Webseminare | Web seminars

 
Selfbeveiliging: Staat beskerm nie

’n Vriend van my loop saans met ’n byl deur die strate van Stellenbosch. Hy bly maar ’n blok of twee weg van die Groen Roete, die roete waarlangs universiteitsbeamptes veiligheidspatrollies uitvoer. Twee maal al moes hy ’n struikrower met die byl verjaag.

Daar is diegene wat daarop aandring om dit vir goeie Suid-Afrikaners moeiliker te maak om wapens te besit – en van ongelukkige voorvalle van geweld met gelisensieerde wapens gebruik maak om vuurwapens uit die hande van gewone burgers te hou. Die probleem is egter dat as byle en ander handwapens verbied sou word, sou my vriend daarsonder moes klaarkom in sy verdediging teen die aanvallers wat hulle nóg aan die verbod op hul geweld, nóg aan die wapenverbod sou steur.

Soos wat my vriend homself beveilig, so beveilig Suid-Afrikaners hulself toenemend, omdat die polisie blykbaar nie daarin slaag nie. Dit kom voor asof die Suid-Afrikaanse staat ten opsigte van sy mees basiese bestaansrede Suid-Afrikaners faal: dit verseker nie die redelike handhawing van openbare orde en veiligheid nie. Nadat belasting nietemin daarvoor afgetrek is, moet Suid-Afrikaners wéér betaal om hulself en hul dierbares te beveilig.

Laat ons kyk na staatsbeveiliging en die Suid-Afrikaanse misdaadsituasie, en dit dan vergelyk met Suid-Afrikaners se selfbeveiliging.

Die staat bestee ongeveer R1 uit elke R10 van sy begroting van meer as R1 biljoen aan openbare orde en veiligheid. Dit sluit die polisiediens, howe en korrektiewe dienste in. In die afgelope 18 jaar het die begrotingstoewysing met iets oor die 10% per jaar toegeneem – beduidend hoër as verbruikersprysinflasie.*

Voorvalle van geweldsmisdaad het in die jare 1990 tot vroeë 2000’s skerp toegeneem, totdat daar rondom 2002/3 ’n afplatting begin ontstaan het. In 2011 was die voorkoms van geweldsmisdaad – in soverre dit uit amptelike statistieke van die SAPD blyk – in absolute getalle steeds ietwat hoër as in 1994/5, maar voorvalle in verhouding tot die landsbevolking het wel afgeneem.

Waaraan kan ’n mens die gunstige tendensverandering in geweldsmisdaadsyfers toeskryf?

Laat ons vir ’n oomblik die moontlikheid dat amptelike misdaadstatistieke dalk die werklike voorkoms daarvan onderskat, buite rekening, dan bly daar minstens twee belangrike moontlikhede oor: die openbare orde en veiligheidstelsel het dramaties verbeter en/of Suid-Afrikaners het beduidende selfbeveiligingstappe gedoen.

Ek gaan die eerste moontlikheid as gemene saak afmaak: ek sien geen rede om ’n dramatiese verbetering oor die laaste twee dekades in die openbare orde en veiligheidstelsel te vermoed nie en meen dat gewone Suid-Afrikaners se dade van selfbeveiliging daarvan getuig dat hulle met so ’n beskouing saamstem.

Wat is die dade van selfbeveiliging waarvan ek praat?

Tussen 2001 en 2011 het die aantal aktiewe privaatveiligheidsbeamptes meer as verdubbel, vanaf sowat 190 000 tot meer as 410 000. Dit staan in skrille kontras tot die sowat 156 000 aktiewe polisiebeamptes in Januarie 2013, en beteken dat daar vandag byna drie aktiewe privaatveiligheidswagte vir elke polisiebeampte is. Dit val op dat die toename in privaatveiligheidswagte saamgeval het met die omkeer in die stygende tendens van aangetekende geweldsmisdaad wat vanaf 2002/3 plaasgevind het.

