Luciano Floridi oor die inligtingverskynsel

  • 2

As 'n mens min interaksie met ander mense het en ook nie reis nie, sou jou lewe sonder inligtingsbronne (koerante, tydskrifte, boeke, telefoon, radio, rolprente, televisie, internet) maar saai gewees het. Inligting voed die gees. Dit is verbasend hoe baie geld en tyd mense deesdae bestee om die toevloei van inligting te verseker. In primitiewe tye is inligting deur sintuiglike waarneming direk van mense en uit die natuur bekom. Deesdae floreer ons op hoofsaaklik gemedieerde of indirekte inligting; dít terwyl die meeste mense skynbaar salig onbewus daarvan is dat hulle hulleself blootstel aan misleiding, bv selektiewe en gemanipuleerde of skeefgetrekte inligting.

Die elektroniese rekenaar en die internet is van die positiewe gevolge wat die Tweede Wêreldoorlog gehad het. Sedertdien het dit die gebruik in ontwikkelde lande geword om die lewensomstandighede as die inligtingsamelewing te karakteriseer. Van die groot verskuiwings wat plaasgevind het, is van gedrukte inligting op papier na elektroniese inligting. Die nuustydskrif Newsweek het van 1933 tot 2012 in druk verskyn. Van vanjaar af word dit net elektronies gepubliseer. Onlangs is intekening op die elektroniese weergawe van 15 populêre, Afrikaanse Media24-tydskrifte teen R99 per maand aangekondig (kaboedel.co.za). Ek voorspel dat die sake-tydskrif Finweek, as hy oorleef,binnekort net elektronies beskikbaar gaan wees. Sedert die beskikbaarstelling van slimfone en tabletrekenaars het hierdie veranderings 'n hupstoot gekry.

Maar wat is inligting? In algemene naslaanwerke is daar gewoonlik nie 'n definisie nie. Fritz Machlup en Una Mansfield se The study of information (New York: Wiley, 1983, 743p) is die eerste omvattende boek wat oor die inligtingverskynsel gepubliseer is. In Suid-Afrika is daar al verdienstelike werk oor hierdie onderwerp gedoen, bv Archie Dick se The philosophy, politics and economics of information (Pretoria: University of South Africa, 2002, 169p). Ek vind dit egter jammer dat Dick na die verbruik ("consumption") pleks van die gebruik/benutting ("use") van inligting verwys, want anders as in die geval van bv kos of petrol, word inligting nie vanweë gebruik minder nie; in werklikheid word dit meer.

Ek het voorheen James Gleick se The information (2011) bespreek (SêNet, 1.12.2011): "Kommunikasie word bewerkstellig wanneer iets oorgedra (in 'n ander sin as vervoer, transport) of gekommunikeer word en daardie iets is inligting. Inligting het die potensiaal om ons in te lig, om via ons sintuie ons gees ('mind') te verander. In ons gees word inligting in kennis omskep, wat verwerk en geëksternaliseer kan word (bv deur te praat of te skryf) en in die geheue gestoor kan word. Kennis kan waar of vals wees. Deur wat buite die gees is 'inligting' te noem en wat in die gees is 'kennis' te noem, kan baie van die terminologiese verwarring opgeklaar word. Die kernelement is betekenis."

Dit gaan vir Gleick veral om taalkundige/semantiese en daarby alfabetgebaseerde inligting. Sy verwysingsraamwerk is die hedendaagse mens, maar hiermee kan deesdae net sinvol gehandel word as die rol van inligtings- en kommunikasietegnologie in ag geneem word. Wat noodsaaklik is, is om tussen die inligting (die boodskap) en die inligtingdraer (die medium) te onderskei. In die biblioteekkundige konteks word die bewaring, ontsluiting (bv ordening, klassifisering en trefwoordvorming, titelbeskrywing) en herwinning van inligting beklemtoon. Die bewaring van biblioteekrekords, bv boeke, het geen sin as die inligting nie benut word nie. In die inligtingkundige konteks is bv tekens, seine, simbole, analogiese en digitale voorstelling, ens, van belang, asook data as die boustene van inligting.

