Retief se 'wetenskap' herbesoek
Retief beweer dat ek die een is wat vir bewyse vra, so asof hulle dit nie doen of self ook daaraan onderhewig is, nie. Kan dit wees dat hy Claassen se rubriekartikels nie gelees het, nie? Het hy nie opgemerk dat Claassen ’n hele artikel daaraan afgestaan het dat mense nie net moet aanvaar wat vir hulle gesê word nie, maar moet vra – is daar bewyse voor? Het Retief nie opgemerk dat Claassen dan ook in sy artikels heengaan en allerlei stellings maak wat hy as onbetwisbaar aangee, nie? Dit is op sterkte dáárvan dat ek geskrywe het en vra- is daar bewyse voor? Uiteraard, wat hy predik, moet hy mos ook darem bereid wees om self te hanteer en so ook die anders van hulle.
Maar ek moet sê dat Retief die enigste een onder hulle is wat sy saak probeer stel. Of dit suksesvol is, is natuurlik ’n ander vraag – maar ten minste is dit nie nes Claassen wat stellings maak en dan eerder slegsê en probeer verdag maak as bewyse daarvoor probeer lewer, nie.
Dit sluit natuurlik Claassen se verregaande bewerings en baie stellings oor sake Gods sonder ’n enkele bewys daarvoor, óók in – en ook dié bespreek ek en sien ek dat Retief daaroor tjoepstil, is.
Dus, Retief se poging om die onderwerpe te ontglip met sy verskoning dat daar baie leesstof oor is en hy nie tyd het nie (maak reeds vir kommentaar hierop ook al voorbrand) gaan ook nie op nie. Dit is natuurlik geen antwoord nie. Dit is juis oor die baie ‘leesstof’ dat daar ook soveel vrae ontstaan.
Tipies van die agnostikus neem Retief aan dat ek Pelser se skryfwerk onder oë gehad het bloot vanweë my gebruik van twee baie bekende, gewilde woorde wat almal ken -“deurdringende” en “indringende” – terwyl ek ongelukkig nog nie Pelser se werk onder oë gehad het, nie. Maar die relevansie hiervan is juis die manier waarop hierdie mense wilde, ongegronde spesifieke afleidings maak op sterkte algemeen voorkomende fenomene. So maak hulle ook met hulle wetenskaplike data met die gevolg dat hulle resultate so kwesbaar is. Dit raak só erg dat hulle dikwels verkillende mense aansien as een persoon juis oor die gedeelde gebruik van een of ander bekende en gewilde woord – lees maar gerus hulle briewe hier op die forum.
Retief noem my mededeling van vorige lewe op aarde ’n verbeeldingsvlug en maak dit daarmee af – is dít ’n wetenskaplike metode van hom? Kan hy dit verkeerd bewys? Kan hy bewys dat dit nié so is nie in weerwil van al die getuienis, van ’n vorige katastrofe wat lewe uitgewis het, ens wat deur opgrawings ingevorder word, wat dié gegewe ondersteun terwyl dar duidelik in die Woord aansluiting voor is? Die gegewens in die Woord het nog nóóit in isolasie gestaan, nie en dek die ganse bestaanswêreld van die mens met die klem op die korrekte ontwikkeling van die mens se Geestelikheid (Spiritualiteit). Maar die mens leef juis nie in isolasie van sy omgewing en sy sosiale milieu nie – en in die geval van die natuurwetenskappe is daar baie duidelike ondersteuning vir die bietjie daarvan wat in die opgeskrewe Woord te vinde is – daaroor het ek al dikwels hier op die forum geskrywe - in die feitelike gegewens van die natuurwetenskappe (onder meer). Die groot belang daarvan is, onder meer, die feit dat die Woord aandui hoe lewe ontstaan het op aarde en dat dié gegewens soos dit in die natuurwetenskappe aangetref word, juis daardie Woord ondersteun. Dit is van uiterste groot belang en insiggewend, omdat dié gegewens in die opgeskrewe Woord duisende jare gelede al, opgeteken is vóórdat daar enige wetenskapsbeoefening was soos ons dit vandag ken en voor daar enige opgrawings ens, gemaak, is. Dit is dus uiters onwetenskaplik en onverantwoordelik om ’n bron, soos die opgetekende Woord wat antieke gegewens bevat wat deur hedendaagse metodes en bevindings bevestig word en dus sulke raak inligting verskaf juis oor die veld wat die natuurwetenskaplike homself baie direk mee besighou, gewoon te probeer afmaak en verwerp. Die ware wetenskaplike sal dit aangryp en ondersoek. Dit is wat kreasionistiese wetenskaplikes immers reeds doen. Waarom verwerp die agnostiese ‘mainstream’ wetenskaplike dit? Duidelik - omdat die relevante gedeeltes van die opgetekende Woord die konsekwensie het dat daar ’n baie sterk en bewysbare teenspraak vir die evolusioniste se teoretiese weergawe van die ontstaan en ontwikkeling van lewe op aarde, is.
