Sjoe Thys!
Ek het asem opgehou.Die natuur is baie wreed!
Perdebytjie
Presies Perdebytjie, die natuur is wreed, maar ook onthullend in die aard van die werklikheid waarin ons leef. Hierdie soort ding vind natuurlik elke dag, elke uur, elke minuut êrens in die wereld plaas waar die een dier die ander moet doodmaak ten einde te kan oorleef. En ons wat mense is neem veral baie hieraan deel, met die verskil dat ons mense by slagpale en hoenderboerderye en op vistreilers "aanstel" om die "slagwerk" vir ons te doen – sonder dat ons dit hoef te sien en ervaar!
Maar wat hierdie video weer eens so duidelik maak is dat daar geen manier is dat daar ’n skeppende, beskikkende godheid kan wees wat willens en wetens hierdie bloedige natuur uitgedink en gemaak of laat wees het nie. En dit is wat mense soos Kobus en Trienie nie wil insien en aanvaar nie. Dis net misleides wat dink dat die mens die kroon van die skepping is wat kan glo dat enige godheid hierdie dinge uitgedink het. – en soos Kobus ’n "eie rol" in die skepping aan die diere toe te skryf. Snaaks dat dit nodig was om ’n aarde te skep met miljoene der miljoene organismes wat mekaar so moet aanval en uitwis om te kan oorleef – en die meeste daarvan vind plaas in die woude en onherbergsame woestenye waar geen mens kom of dit sien nie. Hoekom dan?
Nee, wat ons hier sien is evolusie in sy werklikheid – hoe wreed ook al. Evolusie het geen plan, geen doel, geen gevoel, geen gewete, geen medelye, geen voorkeure of afkeure nie. Dit IS net. Dit is die werklikheid van die lewe, maar die verskil is dat ons as mense hierdie vermoe vir waarneming en ontleding en begrip ontwikkel het wat ons in staat stel om al hierdie dinge te besef, maar ook te kan sien dat ons nie die natuur se metodes en dinge hoef toe te pas in ons onderlinge verhoudinge met mekaar nie.
En dan is die eerste ding wat ons doen is om die bloeddorstige, kwaai en onregverdige godheid wat die godsdienste soos die christendom, die moslem-geloof en diesulkes vir ons voorhou, te verwerp – en hulle dwepende priesters en volgelinge se geskel en oordele oor ons te ignoreer.
Thys skryf:
"Maar wat hierdie video weer eens so duidelik maak is dat daar geen manier is dat daar ’n skeppende, beskikkende godheid kan wees wat willens en wetens hierdie bloedige natuur uitgedink en gemaak of laat wees het nie."
---Thys, om by jou aan te sluit het ek hier ’n video probeer plaas van ’n kind wat aan hondsdolheid ly, met die byskrif dat Liewe Jesus ook nie juis van kinders hou nie. Die moderators het skynbaar besluit om dit nie te plaas nie, en miskien ook maar goed so want dit is nogal ontstellend. (Daar is ’n hele paar sulke video's vrylik op YouTube en elders te sien, vir diegene wat belangstel).
Maar dit maak dieselfde punt as die video van die bokkie, en wat jy hierbo maak. Wanneer mens die natuur aanskou is dit taamlik ooglopend dat die natuur nie goed of boos is nie. Hy is maar wat hy is. Hy maak wel heeltemal sin uit ’n evolusionêre oogpunt beskou.
Verskynsels soos hondsdolheid skep vir kreasioniste ’n probleem, want volgens hulle eie argumente kon so iets nie deur evolusie ontstaan het nie – dit is immers te kompleks. Dit laat net een alternatief en dit is dat hul liefdevolle God dit doelbewus geskep het. Nou wonder mens watter tipe van ’n monster sou doelbewus so iets skep, en met watter doel!
Meer verligte gelowiges aanvaar evolusie, en beskou hondsdolheid in dieselfde lig as enigiemand anders: dit het deur evolusie ontstaan en is moreel net so neutraal as die wette van gravitasie. Hulle hoef dan bloot te wonder waarom God sou toelaat dat so iets gebeur, maar dit is darem nie so erg as om dit doelbewus te gaan staan en skep nie!
In ieder geval sien ek by meeste gelowiges ’n dubbelstandaard: hulle gee God krediet vir alles wat mooi en goed is, maar hou hom nie verantwoordelik vir die donkerder aspekte van die lewe nie. ’n Vliegtuig stort neer en uit honderd passasiers oorleef net een. "Werklik net ’n wonderwerk," sê daardie een dan dikwels. Maar wat van die 99 wat dood is!? Wat was dit? ’n Anti-wonderwerk?
Net so dink vele gelowiges die skoonheid van ’n skoenlapper of blom is ’n duidelike bewys van die skepper se hand, maar hulle sê maar liewer niks van lintwurms of malaria nie.
Interessant genoeg het ek al heelwat gelowiges ontmoet wat kreasionisme beskou as een van die ergste vorms van godlastering, juis omdat die implikasie daarvan is dat God direk verantwoordelik is vir siektes, parasiete, natuurrampe ens.
Baie netjiese kommentaar, dankie.
Maar wat ek as uiters ontsellend beskou is dat daardie video oor die kind met hondsdolheid nie deur LitNet se sensor deurgelaat is nie. Ja natuurlik is dit nie aangenaam nie, maar dit is nie meer onthutsend as Kobus de K se pogings om sy godheid se optredes te vergoeilik en andersdenkendes as't ware te vervloek nie.
Kan net noem dat ek op Praag se Yahoogroups-blad ook kwaai kritiek van godgelowiges gekry het. Hulle wil my selfs van die groepblad laat verwyder!
Maar ek het hierdie video en kommentaar juis hier geplaas om vir mense soos George Claassen en Jurie van den Heever te wys dat onbeskaamde Afrikaners soos ek nie alleen in evolusie kan "glo" nie (LW die aanhalingstekens want dit is nie eintlik geloof nie), maar ook 'n radikale non-teis kan wees.
En ek het dit op Praag geplaas om juis vir daardie godsdienstige bekrompenes presies dieselfde boodskap tuis te bring.
Brian, ek verwag nie van jou of enigiemand anders om my sieninge oor Afrikanerskap te deel nie. Ek verwelkom egter steun vir 'n standpunt oor evolusie wat nogal skokkend kan wees vir sommiges.
Dis die hoofoorsaak van al die probleme op aarde, maar dit word misgekyk, of doodgeswyg, dalk vir politieke of godsdienstige redes word daar min oor gepraat.