Ek het iets gedoen wat ek nie moes nie en begin glo die polisie is op my spoor. Dit was ’n deurmekaar, stresvolle tydperk vir my, nog voor daardie insident. Eers het my geliefde my afgesê, ’n geliefde in ’n verwarrende gayverhouding, want hy is ’n roker van dagga en drinker en die verhouding was altyd onstabiel en aan en af. (Of miskien was my gedrag vir hom skisofrenies van aard, ek weet nie.) Daarby het die polisie in ’n stadium wel ’n bietjie in my belang gestel weens vals beskuldigings deur ’n jaloerse persoon by die werk.
Eintlik weet ek nie presies in watter volgorde dinge gebeur het nie, want ek was in ’n draaikolk, dinge het rondomtalie gedraai, die vrees en angs het my buitensporig beetgepak. Daar was nog meer spanningsvolle dinge wat in daardie vreeslike tyd in my lewe gebeur het, maar ek kan nie alles hier noem nie.
Maar die uiterste vrees en die geloof dat die polisie my wil vang, het alles oorheers. As ek iewers heen ry en ek sien ’n polisiewa, het ek geskrik en gedink hulle soek na my. Dan het ek mooi netjies probeer ry en stip voor my uitgekyk om nie aandag te trek nie. Een keer het daar ’n paar polisiemanne by ’n winkelsentrum gestaan en ek het gedink hulle maak planne om my vas te keer, toe gee ek pad. Op ’n plek het ek gaan sit en lank bitterlik gehuil.
Snags het ek sleg geslaap. Party nagte het ek in my donkerblou jas op en af geloop op die werf se inrit, tot buite op die sypaadjie. Op en af geloop, terwyl ek obsessief angstig voel die hele tyd. Die paranoia het erger geword en ek het my ma begin beskuldig dat sy gif in my kos gooi, want ek het soms dronkerig gevoel. En by tye het ek lank uitgevaar teen my twee broers wat alweer werkloos op my nek lê. Hulle het hulself toegemaak in hul kamertjie en seker benoud daar gesit, of my gespot, ek weet nie. (Hulle is nou al oorlede en ek het natuurlik berou en skuldgevoelens oor my tirades.)
My suster het probeer reël met die dokter dat ek iewers ingeboek word, maar ek het geweier om hom te gaan sien. Toe reël hy deur ’n mediese vriend dat ek as vrywillige pasiënt opgeneem word, maar dít het ek toe nog nie geweet nie. (Eintlik wou hy my laat sertifiseer, want paranoiagevalle bly glo nie lank in ’n inrigting as vrywillige pasiënte nie.)
Op ’n dag neem my vrees weer die oorhand en ek pak ’n koffertjie met die plan om te verdwyn. Ek gaan egter eers by my suster aan en sy bied aan om my na die hospitaal te neem. In een van die skaars helder oomblikke stem ek in.
Deur die nag ry sy met my na die inrigting, 800 kilometer ver.
Aanvalle van die verskriklikste vrees en angs bly my teister die eerste paar dae. Snags smeek ek dat hulle my toesluit in ’n sel, ek is bang die polisie ontvoer my. As die verpleër dan die sel sluit en wegloop, steek ek ’n stuk van ’n draadhanger in die sleutelgat dat hulle nie weer kan oopsluit voor die volgende oggend wanneer ek dit weer uithaal nie. Die pille wat hulle my gee, laat my uitgeput en rusteloos voel, maar dit help redelik gou en ek word kalmer, en ek besef die polisie is nie werklik agter my aan nie.
Eendag is ’n aantal van ons pasiënte en personeel in die sitkamer; ons staan daar rond, party sit. Daar sien ek toe onverwags ’n jong man wat ek een keer op TV gesien het ’n demonstrasie gee van ’n besonderse sportsoort.
“Wat maak jy hier?” vra ek hom.
Ek kan sien die verpleegster vererg haar vir my. Sy sit haar arm beskermend om hom en sê iets wat ek nou vergeet het.
“En wat maak jý hier?” vra iemand my.
“Algemene malligheid,” is al wat ek kan dink om te antwoord.
In die hoek sit ’n ou tannie op ’n stoel ingedoke, die kop hangend. Sy is depressief nadat haar man oorlede is. Maar sy skud soos sy lag toe sy my verduideliking hoor, laat sak toe gou weer haar kop en probeer depressief lyk. Agterna dink ek sy wil dalk nog nie erken dat sy al beter voel nie, dat die pille werk nie, want hoe kan jy lag as jou maat van soveel jare dood is?
Ek was toe nie lank in die hospitaal nie, net so ’n bietjie meer as twee weke, toe boek ek myself uit. Dit is nou al baie jare later, maar ek was nog nooit weer heeltemal reg nie, met depressie en dreigende psigose altyd; ek moet permanent pille drink. Ek moes ook vroeg uit diens tree en sukkel met ’n klein pensioen, maar kry darem hulp van familie.
Die huisdokter het gesê ek het hom gedrop deur vroeg uit te gaan, want hy het sy nek uitgesteek om my as vrywillige pasiënt aanvaar te kry.
Naamloos