SêNet-briewe | Letters

 
Vir Angus, Leon, Brianvds en Panda
Dankie vir julle antwoorde here, ek waardeer.

Dit ís so dat iets sal aanhou beweeg tensy daar weerstand of wrywing is maar, vir 'n gegewe foton, sê vanaf die son, om hier te 'land' moes hy so 'n 8 minute gelede van die son af vertrek het. Iets moes hom vandaar geskop het, impetus gegee het om hom op sy reis te plaas. Wat is dit? Kan nie hitte wees nie want mens kan vuurvliegies ook sien.

Nog 'n ding: Enige foton het 'n klomp ('n moewiese klomp) maats wat presies saam met hom vertrek het, dus met dieselfde krag aangejaag was want die beeld kom nie deurmekaar hier aan nie. So-iets, voel dit my, sou nie moontlik gewees het as 'n foton massa het nie. Om die waarheid te sê, dit maak dit ook baie moeilik om lig hoegenaamd as partikels (fotone) te sien. Of hoe?

As mens lig egter as 'n golf beskou voel dit of daar een of ander substans moet wees wat in beweging gesit word deur die ligbron. Dit sal minder energie verg as om 'n deeltjie 'n skop te gee. Weer eens, of hoe? Dit impliseer egter weer 'n eter en dié is al bewys bestaan nie. Tensy, natuurlik, Michelson en Morley 'n fout gemaak het; dalk is daar 'n ANDER soort ligdraende eter. Indien daar wel so-iets is sal mens wel stelsels kan sien wat teen die tyd so ver is dat hulle vinniger as die spoed van lig van ons verwyderd raak en dus gereken te word vir ewig onsigbaar te wees. Dit sal dan analoog wees aan 'n mier wat stap van die een kant van 'n rek, wat uitrek teen 'n tempo groter as die mier se stapspoed, na die ander kant toe stap (die mier stap natuurlik op die rek). Die mier kom tog uiteindelik aan die ander kant van die rek uit al rek hy vir ewig uit.

Ja-nee hierdie goed pla my. Ek moet sê, Leon se inligting, naamlik dat ligintensiteit asimptoties (tot die X-as) afneem help baie. Dis dan soos Angus ook gesê het, die afname van 1AU na 2AU is merkbaar maar skaars merkbaar van, sê, 100AU tot 200AU.

Miskien moet ek eers omtrent die ander goed wat my pla duidelikheid kry dan is daar meer plek in my kop se hardeskyf om weer aan lig te dink. Byvoorbeeld, hoekom waai die woestyn se sand nie weg nie? Dit is so dat die wind die Sahara se sand byvoorbeeld tot op die Amerikaanse ooskus waai en miskien nog in ander rigtings ook. Nou hoekom is die woestyn nog nie weggewaai nie? Verweer rotse en wat ookal moet verweer om sand te vorm, vinniger as wat die wind dit kan wegwaai?

Groetnis

Jan Rap

Comments 5 Reaksies | 5 Comments
Delete Comment
avatar
Brianvds
2013-02-15 @17:42
Jan Rap: Jy vra vrae wat nou dieper in kwantumfisika indelf as wat my kennis strek. 
 
Fotone van die son af ontstaan wanneer massa in energie omskep word in die kernreaksies wat in die son plaasvind. Sover ek dit verstaan is daar nie so ding soos 'n stilstaande foton nie: vanaf die oomblik wat hy ontstaan beweeg hy teen die spoed van lig, en hy beweeg nooit teen enige ander spoed nie. 
 
Ek verstaan nie heeltemal wat jy met jou tweede paragraaf bedoel nie. Lig is nie 'n stroom partikels of 'n golf nie. Hoe dit optree hang af van watter tipe waarneming ons doen. Met sommige tipes eksperimente of waarnemings tree lig op soos partikels; met ander tipes eksperimente of waarnemings tree dit op soos 'n golf. Sover ek weet, verstaan niemand waarom nie, of wat die werklike aard van lig dan is nie.  'n Nuttige analogie is miskien 'n piramide: van die kant af gesien lyk hy soos 'n driehoek, van onder af gesien lyk hy soos 'n vierkant, maar hy is nie eintlik een van die twee nie. Wat ons sien hang af van waar ons af kyk, en ons kan nooit die driehoek en vierkant terselfdertyd sien nie.
 