Het Retief gedink hy gaan daarmee wegkom om dit bloot as ’n verbeeldingsvlug af te maak omdat hy geen bewys tot die teendeel kan voorsien, nie?
Hierdie aspek van vorige lewe bring die hele darwinistiese tipe evolusieleer in gedrang en Retief se stofopskoppery oor die dateringsmetodes van die aarde, ens, beklemtoon net hierdie aspek, want die feit dat die aarde oud is, is eerder ondersteunend vir die vorige lewe feit.
Uiteraard is dit baie belangrik, want die Woord ontbloot dié aspek en die feite, die fossielrekord, vir een, ondersteun dit volkome.
Wat egter relevant is omtrent die dateringsmetodes en toetse, is die feit dat dit nie betroubaar is, nie, maar tog as onbetwisbaar uitgegee word.
Retief se hantering van my kommentaar op die Purdue-bevindinge is kenmerkend – hy papegaai my. Ek sê dat hulle stellings en feite verwring in ’n poging om die werklike argumente en werklikheid te systap – nou papegaai hy my nes ’n laerskoolseuntjie wat vir die ander sê ‘jy ook, jy ook!’ omdat hy skynbaar nie die insig en redenasievermoë om beter te doen, nie. Die feit is, Retief se woordkeuses verklap sy onopregtheid en persoonlike antagonisme. In sy poging om dit te probeer regstel, doen hy dit toe weer, waar hy selfs tóé sê dat hy meen Fischbach en “sy trawante”, eerlik was. Weereens spreek sy woordkeuse vir sigself.
Retief speel ook met die begrippe “kwalitatief” en “kwantitatief” om die werklike issue te verbloem én hy verstaan klaarblyklik nie die implikasies van dié begrippe nie – mens hoef dit nie iewers te gaan oplees nie, want diegene van ons met insig en verstand en logika (Godgegewe gawes) sien dit onmiddellik in. As ’n toetsapparaat of –metode kwalitatief ontoereikend is, is dit gewoon nié moontlik om deur aanwending van daardie selfde apparaat of metode, die kwantitatiewe aard van aberrasies vas te stel nie en is die volle aard en omvang van sulke aberrasies ook nie bekendes nie. Derhalwe kan die resultate daarvan nie as betroubaar aangemerk word, nie. Retief kan dié eenvoudige aspek klaarblyklik nie insien, nie. Dus, in praktyk – en dit is waarop die Purdue-eksperimente ons attent maak, is die metodes en apparaat nié gesofistikeerd genoeg om die aberrasies en gevolglike invloed en effek van wat vermoed word, neutrinos te wees, betroubaar uit te wys nie en ook nie om dit voorkoms daarvan geredelik uit te wys nie. Kortom, te veel val blykbaar deur die sif van die huidige argaïese toetsmetodes. In stede daarvan om dié inligting van die Purdue-span aan te gryp en die toetsmetodes, wat dit nie kon optel nie, te ondersoek met die oog van óf verbetering daarvan óf vervanging daarvan, word die boodskapper eerder deur die spul stagnante agnostiese ‘mainstream wetenskaplikes’ persoonlik aangeval en in sarsies as onkundig ens verwyt – want só maak die agnostiese mainstreamers met almal wat hulle papegaaiwerk durf bevraagteken – omdat hulle bloot papegaaie is. Daardie toetsmetodes wat hulle so papegaai is al meer as ’n halfeeu oud in ’n baie snel ontwikkelende wetenskaplike wêreld.
