SêNet as oewerbestaan: Melt Myburgh vertel van die dae toe hy webmeester was

  • 0

Hallo Melt, dankie dat jy tyd maak vir hierdie gesprek. Ek moet jou vandag vra oor ’n hoofstuk in jou lewe (die era toe jy SêNet-webmeester was). Maar kom ons begin voor. Het enigiemand al ooit gedink jou naam is ongewoon? Dalk ’n soort pseudoniem?

Naomi, ek kan jou nie sê hoeveel “Cheddamelt”-grappies ek al in my lewe moes aanhoor as mense my naam die eerste keer hoor nie. Toe ek by SêNet begin het, het die gereelde bydraer Blou Makou gesê my naam klink na dié van ’n aksieheld. En dit is presies hoe ek dikwels gevoel het met al die intriges en opwinding wat gepaard gegaan het met die webmeesterskap.

Wat is jou agtergrond? Op watter oewer het jy grootgeword en bestaan voordat jy by SêNet beland het?

Ek het teen die Oranjerivier (die Gariep) grootgeword – op Karos, so 40 km buite Upington. My pa was ’n erfboer en my ma het op die sentrale gewerk. Ek was vir 15 jaar Afrikaans- en Engels-onderwyser voor ek by LitNet aangesluit het – die bevredigendste werk wat ek ooit gehad het, al was die geld destyds maar skraps.

Het jy Oewerbestaan begin skryf terwyl jy betrokke was by SêNet?

Nee, die gedigte wat in Oewerbestaan opgeneem is, het ek al op skool begin skryf. Die heel eerste gedig wat ek geskryf het (toentertyd in standerd nege), is in die bundel opgeneem. Toe ek by LitNet was, het ek eerlikwaar nie tyd of energie vir gedigte skryf gehad nie. In daardie tyd was LitNet nog in sy tienerskoene. Anders as vandag, was ek en Naomi Bruwer vir lang tye die enigste mense in die LitNet-kantoor. Ek is bly om te sien julle spog vandag met ’n stewige span.

Wat bly jou by van SêNet: eerste indrukke, ingeskakel raak, persoonlike onderonsies tussen die briefskrywers?

Ek was aanvanklik oorweldig deur die aantal briewe en het gesukkel om by te bly. Die persoonlike onderonsies het ek meestal baie vermaaklik gevind, maar toe ek telefoonroepe van histeriese mense drie-uur in die oggend moes begin beantwoord, het ek geïrriteerd geraak. Een ding wat ek geleer het, was dat Afrikaanse skrywers graag die mes inlê vir opponente, maar dat humeure baie vinnig opvlam as hulle hul eie medisyne proe. Daar is net een skrywer wat deurgaans eerlik is oor wat hy sê, en nie huiwer om verskoning te vra die slag as hy iemand aanstoot gegee het met ’n uitspraak nie: Breyten Breytenbach. Die res van die skrywerskorps kan by hom gaan leer.

Humor het my gehelp om ingeskakel te raak by ’n plofbare gemeenskap. Danksy humor kon konfrontasies dikwels ontlont word en kon mense wat normaalweg nie om dieselfde vuur sit nie, met mekaar in gesprek tree. ’n Interessante verskynsel in die laaste jaar wat ek betrokke was by SêNet, was dat die meeste skrywers hul skuilnaam-identiteite opgegee het. Pseudonieme onderaan briewe is behou, maar byna almal het geweet wie is wie en foto’s van mekaar gesien.

Hoe het die internetlandskap gelyk toe jy by SêNet betrokke was: het Facebook al bestaan? Het dagblaaie al briewe aanlyn publiseer?

SêNet het gebeur in ’n tyd toe die internet en Facebook relatief nuut was en daar min formele webruimtes was waar opinies so intensief uitgeruil kon word. Dagblaaie het toe nog nie kommentare onderaan artikels en briewe toegelaat nie. Die euforie van ’n “demokratiese opinieruimte” was in die lug en dit was aansteeklik. Sedertdien het tegnologie en toegang tot die kuberruim so verander dat elke individu, sou hy wou, ’n SêNet op sy Facebook-muur sou kon bedryf. Vandag kan iedereen kommentaar lewer onderaan feitlik elke artikel op al wat webwerf is, en die beeld van die gebruikers wat uitkristalliseer, lyk beroerd. As jy ’n prentjie in jou kop moet kry van mense op grond van die kommentare wat onderaan Afrikaanse nuusberigte verskyn, lyk hulle feitlik deur die bank na ’n spul rassiste wat smeek om die see ingejaag te word. 

Hoeveel briewe het jy tipies daagliks hanteer – en hoeveel persoonlike gesprekke?

Ek het gemiddeld tussen 80 en 100 briewe per dag hanteer; met 160 die meeste op ’n enkele dag (die vorige dag moes ’n SêNet-uitgawe oorstaan as gevolg van tegniese probleme). Daar was nie tyd vir persoonlike gesprek nie.

Ek onthou die SureSlim-tydperk. Wat het dit behels? Het SêNet jou gesonde eetgewoontes aangeleer?

Ek het so vet soos ’n voervark geraak in my tyd by LitNet, want ek het tot elf ure per dag voor die rekenaar gesit en geen oefening gekry nie. Ek het van brood alleen geleef. Een van die maniere waarop ons geld vir LitNet in die hande kon kry, was ’n blog-projek (LitNet-blogs het toe pas afgeskop) waarin ek dagboek gehou het van my SureSlim-dieet. Dit was ’n wonderlike ervaring, al dink baie mense vandag nog dit was common om so iets te doen. Ek het my skaamte om den brode in my sak gesteek en is nie ’n enkele oomblik spyt nie. SureSlim wérk en die ervaring het my geleer om gesond te leef. Ek wens net ek het die selfdissipline gehad om daardie gesonde eetgewoontes te behou! As gevolg van daardie blog het ’n wêreldberoemde Suid-Afrikaner van ’n potjierol verander in ’n prinses, maar natuurlik noem ek nie name nie. 

Het SêNet dalk ook ’n rol gespeel in jou drankinname, of was dit darem nie so erg nie?

Nee wat, ek sal oneerlik wees as ek my drankinname op SêNet moet blameer. SêNet was louter opwinding en ek het elke dag wat ek daarby betrokke was, geniet.

En aangesien mens nie van brood alleen kan lewe nie, hoe gaan dit met jou persoonlike skryfwerk – wil jy iets vertel van jou kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk by US?

Ek is baie gelukkig om ’n kursus in kreatiewe skryfwerk by Marlene van Niekerk en Willem Anker te volg. Ek het ongelooflik baie geleer die afgelope jaar. Oor die volgende bundel wil ek nie veel sê nie; netnou lê ek my kleintjies dood.

Lees hoe Izak de Vries SêNet onthou.

Lees 'n vorige onderhoud met Melt Myburgh oor SêNet.
Lees 'n gesprek tussen Melt Myburgh en Deborah Steinmair.
Lees Deborah Steinmair se mymeringe oor SêNet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top