Resensie: Takelwerk deur Daniel Hugo

  • 0


Takelwerk
Daniel Hugo

NB-Uitgewers
ISBN: 9780798169257

Koop Takelwerk by kalahari.com

Om my belange te verklaar: Voor my uittrede by Tafelberg-Uitgewers in 2000 het ek as redakteur met Daniel Hugo saamgewerk aan twee bloemlesings: Speelse verse in 1988 en Miskien sal ek die wingerd prys (ook met Etienne van Heerden as medesamesteller) in 1989. Daarna volg sy bundels Dooiemansdeur (1991), Monnikewerk (1995) en Skeurkalender (1998).

Dis drie bundels later: Die twaalfde letter (2002), Die panorama in my truspieël (2009) en Hanekraai (2012). Dit ook ná verskeie keurbundels uit verskillende genres, vertalings van prosa en poësie, en bekroonde radiowerk.

...

Dit het my dadelik opgeval dat ’n mens hier, soos in Hanekraai, “afdelings” herken. Dit dui daarop dat Hugo hier indringend werk, dat daar ’n groot verskeidenheid stof geïntegreer is. Dit is dan terselfdertyd waarop die bundeltitel moontlik dui: soos al die maste en touwerk van seilskepe saam die vaart verseker, of soos die takelwerk van katrolle by ’n bouery groot gewigte kan hys of laat neerdaal – so is daar aansluiting en voortstuwing in die bundel. Die digter “takel” ook verskeie sake, staan selfs soms heel krities teenoor sommiges. Terselfdertyd benoem hy nie afdelings nie; die leser se leeservaring gaan sonder beïnvloeding voort. So skakel “natuur, mens en dier" by mekaar in; “vulkane, oliebore en toktokkies/ laat die aardrots resoneer” (“Oerknal II”, 9).

Om ’n aanduiding van die geledinge te gee: letterkunde, letterkundige teorie, lewensingesteldheid, die dood, menslike verhoudinge, medies, liefde, lewe in ’n Karoodorp soos Prins Albert, en dan die drie gedigte oor bome en die natuur waarin van die voorafgaande inhoude opgeneem en afgesluit word. “Stellenberg se eik” is dan sekerlik die hoogtepunt van die bundel.

So met die deurgaan van die gedigte is dit baie duidelik hoe daar raakpunte onderling is oor die hele bundel heen. “Die huisslang” (47) met “die kronkelende sintaksis van ’n gedig” kan byvoorbeeld ook ingedeel word onder kunsteorie saam met “Suiwer grammatika” (39) (“met intervokaliese invoeging/ van die penetrante konsonant”).

Daniel Hugo het hom al uitgelaat oor wat goeie rymkuns is, hoe moeilik dit soms in Afrikaans is. Hy is self ’n goeie rymer. In “Jurassic Park” (Hanekraai) laat hy “opfok” rym met ... “Wladiwostok”. Dit laat hom uitmunt in “speelse verse”. In Takelwerk het ons “Om te gis”:

die appel was glo ’n sfeer van kennis
maar die paradyspaar het hul misgis –
diepdrinker Noag het ons geleer:
slegs die wyn weet, want dit het klaar gegis.

In “Literatuurgeskiedenis” (11) gaan dit om John Kannemeyer. Dit steun op die biografiese. Dit lok my uit om te reageer, omdat ek ook baie met hom saamgewerk het en dikwels sy en Wium van Zyl se plaaslike en oorsese toere meegemaak het. Die “ek” verbind ek met Daniel. Hy beskryf hoe hy Uys Krige se eerste digbundel, Kentering, in ’n kerklike liefdadigheidsorganisasie se boekwinkel vir tweedehandse boeke koop “as bewys/ van (sy) liefdadigheid teenoor/ ’n ongeliefde man, my eerste/ mentor, my vriend en vyand ...” Die bundel, uit 1935, is onderteken deur Uys en “opgedra aan ene/ Gideon Uys ...”