Byvoorbeeld – radioaktiewe koolstofdatering (C14) van voorwerpe wat ouderdomme aangee van miljoene jare is uiters verdag, aangesien koolstof-radioaktiwiteit verval na duisende jare en dus nie meer meetbaar behoort te wees, nie. Koolstof-radioaktiewe verval (na stikstof) is ook nie konsekwent nie, want sommige koolstof atome verval teen verskillende tempo’s.
Die toetsmetode wend, baie kortliks, ’n proses aan waar die sogenaamde ‘beta’-partikels wat uit ’n vasgestelde hoeveelheid oor ’n vasgestelde tyd vrygestel word, gemeet word en daar word vermoed dat een beta-partikel een koolstof een koolstof atoom wat verval het. Maar wat glip nie alles deur dié toets, nie? Die toets is klaarblyklik nie gesofistikeerd genoeg om ánder inwerkende partikels, wat die verval proses nog méér versnel - soos die vervallende uitwerking van wat vermoed word, neutrinos, te registreer - nie en dié probleem sal hom gewoon net so herhaal by toetsmetodes waar uraan, kalium (potassium), and rubidium gebruik, word. Daarom is die resultaat nie betroubaar nie, aangesien die verval waarskynlik – en volgens die afleiding van wat met die Purdue-span gebeur het, het, wil dit ook so voorkom - veel vinniger geskied as wat deur die vervallende radioaktiewe koolstof, uraan, kalium (potassium), en rubidium-atome aangedui word. Retief vermeld die oënskynlik klein persentiel verskil in die vervaltempo wat uit die Purdue-eksperimente geblyk het, maar wat hy verswyg is dat dit oor ’n relatief baie kort periode geskied het en dat dié oënskynlike klein invloed egter kumulatief oortyd heen ’n yslike verskil kan maak en dan is daar nie eens sekerheid dat daar nie nóg ánder partikels is wat ’n vervallende effek kan hê maar deur die ontoereikendheid van die toetsproses wat net in een rigting soek, ongesiens verbygaan, nie. Dit dui direk op ’n ontoereikende, argaïese toetsmetode en apparaat met vele gate in.
Daar is egter nóg ’n wankelrige aspek omtrent die toetsmetodes. Daar word aangeneem dat koolstof konstant vorm in die bo-atmosfeer (waar die konsentrasie stikstof 14 die digste is) en dat alle lewe se koolstofatome ook ’n konstante is. Maar, nou word daar gewoon aangeneem dat vorige lewe, óók teen daardie tempo en op daardie vlak gefunksioneer! – daar is egter absoluut géén bewyse voor, nie.
Trouens, as die vermoede dat vorige lewe deur ’n globale katastrofale gebeurtenis/se uitgewis is, korrek is, sou dit seer sekerlik ook die komposisie van die atmosfeer, waar daardie koolstof juis gevorm word, beïnvloed en is daardie aanname dat die koolstof oor alle tye heen, konstant was, uiters opportunisties, want daar is gewoon géén bewys voor, nie maar eerder die vermoede dat dit nié so sou wees nie, aangesien sulke katastrofes van globale proporsie wél die atmosfeer sou beïnvloed. Kom ons kyk na die Woord – daar is reeds vir ons ’n bevestigende aanduiding hiervan – dit is duidelik dat die atmosfeer na die sondvloed, ingrypend verander het want eers sedertdien, het ons seisoene soos ons dit vandag ken – sien Genesis 8:22. Vir koolstof om te vorm, moet daar in die bo-atmosfeer snelbewegende neutrone, afkomstig van die kosmiese bestraling, wees wat teen stikstof 14 atome bots wat dan omvorm in radioaktiewe koolstof 14 atome. Daarvoor moet die atmosfeer baie spesifieke digtheid en samestelling hê, soos ons dit vandag ken en sál die atmosfeer se samestelling vatbaar wees vir alterasie deur globale katastrofale gebeurtenis/sê waar veral die digtheid en die stikstof inhoud beïnvloed sal word. Om gewoon aan te neem dat die atmosfeer oor miljoene jare só was, soos ons dit vandag ken, is opportunisties en verdag en beïnvloed die betroubaarheid van dateringstoetse direk, want daar word ’n aanname gemaak dat fossiele dieselfde hoeveelheid radioaktiewe atome had soos lewende organismes vandag, én daar word ’n aanname gemaak dat die fossiele se radioaktiewe atome ook konstant en konsekwent was, soos ons dit vandag ken.
