SêNet-briewe | Letters

 
Ek beland in die malhuis
Ek het iets gedoen wat ek nie moes nie en begin glo die polisie is op my spoor. Dit was ’n deurmekaar, stresvolle tydperk vir my, nog voor daardie insident. Eers het my geliefde my afgesê, ’n geliefde in ’n verwarrende gayverhouding, want hy is ’n roker van dagga en drinker en die verhouding was altyd onstabiel en aan en af. (Of miskien was my gedrag vir hom skisofrenies van aard, ek weet nie.) Daarby het die polisie in ’n stadium wel ’n bietjie in my belang gestel weens vals beskuldigings deur ’n jaloerse persoon by die werk.

Eintlik weet ek nie presies in watter volgorde dinge gebeur het nie, want ek was in ’n draaikolk, dinge het rondomtalie gedraai, die vrees en angs het my buitensporig beetgepak. Daar was nog meer spanningsvolle dinge wat in daardie vreeslike tyd in my lewe gebeur het, maar ek kan nie alles hier noem nie.

Maar die uiterste vrees en die geloof dat die polisie my wil vang, het alles oorheers. As ek iewers heen ry en ek sien ’n polisiewa, het ek geskrik en gedink hulle soek na my. Dan het ek mooi netjies probeer ry en stip voor my uitgekyk om nie aandag te trek nie. Een keer het daar ’n paar polisiemanne by ’n winkelsentrum gestaan en ek het gedink hulle maak planne om my vas te keer, toe gee ek pad. Op ’n plek het ek gaan sit en lank bitterlik gehuil.

Snags het ek sleg geslaap. Party nagte het ek in my donkerblou jas op en af geloop op die werf se inrit, tot buite op die sypaadjie. Op en af geloop, terwyl ek obsessief angstig voel die hele tyd. Die paranoia het erger geword en ek het my ma begin beskuldig dat sy gif in my kos gooi, want ek het soms dronkerig gevoel. En by tye het ek lank uitgevaar teen my twee broers wat alweer werkloos op my nek lê. Hulle het hulself toegemaak in hul kamertjie en seker benoud daar gesit, of my gespot, ek weet nie. (Hulle is nou al oorlede en ek het natuurlik berou en skuldgevoelens oor my tirades.)

My suster het probeer reël met die dokter dat ek iewers ingeboek word, maar ek het geweier om hom te gaan sien. Toe reël hy deur ’n mediese vriend dat ek as vrywillige pasiënt opgeneem word, maar dít het ek toe nog nie geweet nie. (Eintlik wou hy my laat sertifiseer, want paranoiagevalle bly glo nie lank in ’n inrigting as vrywillige pasiënte nie.)

Op ’n dag neem my vrees weer die oorhand en ek pak ’n koffertjie met die plan om te verdwyn. Ek gaan egter eers by my suster aan en sy bied aan om my na die hospitaal te neem. In een van die skaars helder oomblikke stem ek in.

Deur die nag ry sy met my na die inrigting, 800 kilometer ver.

Aanvalle van die verskriklikste vrees en angs bly my teister die eerste paar dae. Snags smeek ek dat hulle my toesluit in ’n sel, ek is bang die polisie ontvoer my. As die verpleër dan die sel sluit en wegloop, steek ek ’n stuk van ’n draadhanger in die sleutelgat dat hulle nie weer kan oopsluit voor die volgende oggend wanneer ek dit weer uithaal nie. Die pille wat hulle my gee, laat my uitgeput en rusteloos voel, maar dit help redelik gou en ek word kalmer, en ek besef die polisie is nie werklik agter my aan nie.

Eendag is ’n aantal van ons pasiënte en personeel in die sitkamer; ons staan daar rond, party sit. Daar sien ek toe onverwags ’n jong man wat ek een keer op TV gesien het ’n demonstrasie gee van ’n besonderse sportsoort.

“Wat maak jy hier?” vra ek hom.

Ek kan sien die verpleegster vererg haar vir my. Sy sit haar arm beskermend om hom en sê iets wat ek nou vergeet het.

“En wat maak jý hier?” vra iemand my.

“Algemene malligheid,” is al wat ek kan dink om te antwoord.

In die hoek sit ’n ou tannie op ’n stoel ingedoke, die kop hangend. Sy is depressief nadat haar man oorlede is. Maar sy skud soos sy lag toe sy my verduideliking hoor, laat sak toe gou weer haar kop en probeer depressief lyk. Agterna dink ek sy wil dalk nog nie erken dat sy al beter voel nie, dat die pille werk nie, want hoe kan jy lag as jou maat van soveel jare dood is?

Ek was toe nie lank in die hospitaal nie, net so ’n bietjie meer as twee weke, toe boek ek myself uit. Dit is nou al baie jare later, maar ek was nog nooit weer heeltemal reg nie, met depressie en dreigende psigose altyd; ek moet permanent pille drink. Ek moes ook vroeg uit diens tree en sukkel met ’n klein pensioen, maar kry darem hulp van familie.

