speel, onder andere ene Barry Hertzog. Barry Hertzog was as kind op die diamantvelde juis toe Jannie Marais, die groot weldoener van De Burger en Stellenbosch, en sy broers ook daar was. As student aan die Victoria Kollege, waar hy in 1889 die BA-graad behaal het, het Hertzog ’n sterk ondersteuner van Afrikaans geword met ’n groot waardering vir Engels en Nederlands (Le Roux, Coetzer en Marais 1987:1/10–2).

Ten spyte van Kaapse wetgewing wat die gelykheid van Engels en Nederlands erken het, was die praktiese ervaring presies die teenoorgestelde. Die kerk en onderwys is sistematies verengels en die hele skoolkurrikulum was gebaseer op die gedagte dat die kinders vir Engeland opgevoed word. Selfs die geskiedenisleerplanne was alles Britse geskiedenis. Prof. Adriaan Moorrees, wat hierdie ontwikkeling van naby beleef het, het ervaar dat die Kaapse Sinode hom in die sewentigerjare uitgelag het omdat hy gepleit het vir Nederlands eerder as Engels as kerktaal (Akademie Jaarboek 9/19,bl. 79). Dit het hom in 1911 by die Taalkonferensie laat verklaar: “Dit alles kon geen andere uitwerking hebben dat het opkomend geslacht, met onverschilligheid zo als niet met minagting op de moedertaal begon neer te zien ...”Onverskilligheid en traak-my-nie-agtigheid sou op Stellenbosch die groot struikelblok vir enige taalbeweging word. Daniël Kestell en Willie Hofmeyr sou dit terdeë ervaar, maar hulle het ’n sterk morele ondersteuner gehad in Willie se oom, ds. N.J. Hofmeyr van die Moederkerk op Stellenbosch.

Latere leidende figure het belangrike voorlopers gehad en veel geput uit die pro-Transvaalse gees en atmosfeer van 1877 met die Britse anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Dit word selde onthou dat ’n student van die Victoria Kollege en daarna van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, August Ahrbeck, in 1875 ’n stigterslid en die eerste sekretaris van die GRA was.

Taalkwessies het daarna gereelde aandag in die studentelewe en veral in twee debatsverenigings, die Victoria Kollege-debatsvereniging (gestig 1874) en die Unie Debatsvereniging (oorspronklik gestig 1876, maar neem in 1881 die naam Unie aan),  en in die studentepublikasies gekry. Die heel eerstes, wat met die hand geskryf was, was Ramkie (1883) en College Times (1885).

Hoe verengels die studente van die Kollege geword het, blyk uit ’n ontleding van studentepublikasies. Een voorbeeld: die eerste Students’ Annual van 1892–3 se redaksie was almal Hollands/Afrikaans, maar van die 24 artikels was net twee in Hollands. Daar word wel gemeld dat die redaksie verskeie oproepe tot die studente gerig het om bydraes in Hollands te lewer maar volgens die redaksie het dit weinig resultate opgelewer.

Ironies genoeg getuig die hoofartikel in Engels juis van die ontwakende identiteitsbewussyn by die studente. Onder die opskrif “Our past students”skryf die redakteur dat Stellenbosch sy studente se nasionaliteit en patriotisme ontwikkel.

Ours is a nascent nationality, and on that account most susceptible of external influences. The words “nationality” and patriotism serve as a veritable talisman to many true Africander.

Maar die begrippe is vaag en betekenisloos vir die meeste studente en daarom moet die nuwe geslag daaraan inhoud gee: “It should be our nation’s cry for finding response in the hearts of all true Africanders.” ’n Verenigde Suid-Afrika, een taal en ’n gemeenskaplike verlede is daarvoor nie ’n voorvereiste nie. Wat wel noodsaaklik is, is skeppende vermoëns en deeglike organisasiestrukture.

Iets was veral sedert die Slag van Amajuba (27 Februarie 1881) besig om op Stellenbosch te gebeur. ’n Reeks gebeure het die atmosfeer aan die Victoria Kollege begin verander van apatiese aanvaarding van Britse imperiale oppergesag en die Victoriaanse kultuur na ’n soeke na ’n eie plek, rol en identiteit. Dit het met breëre ontwikkelinge in die Wes-Kaap en in die land as geheel verband gehou (Van Jaarsveld 1957, hoofstuk 9). In 1872 het die Kaapkolonie sogenaamde verantwoordelike bestuur gekry, wat nuwe betekenis aan stemreg en die politiek gegee het. Dit was nie net die Paarlse gebeure met die stigting van die GRA wat daarin ’n rol gespeel het nie. Ook die stigting van die Afrikanerbond in 1879 het daarin ’n aandeel gehad, asook die leierskap van Jan Hendrik Hofmeyr wat, sedert sy opname in die Scanlen-kabinet in 1880, tevergeefs probeer het om Nederlands as taal in die parlement, howe en onderwys erken te kry, maar uiteindelik in 1882 daarin geslaag het.

Hierdie erkenning het die belangrike vraag op die voorgrond geplaas wat dit nou in die praktyk in veral die onderwys sal beteken. Die Bolanders was aanvanklik nie met Hofmeyr beïndruk nie, omdat hy ’n stedeling en nie ’n boer was nie. Daarom het hy in 1876 die benoemingstryd vir die kandidatuur in die kiesafdeling Stellenbosch verloor.

Twee sake het Hofmeyr se aansien op Stellenbosch radikaal verander: die feit dat hy die Boeren Beschermings Vereniging in 1873 gestig het wat in 1879 met die Afrikanerbond sou saamsmelt en waarvan hy in 1882 lid en leier sou word voordat die twee verenigings in 1883 saamgesmelt het, en die feit dat hy hom vir die erkenning van Nederlands beywer het. Boerdery- en taalbelange sou die hoekstene van sy beleid word. Hy het die Britse vlag en die imperiale verbintenis met Engeland aanvaar en daarna gestrewe om die Kaapkolonie se leierskap in suidelik Afrika te vestig sonder Britse imperiale inmenging en in noue samewerking met die twee Boererepublieke. In 1879 word hy Lid van die Wetgewende Vergadering vir Stellenbosch, wat hom in noue aanraking met die Stellenbossers en die studente bring.

