Vir Angus, Leon, Brianvds en Panda
Dankie vir julle antwoorde here, ek waardeer.
Dit ís so dat iets sal aanhou beweeg tensy daar weerstand of wrywing is maar, vir 'n gegewe foton, sê vanaf die son, om hier te 'land' moes hy so 'n 8 minute gelede van die son af vertrek het. Iets moes hom vandaar geskop het, impetus gegee het om hom op sy reis te plaas. Wat is dit? Kan nie hitte wees nie want mens kan vuurvliegies ook sien.
Nog 'n ding: Enige foton het 'n klomp ('n moewiese klomp) maats wat presies saam met hom vertrek het, dus met dieselfde krag aangejaag was want die beeld kom nie deurmekaar hier aan nie. So-iets, voel dit my, sou nie moontlik gewees het as 'n foton massa het nie. Om die waarheid te sê, dit maak dit ook baie moeilik om lig hoegenaamd as partikels (fotone) te sien. Of hoe?
As mens lig egter as 'n golf beskou voel dit of daar een of ander substans moet wees wat in beweging gesit word deur die ligbron. Dit sal minder energie verg as om 'n deeltjie 'n skop te gee. Weer eens, of hoe? Dit impliseer egter weer 'n eter en dié is al bewys bestaan nie. Tensy, natuurlik, Michelson en Morley 'n fout gemaak het; dalk is daar 'n ANDER soort ligdraende eter. Indien daar wel so-iets is sal mens wel stelsels kan sien wat teen die tyd so ver is dat hulle vinniger as die spoed van lig van ons verwyderd raak en dus gereken te word vir ewig onsigbaar te wees. Dit sal dan analoog wees aan 'n mier wat stap van die een kant van 'n rek, wat uitrek teen 'n tempo groter as die mier se stapspoed, na die ander kant toe stap (die mier stap natuurlik op die rek). Die mier kom tog uiteindelik aan die ander kant van die rek uit al rek hy vir ewig uit.
Ja-nee hierdie goed pla my. Ek moet sê, Leon se inligting, naamlik dat ligintensiteit asimptoties (tot die X-as) afneem help baie. Dis dan soos Angus ook gesê het, die afname van 1AU na 2AU is merkbaar maar skaars merkbaar van, sê, 100AU tot 200AU.
Miskien moet ek eers omtrent die ander goed wat my pla duidelikheid kry dan is daar meer plek in my kop se hardeskyf om weer aan lig te dink. Byvoorbeeld, hoekom waai die woestyn se sand nie weg nie? Dit is so dat die wind die Sahara se sand byvoorbeeld tot op die Amerikaanse ooskus waai en miskien nog in ander rigtings ook. Nou hoekom is die woestyn nog nie weggewaai nie? Verweer rotse en wat ookal moet verweer om sand te vorm, vinniger as wat die wind dit kan wegwaai?
Groetnis
Jan Rap