Saartjie se NG Kerk-storie
RSG se Saartjie-gesprek van vanoggend was heel interessant. Sy het vanuit haar kerk weggeloop en na iets anders emigreer. Loop die NG Kerk werklik leeg?
Ek glo nie hierdie tendens kom net in die NG Kerk voor. Die NG is maar net ’n voorbeeld van ’n kerk wat met jare saam strukture en dogmatiese hekke om hulself opgerig het. In eenvoudige Afrikaans noem ons dit – ’n kerk wat ’n ‘werkende besigheid’ geword het.
Ekself onderskei 2 tipe kerke: Die professionele kerk of die Geesvervulde kerk. Die professionele werk streng volgens strukture om enige ‘wanorde’ uit te skakel, terwyl die Geesvervulde kerk staatmaak op die werking van die Heilige Gees wat gesien word as die Hoogste Gesag asook Hoof van die gemeente.
Na jare loop ALLE kerke die gevaar van hekke oprig of strukture rondom hulself opbou. Subtiel ontstaan dit vanuit kerkraadvergaderings of voorstelle vanuit hoofkantoor. Dit is die plig van die leiers en leraar van ’n spesifieke gemeente, om teen hierdie ‘kankervirus’ te waak. Strukture kortwiek die werkinge of vry vloei van die Gees in ’n gemeente. Vandag is daar die Liberalistiese kerk wat besluit het teen alle strukture en vryheid verkondig. Ek glo dit kan die pendulum vir die algemene kerk weer laat terugswaai.
Alhoewel ek my eie kerk het, is ek betrokke by verskeie interkerklike aksies. Hierdie maandelikse saamtrek van groot groepe mense, gelowiges en ongelowiges, blyk tans vir die kerk ’n oplossing te bied. Daar word glad nie denominasie gepraat, en word die onderskeie lidmaat weer teruggestuur na sy dorp en kerk. Hier kan katoliek, NG, liberalis, satanis, ens saamkom en die waarheid van die woord ontdek asook die verrese Jesus Christus persoonlik ontmoet. Die eintlike werk van die kerk! Wedergeboorte vind dan spontaan plaas, waar van hulle al 50 jaar in die kerk sit met geen wedergeboorte ondervinding.
Rade en vergaderings is ’n moet, ekself neem aan vele deel. Maar as die finale besluit nie onderworpe is aan die toestemming van die Heilige Gees, wat se teenwoordigheid ’n werklike Persoon moet wees by enige van hierdie vergaderings, broei daar gevaar uit en kan daardie kerk maar sy deure sluit! Gewoonlik wanneer ’n rooilig vir my flits op sekere besluite, dan onderskei ek toekomsgevaar. Ons moet altyd bewus wees dat slegs die Gees van God die toekoms ken!
Lidmate is op soek na ’n lewende gemeente, maak nie saak of dit NG, evangelisties, charismaties, pinkster, liberalisties ens is, waar hul in ’n vurige persoonlike liefdesverhouding met God kan ingaan. Daar waar mense nog vir mekaar omgee, en dit nie oor tiende gaan nie.
Saartjie se storie van vanoggend het dit goed saamgevat. Dit gaan nie meer oor politiek, aborsie, gayskap, ekonomie of militarisme nie. Eintlik vat die woord van God dit mooi saam: “Soek eers die Koninkryk van God, en die res sal vir jou bygevoeg word.” – maw, na ’n persoonlike ontmoeting en verhouding met God, sal die res van die dinge soos politiek, militêre aksies, ekonomie, gay verhoudinge, aborsie, ens spontaan herstel en gesond word.
Jan Rap het groot waarheid in sy brief geskryf omtrent ’n korrekte ‘tipe regering’. ’n Christelike regering wat korrekte waardes en standaarde daar stel, is al oplossing vir ons huidiglik in SA! Want ’n politieke leier wat ’n christen is en in ’n lewende verhouding met sy God staan, het ’n ander gesindheid wat omgee vir die skepsels van die Skepper. Ongeag ras.
’n Kerk mag nie sy greep op mense verloor. Die NG kerk sal haastig na herlewing moet soek en na hulle geestelike voedsel moet kyk. Reformasie sal moet plaasvind. Nie meer gaan dit in die kerk oor wat die korrekte doop of liedere is wat gesing mag word. (NG Kerk, smyt uit die dooie pyporrelspel, kry jou jongmense bymekaar, en bou vanuit hulle ’n lofprysingspan en voer allerhande musiekinstrument in en begin die Here te loof en prys op die toppe van julle stemme! – sorry, hierdie is net my eie voorstel, maar is dit al manier hoe die NG Jeug herstel sal word!) Jongmense is moeg vir institusionele magspeletjies, kerkordes, kommissies wat verwar en doodsheid kanoniseer. Moet ook nie die jeug se intellektuele uitdagings onderskat nie. Sekere Hervormde antwoorde is uitgedien. Wȇreldklas Christen Bybelwetenskaplikes se nuutste navorsing bring enorme geloofwaardigheid tans. ’n Nuwe uitdaging vir die geloof!
Die oplossing? Word ’n lewende lidmaat in ’n lewende kerk wat ’n lewende God dien!
Trienie Mahne