Hy glo in goeie samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes en werk hieroor nou saam met Cecil John Rhodes as eerste minister van die Kaapkolonie. Die onthulling van Rhodes se aandeel in die Jameson-inval einde 1895 in die ZAR is vir hom ’n wrede ontnugtering. Hy verbreek alle bande met Rhodes en bedank as LWV vir Stellenbosch, maar behou noue bande met die Stellenbossers en die studente (Kapp 2005).

Die uitbreek van die Transvaalse Vryheidsoorlog in 1880 het op Stellenbosch groot aandag getrek, want daar was ’n aantal studente wat uit die ZAR afkomstig was (Van Jaarsveld, Van Rensburg en Stals 1980, hoofstuk 4). Die ontvangs wat die studente aan Paul Kruger en Piet Joubert met hulle besoek aan en optrede voor die studente van Stellenbosch in 1880 gebied het, was ’n belangrike manifestering van hierdie veranderende gesindheid. Kruger en Joubert was in Kaapstad om die Kaapse regering oor te haal om nie die Britse federasieplanne te ondersteun nie en het verskillende besoeke aan Stellenbosch gebring en onder meer voor die Unie Debatsvereniging se voorloper opgetree, waar hulle ’n entoesiastiese ontvangs geniet het. Trouens, op hulle reis na Kaapstad is hulle oral met geesdrif op stasies ontvang (Krüger 1961:1/93).
’n Ernstige taaldebat het op Stellenbosch ontwikkel tussen die voorstanders van die GRA met hulle pro-Afrikaanse benadering en veral die kerk met sy pro-Hollandse houding.

Die koms van prof. W.J. Viljoen in 1890 as professor in moderne tale, waaronder ook Nederlands, het ’n sterk leier vir die pro-Nederlandse strewe beteken. Op die Taalkongres wat van 31 Oktober tot 1 November 1890 gehou is, het die belangrike strydvraag duidelik op die voorgrond getree: Wat is nou eintlik “onze taal”: Nederlands of Afrikaans? Met 48 stemme vir Nederlands en 37 vir die nog vaag omskrewe “volkstaal” is die aksie vir Nederlands as taal geloods. Nog dieselfde jaar is Die Taalbond gestig om taaleksamens in Nederlands af te neem (Olivier 1965).

3. Twee taalverenigings

Die jong studente het met hierdie vraagstukke begin worstel. ’n Onbekende student skryf:

Dikwijls hoort men de klacht: de Afrikaander is onbestendig en onvertrouwbaar. Is dit het geval, dan kan hij onmogelijk leidsman worden van mede-Afrikaanders. Op dan, Afrikaanders. Laat ons dien blaam van ons afschudden door met de daad te toonen dat er pit en ruggraat in ons zit; dat wij woord houden en recht handhaven. (Stellenbosch Students’ Annual 2/1983, bl. 19)

Prof. Viljoen lewer in 1895 ’n lesing voor die studente waarin hy voorbeelde van die studente se bastertaal gee en waarin hy ’n beroep op hulle doen om “beskaafde Nederlands” te praat. (Ons Spreekuur-dokumente). Dit lei tot die stigting van Ons Spreekuur in 1895 wat hom sou beywer vir die gebruik van Vereenvoudigde Nederlands as taal eerder as “Kaapsch”(Stelle nbosch Students’ Annual 3/1895, bl. 34).

Ons Spreekuur kon op sterk steun van die professore (veral W.J. Viljoen, G.G. Cillié en P.J. de Vos), Jan Hendrik Hofmeyr en predikante staat maak, want die Kaapse Sinode van die NG Kerk was tot 1919 gekant teen die gebruik van Afrikaans as kanseltaal. Die ondersteuning vir Nederlands, eerder as Afrikaans, het sterk steun ontvang met Jan Hendrik Hofmeyr  se toespraak op 6 Maart 1905 voor Ons Spreekuur. Hy het gepraat oor“Is ’t ons ernst?”en ’n pleidooi gelewer dat Hollands in die openbare lewe en ook aan die Kollege, soos deur die Kaapse wetgewing van 1882 bepaal, erkenning moet kry. Hy het die studente aangemoedig om hulle moedertaal te gebruik en te bevorder. Die toespraak het groot opslae gemaak.

’n Ander gebeurtenis wat groot opslae gemaak het, was die Anglo-Boereoorlog. In September 1900 skryf ’n student onder die skuilnaam Nil Desperandum (vermoedelik die sekretaris van die redaksie, Jan Steytler) ’n artikel onder die opskrif “The war as a factor in the evolution of the South African nation”. Daarin beklemtoon hy dat die Afrikaners in die Kaapkolonie se positiewe gesindheid en houding teenoor die koningin, die Britse Ryk en die Britse bevolking ingrypend deur die oorlog verander is. Hy glo in ’n herrese Afrikanervolk wat ’n eenheid sou vorm wat hulle voorheen nie geken het nie en hy veroordeel dié Afrikaners wat hierdie ontwaking nie steun nie of nie deel daarvan is nie (The Stellenbosch Students’ Quarterly (SQQ) 3/1 Sept. 1900, bl. 2). Heelwat artikels oor byvoorbeeld genl. Piet Cronje, genl. Piet Joubert en die Slag van Stormberg (SSQ 3/2 Des. 1900, ble. 4, 6 en 12), asook gedigte met titels soos “Mijn vaderland” en “Di oorlog”, verskyn (SSQ 3/1 Sept. 1900, bl. 6). Steytler se artikel het heftige reaksie van The Cape Times ontlok en die redakteur moes in ’n volgende uitgawe ontken dat hierdie standpunte die amptelike standpunte van die Raad en Bestuur verteenwoordig en beklemtoon dat hierdie twee instansies “never will have anything to say to us in the matter of what ought to be printed in the Quarterly” (SSQ 3/2 Des. 1900, bl. 1).Kragtens krygswet wat in die Kaapkolonie afgekondig is, het die studenteblad vanaf Junie 1901 tot November 1902 nie verskyn nie.

Reeds in The Stellenbosch Students’ Quarterly van Februarie 1900 woed daar ’n skerp debat tussen die voorstanders van die VNS (Vereenvoudigde Nederlandse Spelling) en Afrikaans, maar die pro-Afrikaanse groep is nog ongeorganiseerd, hoewel Hofmeyr se klem op moedertaal hulle ook geïnspireer het. Die aantal artikels oor taalkwessies sou sterk toeneem (kyk bv. SSQ 8/4 Nov. 1907).