Die Wikipedia verskaf die volgende definisie: "Information is any kind of event that effects the state of a dynamic system." Byvoorbeeld, 'n rekenaar kan 'n ander masjien of 'n mens inlig. Om in te lig, beteken letterlik "to give form to the mind." Luciano Floridi (gebore in 1964), wat die filosofie van inligting aan die University of Hertfordshire doseer, vind sy voedingsbronne in bv kommunikasiekunde, inligtingstegnologie en die wysbegeerte. In 2011 het hy 'n omvattende boek, The philosophy of information, gepubliseer. Ek beperk my aandag vervolgens egter by 'n korter weergawe van sy opvattings, Information, a very short introduction (London: Oxford University Press, 2010).

In die inleiding noem Floridi dat sy teks nie baie kort of van 'n inleidende aard is nie. Baie van die inligting kom uit die wiskunde, rekenaarwetenskap/inligtingstegnologie en natuurwetenskappe, soos fisika en biologie. Naas kennis van die wysbegeerte moet daar ook kennis geneem word van die navorsingsresultate wat in kognitiewe of neurowetenskap behaal word. Hy plaas inligting in 'n baie wyer konteks as wat gebruiklik in die sosiale wetenskappe is. Inligting is aanvanklik met rekords geassosieer, maar Floridi toon aan dat die kommunikasie van hierdie inligting (danksy tegnologiese ontwikkeling) en die verwerking daarvan (veral sedert digitalisering) al hoe meer aandag ontvang. In die samelewing het die prominensie van materiële produkte, soos dié van landbou en vervaardiging, afgeneem en die belangrikheid van nie-tasbare inligtingsprodukte het toegeneem. Naas goedere is daar deesdae virtuele bates. Inligting is 'n kommoditeit/hulpbron/handelsartikel wat gereproduseer, met ander gedeel en voordelig benut kan word.

Na die rewolusies wat met die werk van Copernicus, Darwin en Freud geassosieer word, was daar 'n vierde rewolusie, dié van inligting, wat met Alan Turing geassosieer kan word. Die resultaat is nie net beter insig in die wêreld nie, maar ook verbeterende self-verstaan by mense. 'n Mens het deesdae 'n "data shadow ... @s, blogs and https" (Kindle 412). Nuwe werklikhede word geskep, bv die virtuele, waarin geswerf kan word. Ons omgewing omvat meer as die natuur: "Once our window-shopping becomes Windows-shopping and no longer means walking down the street but browsing through the Web, our sense of personal identity starts being eroded" (K 481). "The threshold between here ... and there ... is fast becoming blurred" (K 493). Daar is dus 'n herontologisering van ons wêreld, "an epochal, unprecedented migration of humanity from its ordinary habitat to the infosphere" (K 431). 'n Herkonseptualisering van metafisika is nodig. Die norm vir bestaan ("existence") het verander (K 444). "To be is to be interactable" (K 450). In hierdie proses word daar ook 'n nuwe samelewingsektor geskep wat "deprived, excluded, handicapped, or poor" is (K 437). Die "information-rich" en "information-poor" word onderskei en daar ontstaan "digital slums" (K 532).

Floridi verwys na die inligtingsiklus, maar hy onderskei nie duidelik tussen inligting en kennis nie (4de paragraaf hierbo) en toon dus nie aan hoe inligting kennis word en kennis op sy beurt inligting kan word nie. Hy verwys na die infosfeer maar nie na Teilhard de Chardin se noösfeer (dit wat in die gees van lewende mense is) nie. Daar is by Floridi verstaanbare vaagheid oor breinaktiwiteit: "The brain is still a continent largely unexplored" (K 1443). Inligting en medium word ook nie deur hom duidelik genoeg onderskei nie (5de paragraaf hierbo). Die outeur wys tereg daarop dat genetiese inligting wesenlik anders as semantiese inligting is: "It simply lacks all its typical features, including meaningfulness, intentionality, aboutness, and veridicality" (K 1334). Maar genetiese inligting is een van die verskynsels wat Floridi help om inligting in 'n wyer konteks as bloot dié van die mens te plaas. Ander lewende dinge maak in elk geval ook van sintuiglike inligting gebruik, dikwels tot eie voordeel.