Die huisdokter het gesê ek het hom gedrop deur vroeg uit te gaan, want hy het sy nek uitgesteek om my as vrywillige pasiënt aanvaar te kry.

Naamloos

Comments 4 Reaksies | 4 Comments
Delete Comment
avatar
Trienie
2013-02-19 @15:48

Naamloos!

Staan op aandag dat ek met jou kan praat...

Of hierdie comment van my geplaas gaan word weet ek nie. Jy, het baie meer hulp nodig as medikasie en 'n malhuis!  Die bybel noem vrees 'n "gees"  maar min sal dit erken of so met dit deel hier op aarde. Gaan sien 'n  bevryder wat die gesag en outoriteit van Jesus Christus op die skouer dra, en speel klaar met daardie gees wat jou so vashou! Jy sal daarna verras wees oor hoe maklik dit eintlik plaasgevind het ...

Ek is heel ernstig en bedoel dit opreg, omrede ek weet hoe hierdie dinge werk en met baie mense soos jy te doen kry. My hart bloei vir julle.

Sterkte - ek hoop jy vind iemand naby jou...

Trienie Mahne

Delete Comment
avatar
Maya
2013-02-20 @09:38

Is jy nou ernstig, Trienie?  Meen jy dat 'n bose gees die lewe van die arme naamlose man al beheer vir die laaste hoeveel jaar?  Indien wel, op watter manier sou jy se sal die "gees" benader moet word sodat hy rustig die pad kan vat?  Ek sukkel self soms met hierdie tipe gevoelens en sou jou metode graag wou probeer.  As jy my help kan ons stap vir stap deur die proses gaan.  Jy vertel my wat ek moet doen, en elke dag sal ek terug rapporteer aan jou.

:-)

Maya

Delete Comment
avatar
Hans
2013-02-20 @17:12
Manies en geestesuitdrywing??? 

 Die ou skryf oor klassieke skisofrenie! As skisofrenie na soveel eeue se chemiese navorsing, nog nie met elektriese skokterapie uitgedryf kan word, moet Trienie ons tot in Donker Middeleeue terugsleep of eeue voor dit, toe gate geboor was in skisofreniese mense se skedels, om 'bose' gees te bevry uit gevangenskap van skedels??? Nee o bliksem Trienie, jy maak my bang met jou 'geloofgenesing'! Van die arme bliksems in 'n nabygeleë plakkerskamp, waar 'n 'pastoor' met 'geloofgenesing' teen duisende rande bedrywig was, was daar soos honde aan kettings om nekke vasgeketting in shacks in die somer!!!

Dagga bring paranoia aan en misbruik van enige substans het newe-effekte.  Soos om vir 'trein' op snelweg te wag om verby te gaan?

Hans
Delete Comment
avatar
George B
2013-02-25 @10:56
Naamloos, ek is absoluut beïndruk met jou en ek probeer nie om jou heuning om die mond te smeer nie. Die verskil tussen jou en ander mense met psigiatriese probleme is jou eerlikheid. Ouens in psigiatriese hospitale word gewoonlik (dalk amper altyd) gekenmerk deur hulle ontkenning van die werklikheid. Jy kyk jou paranoia in die oë en spel vir ons presies uit hoe sake staan. Goed, jy dink jy het 'n ernstige fout gemaak deur die hospitaal na 14 dae te verlaat, maar dit lyk nie vir my na die krisis wat jy dink dit is nie. My vermoede is dat jy eintlik nie sleg aangaan nie, maar soos uit jou brief blyk is daar ook steeds 'n probleem. Soos ek die posisie hier van die wal af beskou – en ek is nie 'n psigiater of 'n sielkundige nie – lyk dit of die medikasie wat jy neem nie voldoende is nie. Gaan gesels weer met die dokter en stel jou probleem sonder om sy tyd te mors. Ek dink met effens hoër medikasie sal jy spoedig beter voel en die probleem kan miskien selfs opgelos word. Sover dit jou siening van hospitaalbehandeling betref moet jy onthou dat die dokters gewoonlik geen ander keuse het as om sulke pasiënte vir 'n hele ruk in die hospitaal te hou nie, aangesien dit mense is wat nie wil saamwerk nie. As jy by die huis is en saamwerk kan die behandeling daar geskied.

Die ander probleem is natuurlik geld. Indien nodig moet jy na die plaaslike kliniek gaan. Die gehalte van hierdie dienste verskil aansienlik van provinsie tot provinsie en van dorp tot dorp, maar as jy bereid is om te wag en geduld gebruik mag dit ook 'n oplossing wees en as jou inkomste werklik laag is, betaal jy niks nie.

Sterkte Naamloos, hou moed en kry vir jou 'n lekker skuilnaam waarmee jy in die toekoms jou sê kan sê – 'Naamloos' klink net te negatief – jou vermoë om jou saak te stel en jouself uit te druk is beslis bogemiddeld! Groetnis. George

N.S. Dis seker nie nodig om dit te sê nie, maar aangesien my reaksie laat is moet Naamloos seker per e-pos daarvan in kennis gestel word. Sterkte met julle veeleisende werk.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address