Het gister 'n nota
by my vorige brief probeer voeg (29/1/2013) en niks het gebeur nie. Ek herhaal dit vir plasing.
Dolf, ek waardeer jou reaksie – dit is lekker om sulke positiewe ondersteuning te kry. Dit pla my soms dat van die korrespondente uitstekende bydraes lewer en dan is daar geen reaksie nie. Ek is ook daaraan skuldig. Sekere manne verdien meer ondersteuning – voor iemand my dalk van iets amper so erg as rassisme beskuldig – dis net dat ek toe nie so vinnig aan vroulike bydraers kon dink nie. Jammer, Trienie, ek waardeer jou en veral die pragtige foto's het 'n paar keer my dag gemaak.
Wat die teoloë betref. Ek het groot simpatie met predikante en teoloë wat in ons materialistiese wêreld 'n boodskap moet bring om 'n bietjie balans aan ons skeefgetrekte waardes te gee. Selfs waar ek nie heeltemal met sekere sienings saamstem nie laat ek die saak dikwels daar, maar daar is gevalle waar 'n mens van jou moet laat hoor, anders gaan die klippe dit uitroep (Chris Jones was só 'n geval – hier stop my storie oor Jones).
Myns insiens is die groot probleem jongelinge wat met blink oë op universiteit aankom met net een doel, nl om die evangelie te bestudeer en dit daarna lewenslank te verkondig. Geleidelik verander hulle van mening en nou sit hulle met 'n dilemma. Hy het 'n doktorsgraad in teologie, waarmee hy byvoorbeeld nie regte brûe kan bou of 'n sakeonderneming kan bestuur nie. Die enigste genade is om voort te gaan om teologie te pleeg. Hy beklemtoon nou dat hy 'n akademikus is. Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om 'n akademikus en 'n christelike gelowige te wees nie, maar die probleem is as hy al hoe louer raak oor die tweede deel. Dis nou 'n probleem vir die kerk en die geroepene. Die aangewese ding is om die akademie vaarwel toe te roep en met iets anders te begin maar daar is min ouens wat daarvoor kans sien. Eintlik is dit dalk minder swaar as om die leuen te leef. Ek ken nie baie predikante nie – is nie vreeslik sosiaal nie – maar kan tog vinnig aan 'n hele aantal dink wat 'n groot aanwins vir die kerk en die gemeenskap is.
Alles wat jy skryf is vir my in orde. Jy meld spesifiek van “Jesus loves you”. Dis ongelukkig waar dat te veel mense hieragter skuil en die res van die skrif ignoreer. Oor die “wit … swart” sal ons dalk verskil as ons spesifieke voorbeelde sou bespreek, maar 'n mens kan soos volwassenes verskil. In terme van “wit … swart” dink ek eerstens aan N P van Wyk Louw. Hy het hieroor een van sy beroemdste opstelle geskryf en beklemtoon dat niks in die lewe wit of swart is nie, maar altyd 'n skakering van grys. Lees dit gerus.
Jou verwysing na “wit … swart” het skynbaar op die interpretasie van die Woord betrekking. Elkeen van ons het sy eie interpretasie en binne perke is dit verstaanbaar en in orde. Waar ek beslis die streep trek is die teoloë wat alles in terme van 'n moderne wetenskaplike wêreldbeeld sien. Volgens hierdie siening is wonderwerke onmoontlik want alles gebeur binne die natuurwette. Sulke “gelowiges” behoort hulle eie verenigings te stig en hulleself duidelik te distansieer van die kerke wat hulle opgelei het.
Mag jy geseën wees.
George