Ria Olivier gesels oor die Kaaps in fokus-simposium

  • 0

Van 19 tot 20 Julie val die soeklig op die UWK-kampus op die taalvariëteit Kaaps – met ’n simposium, kultuuraand en uitstallings. Die simposium sal jou ’n geleentheid bied om met akademici en ander kundiges saam te praat oor Kaaps, terwyl bekendes in die teater-, musiek- en mediawêreld jou meer oor die ekonomiese waarde van hierdie variëteit sal vertel. Lees die volledige program van die Kaaps in fokus-simposium.

Hallo Ria, vertel asseblief vir ons lesers van die Kaaps in fokus-simposium. Wat is dit, is dit al vantevore aangebied, en wie gaan daar wees?

Kaaps in fokus is ’n inisiatief van die Departemente Linguistiek en Afrikaans en Nederlands aan die UWK, in samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Vlaamse Interuniversitaire Raad (VLIR). Met die simposium, kultuuraand en uitstallings op 19-20 Julie word die soeklig vir die eerste keer uitsluitlik geplaas op kulturele aspekte van Kaapstad en omgewing wat histories gemarginaliseer is. Derhalwe gaan dit hier om Kaapse Afrikaans as variëteit van Afrikaans, asook ander kulturele uitinge, waaronder musikale en woordkunsskeppinge en die kosbedryf. Die simposium sal 'n platform bied vir besinning oor die teoretiese aspekte en die ekonomiese waarde van Kaaps.

Van die voorste akademici en ander kundiges in die land sal aan die interaktiewe besprekings deelneem. Die sprekers sluit in Charlyn Dyers (UWK), Frank Hendricks (UWK), Hein Willemse (UP), Christo van Rensburg (emeritusprofessor), Ernst Kotzé (emeritusprofessor), Michael le Cordeur (US, ATR), Anastasia de Vries (Rapport), Christo van der Rheede (AHI), Danie van Wyk (SBA), Dmitri Jegels (UWK), Quentin Williams (UWK), Dylan Valley (regisseur van Afrikaaps), Heinrich Reisenhofer (regisseur van Joe Barber), Simon Witbooi, alias Hemelbesem, die skrywers Floris Brown, Willem Fransman, Marius Titus en Diana Ferrus, asook Cass Abrahams, 'n bekende in Kaapse koskringe.

Hoekom hierdie simposium en hoekom nou? Hoekom ook: “Kaaps in fokus”? Die Kaap is mos ’n klomp goed: wyn, natuurprag, verskillende mense ... Hoe omsluit en ondervang hierdie simposium al hierdie dinge?

Die simposium het ten doel om die Kaapse variëteit en kulturele uitinge in Kaaps wat vir baie lank tot die rand uitgeskuif gebly het, in die sentrum te kom plaas en daardeur by te dra tot 'n daadwerklike erkenning en viering van diversiteit in ons samelewing.

Hoe kies mens die mense wat kom deelneem aan die simposium? As ek die naam Cass Abrahams sien, maak dit my sommer honger. Maar elke slag as jy een mens kies, sluit jy mos iemand anders uit. Wat van al die ander kosmense, byvoorbeeld Reuben van sy restaurant in Franschhoek?

Kyk ook vraag 1 se antwoord. Die sprekers is gekies uit hoofde van hul betrokkenheid by toepaslike studievelde, byvoorbeeld variasietaalkunde, letterkunde, ens. Voorts is persone gekies wat in verskillende kulturele uitinge, soos musiek, drama, ens Kaaps as medium gebruik. Cass is as spreker gekies omdat sy al sinoniem geraak het met Kaaps-Maleise cuisine.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top