’n Geruime tyd was die prokureur J.H.H. de Waal in Kaapstad ’n eensame Afrikaanse leierstem. Maar teen 1906 het ’n aantal jong geleerdes wat hulle doktorsgrade in Europa verwerf het en almal oudstudente van die Victoria Kollege was, na Suid-Afrika teruggekeer. Een van hulle, D.F. Malherbe, het die moed gehad om die Zuid-Afrikaanse Onderwijsers Unie (ZAOU), wat sterk Hollandsgesind was, aan te vat, en op Wellington het hy sy bekende lesing “Is Afrikaans ’n dialek?” gelewer waarin hy die bestaansreg van Afrikaans as ’n selfstandige taal en nie as ’n dialek van Nederlands nie, oortuigend verdedig het (Ponelis 1984:8).

Die Afrikaanse Taalvereniging is op 3 November 1906 as nasionale organisasie in Kaapstad gestig. Onder die stigterslede was drie van die pas-teruggekeerde oud-Maties en ’n oud-Matie wat prokureur in Kaapstad was, en al vier sou ’n prominente rol aan die Universiteit Stellenbosch speel: A.I. Perold (stigter-professor van die Departement Wingerd en Wynbou in 1921 in Afrikaans), D.F. du Toit Malherbe (later die vader van chemie in Afrikaans aan al die Afrikaanse universiteite), D.F. Malan (latere eerste minister) en W.A. Hofmeyr (wat as stigterslid van Nasionale Pers en Sanlam besondere bydraes tot die US sou lewer). Die Victoria Kollege het op daardie tydstip nie ’n gebrek aan besielende jongmense gehad nie en die eerste dames – Lydia van Niekerk, Petronella van Heerden en Margie le Roux – het reeds begin om ’n rol te speel. Die jongmense kon op ’n ontwakende bewussyn voortbou.

Na aanleiding van ’n lesing wat die eerste voorsitter van die Studenteraad en ’n groot kampvegter vir Afrikaans, adv. W.J. van Zijl, op Donderdag 24 Oktober 1907 gelewer het, het die studente oorgegaan tot die stigting van ’n plaaslike tak van die ATV. Jannie Marais was ’n stigterslid en eerste erepresident. (Die dokumente van die ATV is in die J.S. Gericke-biblioteek. Die volledige ledelyste bied ’n besondere insig in wie van die studentepioniers Afrikaans ondersteun het.) In die leiersrol was ’n mede-Studenteraadslid van W.J. van Zijl van 1903, ’n teologie- en filosofiestudent, Tobie Muller. Met die uiters bekwame en gewilde Tobie Muller (Keet 1923) aan die stuur as die eerste voorsitter van die ATV het die ATV hom van die begin af vir die praktiese toepassing van gelyke taalregte beywer. Ander studente het weer gekla dat die taalkwessie te veel aandag kry en te veel tyd in beslag neem, terwyl enkele studente, soos ’n sekere N. Hofmeyr (SSQ 3/4 Nov. 1902, bl. 5) en ene Cluver (SSQ 14/4 Des. 1914, bl. 6) geïsoleerde stemme verteenwoordig het dat net Engels die taal van Stellenbosch moes wees.

Toe dr. D.F. Malan in 1908 in ’n lesing voor die ATV positief reageer op Hofmeyr se 1905-lesing dat die taal van Victoria Kollege die studente se erns moet wees, maar met die aanspraak dat erns met Afrikaans, nie met Hollands nie, gemaak moes word, het die studente intens betrokke geraak by die taalkwessie. Die wording van die nuwe Unie van Suid-Afrika (1907–10)het die vonk verskaf. Dit het die ATV talle inisiatiewe laat neem om die studente, wat oorwegend Hollandsgesind was, maar in die praktyk aan Engels voorkeur gegee het, van sienswyse te laat verander. In die November 1907-uitgawe van The Stellenbosch Students’ Quarterly, net na die stigting van die ATV, het Tobie Muller ’n indrukwekkende pleidooi vir Afrikaans gelewer. Plakkate en pamflette is gedruk. Die samewerking tussen ondersteuners van Hollands en ondersteuners van Afrikaans wat met die stigting van die Suid Afrikaansche Academie voor Taal en Letteren in Julie 1909 momentum gekry het, het ook die studente van die twee taalverenigings op Stellenbosch gemotiveer. In 1910 het die ATV se bestuur besluit om Ons Spreekuur te nader vir die aanbied van ’n gesamentlike studente-taalkonferensie op 6 en 7 April 1911. ’n Komitee wat uit drie lede van elke vereniging bestaan het, met prof. G.G. Cillié as voorsitter en Timo Kriel en N.J. van der Merwe as organiseerders, was vir die reëlings verantwoordelik. Dit was hulle eerste gesamentlik onderneming en die grootste taalmobiliseringsaksie van studente tot op daardie tydstip.

’n Uitnodiging is aan talle skole en opvoedkundige inrigtings gestuur om elk ’n maksimum van vyf amptelike verteenwoordigers te stuur. Daar was 70 amptelike afgevaardigdes van 21 inrigtings, insluitende Wellington, Tuks, Potchefstroom, Grey Kollege en die Zuid Afrikaanse Kollege (ZAK/SAC, voorloper van die Universiteit van Kaapstad). Dit is interessant dat laasgenoemde se verteenwoordigers daarop aanspraak gemaak het dat daar meer Hollandse studente aan die ZAK was as Engelse Suid-Afrikaners. Die meeste Engelssprekende studente was van Britse koloniale gebiede in Afrika afkomstig.

