SêNet-briewe | Letters

 
Stellenbosch in oorgang …

Hoewel ek as besoekende student Stellenbosch vlugtig in die 1960’s leer ken het, het ek eers in die 1990’s in die pragdorp kom werk en woon. Na meer as twintig jaar se intieme wisselwerking met die Eikestad en sy mense waag ek dit nou om ’n paar opmerkings oor die historiese dorp en sy mense te maak.

Die mense wat vir baie geslagte reeds hier woon, het sekerlik en onvermydelik (amper soos die r in Malmesbury se kontrei uitgespreek word)  ’n eiesoortige Bolandse agtergrond wat ’n lang pad kom en waarvan elke oplettende nuwe intrekker gerus kennis van kan neem omdat dit vir hulle kosbaar is.  Verder kan mens, as buitestaander of nuweling, nie sommer aanvaar dat elke mens wat hier Afrikaans praat net soos jy dink en voel oor politiek, rasseverhoudings, seks, godsdiens en filosofie nie. 0f dat alle Afrikaanse mense wit is nie. Want dāār lê ’n knoop of twee vir goeie menseverhoudings

Ek is voor my aankoms op Stellenbosch in 1990 gewaarsku oor die snobisme van die plek se mense en dat ek moeilik hier “aanvaar” sou word. “Die mense daar is agter die tyd en voel hulle verhewe bo ander,” was van die wyshede wat kwytgeraak is. Die waarskuwers was almal noordelinge met min ervaring van die Boland. Mense wat normaalweg ook aktief deelneem aan die tradisionele noord-suid bekstryd wat, in ligter trant, ook op sportgebied, maar veral rugbygebied,  manifesteer.

Die rustige, akademiese atmosfeer, die pragtige natuurskoon en die historiese waardigheid van die plek het ’n soort selfvoldane genoegsaamheid by sy mense gekweek, is beweer. ’n Onaantasbaarheid en ’n eiesinnige gevoel van bevoorregting om deel te kan wees van die bakermat van die Afrikanerdom en van uitnemendheid. ’n Sosiale hoogmoed van mense wat meen dat hulle gearriveer het, want hier is ou geld, verfynde maniere en kultuur te vinde. Om nie eens van die intellektuele superioriteit te praat nie omdat groot name in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ten nouste met die dorp verweef is. Daarom, word gesê, is dit vir dekades reeds ’n statussimbool van enorme proporsies, veral op die Kaapse platteland, om ’n kind te hê wat op Stellenbosch is of was. Daarvoor sal ouers hulself afsloof. Hoe suksesvol die nakomeling met sy of haar studies is, hoef nie noodwendig vermeld te word om in hierdie statusvoordeel te kan deel nie. Die room van die land gaan Stellenbosch toe en word gevorm om leiers te word. Daarom moet my kind ook. Daar is nog dissipline en behoudende waardes, iets wat glo nie van die liberale Engelstalige instellings gesê kan word nie.

Hoe waar is dit alles? Natuurlik sou dit ’n diepgaande studie verg om klinkklare uitsprake hieroor te kan maak. My eie waarnemings mag oppervlakkig wees maar oor meer as twee dekades is meeste van dié uitsprake weerspreek of kom dit neer op eensydigheid en vooroordeel.

Dat Stellenbosch  ’n sekere behoudende of konserwatiewe beeld het, is seker. Ek het wel in die 1960’s ervaar dat universiteitstudente op Stellenbosch nog dasse en lang rokke klas toe gedra het en die fiets nog ’n belangrike vervoermiddel was. Klastye is met klokke aangedui soos in skole. Maar sedert 1990, wat toevallig(?)saamval met die vrylating van Mandela, het die dorp en sy mense voortdurend verander, soos ook die land. Daarvoor was daar seker baie redes.

