Dolf,
Geruime tyd reeds vaar jy teen my uit so asof ek jou iewers sou wou ontwyk met dit wat ek onder die Goeie Nuus verstaan. Ek mag verkeerd wees, maar dit skyn tog dat jou aanvanklike aandrang daarop dalk iewers uit een van jou vele woernale onder 'n ander se bydraes gebore is. Dolf, as dit wel so is mag dit dalk as 'n groot skok tot jou kom, maar ek volg nie juis die gedweep deur jou of Kobus de Klerk onder ander belangstellendes se bydraes nie. Dus, indien jy my wel opreg sou wou bevraag stel dit asseblief in die eerste plek onder een van my onlangse bydraes of maak dit 'n "volledige bydrae" (soos ek dit self hier doen byvoorbeeld).
Nietemin, ek antwoord jou.
Jare lank reeds deel ek my getuienis hierin onomwonde. Lees byvoorbeeld hierdie bydrae (let ook asseblief die datum daarvan).
Soos daar geskrywe staan: Want terwyl ek (Paulus) rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan 'n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek. (uit Handelinge 17:23-31)
Ja, dis hoe Paulus die Goeie Nuus aan die Grieke oorgedra het - Agnostos Theos; die Onbekende God - ons Almagtige Lewende Skepper, die onbepaalbare algebraïese plekhouer in ons almal se harte wat ‘n regte mens vir ons geword het. Paulus het die Grieke se altaar aan die Onbekende God - die God van alle gode - die een en enigste God gewy. Nie net as nog ’n god nie, maar as die enigste God wat onse aanbidding waardig is.
Paulus en Petrus is by verskeie geleenthede deur die Heilige Gees gelei om so ter wille van die Evangelie, te word soos die Grieke, Mohammedane, Hindoes, en wie ookal hulle begeester is om dit mee te deel. Die Heilige Gees bewerk self elkeen wat die Goeie Nuus hoor se hart agterna.
In die genade van God, deurkruis ek ons land en besoek gereeld ook ander se plekke van aanbidding. Daarom kan ek eerstehands getuig dat onse God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is en wie HERE van hemel en aarde is, in menige taal en kultuur gedien en aanbid word.
Daarby; die Jode, Moslems en katolieke aanbid elkeen die God van Abraham. Abraham het weer sy seën by Melgisedek, die Koning van Salem (Jerusalem in daardie tyd) ontvang.
Dit word algemeen deur kundiges in al drie Abrahamitiese godsdienste aanvaar dat die Koning van Salem, 'n Oosterse manier van aanbidding en diens tot ons Almagtige Lewende Skepper, aan Abraham gebring het. Die Oosterse godsdienste in daardie tyd soos byvoorbeeld die Hindoeïsme, word almal uit die Vedas bedien.
Hierdie is slegs 'n enkele voorbeeld van hoe intiem ons almal se harte saam in ons bestaan en aanbidding van ons Skepper geweef is.
Dolf, jy vra ook: As ek iemand teregwys (met ander woorde “die regte rigting wys”), haat ek daardie persoon of help ek daardie persoon? Laat ek dit só vra: As jy sien iemand is verdwaal, los jy daardie persoon net óf moedig jy hom aan om voort te gaan op sy verdwaalde pad (heng, klim jy per geleentheid saam in die motor met hom en lei hom “liefdevol” voort op die verdwaalde pad?) óf wys jy hom wat is die regte pad sodat hy nie verder verdwaal nie? Só, wanneer is dit haat en wanneer is dit liefde?
Uit my antwoord hierbo behoort dit minstens duidelik vir enigeen te wees dat jy geen idee het waar ek myself op my lewensweg bevind nie. Jy doen dan nie eens die moeite om die letterlik honderde bydraes deur my na te lees nie. Anders as julle verskuildes soos Kobus de Klerk, is my profiel openbaar. Jou "rigting" wys is dus erg opdringerig en verwaand. Jy is in geen posisie om ander as "verdwaal" te wil neerhaal nie. Die hoogmoed en eiewaan waarmee jy en Kobus de Klerk julle aanmatig oor ander se harte, is dus inderdaad haat.
Dolf, jy vra ook; Wie het uit die hemel gesê: “Dit is My Seun in wie Ek ‘n welbehae het”, toe Christus gedoop is? (Het Hy vir Homself gesê Hy het ‘n welbehae in Homself?). Én vir wie het Christus gebid in die tuin van Getsémané? (Het Hy vir Homself gebid dat die beker by Hom moet verbygaan en dat nogmaals Sy wil moet geskied en nie Sy eie nie?) Én vir wie het Christus uitgeroep aan die kruis: “My God, My God waarom het U my verlaat”? (Het Hy aan Homself gevra hoekom Hy Homself verlaat het?).
Die antwoord hierop is dringend aan jou, en ook menige ander Calvinis wat al hieroor gewonder het. Jul verwarring is die direkte gevolg van die gereformeerde en algemene intellektualisme van die Bybel. Die sogenaamde "spirituele intelligentes" soos byvoorbeeld jou hoëpriester Kobus de Klerk op die werf, analiseer die Bybel om elemente te bepaal wat hom pas. Daarna voer hy dit in 'n geheel terug om ander te beïndruk. Dis beslis suksesvol gereken aan al die naïewelinge soos jy wat dan wonder hieroor en ander wat selfs sy algemene plagiaat in 'n boek wil lees.
Ek neem 'n spesiale ompad om by die antwoord te kom. Die doel daarvan is ook om God se verwysing na "ons" elders in die Bybel so saam te vat.
God is in alle opsig onbepaalbaar en onbegryplik vir ons logika as mens is. God kan sekerlik en inderdaad aan Homself vra hoekom Hy Homself verlaat het. Die mees belangrikste egter is die feit dat God tydens sy menswees op aarde, TEN VOLLE mens was. As die mense geweet het Hy is God, wie sou Hom kruisig? Selfs na Jesus Christus onse HERE se Hemelvaart het diegene met eerstehandse kennis oor Sy verheerliking, geswyg en hulself afgesonder. Die Boodskap dat Jesus Christus inderdaad God is, het eers met die uitstorting van die Heilige Gees veertig dae later gekom!
Jesus Christus onse HERE, het Homself onder meer ook op Psalm 82 beroep. Soos daar geskrywe staan: Ek en die Vader is een. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My? Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor 'n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat 'n mens is, Uself God maak. Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? (uit Johannes 10.) Lees ook gerus hierdie bydrae vir meer agtergrond oor my beskouing van Psalm 82.
Die Bybel moet dus wel in 'n bepaalde redeverband gelees word. Die groei van die verhaal omtrent die menswording van Jesus Christus onse Ewige Vader, behoort van Sy geboorte uit die Moeder van God (die Heilige Maagd Maria), tot by die uitstorting van God onse Moeder (die Heilige Gees in ons harte), in 'n bepaalde tydsvolgorde begryp word. Jesus Christus onse HERE het as mens aan die Kruis gesterf en is na Sy opstanding uit die dood, as GOD in die Hemel opgeneem. Jesus Christus onse HERE gaan ook as ons almal se Almagtige Lewende Skepper weer terugkom - nes Hy verheerlik is voor Sy dissipels!
Noudat jy my antwoorde op jou vrae ken, sal ek regtig net 'n eenvoudige "ja, Jesus Christus is GOD" of "nee, Jesus Christus is nie GOD nie", ten hoogste van jou respekteer en waardeer.
Mag Jesus Christus onse HERE, self die Tuinier in 'n ieder se hart wees wat hier lees.
Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,
Cornelius Henn