Die groot verdrukking is ’n waarskuwing wat die HERE Jesus Christus gegee het tydens SY Profetiese Rede (nie die Bergpredikasie soos sommige dink, nie). Mattheus 24 word as hoofstuk hoofsaaklik aan hierdie Profetiese Rede gewy, welke die HERE aan SY dissipels alleen (Mattheus 24:3) openbaar het.
Die tribulasies van die Profesie strek oor ’n lang tydperk, oor die verloop van eeue, beginnende by die beleg van Jerusalem in ongeveer 70 nC, toe die Romeine onder die generaal Titus, vir Jerusalem en veral die tempel, in puin gelê het (Mattheus 24:1-2) en derduisende Jode gedood het, presies soos die HERE dit openbaar, het. Dus, ongeveer 40 jaar na die HERE hierdie openbaring aan die dissipels gedoen het, het die eerste fase – die verwoesting van Jerusalem en die tempel – plaasgevind en dit is ’n saak van opgetekende geskiedenis.
Daarna sal volg, die grootskaalse internasionale onrus en natuurrampe wat sal toeneem in intensiteit en vir baie lank sal duur (Mattheus 24:6-7). Ons is vandag tans in daardie fase. Geskiedenis rekords toon die toename van gebeure sedert die eerste eeu, tot die grootskaalse faksie oorloë, internasionale onrus en terrorisme en die verdrukking van Jode en gelowiges (wat met Nero begin het en tot so onlangs as Hitler voortgesit is) en steeds in sommige Moslem lande en steeds in plekke soos Pakistan en Iran (Islam), Noord Korea en Sjina (beide ateïstiese regerings) plaasvind, asook een aardbewing en dergelike natuurramp na die ander (wat sedert die eerste eeu geleidelik toegeneem het in frekwensie), valse leringe word verkondig (sien maar die evolusie, standaard kosmiese model, verskillende dwaal religieë en die valse profete daarvan) en met die advent van sekulêre humanisme en uitgebreide agnostisisme, die toename van gruwels en ongeregtigheid wêreldwyd en mense se liefde vir mekaar wat verkoel, die respek vir lewe wat eenvoudig taan (aborsies, sogenaamde ‘genadedood’, grootskaalse verkragtings en kindermoord, ens) en haat wat in intensiteit toeneem en mense mekaar toenemend verraai en dié dinge sal in frekwensie en intensiteit toeneem, soos ons dit sien gebeur. Soos die Woord sê, dit is maar die begin van die smarte (Mattheus 24:6-12).
Maar daarmee saam het die HERE, destyds toe die Evangelie van die HERE Jesus Christus meet ’n baie beperkte en gelokaliseerde Jerusalem-en-direkte-omstreke platform had, geprofeteer dat SY Evangelie wêreldwyd verkondig sal word in elke land aan elke nasie (Mattheus 24:14) - en presies dit het so gebeur en dit is vandag ’n saak van opgetekende geskiedenis – want die HERE Is die Énigste Waarheid. Dit is nodig sodat geen nasie die verskoning het dat hy nie geweet het of ooit van die HERE gehoor het, nie, sodat die kaf van die korrels geskei kan word (Maleagi 4:1; Mattheus 3:12; 13:30); die mens van sonde onderskei kan word van die mens van geloof (Romeine 6:6; 2 Tessalonisense 2:3).
Wat voorlê is die Profesie soos vermeld in Mattheus 14:15 en verder. Die heiligdom waarin die bose sal staan, waarna verwys word, is nie net die fisiese tempel nie, maar inderdaad ook die liggaam van die mens, wat óók die tempel van die Heilige Gees God behoort te wees (1 Korinthiërs 6:19). Dit sien ons vandag, hoe mense vandag spiritueel huisvesting bied aan die bose, die antichris, die dwaalleraar, die verloënaar van die HERE. Dus, die “verdrukking van daardie dae” – die groot tribulasies - waarna in Mattheus 24:29 verwys word, is nog toekomstig, naamlik dié waarna verwys word in Mattheus 14:15; Daniël 9:27 en 2 Tessalonisense 2:2-4 en wat nog sal kom, ná die mens van sonde (diegene wat swig voor die spirituele aanslag – dwaalleer verkondigers, valse leraars, agnostici, ens.) ten volle geopenbaar is. Dit is ook die tyd wanneer die mens van sonde, die ongelowige, die spirituele vyand van God, direk getref sal word. God stel egter die HERE se wederkoms uit, omdat HY algar die geleentheid gee om te besin (2 Petrus 3:4-9) - selfs om die tribulasies daarvoor te gebruik, want dié wie die HERE opreg vir die regte rede (die erkenning dat Hy die énigste ware en almagtige God is en die enigste Redder) aanroep, sal verlos word.
