SêNet-briewe | Letters

 
Johannes Kerkorrel
12 November 2012

Liewe Emsie

Vandag is ‘n herdenking.

Maar ek weet nie of ek mag blomme stuur nie … wat van ‘n kaartjie? Of moet ek net bel en sê dat ek ook hierdie dag onthou?

Ek weet dis nie perdekoop nie. Maar niemand sê jou die implikasies is so groot nie.

Sommige mense sê dis ‘n selfsugtige besluit, maar as jy mooi daaroor dink, is die miljoene goedjies, al die klein keuses wat vooraf moet gebeur, opofferings en liefdesgawes.

Om daarheen te ry, terwyl jy heeltyd wonder of jy die regte ding doen, moet erg wees.

En dan, as die oomblik daar is en jy moet “Ja” of “Nee” besluit, gaan staan tyd stil?

Hoor jy elke ritsel? Sien jy elke beweging?

Word buitelyne skerper, kleure ronder?

Gebeur als teen die spoed van stroop, of dwaas dit verby tot jy later meer seker is van NIKS?

Dis die oomblik: jy neem die sprong.

Jy gly uit jou ou toue uit, maar voel oombliklik die besliste pluk van ‘n nuwe, ewiger band.

Ek sou wou dink dat die heelal
(vir ‘n oomblik)
gesnak het, want niks sou ooit weer daarna heeltemal dieselfde wees nie.
Buite die kapel het almal in groepies rondgestaan en wag dat die ster van die oomblik te voorskyn moes kom.

Ons het gekyk en ge-oe en ge-a
en ‘n paar het maar ‘n traan gepink
(in dié spesifieke kring
tjank jy nie kru nie, maak nie saak hoe beroerd jy is nie).

Die onthaal, na die tyd, was ‘n rumoerige affêre,
met vreemdes en vriende wat rondstaan en dink:
(dalk vir mekaar ‘n ou ietsie skink)
“Dat ons mekaar nou só moes raakdrink!”

Ek kan nie al die liedjies wat gespeel het, onthou nie, maar elkeen het ‘n boodskappie vir (en selfs van) die man-of-the-moment gehad.

En toe is dit verby en ons ry huis toe,
terug na ons eie saai lewentjies toe,
terwyl die kleinste, binneste kring later in verwondering
die kommentaar en geskinner moet hoor:

“Die plek was so mooi; die diens was gepas;
ek is so bly dat ek daar was.

Het jy vir Sus van So gesien?
Mens kan ruik hoeveel haar man verdien…

Niemand kon dit meer keer nie.
Ek het gewéét dit gaan so gebeur!”

Nou vra ek weer (jammer ek pla)
Wat doen ek nou? (Onseker op K)

-*-*-
Liewe Onseker op K

Ek sien jou probleem en hoor wat jy vra:
‘n kaartjie én blomme; ek dink jy mag.
‘n Troue is ímmers ‘n baie groot dag.

-*-*-
Emsie? Nee, dis nie ‘n troue nie
- ek kan sien hoe’t jy my misverstaan -
maar, ja, jy’s reg, die dag was groot
want die koerante gil: “Kerkorrel is dood!”

Stephan Jones

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address