Waar begin mens om dit op te noem? Daar was die eerste oppervlakkige tekens van verandering. In die ingangsportaal tot die Raadsaal van die Universiteit het die reuse portretskilderye van onder andere John Vorster en PW Botha stil-stil verdwyn en het die gesigportret van die eerste, voortreflike vrouekanselier haar verskyning gemaak. Ook gebouename wat na voormalige apartheidspolitici vernoem is, het in die slag gebly. Dit was oppervlakkige tekens dat verandering in die lug is. Vir party was dit te veel te vinnig. Sowat tien jaar later sou ’n bruinman eers vise-rektor en nog later rektor word.

Die Universiteit het ook in ander opsigte opvallend begin verander sedert die 90’s. Na jare van akademiese inteling word nuwe bloed van buite ingevoer en die navorsingsuitsette het binne een dekade meer as verdubbel in verskeie vakgebiede. Nuwe besems van buite wat skoner vee? Die vroeëre internasionale aansien van die plek, wat geleidelik besig was om weg te kwyn, is met rasse skrede herwin weens die groter navorsinguitsette. Die eerste tekens van ’n gewilligheid om te transformeer het sigbaar geword en meer en meer personeel van kleur sou geleidelik aangestel word te midde van groot onderlinge geredekawel, veral oor taal. In die eerste dekade van die nuwe millennium het die kleursamestelling van die studentkorpse ook stadig maar sigbaar begin verander.

Die “mooi dorp met karakter en geskiedenis” het, naas die inkomende akademici, nuwe, welgestelde “inkommers” gekry wat graag wou deel in die status, gewaan of nie,  wat die plek hulle kan bied.  Want waar jy ook al in die land kom en laat blyk dat jy van Stellenbosch is, word daar met bedekte afguns ge-oe en ge-aa. Baie nuwe “inkommers” is besigheidsmense met geld wat uit die nuwe Gauteng wil padgee en vir groot somme geld huise van bejaarde professore in pragwoonbuurtes rondom die Universiteit koop. Hiermee kon pas aangestelde universiteitspersoneel meestal nie meeding nie en moet hulle noodwendig pendelaars word wat in buurdorpe meer bekostigbare blyplek moet vind. Dus beteken dit ook meer motors wat daagliks die dorp binnekom. Dit het bygedra om die karakter van die dorp onherroeplik te verander, want die Gautengers slaan statige ou huise plat en bou nuwe reuse paleise, omring deur groot mure en veiligheidshekke. Sonder inwonende bediendes kan hulle ook nie altyd klaarkom nie. Bure praat nie meer maklik oor ’n lae, of geen heining, met mekaar nie. Die “inkommers” was besig om dit waarvoor hulle na Stellenbosch gekom het ooglopend te verander. Maar hulle het ook eiesoortige, persoonlike probleme ervaar om “aanvaar” te word omdat sommige met ’n ou Transvaalse voortvarendheid en met hulle blink vier-by-viers en hulle baie “nuwe geld” onmiddellike toegang tot sosiale “statuskringe” as vanselfsprekend aanvaar het.  Was hulle dalk vas onder die indruk dat geld alles kan koop? Kan jy, wanneer jy daarna voel op ’n Saterdagmiddag, sommer ongenooid met jou ses-pak biere en ’n stukkie vleis by ’n vreemde iemand opdaag om te braai en “nader kennis te maak” omdat jy sommer aanvaar dat jou wit Afrikaanssprekende buurman van dieselfde kultuur en geloof moet wees en jou sport- en ander belangstellings sal deel? Hoe groot is jou wêreld? En as die gasheer ietwat versigtig en terughoudend voorkom omdat hy dalk ’n besige, kreatiewe mens is wat ander dringende sake op sy agenda het? Maak dit van hom ’n Stellenbosch-snob? En as jou nuwe geld en luukse ryding hom nie eers in die minste beïndruk nie omdat hy self nie eers probeer meeding met die werklike “ou geld’ in die dorp nie? Sy huidige motor is al dekades oud en hy het nog nie eens daaraan gedink om die getroue ou kameraad te vervang nie, al kon hy baie maklik. En jy dink hy is ’n snob omdat sy tyd en privaatheid so kosbaar is? Maak jy eers seker dat sy “stugheid” nie dalk beskeidenheid is nie?