Lig is 'n elektromagnetiese golf: 'n elektriese veld wek 'n magneetveld op wat weer 'n elektriese veld opwek wat weer 'n magneetveld opwek en so voort; daarom dat lig nie 'n medium nodig het om in te beweeg nie. Sover ek dit verstaan het die Michelson-Morley-eksperiment enige vorm van eter uitgeskakel. 
 
Wat Leon se inligting betref, hy het sy roeping gemis. Hy moes eintlik kom deelneem het aan daardie debat oor Jupiter se mane wat ons met Kobus de Klerk gehad het, want heelwat van daardie debat het gehandel oor die nie-lineêre manier waarop die oënskynlike grootte en helderheid van voorwerpe afneem met afstand. :-)
 
 
Jou vraag oor die Sahara se sand is baie interessant. In kort: ek het geen benul wat die antwoord is nie. Maar hou in gedagte dat die Sahara 'n relatief jong woestyn is; so onlangs as tien- of vyftienduisend jaar gelede was daar grasvlaktes daar. So dit is straks moontlik dat die sand op die oomblik vinniger wegwaai as wat nuwe sand vorm; dalk is die Sahara oor 'n paar duisend jaar harde, kaal rots. Wat 'n skouspel sou so iets nie wees nie.
 
Aan die ander kant help die wind dalk juis om meer sand te skep soos wat waaiende sand help om rots te  verweer. En die groot temperatuuruiterstes in die woestyn het ook 'n verwerende effek. 
 
Die vraag het nog nooit by my opgekom nie, so ek hoop iemand wat iets van geologie weet kan dalk hier uithelp.
 
Neem soos gewoonlik alles wat ek kwytraak met 'n skopgraaf sout.
 
 
Delete Comment
avatar
Leon Retief
2013-02-17 @22:04

Jan, kwantumfisika en relatiwiteit is vreemde gediertes. Mens moet besef dat dit vol kontra-intuïtiewe begrippe is, soos in elk geval maar oral deur die natuurwetenskappe aangetref word, maar net meer so. Got to wrap your head around it, soos die Engelse sê. Dit is belangrik dat mens nie hier in terme van klassieke fisika dink nie.

Fotone word vrygestel byvoorbeeld wanneer ‘n atoom of molekuul van een energiestaat na ‘n ander een verander, of wanneer ‘n partikel en sy antipartikel ontmoet en so voorts. Fotone bestaan nie voordat dit vrygestel word nie en die energie en momentum wat dit na vrystelling besit bestaan reeds in die substans waaruit dit vrygestel word. Oftewel, mens kan sê dat wanneer ‘n substans (molekules of atome) van een energievlak na ‘n ander een verval word fotone vrygestel.

In terme van die hoeveelheid energie wat dit besit maak dit nie saak of mens fotone sien as partikels of golwe nie, in beide vorms (as ek dit so mag stel) bevat dit ewe veel energie en dit sal dus nie minder energie verg om as ‘n golf vry te stel as ‘n partikel nie.

Ek verstaan nie waarom jy dink dat fotone nie gelyk by ‘n plek sal aankom as hulle massa het nie alhoewel ek nie dink dat dit saak maak nie. Ek wil nou nie uitbrei op die verskillende definisies van massa wat fisici gebruik nie maar daar word beskou dat fotone in die rustende staat nie massa het nie – nou nie dat daar so iets as ‘n rustende foton bestaan nie. Daar is eksperimentele ondersoek hierna ingestel maar wanneer mens met sulke klein syfers werk is daar ‘n mate van onsekerheid in die meting en kon daar nog net ‘n boonste grens vasgestel word vir ‘n foton se rustende massa: 0.0000000000000006 elektronvolt. Dit is 0.00000000000000000000039 keer die massa van ‘n elektron, wat soos jy weet nou nie juis ‘n swaargewig is nie. Anders gestel, ‘n foton weeg (dalk) 4x20-48 gram, in teenstelling met ‘n elektron wat inklok by 9x10-28 gram.

Ten spyte hiervan het fotone wel energie en momentum – ek weet dit klink eienaardig maar dit is nie net ‘n teoretiese konstruk nie maar ook eksperimenteel vasgestel.

Wanneer na fotone verwys word as golwe moet mens nie in die slaggat trap om te verwag dat daar ‘n medium moet wees waarin dit voortplant nie. Fotone benodig nie ‘n medium nie. Mens moet nie dink inn terme van golwe wat deur gas of water beweeg nie, liggolwe is ‘n geheel en al ander konsep.