Nog ’n baie insiggewende aspek, net so terloops, is die vermoede dat uraan (238U), kalium (40K), and rubidium (87Rb), wat ook vir dateringstoetse gebruik word, anders as wat vermoed word met koolstof (wat voortdurend in die aarde so bo-atmosfeer vorm deur kosmiese bestraling), klaarblyklik nie ook só op aarde gevorm word, nie. Die aanduiding is dat dié elemente oorspronklik deur God geskep is by die skepping van die aarde.
Ek verbaas my dat Retief my vra oor die metodes wat aangewend is deur die Purdue-span en ook diegene wat hulle bevindinge kritiseer – hy gee selfs skakels na sulke besonderhede. Het hy dan vertel hoe hulle die Purdue-span se resultate as ontoereikend bevind het sonder dat hy weet hoe dit gedoen is? Om vir ons weer te gaan verduidelik hoe die radioaktiwiteit gemeet word, is absoluut van geen waarde, nie. Maar dit is juis die punt – die metingsproses. Juis die metingsproses en veral die toerusting wat daarvoor gebruik word, is argaïes en het juis nie die vlak van sofistikasie om vir alles te meet wat waarskynlik ’n invloed het, nie – en dít is die kruks van wat die Purdue-bevindinge uitwys. Dít is waar die kwalitatiewe ’n beduidende invloed op die kwantitatiewe het – korrek toegepas, natuurlik. Maar in sy benadering pas Retief beide begrippe slegs op die resultaat toe, omdat hy die toetsmetode en die apparaat verkeerdelik as heilige koeie aansien, terwyl dié begrippe hulself by uitstek daartoe verleen om oor die hele spektrum relevant te wees.
Wat duidelik afgelei kan word uit die Purdue-eksperimente, is dat die beskikbare apparaat en metode juis nié gesofistikeerd genoeg is om al die subatomiese partikels wat ’n invloed het op die radioaktiewe verval tempo algar waar te neem, nie. Die Purdue-wetenskaplikes self het te kenne gegee dat hulle dink dit is die werk van neutrinos, hoewel neutrinos volgens standaard kennis nie só behoort op te tree, nie óf dat dit moontlik tot hede onbekende partikels se werk kan wees wat die waargenome effek het. Dit is amper soos die veelbesproke donker energie – die gedeeltelike effek daarvan is sigbaar, maar die oorsprong is nog verbloem want die wetenskap beskik nog nie oor metodes en toerusting om dit te identifiseer nie. Net so ook met die Skepper se onmiskenbare betrokkenheid by die ontstaan en bestaan van alle dinge. Die agnostikus sal God ontken, op grond van die simpel premis dat hy God nie kan vasstel deur sy sogenaamde wetenskaplike metodes nie. God se skeppingswerk word getuig deur die verbysterende vlak van intelligensie, kompleksiteit en perfeksie waarmee dinge funksioneer, maar eerder as om tot God te nader daaroor, sal hulle eerder ’n verspotte teorie saamstel soos die darwinistiese tipe evolusieleer wat hom ten doel het om enige bestaan van die Skepper te ontken. Intussen sal onverantwoordelike wetenskaplikes ál dié dinge wat bokant hulle vuurmaakplek is – en daar is vele daarvan - eerder ignoreer en probeer afmaak as synde buite die ‘mainstream boundaries’, as om die bul by die horings te pak op ’n werklike wetenskaplike manier. Só werk die sogenaamde ‘mainstream boundaries’ tot stagnasie en gekettingde denkprosesse.