Die status wat die konferensie geniet het, word weerspieël in die sprekers wat opgetree het: oudpresident F.W. Reitz, prof. Adriaan Moorrees van die Teologiese Kweekskool, ’n vurige voorstander van Hollands, dr. D.F. Malan, predikant van Moorreesburg en kampvegter vir Afrikaans, genl. Christiaan Beyers, hoof van die Unie Verdedigingsmag, en prof. Willem Blommaert, ’n Vlaamse taalstryder wat professor in geskiedenis aan die Victoria Kollege sou word en later rektor van die universiteit. Die Vlaamse invloed op die studente sou dikwels duidelik blyk. Die toesprake is so goed ontvang dat hulle ná die konferensie in pamfletvorm uitgegee is met die titel Wij zullen handhaven. Studente Taalkonferensie 6-7 April 1911. In die voorwoord tot hierdie publikasie skryf die redaksie onder die slagspreuk “Wij zullen handhaven”:

Goddank de tijd van ontnuchtering is aangebroken! De student word ’n faktor ook in de taalstrijd, met wie wel te rekenen valt [...] Taalbewegingen hebben zich in ’t verleden nooit tot de studerende jeug gericht en hebben ze gevolgelijk koud gelaten. Deze beweging gaat uit van studenten en richt zich tot studenten.

In sy rede het prof. Adriaan Moorrees die naasmekaar bestaan van Frans en Engels in Kanada as voorbeeld geneem en dié profetiese woord gespreek:

Jonge vriende! de oude garde is gewillig plaats te maken voor een nieuw geslacht van strijders, met frisse krachten en met jeugdiger bloed. Blijmoedig, hoopvol, geven wij het vaandel in jongere handen over vertrouwende dat gij het ongeschonden zult bewaren, dankbaar zo wij iets hebben mogen bijdragen tot de opbouw van ons dierbaar zuidafrikaans volk.

Prof. Blommaert het ’n uiteensetting gegee van die ontstaan en ontwikkeling van die Vlaamse taalbeweging en die rol wat die studente daarin gespeel het. In belangrike opsigte het die Afrikaanse studentebeweging in ’n sterker posisie as die Vlaminge verkeer. Daarom moet die studente hulle ideale hoog stel:

Rust niet voordat de Magna Carta van uw taalstrijd: Art 137 ’n werkelikheid is geworden. Laat u niet schreeuwen en verdachtmakerij ontmoedigen, bedelt niet, maar eist. Het recht is aan uw zijde en het recht moet zegepraal. Van de Studenten is het dat de Overwinning moet Komen ...

Terwyl F.W. Reitz die tipiese karaktertrekke van die Afrikaner soos in sy geskiedenis openbaar is, bespreek het, het dr. Malan klem daarop gelê dat die taal die eenheidsband tussen die individu en die volk is; taal is soos die skil van die vrug, dit wat alles insluit en saambind.

Die twee belangrikste besluite wat geneem is, was om die medestudente te inspireer om hulle BEB-taal (bak-en-brou-mengsel van Hollands, Afrikaans en Engels) te laat vaar en trots te wees op Hollands en Afrikaans. Die konferensie het sterk beklemtoon dat hulle ten gunste van die behoud van Hollands is, maar dat Afrikaans dieselfde gebruik moet geniet. Hulle was eenparig in hulle besluit dat om hierdie ideaal te bereik ’n universiteit gestig moes word waar Hollands/Afrikaans as eksaminerende taal sou dien. Dié voorstel het interessant genoeg van ’n verteenwoordiger van die South African College School (SACS), M.S. Louw, gekom. Hy was die latere dr. M.S. (Tinie) Louw van Sanlam, want hy was ’n entoesiastiese stigterslid van die ATV op Stellenbosch en tussen 1910 en 1918 ’n onderwyser in Pietermaritzburg en in die Paarl. Hy het in 1907 sy BA (Hons.) in fisika verwerf. Op 24-jarige leeftyd was hy skoolhoof. Dit is op sy voorstel dat die Zuid-Afrikaanse Onderwijzers Unie in 1917 Afrikaans as hulle voertaal aanvaar het. Hy was vanaf 1935 lid van die US Raad en voorsitter van die Eeufeestrustfonds in 1960–8.

Die Victoria Kollege was in 1907 besig om dringend aandag aan die kwessie van die stigting van ’n onderriguniversiteit vir die Kaapkolonie te gee. Dit was dus duidelik die bedoeling dat die Kollege só ’n universiteit moes wees. Trouens, die Studenteraad het hom reeds in 1906 uitgespreek teen die memorandum van die Raad van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop om ’n enkele onderriguniversiteit met medium Engels te steun (SSQ 7/1 Apr. 1906, bl. 28 en 7/2 Jun. 1906, bl. 1). Die Studenteraad het nie vir ’n eie en onafhanklike universiteit gevra nie, maar vir ’n gefedereerde universiteit met kolleges soos die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop wel was. Eksamens moes egter in Nederlands geskryf kon word. Hoewel die Taalkonferensie nie in soveel woorde vir ’n Hollands-Afrikaanse universiteit gevra het nie, is dit in die woorde van Tinie Louw , wat tot die konferensie se besluite aanleiding gegee het, duidelik:

Ik zou het daarom goed achten als door deze konferentie een resolutie zou worden gepasseerd ten effekte, dat de belangen van de Hollands-sprekenden in Zuid-Afrika gewaarborgd zullen worden in de te worden gestichte universiteit.

Met hierdie besluit het die studente aangesluit by die pleidooi van die pasgestigte Akademie wat sy steun vir ’n Hollands/Afrikaanse universiteit onomwonde gestel het en dit as een van sy doelstellings aanvaar het. Die kampvegter vir ’n Afrikaanse universiteit in die Akademie se geledere was ook ’n oud-Matie, dr. N.M. Hoogenhout. Hy was die eerste Victoriaan wat in 1899 ’n meestersgraad in moderne tale aan die kollege verwerf het, dus ’n student van prof. Viljoen. Hy was die seun van C.P. Hoogenhout, een van die leiers van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging en op hierdie tydstip onderhoof van die Normaalkollege Pretoria en van 1925 tot 1927 rektor van die Transvaalse Universiteitskollege (TUK).

4. Die Vlaamse voorbeeld

Die studenteblad en die debatsverenigings se besprekings van dié tyd toon duidelik die besondere aandag wat aan die taalkwessie gegee is. Buitelandse voorbeelde is kwistig gebruik om die saak van Afrikaans te bevorder: die voorbeeld van Frans in Kanada, van Duits in die Elsas in vergelyking met die Hoogduits van Berlyn, en veral die posisie van Vlaams in ’n Frans-oorheerste België. Elsas-Duits en Vlaams-Nederlands het bepaalde verskille van die basistaal getoon. Die studenteleiers het begin kennis neem van die Vlaamse taalstryd danksy die invloed van Willem Blommaert, sedert 1910 dosent en vanaf 1911 professor in geskiedenis aan die Victoria Kollege. ’n Ander Gentenaar, prof. A. Lodewijcks, wat Frans en Duits gedoseer het, asook die patriotisme van die Nederlander E.C. Godeé-Molsbergen, tot 1910 professor in geskiedenis, het toenemende invloed onder die studente verwerf (Kapp 2004:16–25).