Ek kan ’n aantekening maak. In Kannemeyer se biografie oor Uys Krige, Die Goue Seun (Tafelberg, 2002), verwys hy net op bl 268 na Gideon Uys. Gideon was Uys se neef en is twee maande lank saam met Uys se broer François deur Uys onderhou in sy en Lydia se huurhuis in Johannesburg – onder moeilike omstandighede. Hugo maak later in die gedig met sy beskrywing van John “as die grootste van ’n Gideonsbende” ’n toespeling op “ene Gideon”. “Gideonsbende” het weer ’n Bybelse oorsprong wat dan aansluit by die “liefdadigheidsorganisasie deur die kerk”.

Die aangehaalde beskrywing van John as “ongeliefde” voel ek aan as ’n te stellige bewering. Ons ander wat met hom byvoorbeeld saamgewerk het, wil vra: Werklik? Volkome? Om naas die positiewe hom as ’n “vyand” te beskryf kan as eg, openhartig en “uit die lewe geneem” beskou word. Jy kan daarvan verskil. Hugo skryf mos in “Kosmies” (22): “in die brein is alles relatief:/ dartel of droef, eensaam of verlief”.

John Kannemeyer was inderdaad een van die grootste “bewakers van die gedrukte woord”. Hy het die letterkunde laat voortleef met sy akademiese lesings, sy kursusse in dokumentasiekunde wat tot publikasies gelei het, sy literatuurgeskiedskrywing, die letterkundige toere, sy boekresensies, skrywersbiografieë met die “satellietpublikasies”: bloemlesings uit die betrokke skrywer se werk. Hy het geglo dat die skrywer se wérk ook moes voortbestaan naas die lewensbeskrywing. Daniel sluit die gedig af met “skamel/ versamelaars van ’n taal se ellende”. In “Somtotaal” (10) verneem ons: “taal is meer as die som/ van sy digters”. In “Vraag” (13) het die digter ’n vyeboom geplant en die volgende dag ’n gedig daaroor geskryf. Die vraag van die digter is:

is dit genoeg om my bestaan
van ’n etmaal te regverdig?
...
klaarblyklik nie – die gedig lê
reeds verskrompel in die snippermandjie.

Dit was Hennie Aucamp wat oor Charles Fryer se redakteurskap geskryf het (Koerier, Human & Rousseau, 1999):

Herr Freiherr met monokel
karwats en shit detector
hou al sy skrywers waar hulle hoort –
in die beskeie sektor.

Is dit nou ook Daniel se siening? Dat veral digters nederig moet bly? Of is hy hom maar te bewus daarvan dat die algemene publiek baie ander prioriteite as die letterkunde het?

Maar lees nou hierdie digbundel van Daniel Hugo, of net maar “Stellenberg se eik” (56). Dan het ’n mens mos hoop. Dan kan jy nog die krag van Afrikaans so duidelik ervaar. Jy gaan oor tot verstáán. In XI word die aanvanklike klanknabootsing “aark” vir jou “ark” wanneer jy verneem hoe “leedvermakerig” die kraai “oor die luukse holte vir sy voet is” (sien Genesis 8). Of sien die woordspel in XX: op ’n kaal eiketak werk die tarentaal flink in sy “takkantoor” as “’n belegger in verre lugdienste”, maar kort voor lank is sy kantoor volgepak deur “konkubines, kinders en kennisse/ want dis winter en vroegaand al donker”. En tot watter boeiende ontdekking van die Noorse mitologie spoor Hugo ons nie aan nie in VIII met die kraaie Hugin en Munin wat kom klik op die “moeë skouers” van Odin. Slaan gerus na. Odin is die vader van alles, maar hy kan nie goed sien nie en vergeet gou. Is daarom oningelig. Hugin kan dink; Munin kan onthou. Hugin vertel Odin van mense wat opgehang is; Munin van gesneuweldes op die slagveld.

Hou ’n bietjie Michiel Botha se bandontwerp in direkte sonlig en kyk hoe helder word Marlene Malan se foto van ’n eik – “al ’n eeu lank intak”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top