Maar plaas van vernuwing in denke en metodes om by die nuwe data aan te pas, sien ons dat die Retiefs van die wetenskaplike wêreld eerder vanweë hulle vooroordele en bekrompe benaderings vanuit hul agnostiese verwysingsraamwerk ander en veral ook hul werk, sal probeer afkraak en verdag maak as om progressief te dink – let maar op die kritiek teenoor een van die Purdue-spanlede omdat hy dit durf waag om buite die sogenaamde ‘mainstream boundaries’-hokkie van die agnostiese wetenskaplikes probeer ondersoek instel. Die motivering is natuurlik die feit dat die agnostiese darwinistiese evolusieleer en sy kosmiese eweknie, die standaardmodel, se massas teorieë en hipotese gebou is op dié aannames en dat dié nou ernstig onder verdenking staan. Soos ons by talle van hulle sien, is dit maar ’n kwessie dat hulle hul eienaardige tipe agnosties gemotiveerde sekulêre tipe religie probeer beskerm en selfs bevorder – ’n aspek waaroor mense oos Ruse hom al by geleentheid uitgelaat, het. Dit gaan dus nie oor die wetenskap en die bevordering van wetenskap nie, maar hulle eie agenda vir hulle sinistere eienaardige religie.
Nuwe bevindinge verg nuwe metodes – die oues is ontoereikend vir daardie doeleindes. Die Woord leer ons dit al lánkal, want dit is só logies – mens gooi nie nuwe wyn in ou wynsakke, nie. Die Purdue-span het toevallig op nuwe data afgekom wat die ou metodes nie uitgewys het, nie. Nuwe metodes en nuwe benaderings is nodig om die nuwe data in sy volle konsekwensie te ondersoek. Die wetenskaplike wat steeds op argaïese metodes aandring het tred verloor en moet liefs uittree in ’n snelontwikkelende era van die kennisrevolusie.
Ek verstom my oor Retief se onbegrip vir my eenvoudige, redelike verduideliking ten aansien van die radon. Wat ek daarmee sê is dat die eenheid atmosfeer nie in isolasie bestaan nie (die verwysing na vakuums verduidelik dit en ek sê juis dat ’n vakuum nie ontstaan nie omdat die aantal molekules konsekwent bly weens vrye vloei). Dit gaan sy begripsvermoë te bowe en hy erken dit amper in soveel woorde. Om dit dus net weer te herhaal, gaan nie baat, nie. Feit is dat daar konstantes is wat nie verander nie. Die verkoeling en verhitting gaan nie meer molekules produseer nie en sal die atome wat afbreek, slegs daaruit afkomstig wees en dit is boonop ’n tipe konstante waarvan alle wetenskaplikes wat met dié dinge werk, tog van bewus is en dit ook dan só verdiskonteer in hul toetsresultate – waarom sou die Purdue-span nou anders wees? Wat is dus die relevansie van dié bewering van Retief? Die verkoeling en verhitting affekteer konsekwent slegs die digtheid, wat nie ’n onverwagte aberrasie soos deur die Purdue-eksperiment uitgewys is, tot gevolg sal hê, nie. Mens kan jou kwalik ook voorstel dat die Purdue-wetenskaplikes nie van die radon en die verwagte effek daarvan, bewus is, nie. Selfs dan is die gedrag van die radon by verhitting en verkoeling konstantes, terwyl die Purdue-eksperiment juis iets uitwys wat nié ’n verwagte, ’n konstante is, nie.
Oor die Ruse-kwessie en sy kommentaar soos aangehaal, volstaan ek. Retief kan nie wat Ruse gesê het, ongedaan maak, nie, al wil hy so bitter graag. As hy nie insig het in die implikasies van Ruse se opmerkings ten aansien van die bestaan en werklikheid van báie sterk religieuse tipe filosofie binne die kader van die darwinistiese evolusieleer en veral die implikasies van sy beroep op meer akkommoderende begrip vir die kreasionistiese sienswyse nie, dan is dit maar bloot aan sy eie bevooroordeeldheid en stagnasie van denke, te danke en sal sy beklemtoning van beuselagtighede soos die stilmaak-en-knopies-kwessie juis wees wat mens van hom te wagte kan wees.
Ten slotte sou mens werklik die vraag vra – gesien Retief se ‘kosbare en min’ tyd en die ellelange kritiek teenoor my artikel - waarom sou hy hom daartoe verwerdig as hy werklik geglo het dit is sommer nonsens? Maar ons weet van beter …
Kobus de Klerk