Dit was veral die entoesiastiese Blommaert wat aan die studente verduidelik het watter belangrike rol die Vlaamse studente gespeel het in die strewe om ’n Vlaamse staatsuniversiteit tot stand te bring. In daardie stadium het België twee vrye universiteite, Leuven en Brussel, en twee staatsuniversiteite, Gent en Luik, gehad. Tot 1910 het die twee vrye universiteite in sowel Frans as Nederlands onderrig verskaf, maar die staatsuniversiteite net in Frans. Selfs Nederlands is deur medium van Frans onderrig. Dit was ’n klein groepie van vyf of ses studente wat in 1854 die studentetaalbeweging begin het met die stigting van ’n beweging bekend as “’t zal Wel Gaan”.Hulle is dikwels deur Vlaamse studente bespot en deur die professore, wat meesal Frans was, met wantroue bejeën omdat hulle kon glo dat dit moontlik was om wetenskap in Nederlands te onderrig, maar hulle het in hulle saak geglo. Hulle het volhard en mettertyd meer studente getrek en die taak van geslag tot geslag oorgedra.

Dit was na meer as vyftig jaar dat hulle hul eerste sukses behaal het toe Nederlandse letterkunde aan Gent heringestel en in Nederlands gedoseer is. Wat nodig was vir die sukses, en waaraan Blommaert as student aan Gent deel gehad het, was ’n oortuigde leiersgroep, die stigting van “taalminnende en strijdende kring tot koncentrering en onderlinge aanwakkering van krachten,en die organiseer van kongresse, optogte, feeste en petisies. Met die steun van professore soos prof.  Wagener het hulle stap vir stap suksesse behaal. Die begin was toe die minister van onderwys in België ingestem het dat sommige kursusse ook in Nederlands aangebied mag word. Prof. Blommaert sou nie die finale sukses beleef toe Gent in 1923 vervlaams is nie, want toe was hy op Stellenbosch, maar Gent het hom die pos van professor aangebied, wat hy nie aanvaar het nie – hy was reeds te diep gewortel op Stellenbosch. Hóé diep, sou bevestig word toe hy in 1927 voorsitter van die Senaat geword het, ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1933 beklee het. Na sy onverwagte dood in 1934 het die Stellenbosch Studente Kwartaalblad vir ’n geruime tyd in elke uitgawe na hom verwys as die man wat na sy dood nog tot hulle spreek. Hulle het gereeld sy bekende oproep aan die studente om te help om die ideale van die universiteit te versprei en sy naam teen vooroordeel of wanbegrip te beskerm, prominent in die blad geplaas (Stellenbosch Studenteraad 2003:14).

Afrikaanse studente, het hy verklaar, het bepaalde voordele wat die Vlaamse studente nie het nie. Hulle taalregte is ten volle erken in die Unie-grondwet. Hulle is ook nie so polities verdeeld as die Vlaminge nie. Wat hulle nodig het, is wat die Vlaamse studente ook nodig gehad het: om die Vlaminge wat met die vervlaamsing die spot dryf te oortuig dat die Nederlandse taal in alle opsigte Frans se gelyke is. Louheid en onverskilligheid is die grootste struikelblokke wat aan Gent en op Stellenbosch oorwin moet word. Die trapsgewyse vervlaamsing van Gent is die strewe – dieselfde moet vir Stellenbosch geld. Moet nie tevrede wees met ’n tweetalige universiteit nie; eis ’n eentalige een.

Die Vlaamse invloed word treffend bevestig deur die verskyning, ’n jaar na die Taalkonferensie, van ’n insiggewende artikel in The Stellenbosch Students’ Quarterly,geskryf deur ’n student, vermoedelik Gordon Tomlinson, onder die opskrif “De Taal in het Hoger Onderwijs“ (SSQ 13/4 Nov. 1912). Gordon Tomlinson was ’n stigterslid van die ATV op Stellenbosch, die eerste penningmeester, regisseur van die ATV se eerste Afrikaanse toneelstuk wat op Stellenbosch opgevoer is (die toe onbekende C.J. Langenhoven se Die familiesaak), eerste redakteur van ATV se blad Ons Moedertaal,en later redakteur van The Stellenbosch Students’ Quarterly, wat hy stelselmatig verhollands en verafrikaans het.

Twee aanhalings uit hierdie artikel bevestig die rol van die ATV as pionier vir ’n Hollands-Afrikaanse universiteit:

De kwestie van de te worden gestichten Universiteit word in alle onderwijskringen druk besproken, maar zou het ideaal van de Belgen – het trapsgewijze vervlaamsen van de Hogeschool van Vlaanderens hoofstad, namelijk – ook niet de oplossing van de taal-probleem hier bij ons kunnen zijn? Waarom zou er niet ook ’n ”teaching university” kunnen zijn waar het onderwijs uitsluitelik door het medium van het Hollands zal worden gegewen?

Die tweede aanhaling:

De Universiteit is daarenboven ’n middelpunt van geestesleven, dat direkt of indirekt op het ganse volk ’n grote invloed uitoefent. Het is daar waar de wetenschap gemaakt worden.

Die skrywer behandel al die besware teen ’n Hollands-Afrikaanse universiteit, waarvan die meeste vandag nog besonder bekend klink: ten eerste, die gebrek aan studente om in die taal te wil studeer en ten tweede die probleem om professore te bekom wat in die taal kan doseer. Dit, sê hy, is dieselfde argumente as wat in België teen Nederlands gebruik is en wat verkeerd bewys is. Stellenbosch is meer as 90 persent Afrikaans en lewer voldoende Europees-gedoktoreerde oudstudente op om van ’n universiteit ’n sukses te maak. Ten derde: die taak van die universiteit is om die bevolking van die land op te hef en te ontwikkel. Hoe kan dit beter gedoen word as in die moedertaal van die mense wat ontwikkel moet word? Die taal skep die band tussen kundigheid, vaardigheid en die volk. Dit skep die brandpunte van toewyding tot en lojaliteit aan die vaderland.

