KlankKas-onderhoude | Music Interviews

 
Rozanne Gewaar en die klanke van Kerkstraat

Rozanne Gewaar is ’n liedjieskrywer en sanger wat in Chicago, Amerika, woon. Sy het in 2012 ’n Afrikaanse album (En Met Tyd) én ’n Engelse album (Songs From Church Street) vrygestel. Sy beantwoord enkele vrae oor haar loopbaan en dié albums.

Goeiedag, Rozanne. Hoe's dinge?

Lekker dankie, Henry! Spierwit, stil, dis sesuur op ’n Saterdagmiddag en die grond en lug buite lyk so min of meer dieselfde vanaand.

Eerstens: jy het jou weg gevind van grootwordjare in Knysna tot waar jy nou in Chicago woon. Hoe het dit gebeur? Hoe het die ontwikkeling van jou musiek met dié geografiese skuiwe gepaard gegaan?

Daar was nie ’n verskriklike meesterplan nie – ek het gaan swot, en toe ’n werksgeleentheid in die VSA gekry, en gedink ek sal vir ’n jaar of twee dit kom probeer. Ek het gedink miskien is dit soos diensplig van ouds: almal moet ’n rukkie elders gaan woon. Ek het baie langer gebly as wat ek verwag het. In terme van musiek het die tyd hier vir my blootstelling gegee aan baie mense en musiek – wonderlike mense wat vir ’n leeftyd lank “kleinmusiek” maak sonder om noodwendig erkenning te kry daarvoor, en groot sterre wat ek van naderby kon bestudeer by shows. Die gespletenheid oor kontinente bring natuurlik sy eie perspektief na mens se lirieke en die dinge waaroor jy sing.

Jy het in 2012 ’n Afrikaanse album, En Met Tyd, vrygestel, asook ’n Engelse album, Songs From Church Street. Hoe het die besluit en proses gebeur om twee albums in twee verskillende tale gelyk vry te stel?

En Met Tyd was die “regte album” wat vir ’n lang tyd in die pyplyn was. Ek en Francois het verskillende benaderings uitprobeer in terme van begeleiding en die opneemproses. Die idee was om ’n klomp van my ouer Afrikaanse liedjies te deel, sodat ek kon aanbeweeg en fokus op nuwe goed. Tussendeur het daar nog deurgaans nuwe liedjies aangemeld, en ek het in Oktober 2011 net ’n paar vinnige studiosessies gedoen om liedjies van die vorige twee maande neer te lê, as ’n geskenk vir van my songwriting vriende. Ek het nie regtig beplan om dit as ’n album bekend te stel nie. Toe ek goeie terugvoering ontvang, het ek so oor ’n naweek gou ’n albumontwerp aanmekaargeslaan. So miskien is Songs From Church Street die “love child” terwyl En Met Tyd, wel, sy goeie ou tyd gevat het!

In dieselfde asem: die temas wat ter sprake is in jou lirieke en sangstyl in onderskeidelik die Afrikaanse en die Engelse musiek oorvleuel grootliks. Hoe benader jy die skryf van ’n Engelse lied en ’n Afrikaanse lied? Hoe besluit jy watter idees of stories moet in watter taal oorvertel word?

Ek dink my nie dood oor die benadering tot ’n liedjie nie. Ek voel my weg in hom in, en party kom in Engels, ander in Afrikaans, en dan maak ek hul klaar soos hulle gekom het. “Karoo” sal dalk lekkerder gewees het in Afrikaans, maar nou ja, hy’t in Engels geland. Miskien is daar ’n onderliggende besluitnemingsproses wat ongesiens gebeur, waar mens in ag neem aan wie jy ’n storie of frase rig, of waar jy ’n debat in jou kop met ’n melodie voortsit, maar ek kan nie onthou dat ek al gedink het “Hierdie moet in Engels, of in Afrikaans wees” nie. Ek het maar net begin skryf en dit het reg gevoel.

Met die eerste luister van veral die Engelse album herinner dit nogal sterk (op ’n baie goeie manier!) aan Joni Mitchell, Joan Baez en dies meer. Wie is jou invloede ten opsigte van die skep van onderskeidelik die musiek en die lirieke?