Maar die snobs van Stellenbosch is grootliks in “the eye of the beholder.” Natuurlik is daar ook diegene onder die gevestigde Stellenbossers wat in ander se skaduwee staan en daardie skaduwee wil ontkom en gevolglik die wederhelfte se prestasies en status om elke hoek en draai wil verkondig en gebruik om geringe sosiale voordele te bekom. Maar die verskynsel is nie tot Stellenbosch beperk nie en ook nie net tot akademici nie. Dit sou moeilik wees om te bepaal of die frekwensie hier hoër is as op ander plekke waar “my-man-se-vrou” of “my-vrou-se-man” minderwaardig voel en aansien soek (laasgenoemde kom minder dikwels voor waar  chauvinisme floreer). Op Stellenbosch manifesteer hierdie moontlike minderwaardigheidsgevoel op  twee maniere: enersyds die wederhelfte se baie  geld of andersyds sy/haar akademiese posisie. As dit geld is (die meeste nuwe inkommers van die onlangse verlede), word vertel van die baie oorsese reise na eksotiese plekke en spas en word name van beroemde rykes laat val asof hulle intieme boesemvriende is. Inkopies gedoen in Parys, Londen en New York. Verwysings na die onroerende bates is ook onvermydelik. As dit akademiese aansien is waarop die wederhelfte ry, word vertel van die eggenoot se internasionale uitnodigings, toekennings en prestasies. En die nuutste inkommers wat nie reeds vir hulle rykdom bekend is nie, word gou gevra waar hulle woon en wat hulle doen sodat hulle gekategoriseer kan word en ingeskat kan word op die gewaande sosiale ranglys. En dit terwyl die suksesvolle besigheidsmens of akademikus self meestal in nederige stilte en in groot beskeidenheid swoeg en sweet om in ’n mededingende wêreld die prestasies op ekonomiese of akademiese gebied te handhaaf. My ervaring is dat die werklike presteerders op beide gebiede meestal met hulle voete vas op die aarde staan. Daarom kon ek verbystap waar Huberte Rupert ’n besem vat en haar eie tuinpaadjie vee en  haar bejaarde “Pappa”, soos sy haar suksesvolle man dikwels genoem het, sy eie motor  (waarvan die waarborgtyd al seker lankal verstreke was)  bestuur. En hulle was ook eens op ’n tyd “inkommers” maar hierdie weldoeners se koppe het nooit tot in die wolke gereik nie.

So groot is die aansien van die Eikestad in die land dat selfs groot, welvarende ondernemings uit die noorde graag hulle hoofkantore op Stellenbosch wil hê sodat hulle geboue deel kan wees van die statige Kaaps-Hollandse argitektuur. Dus meer mense en meer motors, terwyl die dorp nie eintlik ruimte het vir uitbreiding nie, al groei die plakkershutte van brandarm inkommers uit Somalië, Zimbabwe, die Kongo en die Oos-Kaap onheilspellend aan op Papegaaiberg se flanke.

Die nuwe Suid-Afrika het na 1990, maar veral na 1994 se verkiesing, meer as net bevolkingsverskuiwings tot gevolg gehad wat die dorp ook geraak het. Bruin Stellenbossers het nuwe aansien in die noorde van die land verwerf omdat hulle in aanvraag was by maatskappye wat hulle “kleurskemas” reg moes kry weens nuwe wetgewing. Weens hulle goeie opvoedingspeil, vaardighede en vermoëns is die bruinmense waarskynlik bo hul swart landgenote verkies. Selfs as professionele sportmense kon hulle help dat die Sharks, Bloubulle en ander rugbyspanne hulle “kwotas” reg kry. En vakansietye en langnaweke wemel die dorp se strate van motors met Gauteng-nommerplate waarin die bruin yuppies uit die noorde vir hulle families kom kuier.