In 1917 begin die Stellenbosch-studente met die Vlaamse en Nederlandse studente saamwerk en begin hulle bou aan studente-organisasies om hierdie samewerking te beliggaam (verg. die artikel De Vlaamse Beweging in The Stellenbosch Students’Quarterly/Stellenbosch Studenten Kwartaalblad 18/4 Nov. 1917:20). Reeds in 1916 word in Bloemfontein onder inspirasie van Grey Kollege se jong dosent in Nederlands, wat in 1918 die leerstoel in Afrikaans sou beklee, dr. D.F. Malherbe, die eerste Afrikaanse Studentebond gestig (Kapp 2002).

5. Die Taalkonferensie se nawerking

Die Taalkonferensie het ’n Werda Waaksaamheidskomitee onder voorsitterskap van N.J. van der Merwe aangewys om ’n groot opvolgtaalfees soos in België vir 1912 te beplan. Die fees was klaar gereël vir 1 Maart 1912 in Kaapstad toe genl. Louis Botha ’n stokkie daarvoor gesteek het omdat hulle sy politieke opponent, genl. Hertzog, as hoofspreker genooi het en nie vir hom nie. Hy het naamlik opdrag aan die Spoorweë gegee om die spesiale treinkonsessiekaartjies waarmee die studente van Stellenbosch en Wellington na Kaapstad sou reis vir die geleentheid te kanselleer. Die dagboek van N.J. van der Merwe vertel die volledige verhaal van die mislukte fees (in die N.J. van der Merwe-versameling, Vrystaatse Provinsiale Argief). Genl. Botha kon die studente se entoesiasme egter nie stuit nie en die fees is uiteindelik op 1 Maart 1913 gehou.

’n Kosbare foto van hierdie fees kom uit die album van Maria (Miets) Henriette Marais, danksy die grootmoedigheid van haar dogter, mev. Jansie de la Bat van die Paarl. Mev. Marais was in 1913 ’n nooi Neethling, dogter van dr. Jan Neethling wat 37 jaar in die Raad van die US gedien het. Dr. Neethling was weer die seun van die man wie se standbeeld by die Moederkerk staan, ds. Johannes Henoch Neethling. Haar man was die stigter van die Departement Akkerbou en Veeteelt in Afrikaans in 1922 en jare lank dekaan van die Fakulteit Landbou. Sy was as Bloemhofdogter by die taalfees teenwoordig.

Van regeringskant het die Louis Botha-regering die studente se aktiwiteite ’n bedreiging geag, veral omdat daar klaarblyklike aansluitings by die standpunte van genl. Hertzog was. Dit is egter so dat daar ewe sterk aansluiting by die standpunte van die nuwe Akademie was. Organiseerders van die taalaksies, soos N.J. van der Merwe, was in regstreekse aanraking met die voorsitter van die Akademie, oudpresident Steyn, en die sekretaris, prof. G. Knothe van Bloemfontein. ’n Verskeidenheid faktore het Botha se teenkanting geneutraliseer. Die politieke ontwikkelinge sedert Botha in 1912 Hertzog weggelaat het uit sy kabinet, die heftige veroordeling deur Engelse politici en media van Hertzogisme, en die gedagte van taalgelykheid en Suid-Afrika eerste het die optimisme wat in 1910 by die stigting van die Unie geheers het, vinnig laat vervaag. Die Engelse koerante het die studente se taalaktiwiteite probeer ignoreer en dit as “rassehaat” afgemaak.

Een man in die Botha-regering het sake anders gesien: F.S. Malan. Hy het die beweging vir ’n Nederlands/Afrikaanse universiteit gesteun en na weë en middele gesoek om dit te kanaliseer in die rigting wat dit buite die politiek sou hou. Met sy toonaangewende rol in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hy gepoog om die idee van so ’n universiteit te versoen met Botha en Smuts se konsiliasiepolitiek. Hy het daarin geslaag, soos die aanvaarding van die Universiteitswet in 1916 getuig. Dit het sy aansien in Afrikaanse geledere versterk, veral toe hy so ’n leidende rol in die amptelike erkenning van Afrikaans gespeel het. As eertydse redakteur van Ons Land, waar hy ’n vurige pleitbesorger vir Afrikaans was, kon hy nou op steun in sterk Afrikaansgesinde kringe staat maak (Kapp 2009:105, 335 e.v.).

Oor die houding van die Engelssprekendes op Stellenbosch oor hierdie strewe is dit nodig om daarop te let dat hoewel soveel studente-aktiwiteite in Engels geskied het, daar baie Afrikaanse studente by betrokke was. Baie artikels in Engelse studentepublikasies is ook deur Afrikaanse studente geskryf. Egte Engelse menings op Stellenbosch onder studente was skaars, omdat daar so min van hulle was. Een van hulle was William Macmillan, die later bekende Oxfordse historikus. Macmillan se pa was predikant van die Presbiteriaanse Kerk op Stellenbosch en ook huisvader van een van die privaatkoshuise.

Macmillan was ’n leerling aan Stellenbosch Gymnasium en student aan die Victoria Kollege, waar hy in 1903 as eerstejaar vir die BA-graad ingeskryf het. Toe Tobie Muller die eerste Rhodesbeurs wat aan ’n oudleerling van die Gymnasium toegeken is, weier omdat hy Rhodes se aandeel aan die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog onaanvaarbaar gevind het, is dit aan Macmillan toegeken. In sy herinneringe skryf Macmillan oor die besonder goeie gees wat tussen die Skotse professore en die studente geheers het en blameer hy die Transvaal vir die verspreiding van republikeinse en antimonargistiese idees na die Kaap. Hy blameer egter ook die Skotte en Engelse vir hulle onwilligheid om erkenning aan Nederlands te gee en om die taal te leer sodat hulle met gemak met die studente kon kommunikeer. Die studente se kommunikasie met die professore was baie formeel en formalisties (Macmillan 1975:5–52).