Sjoe, dankie! Ek hou van die storievertellers, hoewel ek self minder stories vertel as wat ek wil. My kleintyd-gunstelinge is mense soos Suzanne Vega en Billy Joel en Natalie Merchant. Leonard Cohen het seker ’n klein shrine in elke liedjieskrywer se huis. Hier is die VSA het ek meer na mense soos Patty Griffin, Over The Rhine begin luister, en ook met nuwe ore na van die musiek van Valiant Swart en Karen Zoid. Mense soos Amos Lee het ’n manier om ’n woord om jou hart te draai. Ek weet nie of ek hulle kan eien as “invloede” nie, maar hulle name lê hoog op in my Pandora-speellys. En dan het ek vriende hierso, wat seker my grootste invloede is, want die goed waarmee hulle vorendag kom, verstom my soms (letterlik, soms, dat ek vir weke nie ’n woord kan skryf of sing nie), en dan weet ek ek kan nie net werk met wat op die bladsy geval het nie – ek sal moet skaaf as ek dit in ’n koffiewinkel wil indra!

Gepraat van Joan Baez: dit het vir my gevoel of ek na haar luister op die snit "Kill no more" indien sy Suid-Afrikaans was. Dit is ’n pleitlied, ’n proteslied:

Katrien, Chris, Stoffel and Katie, Thomas and Mark Welbrand and Wendy, George and Brad Magda Shirleen, Lindie and Casper Dianne and Colleen

They say kill the farmer, kill the boer
I cannot condone what went before
But I don't understand the ongoing war
That defies the forgiveness Mandela called for
At home, on the road, in the office and store
When they kill the farmer, kill the boer

Oh mighty boys shout, mighty boys roar
As they gaffe old ladies down to the floor
And repeat that old song that they heard before
Kill the farmer, kill the boer

One thousand two thousand three thousand more
The numbers keep ticking their silent score
The cries are hushed all over the land
From the highest command to hired hand
All that is heard is the faint echo
Kill the farmer, kill the boer

There are demons in light skins, demons in dark
That’s how it’s been since the days of the ark
Hearts filled with hatred and others with healing
Those who feel nothing, those bowed with feeling
Our hearts are broken, we carry the mark
The Rainbow is pale and the landscape is stark 

Let the clouds open under the African sky
Wash clear the blood and the frail woman’s cry
And the boys and the girls and the babies that died
And the wise and the strong and the beautiful bride
We will all stand aside from the colourless tide
We will dance with joy and dance with pride 

Oh hear you warrior with panga and pole
We pray for healing, we pray to be whole
One day we'll rise above this and soar
Wash the blood from our hands and kill no more

Waar het dit vandaan gekom?

Ek dink ek het verslae sit en lees van plaasmoorde, en ek was net oorweldig - deur hoe grafies van die moorde is, hoe baie daar is. Daar was ’n Facebook-bladsy waar mense koerantberigte op ’n sentrale plek probeer versamel het, en dis daar wat ek die name wat in die inleiding genoem word, gesien het. Die Facebook-bladsy het later verdwyn, ek kon hom nooit weer opspoor nie. Die bladsye wat ek nou vind, het baie haatspraak, wat mens ook hartseer maak. Die lied het verskriklik vinnig gebeur – ek dink amper hy’s in ’n enkele sessie klaargeskryf, met ’n paar woorde wat later hier en daar omgeruil is.

Is daar ’n plek vir protesmusiek in Suid-Afrika, en indien wel, waar en hoe? Sedert Voëlvry was daar nog nie werklik ’n prominente protesbeweging as sodanig nie ...

Solank as wat daar goed en kwaad is, sal daar plek wees vir protesmusiek. Maar bewegings soos Voëlvry kon ’n enkele kwaad teiken, terwyl die mosaïek tans meer verspreid, of kompleks voel. Mense stry vir die omgewing, vir menseregte; daar’s ekonomiese regte en diereregte en sakeregte – dis baie moeilik om een ding uit te sonder en daarop te fokus. Mens kan dit sien uitspeel in individuele insidente soos die Anene Booysen-verhaal nou onlangs, maar ook in die groter opset. Dit voel asof euwel skuil agter komplekse stelsels wat niemand direk kan takel nie.