Die kataklismes waarna in vers 29 verwys word, verwys na ’n omvangryke gebeurtenis van astronomiese én spirituele proporsies. Trouens, die astronomiese gebeure is in reaksie tot die hewige Spirituele gebeure wat in die hemele plaasvind, wat die koms van die HERE (Mattheus 24:30-31) voorafgaan en vergesel. Die vallende sterre waarna verwys word, is enersyds ’n verwysing na die letterlike val van spirituele wesens (gevalle engele) uit die lug na die aarde om hulle kataklismiese handelinge te verrig en die inwerkingstelling van hulle oordeel te ontvang (Openbaring 9:1; 2 Petrus 2:4) – hulle word dikwels na verwys as ‘sterre’ of verskietende sterre (Daniel 8:9-11; Jesaja 14:12; Lukas 10:18) - asook die feit dat die lumineuse kosmiese liggame, die fisiese sterre, asook ons son, geskud sal word en hulle luminositeit verloor weens ’n digte, donker stofwolk (Jesaja 13:10; 24:23; Esegiël 32:7; Joël 2:10, 31; 3:15; Amos 5:20; 8:9; Sefanja 1:15; Handelinge 2:20; Openbaring 6:12–17; 8:12). Na alles, dit is God wat aan hulle die bestralingsenergie verleen om te wees hoe hulle is, soos God energie verleen aan alles wat lewe.
Daar moet in gedagte gehou word dat die openbaring van die HERE deur Hom aan die dissipels as mense gedoen is in die idioom en die taal wat hulle kon verstaan.
Die verwysing na Seun van die mens is ’n verwysing na die unieke Goddelikheid van die HERE Jesus Christus en die feit dat HY uit die skoot van ’n mens, ’n vrou, die aarde binnegekom (geïnkarneer) het. Die profeet Daniel het al ongeveer 530 vC só na die HERE Jesus Christus verwys aangesien dit só aan hom geopenbaar is (Daniel 7:13).
Die wederkoms van die HERE op die wolke, waarna in vers 30 verwys word, word ook na verwys in Daniel 7:13-14 en moet in daardie konteks verstaan word en dui op die feit dat die HERE dan uit ’n sigbare newel van die hemel te voorskyn sal kom, dieselfde soort newel wat God gebruik het om die volk daagliks in die woestyn te begelei en beskerm (Eksodus 19:9; 14:20; 16:10). Hierdie spesiale newel dui kenmerkend op die teenwoordigheid van God en sal die ganse aarde omring en oordek – dit het niks te make met reënwolke soos ons dit ken, nie. Die Heerlikheid van die wederkerende HERE Jesus Christus sal eweneens die aarde omring en Sy Heerlikheid sal oral tegelykertyd sigbaar wees en niémand sal daaroor twyfel nie en dit sal dáárom, juis nié gelokaliseer wees, nie – die HERE waarsku juis teen só ’n valse, bekrompe karnale opvatting van ’n gelokaliseerde wederkoms (Mattheus 24:23-27).
Die ‘geslag’ waarna in vers 34 verwys word, verwys nie na ’n geslag (manlik of vroulik) nie en ook nie na ’n enkele generasie, nie, maar dui op opvolgende generasies mense in ’n tydperk van kenmerkende gebeurtenisse (die Griekse woord ‘genea’ word daarvoor gebruik) – of soos ook daarna verwys word, ’n eeu – dit wil sê, die eeu (tydperk, generasies) van verval en sonde waarin die mens van sonde geopenbaar sal word direk voor die wederkoms en terselfdertyd verwysende na die verganklike net voor die oorgang na die onverganklike (Mattheus 12:32; Markus 10:30; Lukas 18:30; 20:34-35 ter demonstrasie). Die HERE Jesus Christus se aanwending van die begrip geslag word duidelik gedemonstreer in SY aanwending daarvan in soortgelyke konteks in Mattheus 11:16; 12:39, 41-42, 45; 16:4; 17:17, 21 ens. Die duur en doel van hierdie ‘geslag’, word bondig verduidelik in 2 Tessalonisense 2:3-4. Dit is inderdaad ook presies wat ons sien gebeur. Dit is die tyd waarin die kaf van die korrels geskei word en waarna die HERE Jesus Christus verwys in Mattheus 10:34-42.
Elders probeer die agnostici met hierdie kwessies deel, nadat die ateïs Panda sy onkundige interpretasies gelewer het en sy genooide agnostiese ‘kommentators’ probeer reageer – van Cornelius se waansinnige verwysing en insinuasie van aliens in ruimteskepe en OVV’s - hy kon dit darem ook regkry om ’n gelowige se weergawe van ’n inspirasie te papegaai, maar sonder om die implikasies te begryp na aanleiding van sy eie waansinnige snert oor OVV’s en ruimteskepe, by Chris se deurmekaar geskarrel verby waar hy vashaak by die kwessie of die HERE werklik bestaan het en bestaan tot by Angus wat maar net nie van die mitologie en fabelwêreld waarin hy lewe, kan ontsnap nie en alles Gods deur daardie bril probeer interpreteer. Dit is kostelik om hulle insiglose geskarrel in alle rigtings gade te slaan, maar inderdaad terselfdertyd tragies dat hulle so insigloos is, natuurlik die resultaat van hul agnostisiteit deur verwydering van God.
Groete
Kobus de Klerk