Die ontwakende taal- en nasionaal-patriotiese besef by die studente het wel Engelse dosente ontstel. Prof. Edgar van Klassieke Tale was byvoorbeeld ’n sterk imperialistiesgesinde wat in die Eerste Wêreldoorlog na Engeland vertrek het om in die Engelse leër te dien. Prof. Northcutt van Engels het heftige reaksie van die studente ontlok toe hy snedige aanmerkings oor die gedrag van die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog gemaak het. Die Studenteraad wou nie rus voordat hy nie daarvoor verskoning aangeteken het nie (SSQ/SKB 18/1 Apr. 1917, bl. 11).

’n Ander vooraanstaande Engelstalige inwoner van Stellenbosch was die gewilde politikus John X Merriman. Sy houding bied belangrike insig in hierdie taalkwessie. Merriman was in sy vroeër jare sterk anti-Nederlandsgesind (Lewsen 1982:222, 25, 98), maar het later sterk anti-Milner geword en oorwegend Hollandssprekende kiesafdelings in die Kaapse parlement verteenwoordig. Hy het homself as ’n baie gematigde ondersteuner van die Britse Ryk beskou, beslis geen jingoïs nie. Hy was die belangrikste alternatiewe kandidaat as die eerste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika naas Louis Botha. In 1915 het hy LV vir Stellenbosch geword toe hy die Nasionale Party se kandidaat, C.L. Marais, broer van Jannie Marais, verslaan het met 1 674 stemme teen 826 (Lewsen 1969:275). Laasgenoemde was oorwegend studentestemme (Lewsen 1982:369). Merriman se vriendskap met M.T. Steyn het van hom ’n sterk ondersteuner van die beginsel van gelyke taalregte en tweetaligheid gemaak. Tog was hy skepties oor die moontlikheid om die Victoria Kollege as ’n Afrikaanse universiteit te vestig. Hy was ’n sterk kritikus van Louis Botha, maar in 1916 het hulle versoen geraak. Hy het die opkoms van die Nasionale Party as ’n belangrike teleurstelling ervaar.

Die invloed van die taalkonferensie en die ATV het uitgebrei. Op 10 Maart 1913 het die Studenteraad hom teen die eentalig-Engelse uitnodigings wat aan die orde van die dag was, uitgespreek. In 1916 verskyn die studente-unie se nuwe grondwet vir die eerste keer in Afrikaans. Op 7 September 1919 het die Studenteraad hom ondubbelsinnig uitgespreek ten gunste van die ontwikkeling van die universiteit as ’n eentalig-Hollandse inrigting. Teen middel 1920 rapporteer die voorsitter van die Studenteraad, J.A. Smuts, dat hierdie besluit besig is om uitgevoer te word (Stellenbosch Studenteraad 1903–2003 2003).

Die verwagting wat die studente in 1918 van die nuwe universiteit gekoester het, is só verwoord:

De universiteit is niet slechts een school voor hogere ontwikkeling, maar een brandpunt van de volksbeschaving en ’t objektiewe monument de volks-kultuur. Als de omgeving van de universiteit een gees ademt die niet de nationale is en de professoren niet uit ’t volk zijn, dan is zulk een universiteit een dreigend gevaar voor ’t volk dat ze voorgeeft te willen dienen. En de universiteit die sich als voogd van de Hollands-Afrikaanse jeugd opwierpt en dan in zijn professoren corps bijna geen Afrikaner gedoogt (tenzij hij zichzelf verloochent) en de Hollandse taal as doceermiddel volkomen uitsluit, speelt gewis een vale rol en bedreigt ’t Hollandse volk deerlik. (SSQ/SKB 19/3 Sept. 1918, bl. 17)

In dieselfde uitgawe pleit die nuwe redakteur, T.E. Dönges, vir die instel van ’n leerstoel in Afrikaans en verskyn ’n brief van Timo Kriel dat die US iets moet doen om aan Jan F.E. Celliers ’n pos aan die nuwe universiteit te skep. Die leerstoel sou die volgende jaar ingestel word met die aanstelling van prof. J.J. Smith en die spesiale pos vir Celliers sou deur die Jan Marais Trust gefinansier word. Daar word erkenning verleen aan die studente se leiersrol om Afrikaans nie net as US se voertaal erken te kry nie, maar as in alle opsigte die gelyke van ander moderne tale. Vir die eerste keer verwys die blad uitdruklik na die nuwe universiteit as ’n volksuniversiteit.

Hierdie besluite en artikels het ’n proses aan die gang gesit om die formele studentelewe te verafrikaans. Die feit dat monstervergaderings nog in Engels gehou is, dat alle kennisgewings en notules in Engels is, het skerp reaksie uitgelok (SKB 19/3 Sept. 1918, bl. 17).

Die bewering word graag gemaak dat die US van sy oorsprong af ’n dubbelmedium-universiteit was. Afrikaans, sê dié argument, is nie US se eersgeboortereg nie. Dit sou bevestig word deur wat Jannie Marais in sy bemaking beskryf het: dat Hollands/Afrikaans geen ”mindere plaats” op Stellenbosch sal beklee as Engels nie (Brink 2006). Dit moet egter onthou word dat Jannie Marais sy bemaking in 1915 gedoen het toe daar absoluut geen sekerheid was dat daar wel hoegenaamd ’n universiteit op Stellenbosch sou kom nie, wat nog te sê ’n Hollands/Afrikaanse een.