Maar ook in Kwazulu-Natal het die nuwe Suid-Afrika ’n verandering in die “last outpost of the British Empire” gesien wat Stellenbosch sou raak. Bekommerde Engelssprekende ouers het ’n plotselinge behoefte ontwikkel aan “groter dissipline en onderrig uitnemendheid” vir hulle eie vlees en bloed. Hulle studentekinders moes voortaan eerder Stellenbosch toe. Hopelik sal sosioloë kan aantoon dat daar nie  ’n kousale verband is tussen die verswarting van Kwazulu-Natal se hoër-onderwysinstellings en die verengelsing van Stellenbosch  nie. En nou het taal ’n nog groter kwessie geword by die tradisionele Afrikaanstalige universiteit waar die eentalige bloedjies (ook) op Engelse onderrig aandring. Intussen baat baie studente vanuit die Kaapse platteland want hulle eens gebroke Engels verbeter dag na dag. Is daar toe wenners en verloorders of net wenners?  Want selfs die dorp se nagklubs baat by die meer liberale gees onder die inkomende jongelinge. En die dorp se strate wemel van nog meer blink motortjies met Kwazulu-Natal nommerplate wat nou ook smiddags, net een of twee kilometer ver,  tussen koshuise en sportvelde jaag en saans dorp toe. Maar ook dit het implikasies vir die dorp en daarom moet Europese besoekers, vir hulle eie veiligheid, afgeraai word om hulle koolstofvoetspoor per fiets te bestuur. En op somersdae loop meer en meer studente kaalvoet klas en vertoon die knapste sjoe-broekies die jong meisies se mooi bene sonder dat die dorp nog in vlamme opgegaan het. As dit nie ook transformasie van ’n soort is nie, wat is?

Die eens rustige strate van statige woonbuurtes soos onder andere Mostertsdrift en Brandwacht het plotseling verkeerskalmeerders in die vorm van bulte bygekry omdat daar  ’n nuwe haastigheid onder inwoners ontwikkel het sedert die “wending” van 1994. Die nuwe, gespanne  en vinniger bestuurstyl kon saamgeval het met die koms van baie noordelinge wat met hulle blink, groot, nuwe vier-by-viers in elke geval die bulte gemaklik ignoreer as die jong ma (selfoon op die oor) haar jong bloedjies veilig by die skool (net  ’n paar blokke verder) moet kry. En as die Kaapse reënweer kom, is die druk nog erger want dan dien nog meer luukse brandstofsuipende vuurwaens ook sommer as reënjasse.

En dan beleef eiendomsontwikkelaars en ander entrepreneurs  ’n glorietyd ten spyte daarvan dat die boubedryf in die res van die land by  ’n laagtepunt is. Hulle loop met die goue glans van rykdom wat skitter in hulle oë, en ’n liefdadige glimlag om die mondhoeke want hulle reageer mos ewe patrioties op die behuisingsnood van die dorp. In woonbuurtes digby die Universiteit word stringe huise platgeslaan om plek te maak vir woonstelkomplekse waarvan die meerderheid geen styl van enige aard het nie, maar darem funksioneel is en “aan ’n behoefte voorsien.”  Die statussoekende inkommers wat nie self wil of kan laat  bou nie kan in meenthuiskomplekse gaan bly met eksotiese snobname, wat  die Franse en Nederlandse besoekers dikwels komies vind en lekker laat lag.

“Is uitheems dan gewilder as inheems?” vra een besoeker.

“Maar onthou tog, dis name uit ons stamlande.”

“O, maar ek sien dan nie Maleise name nie?” vra ’n besoeker wat die geskiedenis nogal ken.

Al die gekunstelde en kunsmatige statussimbole van die afgelope paar dekades ten spyt, het Stellenbosch sedert die vroegste tye in elk geval ’n sekere unieke status verwerf. Afgesien van sy natuurskoon (wat in elk ’n gegewe is), het sy mense oor die verloop van drie eeue gewoel en gewerskaf om op verskeie terreine dinge tot stand te bring waarop die meeste buitestaanders baie positief reageer voordat selfs die mees  spraaksame Stellenbosser nog  ’n woord kan inkry.  