Privaatsekuriteit is geen goedkoop maatreël nie, en dit is ook redelik om te vermoed dat die uitbreiding in die privaatsekuriteitsbedryf veel meer as veiligheidswagdienste behels het. Dit sou eie wapenlisensies, pepersproei, elektriese omheining, versterkte traliewerk, geslotekring-kamerastelsels, alarmstelsels, palissadeheinings, voertuignasporingstelsels, bykomende waghonde, veiligheidshekke en dies meer kon insluit. Om ’n baie beperkte idee van die privaatkoste van misdaadbekamping te gee: in ’n metropolitaanse gebied kan dit ’n middelklas, voorstedelike inwoner maklik ’n addisionele R10 400 per jaar kos net aan ’n gewapendereaksiediens, voertuignasporingstelsel en huisinhoudversekering.

Dinge wat nie geredelik in geld beprys kan word nie, maar wat tog koste dra, sluit in om minder te gaan wandel, sielkundige trauma ná of in afwagting van ’n misdaadvoorval, en die verlies van persoonlike items in diefstal, om maar net enkeles te noem.

Dade spreek harder as woorde: die praktyk van selfbeveiliging word toenemend Suid-Afrikaners se betroubaarste beveiliging. Meer nog: in die mate waarin sommige burgers die finansiële vermoë  het om omvattende selfbeveiligingmaatreëls te tref, bevry dit die polisie om hul beperkte hulpbronne aan te wend op plekke waar mense minder gereed is om selfbeveiligingstappe te doen. Dit is dade van selfbeveiliging wat Suid-Afrika ’n veiliger plek vir almal maak – en in hierdie proses behoort hulle nie met onnodige wetgewing wat hul selfverdedigingsvermoë in die wiele ry, belas te word nie.

Maar maatreëls om Suid-Afrikaners se selfbeveiliging te vergemaklik behoort selfs verder te gaan as die vermyding van swak wetgewing. In die mate waarin Suid-Afrikaners hulself beveilig – in die mate waarin hulle dus op hulself die verantwoordelikheid neem waarvoor belasting in die eerste plek gehef word – behoort hulle daardie belasting terug te kry.

Soos wat eie mediese sorg tans reeds belastingkorting meebring, moet Suid-Afrikaners wat self misdaad beveg, ook vir belastingkorting in aanmerking kom. Dit is hierdie beroep wat Solidariteit op minister Pravin Gordhan gedoen het in aanloop tot sy 2013-begrotingsrede. Dus: belastingkorting vir misdaadbestryding.

Anders bestaan die vreemde situasie dat Suid-Afrikaners belastingkorting mag kry om hulself gesond te hou, maar nie om hulself aan die lewe te hou nie.

* Alle syfers in hierdie dokument kom uit ’n onlangse verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut, hier beskikbaar.

– Piet le Roux is ’n senior ekonomiese navorser by Solidariteit.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Keer terug na die indeksblad van die webseminaar om nog bydraes te lees.

Comments 2 Reaksies | 2 Comments
Delete Comment
avatar
Paul Barnard
2013-02-19 @22:47
Ek stem. Dis 'n goeie redenasie van Piet le Roux. In 'n land waar private belange 'n toenemende deel van die staat se pligte uitvoer (b.v. onderwys, gesondheid, polisieering en vervoer) maak dit sin vir die staat om by te dra tot die koste d.m.v. belastingtoegewings. Die staat wen ten minste op twee maniere. Eerstens word die vraag na publieke dienste verminder, en dus die las op die belastingbetaler. Tweedens, ons regering is onbeholpe t.o.v dienslewering - dis geen geheim nie. Die privaatsektor lewer dienste op n meer doeltreffende wyse. Dus is dit beter dat die regering met private belange "kontrakteer" (m.a.w. hul private besigheidsbedrywighede te subsidieer) vir die lewering van publieke dienste as om die dienste self te lewer.
Delete Comment
avatar
hans onrust
2013-02-21 @19:14
Dit lijkt een spiraal. Het gaat nu al lang om" te veel betalen om leven te blijven" als individu maar zeker ook als land. 
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address