Die belangrikste bydrae wat Floridi met sy boek lewer, is myns insiens op die terrein van inligtingsetiek. Inligting kan 'n hulpbron, 'n produk of 'n doelwit ("target") wees (K 1680). Met laasgenoemde is die ekologiese ideaal die "wellbeing of the infosphere" (K 1686). Seker enigiets is potensieel inligting en kan tot ons kennis bydra. Hy onderskei "information input"/"informational resources" en "information output"/"informational products". Albei beïnvloed die "informational environment" (K 1723).

Dan kom hy by die belangrike onderskeid tussen mikro-etiek, soos aangetref in bv toegepaste professionele etiek (by uitstek van toepassing op die gedrag van mense in die werksituasie) (K 1755) en makro-etiek (inligtingsetiek) (K 1761), wat wyer as tradisionele wysgerige etiek strek. Ekologiese denke gaan tradisioneel uit van die veronderstelling dat lewe 'n bate en dus agtingswaardig is (K 1785). Floridi stel voor dat lewe ("life") met bestaan ("existence"), eintlik met syn ("being"), dus met alles wat is, alles wat deel van die werklikheid (natuurlik en virtueel/kunsmatig) is, vervang moet word. Letterlik alles kan met "destruction, corruption, pollution, and depletion" bedreig word. In die geval van sodanige gebeure sou die werklikheid en potensieel die mens se gees verarm word (K 1797). Hy argumenteer dus vir die "intrinsic worthiness" van inligting. Hy dink daar is "the duty of any moral agent in terms of contributing to the growth of the infosphere" (K 1804). Sy argument betrek alle dinge, insluitende wat was en toekomstige entiteite (K 1810).

Sy etiek is dus so omvattend en nie-mensgesentreerd soos kan kom (K 1816). Dit gaan om die welvaart van die hele wêreld; insluitende elemente wat "inanimate, lifeless, intangible or abstract" is (K 1856). Sy etiek is "infocentric", oftewel "ontocentric" (K 1862). Hy haal Arne Naess (1912-2009) aan: "All things in the biosphere have an equal right to live and blossom" (K 1869). Floridi maak dit van toepassing op die hele werklikheid in al sy vorme. Dit word "holistic environmentalism" genoem (K 1898). Alles wat is, verdien die mens se morele waardering of agting (K 1887).

Samevattend kan (seker) gesê word dat 'n mens agting vir bv 'n klip moet hê, bloot omdat die klip is; daarby is die klip oud, konkreet, ens. Omdat ek nog lewe, kan ek die klip ervaar. Die klip behoort agting by my te wek en dankbaarheid/erkentlikheid dat ek is, dus nog nie niks is nie. Die klip sal waarskynlik steeds wees wanneer ek nie meer is nie. In daardie sin het die klip 'n beter status as ek. Myns insiens is dit waarop Floridi se ontologies-etiese begronding van alles neerkom. Maar uit 'n praktiese oogpunt sal daar verkieslik ontslae geraak moet kan word van ongewenste dinge, bv kieme, muskiete en selfs mense. Tereg het Jacques Barzun geskryf: "Nonliving things must be loved soberly. The living have first claim" (Michael Murray, A Jacques Barzun reader, New York: Perennial, 2003, p 7).

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Dankie Johannes, voorwaar insiggewend.

    Ek begryp net nie heeltemal jou stelling: Inligting het die potensiaal om ons in te lig, om via ons sintuie ons gees ('mind') te verander. In ons gees word inligting in kennis omskep, wat verwerk en geëksternaliseer kan word (bv deur te praat of te skryf) en in die geheue gestoor kan word.

    Moes die woord 'gees' nie hier eerder 'siel' gewees het? Ek mag verkeerd wees, maar volgens my is die sintuie van die mens die voertuig wat die siel en liggaam koppel. Funksies van die siel bevat die kognitiewe (Intellek), emosies en wil van die mens. Selfs die geheue sal ek ook stoor in die sielsdimensie van die mens. Die 'mind' van die mens wat moet verander word soms ook vertaal met jou gemoed, wat weereens vir my eerder in die siel gesetel is. 

    Nogtans dankie, ek het jou stuk geniet. Dit is in elk geval nie so maklik om die gees en siel van mekaar te onderskei. En is dit seker ook logies om te redeneer dat indien jou hart (siel) verander, sal dit die gees van die mens ook verander. 

    Trienie

  • Johannes Comestor

    Trienie, wat ek die gees noem, noem party mense die bewussyn of die siel.

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top