Nog oor die lirieke: jy sing grotendeels oor verskynsels en kommunikasie in verhoudings. Luister ek reg? Waarvandaan kom die drang om hieroor te skryf?

Mens skryf die maklikste oor die dinge wat jou aangryp. Ek’s nie verskriklik lief vir akademies liedjies skryf nie – liedjieskryf is nie sudoku nie – dit moet self verhouding en egtheid hê. Verhoudings (liefdes- en ander) is seker die maklikste om oor te skryf, met protesmusiek ook voor in die ry. Ek het eers agterna besef hoe sterk die verhoudingstema was in En Met Tyd, dalk omdat dit ’n handjievol van die vroeëre, universiteitsmusiek bevat? Miskien is dit ’n tekortkoming, ek weet nie, dat ek nie meer tyd bestee om net waarnemings te verwoord sonder om dit altyd terug te trek na die interaksies tussen onderwerpe nie.

Maar daar is liedjies met ander temas ook – hulle’s dalk net nog nie op albums nie. Party vra net vrae, soos “Am I Pure”, of kyk na die diaspora-effek, soos “Scattered”, of kla net oor die weer. Maar dan, miskien is die motivering agter van daardie ook menseverhoudings in een of ander vorm.

Die opnames wat jy gemaak het, is betreklik minimalisties – die prominente klank is die verhouding tussen kitaar en stem wat ontstaan. Was dit ’n doelbewuste besluit met die gedagte dat hierdie styl jou liedjies die beste pas, of hoe het die konseptualiseringsproses verloop?

Ek eksperimenteer nog, en leer wat vir my werk. Ek hou van die eenvoudige, stripped-down gevoel, dat dit voel mens sit net rustig en saamkuier, maak musiek soos dit hoort, in verhouding met mekaar. Ek dink nie musiek het ontstaan sodat ons dit vir mekaar van podiums af kan skree nie. Dis ’n vorm van kommunikasie, van deel, en dis intiem op ’n manier. Dit gesê, ek het nog baie om te leer. Die album wat ek nou net saam met Jurgen en Melissa in Stellenbosch opgeneem het, is ryker en voller. En daar’s party liedjies wat ek in my kop hoor met ’n hengse klomp koel klanke daarby – ek weet nog net nie lekker hoe om dit te laat gebeur nie.

Rozanne Gewaar is ’n inwoner van Chicago. Sing sy ook daar in die openbaar in Afrikaans?

Absoluut! Ek sluit in elke stel van vyf liedjies of so minstens een Afrikaanse liedjie in. Die Amerikaners hou daarvan so – hulle sê dis vir hulle mooi. Die Afrikaanse aksent is ook vir hulle mooi. Ek het wel geleer om party liedjies te vermy omdat dit vir hulle soos iets heeltemal uit konteks klink – “Miskien is dit nooit” kan klink soos “My skin is annoyed” – heeltemal verkeerd! En nou’t ek die liedjie vir julle ook geruïneer. Ek het hier in die VSA amper geleer om die Afrikaanse taal meer te geniet en waardeer as wat ek het toe ek nog in Suid-Afrika gewoon het.

Wat hou die verre en nabye toekoms in?

Ek het geen idee nie – die sterre is maar stil. Ons het nou net ’n nuwe album begin, so ek sal hom later in die jaar kan deel. Ek is nou eers vir ’n rukkie terug in die VSA. Ek sal so tussen werk deur skryf en speel, en hopelik is daar gou genoeg ’n geleentheid om weer in Suid-Afrika te kom sing. Miskien maak ek nog albums en video’s. Daar’s idees wat ek wil uitprobeer as die tyd en die mense reg is, en daar’s songs wat wag dat iets met hulle gedoen word.

Klik hier om Rozanne Gewaar se webwerf te besoek.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address