Ek ervaar die ou Stellenbossers wat hulle lewe lank hier woon, en met wie ek daagliks paaie kruis, as mense sonder statusbewustheid of vertoonsug. Onopgesmuk, vriendelik en waardig maar veral terughoudend as hulle met ekstreme en selfvoldane uitsprake oor rasseverhoudings, godsdiens of wat ook al gekonfronteer word. Stellenbosch se mense, het ek gevind, het meestal diepgang. Selfs die wat nederige posisies beklee in die samelewing. Ek was verbaas om mense met gevorderde kwalifikasies te vind in relatief lae posvlakke. Die enigste rede daarvoor was dat hulle eerder hier wil bly as om weg te gaan na plekke waar hulle kwalifikasies beter beloon kan word. Dit moet iets vertel van die plek en die ” statusbewustheid” van sy mense. Miskien kom ek nog eendag agter die kap van die byl.

Adriaan Reinecke


Comments 8 Reaksies | 8 Comments
Delete Comment
avatar
Kobuseng
2012-11-19 @22:37
Adriaan, jy doen die reputasie van "Stellenbossers" geen guns behalwe as om die snobgheid waarvoor hulle / (julle?) bekend is te bevestig nie...
Delete Comment
avatar
Marie
2012-11-20 @12:39
Goeie genugtig! Hoe benouend  en saai en inderdaad snobisties klink die Stellenboschers nou darem vir my. Ook – juis as gevolg van hierdie  mooi en helder uiteensetting.  Ek weet darem nie of algar hier in die onderveld noodwendig jaloers is op hierdie kleinlike seksie pensioentrekkers op ou roem nie...

Bekyk gerus die foto's van die Stellenbosche lede van Afrikaans PEN hier op LitNet. Mense, het julle al iets meer droewigs en oninspirerends gesien? Kom ons skryf die ou klompie se opsigtelik lustelose leweloosheid maar aan  die veelbesonge nederigheid en terughoudendendheid toe!

Ons noordelinge – selfs diegene wat sowaarlik ingenome is met hulle jarige Corsa lites – lewe sekerlik  omtrent almal meer "ekstreem" as die meeste Bolandse bergbeskuttes. Ons lewe in die Nuwe Suid-Afrika, ons praat nie net daaroor nie. Dit maak ons dan seker maar meer "ekstreem" ook.

Hierdie "ekstremisme" , anders as wat mens dalk sou verwag,  noodsaak nie net optrede nie, maar ook  ’n medemenslike en metafisiese oog vir menslike ellende, en die begeerte om iets aan die saak te doen. Want hier is baie ellende. Werkloosheid, hongersnood, nypende armoede, mense wat koud slaap. Ook misdaad, waarvan die detail meestal nie in goeie geselskap genoem kan word nie. Maar wat tog dodelike gevolge vir jou bure kan hê. Stilsit en kerm met ’n bottel rooiwyn?

Nee wat. Skouer aan die wiel.  ’n Boer maak immers ’n plan.

Dus ontspring daar, wonder bó wonder,  te midde van al die ellende, nuwe spriete, nuwe groei. Daar is geweldig baie energie, enorme lewenskragtigheid hier in die Noorde. Ons het eintlik nie ‘n keuse nie. Elkeen woeker maar met wat hy of sy het,.  Dis vir ons lankal duidelik  dat sinisme jou niks in die sak bring nie. Neersien op jou medemens lyk nie meer vir ons gesofistikeerd nie. Liewer dan maar help as jy kan, wat.

So. Dalk is daardie ou Stellenbosche inkommer ook nie meer op hoogte van wat die agterblyers hier in die ou Transvaal alles  aanvang nie. Waag dit gerus maar in hierdie woeste en wilde kontrei om die energie in die lug te voel kraak!
Delete Comment
avatar
MarySadler
2012-11-20 @13:11

Uitstekende insig en ongelukkig ook waar van baie dorpe in die Wes-Kaap wat gesog is weens hul 'landelike rustigheid' en dan deur die intrekkende noordelikes omskep word in ewebeeldjies van die stede waaruit hulle juis wou ontsnap.