Stellenbosch het inderdaad die voorbeeld van die vervlaamsingsaksie gevolg en hierin het die aandrang van studente ’n belangrike rol gespeel. Die onderrigtaal is geleidelik oorgeskakel na Afrikaans namate die Engelse dosente afgetree het. Niemand is afgedank nie. Latyn is byvoorbeeld vanaf 1922 in sowel Afrikaans as Engels onderrig deurdat prof. Edgar voortgegaan het om sy werk in Engels aan te bied en die jong prof. J. Basson in Afrikaans. Toe Edgar terugkeer, het hy weer sy klasse in Engels aangebied, en eers na sy aftrede in 1944 is die vak volledig in Afrikaans onderrig. In 1918 is Grieks nog volledig in Engels aangebied. Toe dr. H.G. Viljoen as waarnemende professor opgetree het terwyl prof. Edgar in Engeland was, is dit in Afrikaans aangebied op aandrang van die studente. Hebreeus is vanaf die instelling daarvan in 1920 in Nederlands aangebied. Geskiedenis is reeds vanaf 1905 in Nederlands aangebied en die Vlaming prof. Willem Blommaert het dit in Afrikaans en Nederlands aangebied. Aardrykskunde, soos Geografie toe genoem is, is vanaf instelling in 1921 in Nederlands aangebied met die Nederlander Piet Serton as grondlegger. “Moral and political philosophy” is tot 1920 deur prof. N.J. Brümmer in Engels aangebied, waarna dit “Staatkunde” geword het en in Nederlands aangebied is. Sielkunde is vanaf instelling in 1918 deur prof. R.W. Wilcocks in Nederlands en mettertyd in Afrikaans aangebied. Die regsvakke is vanaf die instelling daarvan in 1921 aanvanklik in Nederlands en later in Afrikaans aangebied. Sosiale filosofie is vanaf instelling in 1922 in Afrikaans aangebied. Wiskunde is vanaf 1922 in Afrikaans en Engels onderrig en vanaf 1940 volledig in Afrikaans. Fisika was tot 1926 in Engels, waarna prof. Meiring Naudé dit stap vir stap na Afrikaans oorgeskakel het. Chemie is van 1921 af in Afrikaans en Engels aangebied en na 1926 sistematies omgeskakel na Afrikaans. Geologie en mineralogie was tot 1942 in Engels. Dierkunde was van 1924 in Afrikaans. Fisiologie is in 1922 ingestel en was vanaf 1932 in Afrikaans. Akkerbou, fitopatologie, planteteelt, landbouchemie, vrugteteelt, wynbou, veeartsenykunde en enologie en bakteriologie is vanaf die instelling daarvan in 1921 of in 1922 in Afrikaans aangebied. Meteorologie was vanaf 1921 tot die veertigerjare in Engels. Die teologiese opleiding aan die Kweekskool was tot 1922 in Nederlands. Die laaste dissipline wat verafrikaans is, was “accountancy” in 1946, wat “rekeningwetenskap” geword het. Die gebruik van Engels in die Universiteit se Jaarboek het na 1925 vinnig afgeneem en was in 1946 volledig in Afrikaans.

6. Slot

Die studente se rol in die ontstaan van Stellenbosch as ’n Hollands/Afrikaanse universiteit geniet weinig erkenning van sowel die universiteit as die studente se kant. Die baanbrekersrol word in vandag se angliseringstyd deur die opvolgers van die ATV voortgesit: die Adam Tas-studentevereniging en die Tygerberg Aksie vir die Behoud van Afrikaans in die Klaskamer (TABAK). Ten spyte van die feit dat hulle onder heeltemal ander omstandighede funksioneer, is bepaalde ooreenkomste met die geslag van 1911 opvallend. Dit is goed opgesom deur ’n stigterslid van Adam Tas, Piet le Roux, in ’n artikel in Die Burger van 6 April 2011 ten tye van die honderdjarige herdenking deur studente van die Taalkonferensie van 1911. Hy het die woorde van N.J. van Merwe in 1911 aangehaal: “Ons kan als ons net wil.” Eendag sal ’n historikus dalk ’n vergelyking tref tussen die gebeure voor en na 1911 en die prosesse wat tans aan die gang is.

Bibliografie

Akademie Jaarboek, 1911–23. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Brink, C. 2006: No lesser place. Stellenbosch: Sun Press.

Kapp, P.H. 2009: Draer van ’n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909–2009. Vermont: Hemel en See-boeke.

—. 2005 : Is ’t ons ernst? J.H. Hofmeyr se 6 Maart 1905 lesing op Stellenbosch. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(1).

—. 2004: Verantwoorde verlede. Stellenbosch: Privaat uitgegee.

—. 2002: Skippers of skipbreukelinge? D.F. Malherbe se betekenis vir die Afrikaanse kultuurontwikkeling. D.F. Malherbe-gedenklesing 21/2002. Universiteit van die Vrystaat.

Keet, B.B. 1923: Tobie Muller. Kaapstad: Nasionale Pers.

Krüger, D.W. 1961: Paul Kruger. Twee volumes. Johannesburg: Dagbreek-boekhandel.

Le Roux, J.H., P.W. Coetzer en A.H. Marais. 1987: Generaal J.B.M. Hertzog. Sy strewe en stryd. Johannesburg: Perskor.

Le Roux, N.J. 1953: W.A. Hofmeyr. Sy waarde en werk. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Lewsen, P. 1982: John X Merriman. Paradoxical South African statesman.  Yale University Press.

—. 1969: Selections from the correspondence of John X Merriman. Eerste reeks, nommer 50. Kaapstad: Van Riebeeck Vereniging.

Macmillan, W.M. 1975: My South African years. An autobiography. Kaapstad: David Philip.

Nienaber, P.J. 1946: Dr. J.D. Kestell. Kaapstad: Nasionale Pers.

Olivier, J.R. 1965. Die Suid-Afrikaanse Taalbond, 1890—1965 .Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit Stellenbosch.

Ponelis, F.A. 1984: D.F. Malherbe en die Afrikaanse taalbeweging.D.F. Malherbe-gedenklesing 3/1984.Universiteit van die Vrystaat.

Stellenbosch 1866-1966.1966. Honderd jaar hoër onderwys. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Stellenbosch Studenteraad 1903-2003. 2003. Stellenbosch: Sun Press.

Van Jaarsveld, F.A., A.P.J. van Rensburg en W.A. Stals. 1980: Die Eerste Vryheidsoorlog 1880-1881. Pretoria: HAUM.

Van Jaarsveld, F.A. 1957: Die ontwaking van die Afrikaanse nasionale bewussyn. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Argiefbronne

Afrikaanse Taalvereniging-dokumente. J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit Stellenbosch.

N.J. van der Merwe-versameling. Vrystaatse Provinsiale Argief, Bloemfontein.

Notules van die Studenteraad. J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit Stellenbosch.

Ons Spreekuur-dokumente. J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit Stellenbosch.

The Stellenbosch Students’ Annual 1893-1896.

The Stellenbosch Students’ Quarterly/Stellenbosch Studente Kwartaalblad.

Wij zullen handhaven. Studente Taalkonferensie 6-7 April 19
 
 
 

 



Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address