Dit is nou maar eenmaal so dat fotone en ook ander partikels in Janus-geaardheid het – golf en partikel - dis maar woorde wat ons gebruik om uitdrukking te gee aan wiskundige manifestasies wat fisici wel baie goed kan maniplueer, maar ek dink nie die menslike brein is toegerus om meeste van kwantumfisika werklik te begryp nie, al is dit steeds een van die mees suksesvolle teorieë wat nog ooit tot stand gebring is.

Jou analogie oor die mier en die rek werk nie – as die rek vinniger verleng as wat die mier kan loop gaan dit nooit as te nimmer by die eindpunt van die rek uitkom nie.

Ek kan nie werklik vir jou ‘n antwoord gee oor woestynsand nie, om eerlik te wees, ek het nog nooit daaroor gedink nie. Al wat ek kan sê is dat die Sahara sowat 10 000 jaar gelede ‘n baie vrugbare gebied was.

Delete Comment
avatar
Angus
2013-02-17 @23:28

Beste Jan Rap,

Eers woordjies van bemoediging: jy is besig met die dinge van Kwantum- en Stringteorie wat niemand eintlik verstaan nie. As jy dit dus nie verstaan nie, is jy beslis nie die enigste op aarde wat dit nie verstaan nie. Eksperimente wat hiervolgens werk, werk soos ʼn bom, en dis wat tel. Wat ek hier verduidelik is nog heeltemal niks.

Hier is veral twee partikels ter sprake: die elektron en die foton wat beide twee klasse partikels in die Standaard Model verteenwoordig. Die elektron is ʼn partikel wat met materie te make het, terwyl die foton te make het met krag (force). Elektrone is fermione wat mekaar afstoot, maar juis as gevolg van die afstotery kan hulle nie saamwerk om krag te versend (transmit) nie. Dis dan waar fotone wat bosone is, ter sprake kom.

Die hele ding werk so: gestel ek en jy is in die hemelruim, elk op ʼn vaartuig. Jy skiet na my met ʼn kanon en die vors beweeg jou weg van my. Die koeël tref my en die vors daarvan beweeg my weg van jou. Dit maak natuurlik nie saak wie eerste skiet nie. Dis presies hoe elektrone en fotone werk. Die elektrone vuur fotone af om mekaar af te stoot. Fotone verdwyn dan so vinnig as wat hulle ontstaan het en geen foton sal spesiaal van die son af teen die snelheid van lig jou hier op die aarde kom skade aandoen nie.

Ek weet sommer jy sal vra wat laat die elektrone fotone afvuur, en die antwoord bly nog steeds in landbouterme: miskoeke kan nie help om te rook nie.

Om fotone te "verstaan", moet hulle as senders (transmitters) gesien word.

Groete Angus

Delete Comment
avatar
Jan Rap
2013-02-18 @09:36
Angus Brian en Leon

Ek gaan nou vir 'n week die bos in en sal  kommentaar op julle antwoorde lewer sodra ek terug is, DV.

Leon, die mier kom wel by die ander punt van die rek uit:  Doen dit stapsgewys: Die rek word 2cm langer en die mier wat op die beginpunt van die rek sit is nou 2/l (l soos in die letter voor m) sentimeter weg van jou duim en hy beweeg 1cm aan.  Hy is nou 2/l +1 sentimer op sy reis. 

Die rek, nou l+2 cm lank, rek weer 2 cm wat veroorsaak dat die mier nou 2/l+1 + 2/(l+2) cm weg en hy gee nog 'n 1cm stap wat hom 2/l+1 +2/(l+2) +1 cm verwyderd vanaf die beginpunt maak. 

Die mier se verwyderingspoed is dus groter as dié van die regterpunt van die rek en die mier moet uiteindelik die punt van die rek bereik.  As jy die spoed stip op 'n grafiek sal jy sien die mier se verwyderingspoed is nie liniêr nie waar die regterpunt van die rek wel is.  Aanvanklik word die balans van die reis al hoe groter maar soos die mier na regs beweeg is die invloed van die uitrekking groter, die mier tel as't ware spoed op sodat hy uiteindelik vinniger beweeg as wat die rek se punt beweeg wat dan tot gevolg het dat hy die eindpunt bereik.

Groetnis
Delete Comment
avatar
Leon Retief
2013-02-18 @13:53

Jan, ek verstaan nou wat jy bedoel: die mier beweeg nie ALLEENLIK teen die spoed waarteen hy stap nie (soos ek gedink het jy bedoel), maar word ook vorentoe gedra deur die spoed waarteen die rek uitsit.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address