Delete Comment
avatar
Johan Venter
2012-11-21 @16:05

Ek het vir 5 jaar op Stellenbosch geswot en 3 jaar daarna daar gebly.  Ek kan eerlik erken dat dit die beste tyd van my lewe was en iets wat ek nooit gaan vergeet nie.  Maar iets wat mens moet duidelik sê, dit was definitief die mooi universiteit, die natuur en die mense wat van reg oor die land daarheen stroom ... dit was definitief nie die mense van Stellies wat dit vir my gemaak het nie.  Dit is vir enige vreemdeling in die Bos duidelik dat die "locals" arrogant is en dink hulle is verhewe bo die res ... ek moes elke jaar hoor hoe Paul Roos die beste sportskool in die land is, maar nogtans kon hulle jaar in en jaar uit nie vir Grey of Affies wen nie. Die "noorde" soos julle sê word afgemak as ’n slegte plek, maar nogtans stroom Kapenaars noord oor jy meer as smarties daar kan verdien en ’n loopbaan daar kan bou.  PS ... Kapenaars, bly uit die vinnige baan ... Stellenbosch se mense ly aan klein dorpie sindroom en het nie ’n benul van realiteit nie ... dit het duidelik navore gekom toe "hulle mense" belasting wou terug hou oor die geweld in die dorp, maar hulle nie ’n idee wat geweld is nie as jy na ander plekke kyk nie ... Ek wil graag afsluit, dat ek weet dat daar wel kwaliteit mense is in Stellies bly wat ook siek is vir die wat hulle ’n slegte naam gee.  Sterkte aan die.  Maar aan die ander klim af van julle trone ... julle gaan ook badkamer toe soos die res van ons.

Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-11-22 @10:40
Laas toe ek deur Stellenbosch is, seker so vier jaar gelede, was alles Engels.  Nou wel nie meer as Pretoria, Johannesburg, Port Elizabeth, Kaapstad, Bloemfontein of Durban nie maar mens sou verwag, met dié nou van 'bakermat' en al daai, dat Afrikaans ten minste sterker sal figureer. 
Delete Comment
avatar
Kameel
2012-11-24 @20:53
Ja my vriend, jy gee ons defnitief nie 'n goeie indruk van Stellenbosch se mense nie. Ek is 'n lewenslange Transvaler en alhoewel ek met tye in die Kaap gebly het het ek nog nooit die begeerte gehad om myself permanent daar te gaan vestig nie. Ek het op TUKS geswat en ek is baie bly daaroor, as ek my kennis en vaardighede vergelyk met my kollegas wat op Stellenbosch geswat het, dink ek nie Stellenbosch is enigstens beter nie. In teendeel, ek het later 'n nagraadse kursus op Stellenbosch gedoen en ek dink ons standaard op TUKS was beter.
Ook ek weet nie watter deel van die Transvaal die ou wat ongevraagd met sy ses biere en stuk vleis by jou uitgeslaan het vanaf is nie, maar hy is defnitief nie van Johannesburg af nie, hier as hy dit oor die lemmetjiesdraad op die muur gemaak het, sou die honde hom gekry het of die inwoner van die huis sou hom met die 38 special geskiet het lank voor hy dit tot in die lapa by die braaivleisvuur gemaak het. Ons ouens hier weet goed genoeg om nie 'n buurman se eiendom ongevraagd te betree nie.
In elk geval as jy uiteindelik wakker skrik, besef net dat meeste van ons Transvalers nie te veel van Stellenbosch dink nie, veral nie as die mense daar jou tipe houding het nie, ek koop eerder vir my 'n vakansie huis erens op die Meditereense kus (die pryse is tans nie te sleg nie, danksy die voortdurende ekonomiese krisis in Europa), voor ek my geld in Stellenbosch gaan mors.
Delete Comment
avatar
Niel Joubert
2012-11-28 @11:35
Johan Venter, Paul Roos is nie die beste sportskool in die land nie. Dis die beste skool in die land.
Delete Comment
avatar
Albert Grundlingh
2012-11-29 @11:26
Baie skerpsinnige waarneming.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address